Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Afrikaanse vrouestemme ‘trek die wêreld in’

Annemarié van Niekerk praat met Murray La Vita oor vrouestemme in Suid-Afrika en vertel van haar nuwe boek oor die plaasmoord op ’n vriend en sy ma.

Pieta van Beek (links) en Annemarié van Niekerk.Foto: Verskaf

Die gesprek met Annemarié van Niekerk, medeskrywer van My Mother’s Mothers’s Mother – South African Women’s Writing from 17th-Century Dutch to Contemporary Afrikaans, begin op ’n Sondagmiddag in ’n woonstel wat uitkyk op Kaapstad en Tafelberg. Dit word later per e-pos voortgesit.

In watter stadium van jou lewe het jy ’n bewussyn ontwikkel van vrouestemme in die Afrikaanse letterkunde?

Murray, ek was nog jonk. Vreemd genoeg het dit in my pa se studeerkamer begin. Hy was bedryfsekonoom – professor – en as jong kind was ek altyd gefassineer deur sy groot studeerkamer met mure vol boekrakke en die groot lessenaar.

Dit het vir my gelyk of die wêreld van boeke waarvan ek so graag deel wou wees, aan mans behoort het.

Ek kon lank daar sit en na alles kyk, die foto’s van akademici in togas, al die boeke, ek wou so graag deel van daardie wêreld wees. Maar daar was byna geen vrouens op die foto’s nie, en op die rûe van die boeke was byna net mansname.

Dit het vir my gelyk of die wêreld van boeke waarvan ek so graag deel wou wees, aan mans behoort het. Eendag het ek my ma, wat self baie lief was vir lees, hieroor gevra. Sy het eers iets lighartig geantwoord, maar ’n dag of wat later het sy teruggekom na my vraag en verduidelik. Daar’s baie vroueskrywers, en goeies ook, het sy verduidelik, maar nie almal kry die erkenning wat hulle verdien nie.

Sy het vir ons tee gemaak, my na my pa se studeerkamer toe geneem. Ek moet sê ek het nogal belangrik gevoel toe sy gesê het ons gaan nou sit en tee drink en na iets baie moois luister. Sy’t ’n klankbandjie in die bandspeler gesit, op die rug van die bandjie was daar in haar handskrif geskryf: INGRID JONKER . . . ’n radioprogram oor ’n vrou wat gedigte skryf wat sy opgeneem het, het Ma verduidelik.

Terwyl ons saam tee gedrink het, het ons geluister. Ek het min verstaan, maar die woorde en die klanke en die ingehoue atmosfeer was towermooi. Ook die hartseer storie wat sy oor Ingrid se tragiese lewe vertel het. Ek was in ’n towerwêreld waar ek nog nooit vantevore was nie, en ek wou daar bly.

Toe ons klaar was, het Ma gesê: “Dis maar een van baie.” Ek was vasberade om in my lewe soveel as moontlik van die ander vrouedigters en -skrywers te ontdek en oor hulle lewens uit te vind.

Daar, in my pa se studeerkamer, in die afwesigheid van vrouens (behalwe nou vir Ma en Ingrid Jonker), het my passie vir letterkunde en veral die vrou se stem, maar ook die verhale agter die stemme, wortel geskiet.

Daardie bewuswording as kind het toe die rigting van jou studie en latere skryfwerk bepaal?

Ja. Ek het literatuur gaan studeer. Eers net ’n BA en daarna ’n Honneurs en MA in Afrikaanse letterkunde. Maar ek het ná my MA besef dat ek nie genoeg van moderne literatuurteorie weet nie. Toe het ek ’n tweede honneurs gaan doen in literatuurteorie. Dít het uitgeloop op ’n PhD by Wits onder leiding van Ena Jansen waarin ek feminisme, kortprosa deur vroue en historiografie gekombineer het.

Ek het gaan kyk hoe Afrikaanse kortprosa van vroueskrywers deur die dekades heen in die literêre geskiedskrywing en -resepsie daarvan opgeneem is, of juis afgeskeep is.

My Mother’s Mother’s Mother is deur Leiden University Press uitgegee en kan in Suid-Afrika by Protea-boekwinkels gekoop word.

Op grond van my analises het ek vanuit ’n feministiese perspektief die geskiedenis van Afrikaanse vroueverhale “herskryf” – hoe dit volgens my behoort te lyk as ’n mens die letterkunde sonder ’n patriargale bril sou kon beoordeel. Soos jy jou kan voorstel, was ek nie baie gewild onder my manlike kollegas nie. ’n Mens krap mos nie só ’n wêreldjie onderstebo nie.

