Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Afrikaans, water en Cyril kan DA kelder

Die opposisie bevind hom in onstuimige waters en kan nie meer aankarring op die rug van die anti-Zuma-veldtog nie, sê Waldimar Pelser.

Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, praat verlede week op ’n mediakonferensie met verslaggewers oor die waterkrisis in Kaapstad. Foto: Adrian de Kock

Dit is dalk nie Patricia de Lille of die DA se skuld dat Kaapstad gebuk gaan onder die ergste droogte in menseheugenis nie. Maar in April gaan miljoene inwoners van wat veronderstel is om ’n stad van wêreldgehalte te wees, hul krane oopmaak en iets aakligs hoor: die gesis van warm lug.

Ondernemings en fabrieke gaan sluit en van hulle mag straks nie weer hul deure oopmaak nie. Toilette sal nie spoel nie en storte sal nie werk nie, hotelle sal nie funksioneer nie en toerisme sal tot stilstand knars.

En wanneer die SABC en eNCA en die BBC en CNN beeldmateriaal uitsaai van vroue in bloese en mans in pakke wat vir ure in toue staan om water in emmers te kry, gaan Suid-Afrikaners uit alle oorde vra: Het die DA-administrasie van die stad, wat vrot is van die skandale, binnegevegte en lekkasies aan die media, en wat die stad met ’n meerderheid van 66% regeer, genoeg gedoen?

Vir die meeste inwoners van Kaapstad is daar geen uitweg nie.

Nuusnetwerke oor die wêreld heen het al berigte die lig laat sien oor die eerste groot wêreldstad ooit waarvan die water opraak.

Die stad word deur die DA bestuur in ’n provinsie wat ook onder DA-bewind is.

Die feit dat 50% van Suid-Afrikaners steeds geen watertoevoer na hul huise het nie, of dat die nasionale regering nie sy deel bygedra het nie, gaan niks doen om die politieke skade te verminder nie.

Ek woon in Kaapstad maar reis gelukkig ook na Johannesburg om minstens een keer per week hier te stort en dalk my kouse te was. Maar vir die meeste inwoners van Kaapstad is daar geen uitweg nie. Hulle sal die burokrate en politici onder die vergrootglas plaas wat eers in Januarie hoër watertariewe ingestel het en wat in Oktober by monde van Patricia de Lille, die DA-burgemeester van die stad, beloof het: “Ons sal nie toelaat dat ’n goed bestuurde stad se water opdroog nie.”

Die blou krisis

Die waterkrisis – ’n blou krisis, sal sommiges sê – sal vars in die geheue van Kapenaars wees wanneer hulle in 2019 gaan stem. En kom ons wees eerlik: die DA fokus al vir jare op 2019.

In ’n gewilde YouTube-video van 2015 droom die DA oor ’n algemene verkiesing in 2029 waarin die party 59% van die stemme op hom verenig, “ ’n klinkende bevestiging van sy prestasies van die afgelope tien jaar”.

Ek moet erken, die energie en optimisme van die video het my beïndruk. Wie wil nie harmonie, behoorlike gesondheidsorg vir almal en 8%-groei hê nie?

Maar ná die euforie van die 2016-verkiesing, toe die ANC Johannesburg, Tshwane en Nelson Mandelabaai verloor het, het waarnemers, en ek is seker die DA ook, gevra wat sal dit verg vir die DA om nie net sy bestaande kiesers te behou nie, maar miljoene nuwes te trek?

Krane in Kaapstad sal na verwagting teen 16 April droog wees. Foto: AP

Dit sou roekeloos van die DA wees om aan te neem hy kan voortgaan om te steun op die lojaliteit van sy koalisievennote in die stede wat hy beheer.

Neem nou maar Julius Malema, EFF-leier, se dreigement op 13 Januarie om “een DA-burgemeester te verwyder” ten einde te “bewys dat ons nie vriende van die DA is nie”.

Ander koalisievennote besorg die DA ook hoofbrekens. In Nelson Mandelabaai is die DA besig om uit vind as jy wil regeer maar jy het nie genoeg stemme nie, moet jy bereid wees om steun te werf onder vennote waarvan jy nie eintlik hou of wie jy nie respekteer nie en wat geen geheim daarvan maak dat dié gevoel wederkerig is nie.

Maar lank voordat die DA die EFF en die UDM sal moet oortuig om aan te bly, moet hy 4 miljoen bestaande DA-kiesers oortuig om voort te gaan om die party te steun en in 2019 vir hom te stem. En ten einde 50% van die stemme te wen, moet hy ook 6 miljoen bykomende burgers oortuig om vir hom te begin stem ten einde 10 miljoen van die 20 miljoen stemme te wen wat waarskynlik in 2019 uitgebring gaan word.

