Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Afrikaanse mense verloor moed: Wat nou?

Aanslae op die status en posisie van Afrikaans laat mense moed verloor. Maar daar is ander wat hulle steeds op alle maniere daarvoor sal beywer, skryf Wannie Carstens.

Betogers by die Hoërskool Overvaal in Vereeniging het onder meer ook kapsie gemaak teen die gebruik van Afrikaans as ’n onderrigtaal. Foto: Felix Dlangamandla

Ek was verstom toe ek Beeld onlangs (09/01) oopslaan en op die middelblaaie twee berigte kry waaruit dit duidelik blyk dat die betrokke skrywers moed opgegee het met Afrikaans en gereed is om die taal prys te gee. En die betrokke twee persone was nog altyd uiters positief oor Afrikaans.

Dit volg op Alida Kok se argument dat Afrikaans maar na die kombuis geskuif moet word. Dus: Gaan terug na waar dit begin het in die 1870’s toe Afrikaans nog net ’n “kombuistaal” was en los alles wat sedertdien bereik is.

Aan die ander kant durf ons nie vergeet nie dat daar steeds bykans 7 miljoen mense is wat vandag steeds Afrikaans as eerste taal praat.

Aan die een kant reken die briefskrywer Mynhardt Kok “Afrikaans (is) hiér uitgedien: Dis hoog tyd!” en hy voer hierin aan dat Afrikaanse mense nou maar moet aanvaar Engels het die “geveg” in die land gewen, en Engels het meer waarde as Afrikaans in die werkplek en die opleidingsomgewing. Dus: Los Afrikaans en die argumente oor die taal (wat glo “ou geykte redenasies is”) en aanvaar dat “ ’n globale gemeenskap . . . Afrikaans as wetenskapstaal onderstebo geloop” het.

Of mnr. Kok ernstig is, weet ek nie, maar komende van hom wat nog altyd betreklik positief oor Afrikaans was, is dit iets om van kennis te neem.

En die jong joernalis Carryn-Ann Nel reken op die bladsy net daarná Afrikaans moet maar prysgegee word in die belang van die land omdat Afrikaans “die land verdeel” weens die slegte ervarings wat mense met die taal gehad het. Sy sê ook die onlangse uiters omstrede uitspraak van die konstitusionele hof oor Engels aan die Universiteit van die Vrystaat het haar “bly, selfs verheug gemaak”.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng lewer uitspraak in die konstitusionele hof oor die gebruik van Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat. Foto: Murray Louw

Afrikaans steeds sewe miljoen se taal

Komende van Carryn-Ann was dit onverwags juis omdat sy erken dat Afrikaans die “taal van my hart” is. Sy het my behoorlik omgeboul, juis omdat ek haar ken.

Wat maak ons nou hiermee?

Dit is maklik om toe te gee die twee skrywers is reg en hul argumente is ook korrek. Dat dit tyd is om Afrikaans vaarwel te roep weens Afrikaans se beperkte gebruiksbereik (hoofsaaklik mense in Suid-Afrika) en Afrikaans se assosiasie met 'n negatiewe verlede (politiek en geskiedenis). En dan maar jonger mense aan te raai om op te hou om aan te dring op Afrikaans in skole en universiteite (as daar natuurlik nie Afrikaans in skole is nie, is daar ook nie ’n behoefte aan Afrikaans op universiteite nie). Dan word Engels die taal van onderrig, die werk en mettertyd ook die taal van die huis, die kerk, die hof (wat dit in wese reeds is), die media, die ekonomie, ens.

En soos mnr. Kok sê, sal daar teen 2050 dan baie minder Afrikaanssprekers wees om dit te kan besef.

En teen 2150 is Afrikaans net ’n vae herinnering.