Jy was ook dosent?

Ja, ek het my akademiese loopbaan as jong 24-jarige aan die Universiteit van Transkei begin en is later by Vista Universiteit aangestel. Ek het baie navorsing oor vroueliteratuur gedoen en gepubliseer – ek het veral probeer om vroueskrywers en -letterkunde op ’n nuwe manier onder die aandag te bring, om tradisies uit te wys, om verlore en vergete skrywers weer op te diep.

Ek is deur al daardie jare nie een keer bevorder nie.

Maar ek het teen my 40ste jaar die akademie verlaat, ek het besef dat daar vir my as vrou ’n baie skraal toekoms is in die vlak waarop ek as 24-jarige aangestel is, wat dieselfde vlak was waarop ek was toe ek weg is. Ek is deur al daardie jare nie een keer bevorder nie.

Die mans rondom my, met nie naastenby my publikasielys nie, is die een ná die ander bevorder. Ek het toe vir ’n tyd as redakteur by Kwela Boeke gaan werk – dit was heerlik om met skrywers te werk.

Wat was – voor My Mother’s Mother’s Mother – jou belangrikste publikasies?

Ek dink die belangrikste was seker die versamelbundels. Ek was vir ’n lang tyd ook gefassineer deur die Suid-Afrikaanse Engelse literatuur – so my eerste bundel was Raising the Blinds – A Century of South African Women’s Stories. Toe was daar die bundel van Afrikaanse vroueverhale: Vrouevertellers 1843 – 1993.

My navorsing vir daardie boek het my baie heerlike ure in biblioteke en stowwerige argiewe laat deurbring, snuffelend na verlore en vergete vroue. As ek ná so ’n dag se werk in ’n argief weer in die daglig kom, het dit altyd gevoel of ek uit ’n sprokiespelonk terugkeer na die werklikheid. Dit was magies.

Daarna het ek besluit om die net wyer te gooi en navorsing begin doen oor vroueliteratuur op die hele kontinent van Afrika. Ná baie navorsing, wat my onder meer Zimbabwe en Nigerië toe geneem het, het die bundel The Torn Veil – Women’s Stories from the Continent of Africa tot stand gekom.

Ek het ook in Perspektief en Profiel II ’n stuk van ongeveer 150 bladsye oor vroueskrywers in die Afrikaanse letterkunde geskryf. Hennie van Coller het dit aangevra as ’n soort “rehabilitasie” van die ouer literatuurgeskiedenisse wat soveel belangrike vroueskrywers misgekyk het.

Die Vrouemonument in Bloemfontein.Foto: Argief

Die titel My Mother’s Mother’s Mother – South African Women’s Writing from 17th Century Dutch to Contemporary Afrikaans, is ontleen aan ’n gedig van Diana Ferrus. Die moeders waarna dit verwys, is nie net biologiese moeders nie.

Ja Murray, ons het hierdie pragtige titel ontleen aan die refrein in die ontroerende gedig ‘Ons komvandaan’ van Diana Ferrus.

In die gedig verwys Diana na hoe sy deur generasies en generasies van voormoeders en voorvaders geskakel is aan lande en kulture ver weg van waar sy vandag is . . . hoe haar voorgeslagte ontwortel en ontwrig is om te word wat haar mense vandag is.

Ek en Pieta het gedink dis die ideale titel vir ons bundel omdat ons presies hierdie kwessie wil ontgin – van geslagte, van opvolging, van nalatenskap; ’n chain of voices – hoe een generasie ’n ander opvolg deur dinge van vroeër oor te neem, maar ook die rug daarop te keer, hoe ons ons nooit kan losmaak van ons komvandaan nie.

Mothers bied aan die leser ’n blik op die aard van die samelewing waarin hierdie vroue geleef en geskryf het – en steeds doen – en hoe dit oor die jare verander het. En natuurlik die plek wat vroue in daardie samelewings het en gehad het.

Dit is presies wat ons by monde van en in die woorde van hierdie skrywers wou beantwoord . . . Hoe was dit deur die eeue vir vroue wat op die suidelike puntjie van Afrika was of wat hier om watter rede ook al beland het?

Hoe het hulle die land, die ander mense, die sosiale situasie, die landskap, die verskillende historiese tydperke beleef, maar ook beïnvloed? Hoe het hulle daaroor geskryf?

