Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Japie Gouws: 'Afrikaanses durf nie laer trek’

“. . . dan kom die bose engel na die domstes van so 'n volk en fluister vir hulle: ‘Julle kultuur is die hoogste, ja, die enigste werklike kultuur op aarde.’

“En hulle glo hom, want hulle ken nóg hulle eie kultuur, nóg die van ander volke.”

Só het N.P. van Wyk Louw meer as 60 jaar gelede geskryf.

Die afgelope jaar spook Suid-Afrikaners met monumente wat beverf en bestook word, parlementêre manewales wat stomslaan, beurtkrag en beurtwater wat kwaadmaak, praatjies van 'n dreigende resessie wat bangmaak, protesoptredes deur ouers en inwoners teen skole en munisipaliteite, wanorde op universiteitskampusse, rassisme en onverdraagsaamheid wat knaend kop uitsteek, en nog heelparty ander kwessies wat krap.

Politici misbruik gewoonlik hierdie situasies, en individue en gemeenskappe word gekonfronteer met oorwegings om die handdoek in te gooi of om in 'n sak-en-as-toestand te verval.

Die regering en politici praat baie van sosiale kohesie en nasiebou, maar op die beste kom daar dadels van. Die oplossing sal van elders moet kom om enigsins resultate te weeg te bring.

Die ATKV is vanjaar, 85 jaar gelede, gestig omdat mense bekommerd was oor Afrikaans. Hulle was bekommerd oor Afrikaans in die werkplek en wou graag vir hul werkgewer sê dat Afrikaans vir die personeel belangrik is. Hul benadering was nie konfronterend van aard nie, trouens, hulle wou daarmee die Engelssprekendes meer vertroud met Afrikaans maak.

- - - 

As taal- en kultuurorganisasie het die ATKV, in die woorde van Gert Vlok-Nel,’n ver pad gekom, en het die ATKV aangepas om vandag een van die mees inklusiewe en suksesvolle kultuurorganisasies in Suid-Afrika te wees.

Die ATKV se kultuurstrategieë is geskoei op die beginsels dat die ATKV, én Afrikaanssprekendes, impak moet maak met hul doen en late, dat nasiebou en versoening bevorder moet word en dat taal en kultuur uitstekende instrumente is om suksesse in Suid-Afrika te behaal.

Die groeiende resultate en impak van die ATKV se taal-, kunste-, kultuur-, onderwys en gemeenskapsprojekte die afgelope jare, bewys dat die ATKV juis dit regkry.

Die fluistering van Van Wyk Louw se bose engel beaam vandag se probleem. En soos van Wyk Louw sê: Ons ken nie die volle omvang en potensiaal van die Afrikaans en van die kultuur van die inklusiewe Afrikaanse gemeenskap nie, wat nog van die tale en kulture van ander Suid-Afrikaners?

Daar bestaan geweldige potensiaal in die ontsluiting van onontginde en onopgetekende, ryke Afrikaanse taal en kultuurerfenisse. Net soos die opspraakwekkende ontdekking van Homo Naledi – Naledi is die Sotho-woord vir ster – is daar ook baie sterre opgesluit in die geskiedenis en erfenis van Afrikaanses, maar ook van ander Suid-Afrikaanses.

Die waarde van erfenis word reeds geïllustreer in die suksesse van onder meer die ATKV se Rieldans, die ligteliedjieprojek, die opteken van verhale en familiegeskiedenis sowel as die talle koor-, musiek- en ander projekte van die ATKV.

Die ATKV se benadering om op konstruktiewe wyse 'n rol te speel ten opsigte van dit wat ons visie en missie is, het weer vanjaar uitstekende vrugte afgewerp. Die ATKV was nog nooit in die afgelope jare so stewig geposisioneer soos nou nie. En dit word wyd deur vriend en vyand erken.

Dit gaan nie net daaroor dat die ATKV 'n sleutelrol gespeel het om die Afrikaanse nuus op kanaal 2 van die SAUK terug te kry nie, of dat die ATKV se interaksie met die departement van kuns en kultuur tot gevolg gehad het dat omvattende werksessies oor die inwerkingstelling van die Tale-wet aangebied is nie.

Dit gaan ook oor daardie kleiner gebeurtenisse wat ? verskil in mense lewe maak.

Dit gaan oor die dogter uit Zimbabwe wat tweede kom in die ATKV se nasionale spelkompetisie vir addisionele taalgebruikers.

Dit gaan oor die skoolhoof van die Sekondêre Skool Dendron wat ? hele gehoor tot trane dryf met sy bedanking aan die ATKV vir die erkenning van sy skool met 'n ATKV-Sterskooleerbewys.

Dit gaan oor 'n aspirant-liedjieskrywer van Atlantis wat sê: Ek is Francis Brown, 62 van Atlantis, en ek het nog altyd geweet ek is meer as 'n huisvrou. En dan 'n gehoor meesleur met haar ode aan haar man.

Dit gaan oor 'n Chinese kind, 'n Indiërkind, 'n wit kind en 'n swart kind wat saam in die ATKV-Applous-korekompetisie ewe natuurlik sing aan Die berggans het 'n veer laat val en Shosholoza.

- - -

Die ATKV bevorder Afrikaanse belange binne die konteks dat Afrikaans deel van die breër Suid-Afrikaanse samelewing is en met ondersteuning van en beywering vir die belange en aspirasies van ander taal- en kultuurgroepe.

Die debatte oor taal en nasiebou is nog lank nie oor nie. Die komende maande veral gaan die taaldebat opnuut kreatiewe en innoverende gesprek en oplossings verg.

Die ATKV nooi u almal uit om met ons hande te vat en skouer aan die wiel te sit om die potensiaal van taal en kultuur en erfenis tot voordeel van almal in Suid-Afrika te ontgin. Op hierdie wyse kan ons die bose engel ontbloot en eerlik met onsself wees. Ons durf nie laer trek nie. Ons moet die wa deur die drif trek.

  • Japie Gouws is die besturende direkteur van die ATKV-groep.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.