Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Afrikaans ‘verdien wel spesiale behandeling’
Die Ou Hoofgebou op die Matie-kampus. Foto: Leánne stander

Friedrich Hayek, die groot Oostenrykse ekonoom, het destyds vurige kritiek teen intellektuele uitgespreek vir hul skynbaar roekelose en onoorwoë ondersteuning van sosialisme en kollektiwiteit.

Hoewel die internasionale ideologiese prentjie sedert Hayek se jare in Suid-Afrika en die wêreld grootliks verander het, bly die basis van sy irritasie met die akademiese klas dieselfde: Die neiging van ’n groot aantal akademici en denkers om die “gewilde” en populistiese hoofstrome slaafs na te volg.

Net so blyk die artikel op 22 Desember in Die Burger deur proff. Sandra Liebenberg en A.J. van der Walt (“Afrikaans ‘verdien nie spesiale behandeling’ ”) die skoot hoog deur te hê wat betref hierdie neiging wat Hayek uitlig.

In die artikel word diegene wat Afrikaans op Maties vanuit ’n grondwetlike posisie verdedig, aangeval omdat hulle glo nie die beginsels van grondwetlike gelykheid, billikheid en doenlikheid soos vervat in artikel 29(1)(2) van die Grondwet van die Republiek in ag neem nie.

As die veralgemening en aan­names van hul premisse egter krities en Matie-spesifiek bekyk word, haal hul redenasie nie die paal nie. Die grondwetlike ontleding van billikheid en doenlikheid skiet eerstens te kort, en tweedens ook die aannames en perspektief op Afrikaans wat weergegee word.

Boonop, ongeag hul kritiek, is daar progressiewe ruimte vir die inklusiewe bevordering pleks van vertrapping (lees: kampuswye gemiddeldheid) van Afrikaans, Engels en Xhosa aan die US.

Wat van Spaans en Mandaryns?

Eerstens kan billikheid en doenlikheid soos in artikel 29 nie korrek verstaan word sonder om artikel 6 van die Grondwet (“Tale”) daarmee saam te lees nie, en ook nie sonder dat spesifiek Maties se kapasiteit vir meertaligheid in ag geneem word nie.

Dit is skreiend ironies dat Liebenberg en Van der Walt (voorts: “die skrywers”) praat van ’n inklusiewe kampus waar gelyke deelname deur ’n diverse studentegemeenskap moontlik is, maar tog nie ten gunste van pogings met meertaligheid is nie. Die moedertaal van die meerderheid studente op Maties is nie Engels nie, maar wissel van Afrikaans tot Xhosa en Zoeloe en ander.

Om hierdie mense se moedertale, die tale van hul wese en waarop hulle as mense gelyk geregtig is (artikel 30 van die Grondwet) te benadeel deur meertaligheid in amptelike kampussfere effektief te verdruk deur ’n verstektaal, Engels, is juis gevaarlik vir die grondwetlike bestel se strewe om eenheid in diversiteit.

Daarby is dit tog ’n groot pluimpie vir billikheid as Maties onderrig kan ontvang in Engels óf Afrikaans, mits dit op ’n gelyke vlak van toegang kan plaasvind, en mits die derde groot streektaal Xhosa ook daadwerklike akademiese ontwikkeling ondergaan om dit dieselfde meerfunksionele rol te gee as Afrikaans en Engels, in vergelyking met ’n kragdadige stelsel wat tot elke prys net een van ons 11 tale ’n verstekplekkie wil gee.

Volgens sulke logika behoort Duits en Duitsers ook as “ongewens” beskou te word.

Hierdie stelling rondom billikheid word voorts ondersteun deur artikel 6(2) van die Grondwet, wat die staat (dus ook openbare onderwysinstellings) beveel om “praktiese en daadwerklike maatreëls [te] tref om die status van die tale te verhoog en hul gebruik te bevorder”.

Wat doenlikheid betref, staaf die skrywers hul standpunt teen Afrikaans as ’n taal van onderrig op Maties deur die holruggeryde redenasie dat studente eerder in alleenlik Engels opgelei behoort te word omdat die taal ’n wêreldtaal is.