’n Portret van Machteld Smith (1749 – 1821) deur ’n onbekende kunstenaar. Sy is een van die vroeë vrouestemme in Mothers.Foto: Verskaf

Hoe het hulle skryfwerk deur die dekades heen verander in terme van funksies, genres, temas en styl? Wat vertel hul woorde ons oor hoe die status van die vrou – vir verskillende rasse natuurlik totaal verskillend – in ons land deur die dekades heen ontplooi het?

Die boek “neem die leser op ’n reis deur die landskap van Nederlandse en Afrikaanse skryfwerk deur vroue van Suid-Afrika”. Dit bestaan uit uittreksels uit die werk van 70 vroue vergesel van kort profiele oor hulle, en strek oor amper vier eeue. Wat hoop julle om met dié boek te bereik?

Ja, eerstens, is dit belangrik om te sê dat die boek slegs een taaldraad volg, naamlik die Nederlands-Afrikaanse. Dit is my en Pieta se spesialiteitsgebiede en dit is waarmee ons gewerk het – ons hoop dat mense wat binne die ander Suid-Afrikaanse tale spesialiseer deur Mothers geïnspireer sal word om dieselfde te doen sodat ons ’n nog groter body of texts bymekaar kan bring.

Dit is vir ons so wonderlik om te sien hoe die stemme van ons vroue nou die wêreld intrek.

Tweedens, die rede waarom ons dit nie in Afrikaans of Nederlands gepubliseer het nie, maar in Engels, is omdat ons hierdie belangrike stuk letterkunde, wat tot dusver meesal tot Suid-Afrikaanse bodem beperk was, internasionaal toeganklik wil maak. Ons sien al klaar vrugte! Mothers word in Amerika deur Chicago University Press bemark en versprei en een van die resensies daar, wat die boek beoordeel in terme van geskiktheid vir gebruik aan Amerikaanse universiteite se literêre kurrikula, se oordeel was “Highly recommended”.

Dit is vir ons so wonderlik om te sien hoe die stemme van ons vroue nou die wêreld intrek. Ons hoop nou net dat alle Suid-Afrikaanse biblioteke en boekwinkels die boek op hul rakke gaan kry. En dat die boek voorgeskryf sal word by Suid-Afrikaanse universiteite.

Ek dink die boek is ook ’n lekker boek vir die gewone leser. Daar is baie illustrasies in. Leiden University Press het die boek so mooi versorg en uitgegee. Oor visuele aspekte gepraat, ons was totaal oorbluf en dankbaar toe Marlene Dumas ons van haar vroueportrette – hulle is só haunting – laat gebruik het vir die voorblad.

Crystal-Donna Roberts.as Krotoa in die rolprent Krotoa.Foto: Verskaf

Myns insiens is ’n kosbare bydrae wat die boek lewer die feit dat dit sekere stemme aan die vergetelheid ontruk het.

Ja, ons begin met Eva/Krotoa wat in Jan van Riebeeck se huishouding as hulp begin werk het, en later ’n belangrike tolk vir hom geword het.

Ongelukkig het sy nie persoonlik tekste nagelaat nie, maar Van Riebeeck het haar soms breedvoerig aangehaal in sy dagboeke – en dit is wat ons in Mothers gebruik. Dit was vir ons belangrik om met haar stem te begin en te eindig met die stem van Ronelda Kamfer.

Maar ja, daar is baie stemme wat aan die vergetelheid ontruk is. Ek dink byvoorbeeld aan Marie Jeanne des Pres (1675 – 1763) wat op 13-jarige ouderdom aan boord van De Schelde by die Kaap van Goeie Hoop aangekom het. Sy het gedigte geskryf oor die ups en downs van die daaglikse lewe op die nuwe kontinent.

Dan is daar Johanna Maria van Riebeeck (1679 – 1734), die kleindogter van Van Riebeeck, wat onderweg van Batavia na Amsterdam vir drie maande aan die Kaap oorgebly het. Sy skryf briewe aan haar ouers tydens die skeepsreis, maar ook verwonderend oor alles wat sy aan die Kaap teëkom. So kan ek aangaan en aangaan.

Ronelda S Kamfer is een van die jonger skrywers in My Mother’s Mother’s Mother. Foto: Verskaf

Sou ’n mens die boek ook as biografies kon beskou – ’n biografiese besinning oor Afrikaans?

Beslis. Die boek is die biografie van ’n taal . . . Hoe Afrikaans aan die suidpunt van Afrika uit die moederbron Nederlands maar ook uit baie ander taalinvloede ontwikkel het.

