Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Afrikaner, leer uit Joodse pyn

Afrikaners mag hulself uiteindelik net so magteloos as die Jode in Europa bevind, waarsku Hermann Giliomee.

Onderdrukte minderheid: Nazi’s sit plakkate in 1933 in Berlyn op wat inwoners afraai om by Jode te koop. Foto: Getty Images

In 1946, net ná afloop van die Tweede Wêreldoor­log, het N.P. van Wyk Louw in ’n essay in die tydskrif Standpunte oor die lesse van die gebeure in Europa vir Suid-Afrika besin.

Dit was kort nadat die gru­wel van die Europese Jode se uitwissing alge­meen bekend geword het.

’n Ander ontwikkeling wat vir Suid-Afrika ter sake was, was die Atlantiese Handves van 1941 waarin Amerika (VSA) en Brittanje hulle tot die reg van selfbeskikking van alle mense verbind het.

Louw het sterk stelling ingeneem teen univer­sele stemreg vir Suid-Afrika omdat die voorstanders daarvan volgens hom nie erns gemaak het met die feit dat Suid-Afrika ’n groot swart meerderheid het nie. Vir hom het algemene stemreg beteken dat die twee betreklik ontwikkelde wit gemeenskappe in die land sou “versink tot magtelose minderhede tussen ’n massa swartes (sic)”.

Hy het aangevoer dat die Afrikaners geen klein koloniale gemeenskappie is nie. Anders as die Engelssprekendes, het hulle geen ander land gehad om na te vlug nie. Om “liberaal” te wees, het Louw geskryf, kom vir Afrikaners neer op “nasionale selfmoord en vernietiging”. Hy het daar­op hierdie somber waarskuwing gerig: “As (die Afri­kaners) hier so ’n minderheid word, dan weet hy dat hy so hulpeloos as die Jood in Duitsland sal wees.”

Afrikaners en die breër wit gemeenskap moet hul kwesbaarheid besef.

Aanvanklik het minderhede in Suid-Afrika geglo dat die Grondwet van 1996 nie net aan individue nie, maar ook aan minderhede voldoende beskerming bied. Dit het egter gou geblyk die ANC en die NP huldig radikaal ver­skil­lende menings oor kwessies soos reg­stellende ak­sie en die reg op onderrig in die moedertaal.

Ná die ontstellende uitspraak van die kon­sti­tu­sionele hof oor die taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat in 2018, het oudpresident FW de Klerk verklaar dat dit blyk dat daar ’n “doelbewuste erosie” van minderhede se regte en vryhede is. Die ANC, het hy voortgegaan, “is besig om ons eiendom, ons maatskappye, ons indiensnemingsvooruitsigte en ons kulturele nalatenskap te beperk tot die krim­pen­de persentasie van die bevolking wat ons ver­teen­woordig”.

De Klerk het afgesluit: “Ek het tot die ge­volg­trekking gekom dat die toekoms van ons mense en alle minderhede weer eens in ons hande is – net soos dit baie keer in ons onstuimige verlede was.”

In Suid-Afrika het wit mense in 1994 die mag onherroeplik verloor, maar aanvanklik bly glo dat hulle saam met ander burgers sekere onvervreembare regte geniet, onder meer die reg om soos enige ander burger teen aanvalle, mondelings of fisiek, beskerm te word en op hul reg tot voortbestaan as individue en as gemeenskap in die land staat te maak.

Sedertdien het egter stemme teen hierdie fun­da­men­tele regte opgegaan. So verklaar Julius Malema, leier van die ekstremistiese EFF, op 7 November 2016: “Wit mense het vreed­same Afrikane in die land aangetref en hulle doodgemaak. Ons vra nie vir die slagting van die wit mense nie, ten minste nie op die huidige oomblik nie.”

Gedurende die eerste week van September 2019 het swart mense in verskeie stede op groot skaal mense van ander Afrikalande aangerand en hul winkels ge­plunder. Die sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, se reaksie hierop tydens ’n vergadering op die kampus van die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (TUT): “Julle is Suid-Afrikaners, maar onthou julle is Afrikane wat op die kontinent genaamd Afrika bly. Moet nooit mense minag met dieselfde kleur as dié van ons nie. Daar is baie ander met ’n witterige kleur [ . . .] Hulle word nooit aangeval nie. Hulle is ook sogenaamde vreemdelinge van die buiteland, maar hul kleur is wit.”

