Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Afrikaans slagoffer van kortsigtigheid

Waarom sal andersins intelligente mense ’n skat so waardevol as Afrikaans sommer so prysgee, vra Jeanne McCaul in ’n ope brief aan die Stellenbosse rektor, prof. Wim de Villiers.

Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch. Foto: Stefan Els

Geagte prof. De Villiers

Hierdie brief skryf ek uit die suidweste van Frankryk waar ek tans woon.

Jare gelede het ek ’n BA-graad aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Dit was nadat ek, as Afrikaanssprekende, onsuksesvol in my eerste jaar aan Wits was. Dit ondanks die feit dat ek tweetalig Afrikaans én Engels grootgeword het.

My hoofvakke op Stellenbosch was Frans en Duits en ’n beurs van die Franse regering vir verdere studie aan die Sorbonne, Parys, is aan my toegeken. Vervolgens het ek in Frankryk, Duitsland, Engeland en België gewoon en gewerk.

Ek is intussen vyf tale vlot magtig en het ’n goeie begrip van ’n verdere twee. Ek beskou myself as ’n Afrikaanse wêreldburger, nie net omdat ek tale magtig is nie, maar wel, en dis die sleutel, omdat tale toegang tot mense, kulture en intellekte bied. Die soort toegang wat eentalige mense eenvoudig nie het nie en wat vertalings net in beperkte mate kan besorg.

Maar die basis, die soliede basis waarin alles gewortel is, is in die eerste instansie moedertaalonderrig. Ondanks my tweetaligheid kon ek indertyd alleenlik in my moedertaal tot my reg kom. As jong student is nie net ’n mens se denkpatrone nie, maar jou hele wese, selfvertroue en persoonlikheid in jou moedertaal opgesluit. Jou eie taal is die sleutel tot assimilasie van kennis en die aanleer van hoe om ’n boodskap suksesvol oor te dra. Neem dit weg en jy is ’n halwe mens. Dis immers wel bekend dat hoogs intelligente mense soos swape kan voorkom wanneer hulle sukkel om hul gedagtes in ’n ander taal as hul eie om te sit.

Dit gaan vir my hier nie om taal as sodanig nie, maar wel om taal as ’n venster op ’n ander se wêreld, en met elke nuwe taal ’n nuwe venster.

Die tweede soliede basis waarin my internasionale loopbaan gewortel is, is die feit dat my moedertaal juis Afrikaans was, en steeds bly. Dit was en bly ’n voorreg wat ek nooit genoeg sal kan beklemtoon nie.

Engels is gewis in vandag se wêreld nodig en derhalwe ook geredelik toeganklik. Sekerlik vir Westerlinge. Ek wil byna sê vir elke Jan Rap en sy maat. Máár, hoe meer alles verengels hoe armer, nie hoe ryker nie, word die mensdom. Hoe eensydiger, hoe enkelvoudiger. Daarenteen is om Afrikaans te ken, te verstaan en te kan praat en skryf ’n voorreg. Dis ’n unieke taal. ’n Internasionaal erkende, moderne, inheemse taal, tegelyk Westers én van Afrika. ’n Brugtaal. ’n Taal wat, in sy soepelheid en aanpasbaarheid soveel wêrelde kultureel en intellektueel bymekaar bring. ’n Taal wat, met sy besonderse tongval, suiwer fisiologies, die aanleer van ander tale vergemaklik. ’n Taal wat die Dietse sowel as die Latynse tale, en ek wil selfs byvoeg Oosterse tale, wat hul fonetiese uitspraak met Afrikaans gemeen het, soveel meer toeganklik maak. ’n Taal wat buitengewoon skeppend is in sy vermoë om nuwe konsepte op te neem en eie te maak in ’n rykdom van nuwe woorde en outentieke uitdrukkinge – kleurvol sowel as poëties, literêr, intellektueel én wetenskaplik.

Daarom vra ek my af: Hoe is dit op Gods aarde moontlik dat intelligente Suid-Afrikaners, in leidende posisies, dié voordele van kennis en toegang tot so ’n taal as ’t ware met die badwater wil uitgooi? Uiteraard ondersteun ek die petisie in omloop oor die behoud van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch heelhartig en ek het dit onderteken. Maar ek laat klaarblyklik goed gefundeerde pleidooie oor bepalings van die Grondwet, sowel as die wetlike en akademiese stawings ten gunste van moedertaalonderrig aan kundiges op dié gebied oor.

Vir my gaan dit om die kulturele verryking en die enorme breë horisonne wat meertaligheid meebring. Weer eens wil ek beklemtoon: Dit gaan vir my hier nie om taal as sodanig nie, maar wel om taal as ’n venster op ’n ander se wêreld, en met elke nuwe taal ’n nuwe venster. En nou wil sommige ons jong mense, Afrikaanstaliges, maar ook al die ander wat dan ten minste met Afrikaans en Afrikaanstaliges in eie reg in aanraking kom, daardie voorreg ontneem? Dat studente selfs verbied word om in koshuise en op parkbankies met mekaar Afrikaans te praat is ongehoord, inderdaad krimineel!

Nie alleen gaan dit die verstand te bowe nie, ek wil dit eenvoudig nie glo nie. Wat sal toekomstige geslagte van ons intellektuele leiers dink wat ’n deel van ons unieke rykdom sommer so prysgegee het? En dit boonop in ’n tyd dat die res van die wêreld juis toenemend die meriete van meertaligheid en kulturele veelvuldigheid erken en ondersteun?

Geagte Professor, ek ken u nie, maar vra my af hoe kan en wil u deel wees van ’n beleid van regressiewe kortsigtigheid?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.