Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Afrikaans: Wat gaan jý doen?

Anders as wat die konstitusionele hof dink, ís Afrikaans die Universiteit Stellenbosch se las om te dra, skryf Frederik van Dyk.

Die Matie-rektor prof. Wim de Villiers. “Ek onthou hy het sommer vroeg in sy termyn en die Derde Taalstryd in gesê dat dit nie die US se werk is om Afrikaans te behou nie.” Foto: Simphiwe Nkwali

‘Die Taalmonument verjaar vandag.”

Ek glimlag wrang vir die klasmaat se waarneming terwyl ek na die Netwerk24-berig op my foon staar: “Uitspraak is die einde van die pad vir Afrikaans as onderrigtaal”, lui die opskrif. Ek het die laaste uur my selfoon naarstig beloer vir die uitslag. En daar lê die ding.

So ja, dis seker nou die einde van die “Derde Taalstryd”, soos dit uit verskeie oorde genoem is gedurende daardie druk dae van 2015 op Matieland. Ek was toe ’n verstomde, hoogs geaffronteerde eerstejaar en leier van die Adam Tas-studentevereniging vir Afrikaans toe die Open Stellenbosch-beweging aangedring het op ’n nuwe, inklusiewe taalbeleid. En hier het ons nou ons inklusiwiteit: ’n de facto- eentalige universiteit wat vir almal wat wil en moet hoor vertel hoe meertaligheid op Maties floreer.

Dieselfde hoogste hof, met sy gevierde regsgeleerdheid wat wentel om ’n objektief-normatiewe waardestelsel en ’n vrygewige uitleg van wetgewing (in die Engelstalige regsfakulteit praat ons van ’n generous interpretation), het die kans gehad om ’n slag te slaan vir meertaligheid. Dieselfde hof wat alreeds die ruimhartigste regterlike toertjies uitgevoer het, soos om in die AllPay-sage ’n privaat kontrakteur aan ’n nietige kontrak gebonde te hou sodat miljoene hul Sassa-geld kon ontvang, kon darem regtigwaar meertaligheid steun.

Hulle het dit nie gedoen nie, want – in die uitspraak geskryf deur oudregter en pasverkose Matie-kanselier Edwin Cameron – die regspraak van hul vorige taalverwante uitspraak in AfriForum teen die Universiteit van die Vrystaat het hulle gebind, en tweedens, die opmars van verengelsing is nie die Universiteit Stellenbosch se las nie (burden in die uitspraak).

Toe ek Cameron en die hof se jongste beslissing lees, het ek dadelik onthou hoe die Matie-rektor prof. Wim de Villiers sommer vroeg in sy termyn en die Derde Taalstryd in gesê het dat dit nie die US se werk is om Afrikaans te behou nie.

Met ongeërgdheid ondermyn ons mekaar en onsself.

Die houding is soos die mens oor sy natuurlike omgewing: eenvormig en skouerophalend. Oor die voortbestaan van inheemse tale in die openbare ruimtes van ons grondwetlik-demokratiese staat staan die politici, studente, regters, kanseliers, universiteitsraadslede en moedertaalsprekers in toue om hul hande in onskuld en ongeërgdheid te was.

Hierdie saak was die een groot geleentheid, kanselier Cameron, om die kommerwekkende opmars van Engelstaligheid teen te werk. Ons geskiedenis is deurspek met karakters wat geveg het om ’n nasie op die been te bring waar geen groep ’n ander meer sal oorheers nie. Net jammer ons het nooit regtig gepraat oor hoe ’n taaletiek moet lyk binne hierdie nuwe nasionale resep nie, selfs al staan die wortels vir so ’n tegemoetkomende beleid in swart en wit neergepen in art. 29 van die Grondwet. En nou pluk ons bloot die vrugte van ons stilte en ongeërgdheid.