Hierdie woorde maak Van Wyk Louw se waarskuwing net ná die Tweede Wêreldoorlog, dat die Afri­kaners so magteloos soos die Jode in Duitsland kan word, aktueel. Afrikaners en die breër wit gemeenskap moet hul kwesbaarheid besef. Tans lê die probleem by opportunistiese politici wat die wit mense wil bykom en daar is nog min sprake van ’n arm swart massa wat uit ’n gevoel van veronregting gereed is om as ’n groep wit mense aan te val.

Dit blyk uit ’n meningsopname vóór die 2019-verkiesing waarin R.W. Johnson hierdie vraag aan swart mense gestel het: “Wie moet geblameer word vir die feit dat armoede en ongelykheid in die land toegeneem het?” Van die respondente het 57% die regering geblameer, 36% die ANC, 18,5% welgestelde wit mense, 10,8% die swart elite en 0,2% wit mense.

Die probleem lê volgens Johnson veel eerder by die swart middelklas, wat oor die afgelope 25 jaar vinnig bevordering in veral die staatsdiens en open­bare korporasies gekry het, en skielik welvarend geraak het. Hy beskryf hulle as ’n burokratiese burokrasie wat nie gewillig is om die rieme fyner te sny of die visier van hul verwagtinge laer te stel nie.

Dit is hulle wat saam met sekere kommentators steeds probeer om wit mense te blameer vir die on­gelykhede en armoede in die land.

Ná die oor­gang in 1994 het die Afrikaners in ’n sekere sin ineen­gestort. Hulle het beheer oor die staat verloor, het in die huidige DA ’n flou kampvegter, en nog erger – hulle het hul ideologie verloor.

Daarmee word nie apartheid bedoel nie, maar die ideologie van die Afrikaner-volksbeweging, wat Afrikaners in alle klasse aangespoor het om medeverantwoordelikheid te aanvaar vir die gemeenskap en vir sy geestesgoedere.

Bewegings het egter begin om die saak van minderhede, ook dié van Afrikaners en alle Afrikaanssprekendes, uit te bou en te verdedig. Daar is ook gedink aan dorpstigting waar die ekonomie gedryf word deur mense wat op hul eie arbeid staatgemaak het.

Flip Buys van Solidariteit skryf in sy Die pad na selfbestuur dat die meerder­heid altyd in die versoeking sal wees om ’n presterende minderheid se bates te vat, sy instellings oor te neem en hulle vir sy mislukkings te blameer. Hy waar­sku tereg dat geen grondwet, geen politieke stelsel, hof of selfs militêre mag ’n magtelose minderheid blywend sal verskans teen ’n meerderheidsgroep wat hulle tei­ken nie. Die onafwendbare gevolg sal wees dat die top-opgeleide deel van die minderheid gaan emigreer na veiliger en gelyker weivelde, wat tot die ondergang van die hele volk kan lei.

Vir Buys is die groot struikelblok in die Afri­kaners se stryd om voort te bestaan, nie hul klein getalle nie, maar die feit dat daar geen streek is waar Afrikaners die meerderheid vorm nie. Die oplossing is nie nasionale selfmoord deur inlywing by ’n groter groep nie, maar ’n groter konsentrasie in ’n aantal dorpe. Dit kan uitloop op ’n vorm van ontplooiende federalisme.

Buys is die ds. J.D. “Vader” Kestell van ons tyd. Kestell het gedurende die 1930’s die gevleuelde woorde “ ’n Volk red homself” gebruik.

Dit het Afri­kaners aangevuur om projekte van stapel te stuur om die grootskaalse Afrikanerarmoede te verlig en om Afrikanerondernemings te stig. Buys se woorde 70 jaar later is: “Woon waar jy oor jouself kan beskik.”

Wat Afrikanerselfbestuur so noodsaaklik maak, is veral die verval van talle plattelandse dorpe. Wan­bestuur en korrupsie maak dit vir mense moeilik om daar in veiligheid te woon.

Met ’n regering wat die Afrikaner se regte op talle terreine ontken en toene­mend uitfaseer, is Buys se pleidooi dat gemeenskappe, en by name die Afrikaners, hulself moet organiseer om hul eie belange te beskerm en hul toekoms te verseker. Buys glo nie daar moet formeel verlof gevra word om tot die stigting van nuwe vestigingsgebiede oor te gaan nie. Mense moet die inisiatief neem en die feite op die grond plaas.

Dit mag uiteindelik een van die min opsies wees wat oor is vir diegene wat ’n premie plaas op die Afrikaners se voortbestaan in hierdie wye, droewe, maar ook verruklike land.

* Die artikel is ’n geredigeerde uittreksel uit Hermann Giliomee se voorwoord vir die boek Die pad na selfbestuur deur Flip Buys.

* Prof. Hermann Giliomee is ’n historikus.

Meer oor:  Flip Buys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.