Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Afrikaans sál lewend gehou word’

Die rektor van die Universiteit van die Vrystaat, prof. Francis Petersen, praat oor die nuwe UV-taalbeleid. Gert Coetzee het die vrae gestel.

Prof. Francis Petersen Foto: Deon Raath

1. Ná die konstitusionele hof se uitspraak (die meerderheidsmening) dat die UV se taalbeleidsbesluit (Engels as primêre medium ter vervanging van Afrikaans en Engels as parallelmedium) wettig is, was die UV se reaksie dat dit nie ’n “oorwinning oor Afrikaans” is nie. Dit is tog teenstrydig? Die doel van die hofstryd was tog om Afrikaans as ’n primêre onderrigmedium uitgeskakel te kry?

Die doel van die hofstryd was om te verseker dat die nuwe taalbeleid volledig geïmplementeer kon word – dus Engels as die primêre onderrigmedium. Dit was geensins ’n manier om Afrikaans minderwaardig te skets, soos sommige media dit uitgebeeld het nie. Dit is uit hierdie invalshoek dat UV die verklaring gemaak het dat dit nie ’n “oorwinning oor Afrikaans” is nie.

Die UV se taalbeleid dra steeds by tot die bemagtiging van Afrikaans as akademiese taal, en natuurlik ook as ’n sosiale taal.

Die UV het in die afgelope paar jaar op al sy kampusse onmiskenbare vordering in ’n aantal areas gemaak wat verband hou met diversiteit en sosiale integrasie. Daarmee saam het die demografiese verspreiding van studente heelwat verander, met talle inheemse tale wat sterker op die kampusse verteenwoordig word. As ’n multikampus-universiteit moet toepaslike wyses dan mos gevind word om uiting aan hierdie sosiale en akademiese diversiteit te gee. Om hierdie rede is gekyk na ’n optimale model in ’n meertalige omgewing waar Engels die medium van onderrig is, terwyl ander inheemse tale as akademiese tale uitgebou word.

2. Tog, vir enige taal wat homself as ’n akademiese taal gevestig het, moet dit ’n slag wees om in die breë van die status beroof te word. Hoe kan dit anders vir Afrikaans wees as dat sy verskraling aan die UV nie in groter konteks en oor tyd nie die voortbestaan van die taal gaan bedreig nie?

By Kovsies word Afrikaans beslis nie bedreig nie. Die uitbouing daarvan as akademiese taal binne ’n meertalige konteks het eintlik nou eers begin. Inteendeel, Afrikaans het reeds ’n sterk basis om baie vinniger en verder as akademiese taal uitgebou te word in vergelyking met die ander inheemse tale. Suid-Sotho en Zoeloe moet egter ook as akademiese tale uitgebou word en dis belangrik dat dieselfde werk hiermee – sowel as met gebaretaal in universiteitsverband – gedoen word. Die taalkomitee van die universiteit is juis nou besig om verdere praktiese voorstelle te ontwikkel om Afrikaans (asook die nader inheemse tale) verder akademies uit te bou – dit opsigself is ’n teken dat die UV sal toesien dat Afrikaans nie bedreig sal word nie.

3. Die UV dra nou die seldsame onderskeiding dat dit al plek ter wêreld is waar ’n amptelike taal se akademiese status ingeperk is. En dit druis in teen die bemagtiging van minderheidstale wêreldwyd. Of hoe moet die nuwe beleid beskou word?

Hierdie stelling is nie waar nie. Die UV se taalbeleid dra steeds by tot die bemagtiging van Afrikaans as akademiese taal, en natuurlik ook as ’n sosiale taal. Min taalbeleide van ander tersiêre instellings in Suid-Afrika dra in so ’n mate by tot inklusiwiteit, sowel as tot die waardering en vlak van sensitiwiteit vir ander tale en kulture (uitgebeeld in ’n meertalige konteks) – ’n komponent wat ook sterk in die universiteit se geïntegreerde transformasieplan na vore kom.

Dit is wel so dat die skeiding van swart en wit studente in die klaskamer tot rassespanning kon gelei het. Dit het ook gelei tot uitdagings met die sosiale integrasie van studente in koshuise.