In sy welbekende toespraak voor pres. Bill Clinton op ’n geleentheid in die Withuis het die skrywer en konsentrasiekamp-oorlewende Elie Wiesel die wêreld gewaarsku: nie teen boosheid of teen liggelowigheid nie, maar teen die gevare van ongeërgdheid. Met ongeërgdheid ondermyn ons mekaar en onsself.

Kanselier Cameron en prof. De Villiers, hoor my as ek sê jul optrede, hetsy bona fide of uit ’n slaafse gedienstigheid aan een of ander gesagsliggaam, gaan meertaligheid in hierdie land nog duur te staan kom. Maties is lankal nie meer tweetalig nie. Die US se verantwoordelikheid jeens Afrikaans en meertaligheid lê juis in die rol wat dit kan speel as staatsinstelling met die intellektuele vermoë om meertalige broeikaste te wees.

Moenie dat die propaganda julle flous nie. Ek studeer al vyf jaar hier en in daardie tyd het die Afrikaanse klasonderrig-aanbod in die hek geduik. Die taalstrukturele en taalpolitieke omgewing vier ons provinsie se drietaligheid met duur naamborde en ander korporatiewe Botox-glimlaggies, maar wesentlik is daar slegs ’n paar BCom-klasse wat parallelmedium is en enkele Afrikaanssprekende dosente wat soms nog in die taal klasgee.

In hierdie omgewing van naskokke oor die studenteopstande se neerhalendheid teenoor Afrikaans, is daar ’n totale magswanbalans tussen die universiteit, wat sy hande in onskuld was oor veeltaligheid, en die individuele student, wat kwansuis “ ’n keuse” het om in Afrikaans of Engels te studeer. Niemand doen enigiets om die vele wanopvattings oor Afrikaanstalige studie uit die weg te ruim nie. Niemand moedig moedertaalonderrig aan nie. Niemand smyt daardie ou mite uit dat Engelse tersiêre studie jou noodwendig ’nwerksgeleentheid met opwaartse sosiale mobiliteit op die koop toe gaan gee nie.

Enige instelling wat ernstig is oor dekolonisasie sal erken dat veeltaligheid en die aanmoediging van inheemse akademiese skryfwerk en taalgebruik die eerste stap is.

’n Goeie vriend van my sê dikwels ons moet oor dekolonisasie dink as ontdekking. Ontdekking van ons potensiaal as inheemse mense van Suid-Afrika, wat nie weer sal duld dat een moondheid of een taal en kultuur ons almal oordonder nie. Ons moet juis weier om soos die arme Walliesers, Skotte en Iere op die stadium te kom waar ons sukkel om ons inheemse tale aan die lewe te hou ten spyte van ons politieke onafhanklikheid.

Ons tale is meer as net regte op papier, of neutrale kommunikasiemediums. Ons tale is hulpbronne deurspek met emosie, nuanse, geskiedenis en betekenis. Dit is juis in pluraliteit waar nuwe kennis geskep word deur uitruiling en wedersydse aanraking tussen taalgroepe. Ons tale vertel stories van ons komvandaan. Ons maak mekaar saam anders, sê Breyten Breytenbach. Ons tale is in die kern van ons menswaardigheid.

Ek weier om in die gemiddeldheid van Engelse taalkolonialisme te verval. Ek weier om te sit en kyk hoe ons eie ongeërgdheid die oorsaak is van ’n domino-effek wat die gebruik van inheemse tale op ander vlakke as universiteitsvlak betref.

Ons het reeds, in Greta Thunberg se woorde, met leë woorde ons eie toekoms opgeoffer ter wille van geld en gemak. Ons mag nie toelaat dat inheemse tale op dieselfde brandstapel sterf omdat ons slawe van die leë beloftes van Engelse taal-kolonialisme geword het nie.

Die US en die staat gaan niks doen nie. Besluit jy self, inheemse taalspreker, wat vir jou belangrik is. En berus jou by die gevolge van jou stilte.

* Frederik van Dyk is ’n regstudent in sy finale jaar aan die Universiteit Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.