Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Afrikaans ‘sal nie op kampus oorleef’
’n Betoger van die Fees Must Fall-beweging by die Universiteit van die Witwatersrand. Foto: Deon Raath

Taal se kragtige politieke simboliek weeg nog te swaar, skryf Jonathan Jansen.

Die meeste waarnemers van die krisis by universiteite het nie die verband gesien tussen die Rhodes Must Fall-betogings en die taalbeleiddebatte by histories wit, Afrikaanse universiteite nie.

As die standbeeld van Cecil John Rhodes ’n simbool van die rasse-uitsluiting, wit bevoorregting, en marginalisering by die Engelse universiteite was, het die grondwetlike bepalings en institusionele statute ter beskerming van Afrikaans as onderrigtaal presies dieselfde funksie vervul in die oë van swart studente op plekke soos Tukkies, Kovsies en Stellenbosch.

Afrikaans se simboliek was ingewikkeld. Want terwyl die Rhodes-standbeeld weinig ondersteuners gehad het by die Engelse wit universiteite, het Afrikaans ’n georganiseerde steunbasis van taalregtevegters gehad binne én buite die eeu oue Afrikaanse instellings.

Terwyl Rhodes van sy staanplek verwyder kon word deur ’n eenvoudige raadsbesluit – en die versigtige instemming van erfenisliggame – sou die verwydering van Afrikaans as onderrigtaal noodwendig beslis word in die hoogste howe in die land.

Afrikaans word steeds ten diepste verbind met die terloopse geweld, die rassisme, en die haat vir swart mense in ’n deel van die land.

Waarom het Afrikaans so ’n betwiste simbool vir swart studente geword?

Was dit dan nie ook die taal van swart Afrikaanssprekendes nie, veral dié in die bruin bevolking wat net soos wit Afrikaanssprekendes dikwels nie vlot was in Engels nie? Was Afrikaans dan nie die taal van die armes nie, nie net histories nie, maar selfs nou, in die wingerde van die landelike Wes-Kaap en op die fabrieksvloere van die Kaap?

Origens, erken die Grondwet van Suid-Afrika dan nie Afrikaans as ampstaal nie, een waarin mense die reg het om onderrig te word?

Vir die visekanselier van die Kaapse Skiereiland-Universiteit van Tegnologie (KSUT), dr. Prins Nevhutalu, het die eise van swart aktiviste dat Afrikaans verwyder word ’n onreg voortgesit teen die bruin sprekers van die taal.

“Waar ons nie saamgestem het met die betogende studente nie, was oor die kwessie van Afrikaans by KSUT se Wellingtonkampus,” sê Nevhutalu.

“Dit is steeds ’n kwessie wat ek verdedig het, nie vir die Afrikaners nie, maar vir die baie groot bruin meerderheid in die Wes-Kaap wat nie Engels praat nie, maar Afrikaans. En daar’s geen manier om dit te ontken nie. Mandela was baie, baie duidelik hieroor: Ons moet daarteen waak dat een groep ’n ander groep onderdruk.

Daarom was ek ’n verbete kampvegter vir Afrikaans op Wellington omdat ons die bruin gemeenskap bedien.
Dr. Prins Nevhutalu

"Daarom was ek ’n verbete kampvegter vir Afrikaans op Wellington omdat ons die bruin gemeenskap bedien. Die meeste studente daar is bruin mense, en natuurlik is daar ook wit studente. So Afrikaans is steeds op die tafel. Ek het my punt verdedig, wat selfs die ANC erken, dat jy móét inheemse tale aanvaar, en Afrikaans is, of jy nou daarvan hou of nie, ’n inheemse taal. Ek hou nie per se van Afrikaans nie, maar ek kan nie veg vir dekolonisasie in die koningin se taal nie.

“Ek het Afrikaans verdedig. Ek het ’n hele dag gebruik om met Sasco te gaan praat, vir hulle probeer vertel waarom hierdie programme (in Afrikaans) saak maak. Nie ter wille van Afrikaans nie, maar vir hierdie land en vir die ANC wat omgee vir almal, nie net vir swart Afrikane nie. Ons moet tog ook omgee vir bruin mense, en hul moedertaal is Afrikaans. Gaan ek die oorlog wen? Ek dink nie so nie. Want Afrikaans was nie slegs ’n onderrigtaal nie maar ’n simbool van uitsluiting.”

By ander voormalige wit, Afrikaanse universiteite het onmin oor Afrikaans al geruime tyd onder die oppervlak van die transformasiedebatte gebroei.

In ’n sin was die bekommernisse baie prakties, ofskoon soms anekdoties.

Stories is vertel oor die voordeel wat die wittes toeval in parallelmediumklasse wat ingestel is by van die oorspronklik Afrikaanse universiteite. Swart studente sou soms in albei klasse sit en sien hoe Afrikaanse studente meer inligting kry oor wat dalk in die eksamenvraestel kan opduik as die studente in die Engelse sessies. Soms is selfs beweer wit studente het die eksamenvrae vooraf gekry.

Daar was herhaaldelik klagtes oor sistematiese eerder as toevallige voordele vir die wit studente.

"Daar was herhaaldelik klagtes oor sistematiese eerder as toevallige voordele vir die wit studente, soos skyfies wat geprojekteer word en slegs in Afrikaans is, terwyl die dosent studente in gebroke Engels toespreek.