4. Wat ook – nou – teenstrydig klink, is dat nou op “die uitbouing van Afrikaans in ’n meertalige konteks” klem gelê word. Enersyds word die taal as primêre onderrigmedium uitgeskakel; andersyds moet dit nou “in ’n meertalige konteks” uitgebou word. Wat word hiermee in praktiese terme bedoel (meer as tutoriale en woordelyste in Afrikaans)?

Wat hiermee bedoel word, is dat daar nou op die uitbouing van Afrikaans as akademiese taal gekonsentreer word. Daar word ook gekyk na maniere waarop ondersteuning vir Afrikaans as onderrigtaal voorsien kan word in modules waar daar ’n duidelike behoefte is. So byvoorbeeld kan studente in die fakulteite teologie­ en opvoedkunde steeds onderrig in Afrikaans ontvang indien die beroepsmark dit vereis. In die fakulteit gesondheidswetenskappe word studente in hul wisselwerking met pasiënte ook steeds aan vaardighede in Afrikaans blootgestel. Die taalkomitee van die universiteit wat saamgestel is uit spesialiste, onder meer uit verskillende taaldepartemente, werk aan die daarstelling van ’n langtermynontwikkelingsplan in die verband.

5. Uit die stukke blyk dit die UV se hoofrede om weg te beweeg van die parallelmedium-taalbeleid was omdat dit “wit Afrikaanssprekende studente en swart studente, wat gekies het om in Engels te studeer, van mekaar geskei het”. Dit is beskryf as die “onbedoelde gevolg” van die beleid en het – volgens die UV – tot rassespanning gelei. Dan is Afrikaans mos as die sondebok beskou en die uitspraak ’n sege oor Afrikaans?

Dit is wel so dat die skeiding van swart en wit studente in die klaskamer tot rassespanning kon gelei het. Dit het ook gelei tot uitdagings met die sosiale integrasie van studente in koshuise. Dit maak egter nie van Afrikaans die sondebok nie en dit beteken ook nie dat die taalbeleid ’n opoffering van Afrikaans ter wille van versoening is nie. Wat dit wel beteken, is dat ons voor- en nagraadse studente toegerus word met vaardighede in Engels as wêreldtaal en dat dit hulle in staat stel om akademies mobiel te kan wees. Dit beteken ook dat die UV daartoe verbind is om tegemoetkomend te wees teenoor linguistiese diversiteit binne die streeks-, nasionale en internasionale omgewing waarin die universiteit beweeg.

Die beweegrede om Afrikaans in sekere fakulteite soos teologie, opvoedkunde en landbou (op eerstejaarsvlak) te behou, hou geen finansiële voordeel vir die UV in nie.

6. Is daar inderdaad getoetste bewyse dat Afrikaans as deel van parallelmedium-onderrig tot rassespanning gelei het, of is dit net ’n gerieflike persepsie (noudat die hof nie die meriete van die saak aangehoor het nie)?

Die universiteitsraad het in Junie 2015 ’n mandaat aan die bestuurskomitee gegee om deur middel van ’n omvattende konsultasieproses met alle belanghebbendes ’n formele hersiening van die taalbeleid te doen. Deel hiervan was die vorming van ’n taalkomitee wat die hersieningsproses gelei het. ’n Finale verslag waarin kwalitatiewe en kwantitatiewe bronne gebruik is om bevindinge te staaf is in November 2015 aan die Raad voorgelê. Aanduidings word wel in die onafhanklike kwantitatiewe data-analise gegee dat parallelmedium-onderrig tot rasseskeiding gelei het, en wat rassespanning kon veroorsaak.

7. Die meerderheidsuitspraak – in die UV se guns – het erge kritiek ontlok. Hou die UV rekening met die perspektief van die minderheidsuitspraak – onder meer dat bewyse vir rassespanning ontbreek; die meerderheidsuitspraak eintlik diskriminerend is, en dat die hof eintlik die teenstrydighede – en daar is baie – moes gekonfronteer het?

