Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Afrikaans: ‘Om heel te maak gaan nie maklik wees nie’

Deur Standaardafrikaans is mense uitgesluit en na die kantlyn toe gestoot, en ons kán nie toelaat dat dit weer gebeur en dan met Kaaps nie, het ’n deelnemer aan ’n Suidoosterfees-gesprek oor Afrikaans gesê. Murray La Vita doen verslag.

Deelnemers aan ’n Suidoosterfeesgesprek in Kaapstad was (van links) dr. Willa Boezak, dr. Anastasia de Vries, prof. Michael le Cordeur, en (op die skerm) prof. Wannie Carstens. Foto: Jaco Marais

“Hoekom het julle so lank stilgebly?”

Prof. Michael le Cordeur, gespreksleier en hoof van die departement kurrikulumstudie aan die fakulteit opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch, het dié vraag op die Suidoosterfees in Kaapstad aan die deelnemers aan ’n gesprek oor “die volle storie van Afrikaans” gestel.

Hy het die vraag voorafgegaan deur uit prof. Wannie Carstens, een van die gespreksgenote, en prof. Edith Raidt se boek Die Storie van Afrikaans: Uit Europa en van Afrika, aan te haal: “Onder Afrikaner-nasionalisme is daar oorwegend voorkeur gegee aan diegene wat eksklusief tot die wit Afrikanervolk behoort. Hieroor het Afrikaanse mense te lank stilgebly.”

Volgens Carstens, wat per Skype uit Frankfurt aan die gesprek deelgeneem het (hy is in Europa om lesings “in en oor Afrikaans” te gee), is een rede waarom mense stilgebly het die feit dat hulle nie geweet het wat in die verlede gebeur het nie.

“Vir my as taalkundige was dit uiters belangrik dat ek hierdie feite ’n slag op die tafel sit . . . Ek wou in die boek vertel hoekom nie-wit mense vir die witmense wat Afrikaans praat so kwaad is. Mense ken nie die invloed van Afrikaner-nasionalisme nie . . .”

‘Dit doof stemme uit’

Genl.maj. Jeremy Vearey: “My eerste blootstelling aan die Vryheidsmanifes was ’n Afrikáánse weergawe daarvan.” Foto: Jaco Marais

Le Cordeur wou by dr. Anastasia de Vries, ’n Afrikaansdosent en navorser aan die Universiteit van die Wes-Kaap, weet wat ’n mens kan bied as teenvoeter vir dié nasionalisme.

“Hoe verwerk ’n mens ons stilbly vir soveel jare? En as ’n voormalige joernalis, het jy stilgebly of was jy maar altyd aan die voorpunt van die Afrikaanse debat?”

De Vries: “Ons het nie stilgebly nie, dit [wat hulle geskryf en gesê het] is net geïgnoreer. Dít is wat Afrikaner-nasionalisme doen – dit doof mense se stemme uit en dit verswyg goed.

Die meeste van ons studente kom uit die platteland uit en hulle praat nie Kaaps nie.
Dr. Anastasia de Vries

“Ek werk met studente wat nie sê (soos ons gesê het nie): ‘Afrikaans is ook mý taal’ nie. Hulle sê: ‘Afrikaans is my taal’, en hulle leef dit. Maar hulle Afrikaans is nie noodwendig Standaardafrikaans nie. Ek praat Kaaps en ek praat dit ook wanneer ek klasgee, want ek laat nie vir my sê dat ek moet klasgee in Standaardafrikaans nie. Ek praat die taal wat op my hart lê en ek laat vir my studente die taal praat wat hulle met hulle ouers by die huis praat, want dít is wanneer gedagtes loskom – wanneer hulle vry en veilig genoeg voel om te praat soos wat hulle mond staan.

“Jong mense weet dat skryf en praat twee verskillende goed is – skryf het reëls; praat het nie. Mense dink as jy vir bruin studente klasgee, praat almal Kaaps; níks kan verder van die waarheid wees nie. Die meeste van ons studente kom uit die platteland uit en hulle praat nie Kaaps nie.

“So wanneer mense sê: ‘O, ons moet nou Kaaps praat’, dan vra ek: Hoekóm? Ons kan mos nie die geskiedenis herhaal nie. Dít is wat ek wil hê my studente moet onthou: Dat ons baie moeilik uit die geskiedenis leer, maar ter wille van onse selfrespek en menswaardigheid béter ons onthou deur Standaardafrikaans is mense uitgesluit en na die kantlyn toe gestoot, en ons kán nie toelaat dat dit weer gebeur en dan met Kaaps nie, want daar is ook ander vorme van Afrikaans.”

‘Streef na ’n nuwe balans’

Dr. Willa Boezak: “Vir my is dit belangrik dat ons ál die variëteite van Afrikaans as gelyk erken . . .” Foto: Jaco Marais

Le Cordeur het beaam dit is belangrik om weg te beweeg van Afrikaner-nasionalisme “maar ons moet ons ook nou nie weer in ’n hoek gaan vasverf in ’n bruin Afrikaner-nasionalisme nie; ons moet strewe na ’n nuwe balans”.