Die Engelse vaardighede van baie, indien nie alle nie, Afrikaanse dosente was self ’n bron van konflik.

Toe die studenteprotes losbars in 2015, het Kovsies reeds ’n voorstel voorberei vir die universiteitsraad om Engels die primêre onderrigtaal te maak.

’n Baie produktiewe studentebyeenkoms het openbare voorleggings vir transformasie gedoen met elegante argumente oor die kampusonrus, insluitend oor die gebruik van Afrikaans. As bestuur het ons gevoel die kwessie moet verwys word na die raad, wat die hoogste besluitnemingsliggaam by die universiteit is.

Trouens, ingevolge die Wet op Hoër Onderwys is institusionele taalbeleid die enigste kurrikulêre kwessie waaroor die universiteitsraad enige gesag het.

Baie mense was verras toe beide die senaat (wat die professore verteenwoordig) en die raad (namens alle belanghebbendes) die voorstel vir ’n Engelsmediumuniversiteit oorweldigend gesteun het.

Dit sou egter maande duur voor die taalbeleid geïmplementeer sou word, deels weens die voorbereiding wat gedoen moes word, maar ook omdat ons verwag het die besluit sou in die howe uitgedaag word deur regse konserwatiewe groepe soos die pro-Afrikaanse burgerregteorganisasie AfriForum en die vakbond Solidariteit.

In die skilderagtige wynlanddorp Stellenbosch is die studentevideo Luister intussen vrygestel, wat beoog het om bewustheid te wek oor die gevolge van Afrikaans se oorheersende posisie by onderwys- instellings.

Dertig studente is gevra wat dit beteken om swart te wees op Maties en by die Elsenburg-landboukollege.

Swart studente en een dosent het in Luister sonder woede of haat vertel hoe Afrikaans dien om dié wat nie die taal praat nie te verneder en te teister en seker te maak hulle misluk op die kampus, in die klaskamer, en in die danssale, eetplekke, en kroeë in die omliggende gemeenskap.

Wat aanvanklik ’n goedkoop videodokumentêr sou wees, het ’n uitsonderlike en roerende bron van insig geword.

Wat aanvanklik ’n goedkoop videodokumentêr sou wees, het ’n uitsonderlike en roerende bron van insig geword in die sosiale en kulturele ontmoetings van swart nie-Afrikaanssprekers in ’n instelling wat hom vir te lank teen hulle probeer pantser het, veral teen Xhosasprekende studente uit die Oos- en Wes-Kaap.

In Luister vertel ’n manlike student: “Ons het ’n reuseprobleem met Afrikaans, broer. Dis die grootste probleem hier en dit maak ons dood. In my eerste jaar kon ek geen Afrikaans verstaan nie. Ek het net in die klas gesit en na die dosent kyk terwyl hy hierdie taal praat. Ek het gedop want ek het slegs op my handboeke staatgemaak.”

’n Vrouestudent het vertel: “Jy gee jou studentekaart in en kry ’n vertaaltoestel en dan fluister hierdie vertaler in jou oor.” Nog een voeg by: “So jy luister na die dosent en terselfdertyd na die tolk wat fluister want hulle mag nie hard praat nie. En jy kan nie presies hoor wat hulle sê nie want die dosent praat harder as die tolk. En soms het die vertalers nie die korrekte vaktaal gebruik nie, want hulle is nie self ingenieurs nie.”

Nog ’n manlike student het gesê: “Ek hou van Afrikaans. By die huis spog ek met my Afrikaans. Maar wanneer die dosent akademiese Afrikaans begin praat . . . ek verstaan net niks nie.”

Terwyl Kovsies die parallel mediummodel gebruik het om Engelse en Afrikaanse klasse te skei, het Maties ’n dubbelme­diumbeleid gevolg waarvolgens albei tale in dieselfde klas gebruik word met ’n verskeidenheid van tegnieke.

Dit het ingesluit fluistertaal, wat behels dat studente in mekaar se ore vertalings doen.

Dit het ingesluit fluistertaal, wat behels dat studente in mekaar se ore vertalings doen, asook die afwisseling tussen Engelse klasse en Afrikaanse skyfies en klasnotas.

Die fluistertegniek, wat entoesiasties bemark is deur ’n voormalige visekanselier by Potch, was pedagogies gebrekkig en ’n resep vir ’n politieke ramp.

Tog het fluistertaal gewild gebly in wit konserwatiewe kringe omdat, soos Luister aangetoon het, dit die oorheersing voortgesit het van Afrikaans in die onderrig van studente.

Afrikaans word steeds ten diepste verbind met die terloopse geweld, die rassisme, en die haat vir swart mense in ’n deel van die land – die nogal geïsoleerde Stellenbosch-area – waar swart studente nie Afrikaans magtig is nie.

En dit is die hoofrede waarom, tot die ergernis van baie, Afrikaans nie sal oorleef as ’n onderrigtaal by enige openbare Suid-Afrikaanse universiteit nie.

Die taal se kragtige politieke simboliek, weens sy verbintenis met die apartheidsverlede, weeg te swaar in die oorgeërfde herinnerings van swart studente.

Tog gooi die taal se prominente plek by sommige universiteite steeds ’n lang skaduwee oor die daaglikse lewens van nie-Afrikaanssprekende studente. Net soos die standbeeld van Cecil John Rhodes.

Meer oor:  Jonathan Jansen  |  Onderrigtaal  |  Universiteite  |  Taal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.