Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Afrikaner se identiteit deur ordentlikheid herskep

In die postapartheid-era kan Afrikaners hul identiteit herskep deur ordentlikheid, skryf Christi van der Westhuizen in haar nuwe boek, Sitting Pretty.

Christi van der Westhuizen se nuutste boek, ‘Sitting Pretty. White Afrikaans Women in Postapartheid South Africa’.

Ná die val van amptelike apartheid is “die Afrikaner”, voorheen die hegemoniese identiteit in die apartheid-matriks van dominasie, in die moeilikheid.

Die identiteit is gewis in ’n toestand van verhoogde mededinging oor wat dit vir wie beteken, indien enigiets. In die poging om hulself van die skandvlek van apartheid te reinig, wend wit Afrikaanssprekendes hulle tot ’n historiese identiteitsopset wat “ordentlikheid” genoem kan word.

Ordentlikheid is soos ’n wondermiddel vir die Afrikaner se ellende; dit is ’n gom wat die identiteit aanmekaar hou. Dis moeilik definieerbaar: ordentlikheid word beliggaam in sekere gebare en fisieke liggaamshoudings en sluit in fatsoenlikheid, goeie maniere, beleefdheid en nederigheid met ’n Calvinistiese geur. In die postapartheid-era waarin Afrikaner-nasionalisme uitmekaar geval het, kan Afrikaners hul identiteit herskep deur ordentlikheid as ’n punt van interseksie vir die kategorieë van geslag, seksualiteit, klas en ras.

Ordentlikheid maak ons attent op ’n mede-genererende verhouding: dié met wit Engelssprekende Suid-Afrikaanse (Wessa) identiteit. Wessa-identiteit, op sy beurt, maak staat op globale Anglo-witheid vir sy eie konstruksie. Ons sien ’n dubbele beweging: ordentlikheid word geskep in verhouding tot Wessa-respektabelheid, maar is terselfdertyd ook etnies-spesifiek om ’n eie ruimte vir Afrikaner-witheid oop te kerf.

Die hoeksteen van die Afrikaner-identiteit is steeds Afrikaans as taal. Dit bevat steeds onderliggende assosiasies as die taal van minderbevoorregtes.

Die Afrikaner-identiteit is histories op soek na pariteit met hegemoniese Anglo-identiteit om sodoende die voordele van witheid te kan deel. Die historiese agtergrond is dat die Boere teen die laat 1800’s as ’n minderwaardige of gedegradeerde klas van kolonis beskou is, aldus Timothy Keegan. Europese besoekers het hulle as lui, traag van begrip, eenvoudig, onkundig en selfs vuil voorgestel. Lord Kitchener het tot die slotsom gekom dat die Boere “onbeskaafde Afrikaner-barbare onder ’n dun wit laag” is.

Hierdie diskursiewe konstruksies dien as voorbeeld van die rassifisering van ’n mindere vorm van “witheid as deel van ’n proses om ’n meer dominante weergawe of stel belange en identiteite te vestig”, soos John Gabriel dit beskryf.

In hierdie geval is die diskoerse ingespan om dominante Anglo-witheid en later die Wessa-identiteit te konstrueer, waarteen Afrikaner-witheid in reaksie geskep is. Teen die 1970’s was terme soos “Dutchman”, “hairyback”, “rock spider”, “mealie muncher”, “takhaar”, “bywoner”, “backvelder” en “plank” steeds in omloop as deel van hierdie diskoers.

Afrikaner-witheid weerstaan Wessa-hegemonisering met die kontra-diskoers van volkstrots, edele lyding en Calvinistiese betaamlikheid, of ordentlikheid.

Afrikaner-nasionalistiese historici het in die 1960’s die Anglo-diskoers herskryf om Afrikaners te hermaak as gasvrye, dapper en regverdige Christene – die sout van die aarde.

Prof. Christi van der Westhuizen

Die mededingende dinamiek met die Wessa-identiteit duur voort in die 21ste eeu. Paradokse kan gevind word, byvoorbeeld dat om kulturele ruimte aan Engels op te gee as ’n opheffing van Afrikaner-witheid dien.

My navorsing vind ’n diskoers van “trotse Afrikaanse Engelssprekendes”, wat aan die hand van post-strukturalistiese diskoers-analise soos volg werk. Die hoeksteen van die Afrikaner-identiteit is steeds Afrikaans as taal. Dit bevat steeds onderliggende assosiasies as die taal van minderbevoorregtes. Tussen hierdie twee pole word Afrikaner-identiteit geskep op paradoksale wyse: deur die eis om Afrikaans te praat, en om sosiale ruimte aan Engels as taal af te staan.

In die uittreksel hier onder skep die sosiale verplasing van Afrikaans weerstand wat bydra tot identiteitsvorming. Uit die besering van ontkenning word “die Afrikaner” geskep. Terselfdertyd word die wit Engelse element van politeness as Afrikaner-ordentlikheid opgeëis. Die momentele verlating van Afrikaans as die hoeksteen van die identiteit word geregverdig deur die Afrikaner met politeness te versoen. Afrikaner-identiteit word dus bevestig as ’n sekondêre en aspirerende posisie wat poog om dominante witheid te vervul.

Die ongelukkigheid oor die verplasing van Afrikaanse deur Engelse identiteit is ’n halsstarrige oorblyfsel

Leah (49): As ek kyk na Johannesburg waar ek bly, 70 persent van die mense praat Afrikaans, maar ons almal praat Engels . . .

Sandra (43): Dit maak my kwaad, ja.

Nerina (32): As jy in ’n winkel ingaan in Johannesburg praat jy outomaties Engels.

Willemien (33): Dit is die moeite wat ons maak met ander mense, of hoe?

Nita (62): Die akkommodering . . .

Willemien: Ja, ek gaan nou Engels praat met jou want jy is Engels.

Pieta: Want dit is polite om dit te doen.

Leah: Die Calvinisme skyn deur, dit is die politeness.

Willemien: Jy sal een Engelse persoon kry en vyf Afrikaanse mense . . .

Nita: Maar dit gee my ’n gevoel van “ek kan”. Ek sukkel met Engels, maar ek kan.

Sandra (43): Dit is net polite [. . .] Johannesburg is basies ’n Engelse nedersetting, arm wittes, ryk Engelse in die 1920’s . . . ek raak net kwaad as mense al wetende in ’n groep Engels praat as die meeste Afrikaans is.

Pieta: Ek sal met iemand op die foon praat en hulle sal begin in Engels en op ’n stadium sal ek hoor die persoon is Afrikaans, dan voel ek te sleg om oor te slaan want ek is bang hulle dink hulle praat slegte Engels.

Nerina: Dit gebeur daagliks met my.

Soos gesien kan word, is daar ook weerstand teen die opgee van sosiale ruimte aan Engels. Die bron van die weerstand is egter nie ’n problematisering van die Wessa-identiteit nie, maar ’n mededingende verhouding met wit Engelssprekendes.

Die ongelukkigheid oor die verplasing van Afrikaanse deur Engelse identiteit is ’n halsstarrige oorblyfsel wat na die historiese verplasing van een setlaarklas deur ’n ander aan die suidelikste punt van koloniale Afrika teruggespeur kan word.

* Bostaande is ’n vertaalde en geredigeerde uittreksel uit Sitting Pretty. White Afrikaans Women in Postapartheid South Africa (UKZN Press) deur Christi van der Westhuizen wat Dinsdagaand in Johannesburg bekend gestel word.

Meer oor:  Christi Van Der Westhuizen  |  Boek  |  Feminisme  |  Afrikaners  |  Demokrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.