Hy het aan die taalaktivis en skrywer dr. Willa Boezak gevra wat gedoen kan word om die situasie reg te stel.

“Vir my is dit belangrik dat ons ál die variëteite van Afrikaans as gelyk erken . . . Ek skryf artikels; ek skryf boeke . . . ’n boek soos So glo ons waarin ek ook onse bydrae gee. Dít is wat ons moet doen – ons moet aandring op ons taal, maar nie op ’n arrogante manier nie, want jy kan alleen jou taal bevorder met die wete dat ons in ’n meertalige land lewe . . .

“Maar julle moet net onthou Afrikaans is die moedertaal van 7 miljoen mense – dis die derde grootste taalgemeenskap in Suid-Afrika.”

Dit was iets wat veronderstel was om so móói te wees maar dit is so ontsier omdat die Afrikaanse gemeenskap verdeeld is.
Prof. Michael le Cordeur

Le Cordeur het gesê daar moet gekyk word hoe “hierdie verdeelde Afrikaanse gemeenskap” versoen kan word.

“Ons het ’n week gelede hierdie onsmaaklike ding gehad van die Ghoemas. [Die Afrikaanse musiektoekennings waar ’n lied van Steve Hofmeyer uit die benoemings verwyder is wat daartoe gelei het dat sommige kunstenaars die geleentheid geboikot het.]

“Dit was iets wat veronderstel was om so móói te wees maar dit is so ontsier omdat die Afrikaanse gemeenskap verdeeld is, en êrens moet ons begin om hierdie verdeelde Afrikaanse gemeenskap weer héél te maak.”

Hy wou ook weet of ons nog monumente vir Afrikaans moet oprig al dan nie.

‘Nie nog monumente nie’

Anastasia de Vries: “Die meeste van ons studente kom uit die platteland uit en hulle praat nie Kaaps nie.” Foto: Jaco Marais

De Vries: “Nee, nie nog monumente nie. Eerder opleiding as monumente. Studente en mense in gemeenskappe moet opgelei word hoe om hulle eie geskiedenisse op te teken.

“En oor die Ghoemas – dit het nie gegaan oor Afrikaans nie; ons moet dit nie ’n Afrikaanse ding maak en nou moet ons skuldig voel daaroor nie.”

Genl.maj. Jeremy Vearey, senior Wes-Kaapse polisie-offisier en skrywer, het later uit die gehoor gesê daar is ’n ongeskryfde geskiedenis van Afrikaans wat nog erkenning moet kry.

“Die rádikale Afrikaans wat ek en u gepraat het in die tagtigerjare. Dis ’n Afrikaans waar jy nie eens ’n woord Engels in ’n massavergadering gepraat het nie. Álles kon vertaal word en verwoord en gebeeld word.

“Ek het deur ’n ander trajek met Afrikaans gekom. Ek het nie baie Engels geken in Elsiesrivier waar ek was nie. My eerste blootstelling aan die Vryheidsmanifes was ’n Afrikáánse weergawe daarvan wat ek geleer het binne die ANC-konteks vertaal was deur Uys Krige.

“Die eerste vertaling in Afrika van die Kommunistiese Manifes was ’n Afrikaanse een deur prof. Jean van der Poel van UCT.

“Daar is ’n trajek van Afrikaans wat radikáál bygedra het. Ek vat byvoorbeeld toe ek op Robbeneiland was, is ek – as deel van die politieke skool daar – gevra om die Vrye Weekblad en Die Burger te vertaal om dan nou die mening van die Afrikaanssprekende te péil; om hulle politieke bewussyn te peil.”

Belydenis en erkenning

Le Cordeur het daarop gewys mense sê dikwels ons moet vergeet van die verlede en aanbeweeg; maar hóé moet ons aanbeweeg?

“Hoe maak ons heel wat stukkend was en hoe bou ons daarop vir ’n nuwe toekoms? Kyk hoe sukkel ons nou om hierdie Ghoemas-ding gesond en heel te maak; om heel te maak, gaan nie maklik wees nie.”

Versoening beteken dat ons mekaar se stories hoor en dat ons dan daaruit sáám iets nuuts bou.
Prof. Wannie Carstens

Carstens: “Ek het myself gekonfronteer met die haglikheid van die verlede en dit het van my ’n interne proses geverg en ook ’n intense proses van belydenis en erkenning van wat verkeerd gegaan het. En ek het geluister wat die ander kant vertel het; en dít was so belangrik.

“Versoening beteken dat ons mekaar se stories hoor en dat ons dan daaruit sáám iets nuuts bou. Ons mag nóóit, óóit vergeet wat gebeur het nie, maar ons moet dit in perspektief sien – mense moet mý kant van die storie hoor en ek moet iemand anders se kant van die storie hoor en dan gaan ons twee sáám.

“Dis ’n intense, persoonlike, ménslike belydenis en ons móét daardeur gaan. Ek kan bely, ek is daardeur en dit het my skoongemaak en dit het my vrede gegee. Ek leef dit uit in my daaglikse doen en handel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.