Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Afrikaans is sleutel vir bruin toekoms

Diegene wat universiteite wil Engels maak, verhoed dat bruin mense dieselfde opleidingsgeleenthede as hulle kry, skryf Abraham Phillips.Ek druk myself uit soos wat ek gewoond is om te doen, in my eie woorde, eerlik en sonder aansiens des persoons.

Dit is vir my pynlik om die posisie van Afrikaans in die land en dit wat daaroor gesê en geskryf word, waar te neem. Die pyn verdiep as daar in ag geneem word dat ek, sover terug as 1992, in my boek Die verdwaalde land my besorgdheid uitgespreek het oor die toekoms en voortbestaan van Afrikaans en wat dit tot gevolg gaan hê vir bruin Afrikaanssprekendes en swart tweedetaal- Afrikaanssprekende mense, veral op die platteland.

Taal is die hartklop, die siel van enige mens. Selfs die diere en voëls van die veld word uitgeken deur die geluide wat hulle maak. Taal is op ’n heel ander vlak, byna heilig.

Ek weet, daarom kan ek nie anders nie, ek is lief vir Afrikaans, die taal wat my moeder, mamma Rosina, my geleer en in opgevoed het. Dit is net ’n dwaas wat skaam is vir moedertaal.

’n Bittere uitvloeisel, wat deur die magtiges en vyande van ­Afrikaans teen die taal Afrikaans gevoed word, is die tendens
dat sommige wit Afrikaanssprekende mense begin glo dat hulle minderwaardig is as hulle nie Afrikaans afsweer en Engels ­omhels nie.

’n Taal behoort aan al sy sprekers of hulle nou wit, bruin of swart is. Samehorigheid en kommunikasie met en deur alle Afrikaanssprekendes, of hulle arm of ryk is, of hulle hoër opvoeding gehad het of nie, is van kardinale belang.

Hulle doen dit sonder om aan hul mede- bruin landgenote se omstandighede aandag te skenk en besef nie dat Engels nie die ­alfa en omega vir hul voortbestaan en vooruitgang behoort te wees nie.

Selfs Afrikaanssprekende wit mense wat veg vir die voortbestaan van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch (US) moet daarop gewys word dat hul handelinge die afgelope dekades wat met letterkunde en taalvaardigheid te doen gehad het, dikwels deur hul arm bruin taalgenote as meerderwaardig, misleidend en as tiperend van ’n hoër status en klas ervaar is – iets wat juis deur die vyande van Afrikaans misbruik word.

Hierdie beskouing en handelinge moet dringend verander word. Die gode smag na die dag dat die gebeurtenis sal plaasvind wat die taal Afrikaans se voortbestaan op alle vlakke van die samelewing verseker sal word deurdat die kanon Afrikaanssprekende wit mense volhoubaar na hul bruin taalgenote uitreik.

’n Taal behoort aan al sy sprekers of hulle nou wit, bruin of swart is. Samehorigheid en kommunikasie met en deur alle Afrikaanssprekendes, of hulle arm of ryk is, of hulle hoër opvoeding gehad het of nie, is van kardinale belang. Ek verwys uiteraard ook hier na die omstandighede – armoede, swak onderwys, werkloosheid, drankmisbruik, verslawing aan dwelms soos tik, asook die vernietigende bendegeweld – waarin die arm Afrikaanssprekende bruin mense hulle op die Kaapse Vlakte, die Wes-Kaapse platteland, groot dele van die Noord- en Oos-Kaap en Gauteng hulle bevind.

Hierdie ellende is ’n belangrike oorsaak waarom bruin mense so ’n lae verteenwoordiging op ­tersiêre vlak – soos aan Stellenbosch – het.

Hierdie onmenslike omstandighede waarin die arm bruin mense hulle bevind, kan onmoontlik só voortduur.

Die mening dat dit die staat of akademiese, ekonomiese, kerk- en maatskaplike leiers binne die bruin gemeenskap se plig is om iets hieraan te doen is net ’n halwe waarheid. Wanneer jou broer wat – simbolies gesproke – dieselfde taal, Afrikaans, as jy praat, dit moeilik vind om te oorleef raak dit ons almal. Ras speel geen rol nie.

Die gevoel van vervreemding is onheilspellend groot onder die arm bruin mense.

Om hul moedertaal Afrikaans met Engels te vervang is niks anders as onmenslik nie.

Die gevoel en uitgangspunt onder wit Afrikaanssprekende mense moet wees “ons praat nie vir of namens bruin mense nie, maar saam met hulle oor hul omstandighede waarin Afrikaans so ’n groot rol speel”.

Ek wys ook graag daarop dat Afrikaanssprekende mense wat werklik besorg en bekommerd is oor die voortbestaan van Afrikaans by die US, die skole en ­ander universiteite, nie ’n debat behoort te moet voer oor iets wat inherent verkeerd is nie.

Die teenstanders van Afrikaans by die US en ander instansies is almal geleerde en opgevoede mense wat weet wat die waarheid rondom die kwessie van Afrikaans is, wat behoort te kan onderskei tussen reg en verkeerd, en tussen goed en kwaad.

  • Dit is almal mense wat hul kwalifikasies deur middel van die taal Afrikaans ontvang het, maar nou deur hul optrede wil verhoed dat mense soos die bruin mense, wat dit die minste kan bekostig, ook daardie pad wat hulle geloop het, kan stap.
Meer oor:  Taal  |  Afrikaans  |  Engels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.