Hoewel dit waar is dat professionele vaardigheid in Engels noodsaaklik is, gegewe die posisie van Engels as lingua franca in Suid-Afrika en groot dele van die wêreld, is dit geen rede om Afrikaans en Xhosa aan die US te reduseer nie.

Volgens hul redenasie sou dit nodig wees om wydgesproke wêreldtale soos Spaans en Mandaryns ook so geweldig belangrik te ag.

Engels behoort eerder ten minste beskikbaar te wees, op ’n gelyke voet met Afrikaans en Xhosa, om grondwetlike billikheid en gelykheid te eerbiedig. Op Maties is Afrikaans se instandhouding “redelikerwys doenlik” soos in artikel 29, juis omdat daar hulpbronne, bestaande kapitaal en ’n behoefte is om die taal aan te moedig.

Hulpbronne bestaan in die vorm van finansiële ondersteuning, soos byvoorbeeld die bydrae van geskiedkundige weldoeners van Maties soos J.H. Marais, asook die groot getal Afrikaansmagtige personeel. Daar bestaan steeds ’n behoefte onder amper 50% van Maties om in Afrikaans te studeer, om nie eens die verskeie ander kampusaktiwiteite soos markdae en openbare debatte te noem nie.

Boonop het Afrikaans ’n gevestigde en uitnemende naam op Maties, wat die sweet en moeite van duisende Afrikaanse intellektuele geverg het om die taal sy hoëfunksiestatus te gee.

Dit sou moedswillig en ’n keuse vir gemiddeldheid wees om Afrikaans te “straf” vir sy status deur hierdie gevestigde naam te reduseer.

Gegewe die aantal Xhosasprekers op Maties en die belangrikheid van die taal as streektaal, behoort dié taal ook progressief soos Afrikaans te ontwikkel en ’n plek in die Matie-son gegun te word.

Dít sal spreek van ware transformatiewe grondwetlikheid, gelykheid en inklusiwiteit op die kampus.

Afrikaans as bate

Laastens is dit hartseer om te lees hoe twee intellektuele skrywers hulle beroep op ’n nare denkfout van onredelike assosiasie, deurdat hulle redeneer dat Afrikaans se “apartheidsbagasie” dit blykbaar ’n probleemtaal maak.

Om ’n taal, wat op sy eenvoudigste as ’n kommunikasiemedium beskou kan word, as ’n simbool van onreg te beskou net oor sommige mense dit as ’n instrument van onderdrukking aangewend het, is bitter onredelik. Volgens sulke logika behoort Duits en Duitsers ook as “ongewens” beskou te word, net omdat die Duitse Nazi’s die Joodse volksmoord gepleeg het.

Denke soos hierdie spreek van iets gruweliks outoritêr, onregverdigbaar en ongrondwetlik. Boonop is Afrikaans deur skrywers soos Adam Small en Breyten Breytenbach téén apartheid ingespan.

As Afrikaans dan steeds “onlosmaaklik verbind” is met apartheid, waar pas hierdie individue se bydrae in? Daar is geen rede om Afrikaans uit te skop net oor dit in die verlede al misbruik is en dalk steeds misbruik word nie.

Die taal dien reeds jare lank ’n hoëfunksiedoel in die akademiese veld en die maatskaplike realiteit van Suid-Afrika, en sy liefhebbers en sprekers en belangstellendes verdien ’n veilige plek binne ons grondwetlike bestel.

Kom ons wend Afrikaans eerder aan as die bate wat dit is op Maties, op ’n billike en redelikerwys doenlike wyse wat transformatiewe grondwetlikheid en gelykheid eerbiedig, en as ’n voorbeeld waarvolgens ons ook ander inheemse amptelike tale soos Xhosa kan ophef en tot trotse hoëfunksietale ontwikkel.

  • Frederik van Dyk is die voorsitter van die Adam Tas-studente­vereniging.

Meer oor:  Taal  |  Us  |  Afrikaans  |  Debat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.