Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Afrikaans is sondebok in hartverskeurende verhaal

Afrikaans is ’n gerieflike sondebok, want die ANC kan nie post-koloniaal dink nie, skryf Wynand Boshoff uit Orania oor die taaldebat.

Wynand Boshoff

Tussen die wêreldoorloë, toe Europese koloniale ryke onwankelbaar gelyk het, was die Britse Afrika-beleid “indirect rule”. Dit het beteken dat swart mense met “potensiaal” uit hul “agterlike” omstandighede gehaal en in die Engelse kultuur “opgehef” is. Hul “agterlike” taal, regering- en opvoedingstelsels moes met die “meerderwaardige” Engelse weergawe vervang word.

Véél later sou hierdie klas verengelsde Afrikane bekwaam wees om namens Brittanje te regeer. Hulle sou die diepe etniese verdelings, wat Europeërs deur roekelose grensvasstellings veroorsaak het, oorbrug; hul lojaliteit sou nie aan die stam van hul afkoms wees nie, maar aan die ryk van hulle bestemming.

Net ná die Tweede Wêreldoorlog, vroeër as verwag, het name soos Kwame Nkrumah, Jomo Kenyatta, Julius Nyerere, Hastings Banda, Robert Mugabe en Nelson Mandela na vore getree. Hulle was deel van die gekweekte elite, maar wou sélf regeer. Die Britse poging was dus half geslaag. Etniese lojaliteit is op die agtergrond gestel met die verklaring dat die stam moet sterf vir die nasie om te leef. Daarom kon een stam se taal nie bo die ander verhef word nie en die koloniale taal moes eenvoudig die taal van onderwys en administrasie bly.

Die gevolg was dat ’n elite, amper soos ’n etniese groep, tot stand gekom het: Hulle was swart en inheems, maar vlot in die koloniale taal. Die rykdomme van die land sou voortaan hul deel wees en hulle sou jaloers oor hul posisie waak.

Suid-Afrika is ’n bietjie anders en baie dieselfde. Hier was ’n inheemse volk, maar van Europese afkoms. Hulle het geen ander tuiste erken of begeer nie, maar tog hulself duidelik van die swart inheemse groepe onderskei. Dit was ons, die Afrikaners.

Brittanje het inheemse weerstand hier, soos elders in Afrika, bloedig onderdruk.

Brittanje het inheemse weerstand hier, soos elders in Afrika, bloedig onderdruk. Vir swart stamme was die mylpaal ongeveer 1880 en vir Afrikaners 1902. Dieselfde beleid, om “talentvolles” te koöpteer, is teenoor Afrikaners en swart mense gevolg. Sendingskole soos Healdtown­, Adams College en Fort Hare moes die swart elite skep. In Engels natuurlik.

Reeds in 1912 is die SANNC (later ANC) gestig om dié groep te verteenwoordig. Eers het hulle die Britse beeld vir hul toekomstige rol toegeëien, maar later sou hulle aandring om die hele land te regeer. In Engels.

Intussen het Afrikaners die teenoorgestelde rigting gevolg – die van post-kolonialisme. Op pragmatiese manier is met Britse oorheersing vrede gemaak, maar ’n Afrikaanse kultuur is langs die Engelse aangelê. Die Noodhulpliga, ATKV-strandoorde, Nasionale Party, Afrikaner Broederbond, Volkskas, Sanlam en Nasionale Pers is enkele instellings wat Afrikaners tuis in hul wêreld moes maak – onderskeibaar, maar net so goed as die Engelse wêreld.

Onderwys was sentraal. Waar die owerheid primêre onderwys in Afrikaans as ’n groot toegewing beskou het (“die enkeles wat kon, kon maar skool in Engels klaarmaak”), het Afrikaners die bietjie geneem en uitgebou.

Daar was selfgeleerde yweraars met bitter min formele onderwys, wat geletterdheid in afgeleë gebiede gekweek het. Daar was ook hoogs begaafde jong mense wat onderwys as ’n roeping gekies het. C.J. Langenhoven se humoristiese vertellings moes “die volk leer lees”.

Teen 1950 kon Afrikaners op ’n halfeeu van bemagtiging terugkyk. Deur onderwys toe te eien is voorkom dat ons óf verder in ellende teruggesak het, óf enkeles individueel, ten koste van hul identiteit en die res van die groep, bemagtig is.

En dit was die manier waarop die NP-regering geglo het swart groepe identiteit kan behou én hulself bemagtig.

Dit is die oorsprong van die gewraakte Bantoe-onderwys. Nie waar ’n hoogs funksionele onderwysstelsel vernietig word nie, maar waar ’n elite-stelsel wat uitdruklik die koloniale kultuur wil oordra, in onderwys vir almal omskep word.

In 2018 is Afrikaanse onderwys in die spervuur.

Die nuwe onderwys, met baie beperkings, is so ver moontlik op moedertaalonderrig geskoei. Soos wat skrywers gewerf kon word, is ál meer handboeke in Afrikatale geskryf. Teen 1994 is ’n reeks wiskunde-handboeke in Xhosa tot by st. 10 (gr. 12) voltooi. Dit het egter nooit ’n skoolbank gesien nie, want toe kom die ANC aan die bewind.

Want sien, die ANC-leierskap het uit die koloniale swart elite bestaan. Hul veldtog om post-koloniale onderwys teen te staan het in 1956 begin en eers in 1976 merkbare sukses behaal. Hulle moes voorkom dat die massas bemagtig word, want dit sou hulle die bevoorregte posisie kos wat koloniale onderwys hulle gebring het.

In 2018 is Afrikaanse onderwys in die spervuur. Die Hoërskool Overvaal se storie is welbekend. In die Noord-Kaap speel ’n ander hartverskeurende verhaal hom af. Arm, bruin gemeenskappe se moedertaal is Afrikaans. In Delportshoop en Hanover en wie weet waar nog, word daar nie voldoende Afrikaanse onderwysers voorsien nie. Die provinsiale onderwysdepartement se verweer is geldtekorte.

Dit is nie geld nie. Dit is swak beplanning. Of moedswillige beplanning. Want die swart elite wat Engels magtig is, moet hul posisie behou. Selfs ten koste van bruin “agtergeblewenes” en “benadeeldes deur kolonialisme en apartheid”.

Afrikaans is maar net ’n gerieflike sondebok, want die ANC kan nie post-koloniaal dink nie.

  • Dr. Wynand Boshoff is die Noord-Kaapse leier van die VF Plus.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.