Hoewel daar wel rekening gehou word met die minderheidsuitspraak, was die fokus van die universiteit eerder op die uitspraak ten opsigte van die volledige implementering van die Taalbeleid, soos gelewer deur hoofregter Mogoeng Mogoeng op 29 Desember 2017.

8. Onder meer Theuns Eloff wys uit dit is ook teenstrydig dat waar daar ’n “markaanvraag” (soos in teologie en opvoedkunde) is, Afrikaans maar as parallelle onderrigmedium behou mag word? Hoe strook dit? Of geld dit net waar uit Afrikaans ’n inkomste verkry kan word?

Dit spreek juis die pragmatiese implementering van Afrikaans binne ’n meertalige konteks aan. Die beweegrede om Afrikaans in sekere fakulteite soos teologie, opvoedkunde en landbou (op eerstejaarsvlak) te behou, hou geen finansiële voordeel vir die UV in nie. Hierdie besluit is bloot geneem weens die feit dat die beroepsmark dit vereis wanneer ’n teologiestudent byvoorbeeld sy/haar roeping in ’n tradisioneel Afrikaanssprekende kerk wil beoefen, of ’n opvoedkundestudent in ’n Afrikaanse skool wil gaan klasgee.

Ek het in ’n Afrikaanse huis grootgeword en my huistaal is Afrikaans. Die taal is diep gesetel in die harte van dié wat dit praat.

9. Is die UV tevrede met die proses wat gevolg is – al word dit voorgehou as “deursigtig” is die name van die sogenaamde taalkomitee nooit beskikbaar gemaak nie, en voorleggings deur belangegroepe is net as ’n formaliteit aanvaar. In wese is die besluit oor die afskaffing van Afrikaans vooraf geneem en die hele proses onder ’n dekmantel van “deursigtigheid” gedryf om by die uitslag te kom?

Die uitvoerende komitee van die UV is tevrede met die proses en beskou dit as volledig en deursigtig. Die feit dat die name van die taalkomitee nie beskikbaar gemaak is nie, was ’n besluit wat deur die universiteitsbestuur geneem is. Ek verstaan en respekteer die besluit. Dit is belangrik om eerder die fokus van die debat te verander na een waar Afrikaans en ander inheemse tale in ’n meertalige konteks as akademiese tale uitgebou kan word. Ek het onlangs aan dié wat op die kantlyn sit en treur oor Afrikaans ’n uitnodiging in die media gerig om idees te deel oor hoe Afrikaans as akademiese taal verskerp en uitgebou kan word. Die uitnodiging bly staan. Ek hoop om die gesprek vorentoe te neem en om konstruktiewe, grondige gesprekvoering hieroor te voer met diegene wat opregte belangstelling in die voortbestaan van Afrikaans by Kovsies het.

10. U is as rektor aangestel nadat die besluit en hofuitspraak eintlik ’n uitgemaakte saak was. Is dit nie nou bietjie ’n scenario van “bad guy/good guy” nie: Prof. Jonathan Jansen wat die ontwrigting vir ’n opgestelde taalbesluit geskep het; en u wat nou die gevolge moet bestuur en anders moet laat klink nie?

Ek berus my by die besluite wat geneem is en die gebeure wat tydens my voorganger se tyd by die UV plaasgevind het. Ek besef die waarde van die taalbeleid en die verskil wat dit vir ons voor- en nagraadse studente se loopbaanvoorbereiding inhou. My doelwit is nou om saam met die uitvoerende bestuur van die universiteit toe te sien dat Afrikaans as inheemse taal lewend en progressief lewend gehou word. Dit kan gedoen word.

11. Is u in u hart oortuig die regte en regverdige besluit – ook in terme van balanserende regte – is geneem en dat dit nie later tot wrange vrugte vir ’n regverdige bestel vir die UV – en eintlik die hele SA – gaan lei nie.

Ek het in ’n Afrikaanse huis grootgeword en my huistaal is Afrikaans. Die taal is diep gesetel in die harte van dié wat dit praat. Ek glo dat die regte en regverdige besluit wel by Kovsies geneem is. Ek glo ook dat alle inheemse tale in ons land beskerm en uitgebou moet word, want ons is dit aan ons studente verskuldig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.