Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Afrikalande deur Trump in ’n hoek gedwing

Waarom het lande uit Afrika vandeesweek die omstrede inwyding van die nuwe Amerikaanse ambassade in Jerusalem bygewoon, vra Liesl Louw-Vaudran.

Die VSA se besluit om sy ambassade in Israel van Tel Aviv na Jerusalem te skuif, het tot wydverspreide betogings gelei. Foto: Getty Images

’n Tiental Afrikalande het vroeër vandeesweek die inwyding van die nuwe Amerikaanse ambassade in Jerusalem bygewoon.

Onder hulle was van die vasteland se mees invloedryke lande soos Nigerië, Kenia, die Ivoorkus en Ethiopië. Suider-Afrika is verteenwoordig deur Angola, Zambië en Tanzanië.

Rwanda, tans die voorsitter van die Afrika-unie, het dit ook bygewoon.

Die seremonie is egter geboikot deur die meeste ander lande, insluitend Suid-Afrika.

Waarom sou soveel Afrikalande ’n seremonie bywoon wat duidelik wêreldwyd groot onmin saai?

Suid-Afrika het ook sy ambassadeur uit Tel Aviv onttrek uit protes teen die grootskaalse geweld teen Palestynse betogers in die aanloop tot die seremonie.

Waarom sou soveel Afrikalande ’n seremonie bywoon wat duidelik wêreldwyd groot onmin saai?

Einde verlede jaar het hulle immers in die Verenigde Nasies (VN) se algemene vergadering die besluit van Amerika om sy ambassade te skuif, veroordeel.

Slegs sewe lande het teen die mosie gestem. Onder hulle was net een Afrikaland, Togo.

Altesame 128 lande – insluitend die meeste Westerse lande – het Amerika toe gelooi vir sy besluit aangesien dit in stryd is met die status van Jerusalem as die erkende ‘hoofstad’ van drie van die wêreld se groot geloofsgroepe: Jode, Christene en Moslems.

Tel Aviv was nog altyd die administratiewe hoofstad van die staat Israel.

Slegs sewe lande het teen die mosie gestem. Onder hulle was net een Afrikaland, Togo. Dié klein Wes-Afrikaland het jare al goeie betrekkinge met Israel en het beplan om einde verlede jaar ’n Israel-Afrika leiersberaad te hou. (Dit is intussen afgestel.)

Trump se dreigemente verduidelik handomkeer

Die stemming teen Amerika in die VN het die Amerikaanse president, Donald Trump, en sy verteenwoordiger, Nikki Haley, boos gemaak.

Haley het ná die stemmery gesê dat Amerika “name neem” van diegene wat ten gunste van die mosie gestem het.

Vir lande soos Ethiopië, Nigerië en Kenia gaan dit oor real-politiek. Amerika is baie invloedryk hier, veral op militêre gebied en wat handelsbetrekkinge betref.

Trump het vroeër gedreig dat lande wat teen Amerika stem se ontwikkelingshulp afgesny sal word.

Dit verduidelik dus die handomkeer van soveel Afrikalande. Die meeste van hulle kry substansiële hulp van Amerika en kan dit nie bekostig om Washington teen te gaan nie.

Vir lande soos Ethiopië, Nigerië en Kenia gaan dit oor real-politiek. Amerika is baie invloedryk hier, veral op militêre gebied en wat handelsbetrekkinge betref.

Liesl-Louw Vaudran.

Dit sou eenvoudig nie in hul eie belang wees om Trump te vervreem nie. Hulle het dus maar hul ambassadeurs na Jerusalem gestuur waar Trump se dogter en skoonseun hom verteenwoordig het.

Maar nie almal in Afrika dink so nie.

Die kwessie van Israel se besetting van Palestynse gebiede en die byna daaglikse geweld teen Palestyne deur die Israelse weermag is vir lande soos Suid-Afrika ’n beginselsaak.

Die ANC is dekades al aan die kant van die Palestynse vryheidsvegters. Die besluitnemers in die regering meen ook waarskynlik dat Amerika nie veel kan doen om Suid-Afrika hieroor te straf nie.

Moslemlande soos Marokko, Algerië, Egipte en die meeste Franssprekende lande in Wes-Afrika is ook weens hul verbintenis met die Palestynse bevrydingsbeweging genoop om teen Israel gekant te wees.

Die openbare mening tuis sal nooit aanvaar dat hul ambassadeurs so ’n seremonie in Jerusalem bywoon nie.

Maar dit kan hulle duur te staan kom.

Net soos met die Koue Oorlog, word lande nou gedwing om kant te kies in ’n spel wat hulle nie werklik direk raak nie.

Relatief klein landjies soos Senegal, met meer as 90% Moslems, kry baie Amerikaanse hulp en as Trump sy dreigemente deurvoer, kan dit die land kwaai seermaak.

Net soos met die Koue Oorlog, word lande nou gedwing om kant te kies in ’n spel wat hulle nie werklik direk raak nie. Dit is ’n baie moeilike besluit vir Afrikalande, juis omdat Amerika in hierdie stadium nog so invloedryk is.

Trump se kortsigtige buitelandse beleid wat enigeen wil straf wat nie met hom saamstem nie, kan Afrika – en Amerika – op die lang duur nog baie skade berokken.

* Liesl Louw-Vaudran is ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS). Haar jongste boek is Superpower or Neocolonialist? South Africa in Africa.

Meer oor:  Afrika  |  Amerika  |  Israel  |  Donald Trump
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.