Afrikaans is nie meer een van die onderrigtale aan die Universiteit van die Vrystaat nie. Foto: André Damons

Aan die ander kant durf ons nie vergeet nie dat daar steeds bykans 7 miljoen mense is wat vandag steeds Afrikaans as eerste taal praat. Dat baie van hierdie mense hul hele lewe in Afrikaans leef, dat hierdie mense van plan is om aan te hou om hul lewe in die taal te leef, en dat hierdie mense nie geraadpleeg is oor of hulle hul taal wil prysgee nie.

Hierdie mense aanvaar Afrikaans onvoorwaardelik vir wat dit is: 'n Taal wat gebruik word vir kommunikasie in 'n bepaalde konteks, die land Suid-Afrika.

Hierdie mense ontken ook nie die internasionale waarde van Engels nie – terloops, verskeie gesaghebbende studies dui aan die internasionale waarde van Engels word heeltemal oorskat – maar hulle leer en gebruik dit omdat hulle ook daarvan hou om ander tale aan te leer om hul wêreld uit te brei en met mense van ander taalgroepe in ’n veeltalige land te kan kontak maak. Hierdie mense leer ook ander tale as slegs Engels aan.

Wat is ons werklik bereid om prys te gee?

Dat sprekers van Afrikaans daartoe bygedra het om Afrikaans op ander mense af te dwing, is natuurlik waar en die gevolge is sigbaar: die herinnering aan Soweto 1976, die apartheidsjare, die nasleep van apartheid. Dit is ’n feit van die geskiedenis. Maar ook sprekers van Engels, Duits, Spaans, Frans, Nederlands, ensovoorts het in eie reg in hulle tale daartoe meegehelp dat daar ook in hul tale wêreldwyd soortgelyke vergrype gepleeg is. Enigeen met ’n basiese kennis van die geskiedenis sal dit weet.

Vir ons is Afrikaans nog die moeite werd om te behou en ons lewe in te lewe.

Moet hierdie tale nou ook verdwyn? En dan is Engels nogal een van hierdie tale . . .

Maar om Afrikaans hiervoor op die altaar te plaas, maak dat die Afrikaans van soveel ander sprekers wat nie by die vergrype betrokke was nie, ook nou opgeoffer moet word. Is dit billik teen hierdie mense?

Ons weet dat die druk op Afrikaans tans enorm is en die verstommende ideologies gemotiveerde uitspraak van die konstitusionele hof dra ongelukkig daartoe by. Die boodskap hiermee was dat Afrikaans en sy sprekers nie meer welkom is in die land nie.

Wannie Carstens

Is dit wat gesê word? Is dit hoe ons 'n nuwe land wil bou? Want as dit die geval is, is dit tyd dat dit openlik gesê word.

Dit is so duidelik soos daglig Afrikaanse mense word aanmekaar geslaan (hof, skole wat minder word, universiteite wat die deur grootliks vir Afrikaans toegemaak het).

Die letterlike daaglikse aanslae op die status en posisie van Afrikaans is groot en dit laat die mense moed verloor. In hulle oë is daar nie meer ? toekoms vir hulle taal nie en daarom maak hulle vrede daarmee dat hulle vroegtydig ’n ander plan moet maak, soos om Engels te omhels.

As dit is wat mense wil doen, is dit hul goeie reg, soos vir die genoemde twee skrywers hier bo en vir ander wat soos hulle voel. Dit is egter nie vir my en baie ander Afrikaanse mense die geval nie.

Vir ons is Afrikaans nog die moeite werd om te behou en ons lewe in te lewe. Daarom gaan ons volhou om ons op allerlei maniere te beywer vir Afrikaans in álle gebruike en funksies. Soos die joernalis Leopold Scholtz by geleentheid gesê het: “As Afrikaans dan móét ondergaan, sal dit nie sonder 'n helse faait wees nie.”

Die vraag is nou: Wat is ons werklik bereid om prys te gee? Is die opoffer van ons taal nie te veel gevra nie?

* Prof. Carstens is ’n afgetrede dosent in die Afrikaanse taalkunde aan die NWU.

Meer oor:  Wannie Carstens  |  Kovsies  |  Taal  |  Afrikaans  |  Moedertaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.