Hoop ANC verloor

’n Kollega het geskryf die DA hoef nooit ’n verkiesing te wen nie, die ANC moet eenvoudig verloor. Wat ’n ander manier is om te sê: ’n DA-meerderheid in 2019 was nooit werklik ’n moontlikheid nie.

Die DA moenie daarop staatmaak om te wen nie, maar eerder net hoop die ANC verloor deur so totaal te misluk dat meer en meer van sy ondersteuners besluit om nie te gaan stem nie of om vir ’n ander party te stem.

Twee vrae ontstaan.

Vaar die DA so goed as wat hy kan in die lig van die party se mikpunt van 50% vir 2019? En: vaar die ANC so sleg as wat die DA wil hê hy moet ten einde Gauteng en moontlik Suid-Afrika in ’n bestek van net 16 maande te verloor?

Kom ons kyk byvoorbeeld na die netelige kwessie van taal. Afrikaans is die derde grootste huistaal in Suid-Afrika en die huistaal van miljoene DA-kiesers.

Mmusi Maimane, DA-leier, praat verlede week in Athlone, Kaapstad, oor die Kaapse waterkrisis. Foto: Adrian de Kock

Mmusi Maimane, DA-leier, het aanvanklik nie ’n woord gerep oor die gebeure by die Hoërskool Overvaal nie, tot 19 Januarie toe hy Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, die EFF, en wit én swart rassiste gekritiseer het.

Maar hy het nog steeds nie ’n mening gelug oor die omstrede uitspraak van hoofregter Mogoeng Mogoeng in Desember oor die taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat nie. Indien die DA hieroor omgee, sal hy kiesers daarvan moet oortuig, maar hy het dit nog nie gedoen nie.

Ek meen sommige Afrikaanse kiesers sal van die party waarvoor hulle stem, verwag om ’n beginselvaste beskermer te wees van die regte wat hulle na aan die hart lê.

Indien die DA nooit vir hulle sê wat hulle wil hoor nie loop hy die gevaar om van hulle in die arms van ander partye te dryf wat nie bang is om hul stem dik te maak oor byvoorbeeld die taalkwessie nie.

DA vaar nie so goed soos wat hy kan

So, die antwoord op die vraag of die DA tans so goed vaar as wat hy kan, is waarskynlik: Nee. Maar ’n mens weet dit is nie maklik nie en gee erkenning aan die DA se reuse-deurbrake, byvoorbeeld hoe hy Jacob Zuma suksesvol in die howe aangevat het, en hoe hy die diversiteit van sy kieserskorps energiek uitgebrei het.

Nou die vraag of die ANC so sleg vaar as wat die DA wil hê hy moet ten einde die 2019-verkiesing te wen. Die ANC mag korrup en verdeeld wees, maar sy onlangs verkose leierskap straal ’n nuwe selfvertroue uit.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa praat verlede week in Davos tydens ’n onderhoud met Bloomberg Television. Mmusi Maimane, leier van die DA, het sy hulp gevra om die waterkrisis in die Kaap op te los. Foto: Getty Images

Die ANC onder Cyril Ramaphosa het al klaar begin om ’n post-Zuma-identiteit te skep en indien hy daarin slaag, gaan hy dit vir die DA onmoontlik maak om maar net voort te gaan om Zuma se vele mislukkings as ’n verkiesingswapen te gebruik.

Waldimar Pelser

Die DA se taak is aansienlik bemoeilik deur die verkiesing van ’n geloofwaardige, moderne tegnokraat as leier van die ANC.

Deur te hard te probeer om Cyril na te doen eerder as om ’n projek van drastiese ekonomiese en beleidshervorming aan getraumatiseerde kiesers te verkoop, mag tot die uitstel van die DA se 2029-droom lei.

Van hierdie beleidsrigtings mag ongewild wees, maar om aan kiesers te sê wat die meerderheid van hulle sê hulle wil hoor, is ook nie hoe jy hul respek gaan wen nie.

Want hulle verwag van die DA om hulle te lei, nie te volg nie.

* Hierdie is ’n verkorte en vertaalde weergawe van ’n toespraak wat Pelser, redakteur van Rapport en aanbieder van die program kykNET Verslag in Gesprek, op 19 Januarie gelewer het tydens die DA se politieke ontwikkelingsprogram in Pretoria. Dit is aanvanklik op Politicsweb gepubliseer.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Cyril Ramaphosa  |  Mmusi Maimane  |  Kaapstad  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.