Ons verduidelik die ontwikkeling in ons inleiding, maar ons illustreer dit ook aan die hand van die tekste wat ons uitgekies het. As ’n mens deur die boek blaai, sien ’n mens letterlik hoe die taal voor jou oë verskuif en in ’n totaal nuwe taal verander.

Ingrid Winterbach is ook in Mothers.Foto: Argief

Maar die verandering gebeur nie net op linguistiese gebied nie. Ons wys ook die sosio-politieke veranderings wat die taal deur die jare ondergaan het, die mooi en verblydende fases, maar ook die pynlike en beskamende fases. En waar die taal vandag is.

En die moontlikhede vir die toekoms van hierdie mooi taal en sy skatkis van letterkunde.

Maar dis nie net die biografie van die taal nie, dis ook ’n biografie van generasies vrouens wat dit gepraat het en daarin geskryf het.

Jy (en Pieta) woon in Nederland, maar jy het steeds sterk bande met die Afrikaanse letterkunde. Meer oor die aard van daardie werk en bande, asseblief.

Ja, ek woon nou al 16 jaar in Nederland, waar ek boekresensent vir die Nederlandse koerant Trouw is en rubriekskrywer vir die Belgiese sosio-kulturele tydskrif Streven.

Ek is hartslief vir Suid-Afrika en ek en my man, Jaap Goedegebuure, beplan om in die toekoms vir langer tye in die Kaap te kom bly.

My opdrag by Streven is om oor Suid-Afrikaanse onderwerpe te skryf en ek bepaal my meestal by artikels oor die letterkunde of visuele kuns. By Trouw resenseer ek vertaalde literatuur, met ander woorde internasionale literatuur wat in Nederlands vertaal is, maar ek probeer soveel as moontlik boeke uit Afrika, maar veral Suid-Afrika, dek.

Ek het ook ’n paar jaar gelede vir die Festival voor Afrikaans in Amsterdam die skrywers-en-boeke-program gereël. Soms doen ek ook openbare skrywersonderhoude. So ja, ’n mens sprei jou vlerke, maar jou wortels trek jou maar altyd weer terug na die plek waar jy oorspronklik geplant is. Ek is hartslief vir Suid-Afrika en ek en my man, Jaap Goedegebuure, beplan om in die toekoms vir langer tye in die Kaap te kom bly.

Jy is tans besig met nog ’n boek, iets van ’n heel ander aard, maar wat ook met Suid-Afrika gemoeid is. Wil jy iets daaroor sê?

Ja . . . Maar dis moeilik om oor ’n boek te praat waarmee jy nog kniediep besig is. Wat ek wel kan sê, is dit is ’n gemengde genre, ’n mengsel van outobiografie en geskiedenis, dan ’n bietjie gefiksionaliseer – die regte term, dink ek, is autofiction.

Ek moes my land, my mense, myself in die gesig kyk en ’n paar vrae vra wat ’n mens liewer nie sou wou vra nie.

Maar die spil van die boek is die moord op ’n liewe vriend en sy ma ’n paar jaar gelede op hul plaas. Dit het my gegooi. Ek het onmiddellik op ’n vliegtuig geklim, Suid-Afrika toe gevlieg en alleen kilometers die binneland in gery na die plek waar hulle vermoor is en waar hulle begrawe is.

Ek wou gaan bestekopname neem vir myself, vir my eie sanity . . . Wat gaan aan met ons, wat gaan aan met ons land, hoe het ons so geword? Ek moes my land, my mense, myself in die gesig kyk en ’n paar vrae vra wat ’n mens liewer nie sou wou vra nie.

So ja . . . Dis ’n boek oor ’n land en oor ’n lewe, ’n boek oor ’n vriend en oor ’n moord, ’n boek oor baie moorde – sommige vinnig en grusaam voltrek, ander stadig en stil oor generasies heen. ’n Boek oor wat mense mekaar aandoen, oor skuld en onskuld. Oor straf en kwytskelding. ’n Boek oor genade en ongenade.

* Anastasia de Vries praat op 12 Maart om 12:30 in die Drostdy Teater op die Toyota US Woordfees met Van Niekerk en Van Beek. Skrywers wie se werk in Mothers opgeneem is, sal daarna uit hul werk voorlees. Van Niekerk en Van Beek praat ook op 14 Maart om 09:00 vir 9:30 by SASNEV (South African Centre for the Netherlands and Flanders) in Pinelands oor hul boek.

Meer oor:  Murray La Vita
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.