Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Afrikaners het hul eie potjie gekrap
Die tydskrif Die Suid-Afrikaan se Winter 1985-uitgawe. Die hoofstorie het gesprekke gedek wat ek en ander Stellenbossers met dr. Nthato Motlana van Soweto gevoer het. Die minister van konstitusionele sake, Chris Heunis, kyk effens benoud toe.

Die grootste guns wat Engelse sakelui aan Afrikaner-sakelui betoon het, was om hulle te dwing om op eie houtjie suksesvol te wees indien hulle respek wou afdwing, skryf Hermann Giliomee in sy nuwe boek.

In Suid-Afrika en ander diep-verdeelde samelewings ding mense nie as individue mee en stem nie, maar as lede van ’n gemeenskap.

Tussen 1910 en 1970 was die vernaamste stryd nie tussen wit en swart nie, maar die een waarin die twee wit gemeenskappe teen mekaar vir mag en aansien gewedywer het.

Tot 1970 was die kapitaalkragtiger Engelssprekende gemeenskap op die gebied van die ekonomie in ’n veel beter posisie as die Afrikaners.

Dit het lank gevat het voor die Afrikaners werklik groot korporasies opgebou het wat vergelyk kon word met dié van die Engelse en Joodse gemeenskap.

In 1968 het Jan Hurter, besturende direkteur van Volkskas, verklaar dat daar slegs vier Afrikaner-korporasies was met bates van meer as R300 miljoen, Volkskas, Trust Bank, Rembrandt en Sanlam.

Ek het later aan Koos Bekker gevra waarom Nasionale Pers afwesig van die lysie was.

Links: ’n Polemiek in Die Burger, waarin Stellenbosse akademici mekaar gepak het oor hervorming, was die inspirasie vir dié spotprent deur Fred Mouton. Ná dit in Die Burger verskyn het, is dit ook in November 1981 in die tydskrif Frontline gebruik by ’n artikel deur Helen Zille, getiteld “The civil war that burst forth from The John”. Links is Sampie Terreblanche, Julius Jeppe en Willie Esterhuyse as die verligtes; regs Johannes Degenaar, ek en André du Toit.

Sy antwoord was onthullend: “Ek twyfel of die markwaarde van Naspers se bates in 1968 naby R300 m sou wees. Teen 1984 was die ‘markkapitalisasie’ van die hele maatskappy maar R24 miljoen. (Dit was toe nog ’n ongenoteerde maar openbare maatskappy, met sowat 3 000 aandeelhouers.)”

Die groot vraag is: Waarom het die Afrikaners ten spyte van die feit dat ’n Afrikaner-gebaseerde party vir die grootste gedeelte van die tyd aan die mag was tot die 1970’s ekonomies ver agtergebly?

Net toe ek volstoom aan my boek oor die Afrikaners begin werk het, het Francis Fukuyama se vergelykende studie getitel Trust: The Social Virtues and the Creation of Prosperityin 1996 verskyn.

Fukuyama beklemtoon dat maatskaplike kapitaal ewe belangrik as fisieke kapitaal is. ’n Gemeenskap is ekonomies suksesvol as dit ’n kultuur het wat ’n premie daarop plaas om mense te oorreed om vir hul eie beswil ekonomies saam te werk.

Kulture wat “sosiale bande” hoog aanslaan en verenigings stig, is die beste geplaas om grootskaalse sakeorganisasies op te bou wat kan meeding, floreer en aanpas wanneer dit nodig is.

Ek het die term die Groot Krokodil vir die eerste keer in Junie 1988in Die Suid-Afrikaan gebruik in my rubriek onder die skuilnaam “Die man wat weet”. Die term het wyd aanklank gevind, en hier beeld Cora Coetzee dit in ’n verjaarsdagkaartjie aan my uit.

Fukuyama spreek sy verbasing uit oor die Afrikaners se lang gesukkel om die kapitalistiese stelsel baas te raak. Max Weber het immers ’n oortuigende saak daarvoor uitgemaak dat daar ’n sterk korrelasie bestaan tussen Calvinisme en kapitalisme.

Die Afrikaners was Calviniste, maar, soos Fukuyama dit stel, het hulle nie voor die laaste kwart van die twintigste eeu daarin geslaag om ’n florerende kapitalistiese kultuur te ontwikkel nie.

Een van die redes is dat die meeste Afrikaners tot vroeg in die twintigste eeu bestaansboere in pioniersomstandighede was.

Behalwe vir die kerk en die kommando het hulle min vertroue gehad in instellings gelei deur mense en groepe buite die familieverband.

Ongelukkige ervarings met smouse en winkeliers en die ineenstorting van talle distriksbanke, en die Engelse oorheersing van die mynbou, nywerheid en handel het tot ’n groot wantroue in die kapitalistiese wêreld by die Afrikaners gelei.

Hendrik Verwoerd het in 1939 by die Eerste Ekonomiese Volkskongres tereg daarop gewys dat die Afrikaners godsdienstig en polities oorgeorganiseer was, maar ekonomies swak georganiseer.

Die ekonomiese opkoms van die Afrikaners in die drie dekades ná die kongres het verskeie historici se aandag geniet.

Nelson Mandela se boodskap uit die tronk wat Trevor Manuel persoonlik by my huis besorg het.

Sommige liberale en radikale historici het dit toegeskryf aan die NP se regering se hulp aan Afrikanersake, terwyl Afrikanerhistorici die krediet gegee het aan die Afrikaners wat hulle self aan hul skoenrieme opgetrek het.

In die vakliteratuur en in die Engelse pers is dikwels beweer dat die Afrikaners hul groot ekonomiese deurbraak in die 1960’s gemaak het danksy die goedgunstigheid van Ernest Oppenheimer van Anglo American Corporation.

Hy sou dan teen ’n beweerde “spotgoedkoop prys” toegelaat het dat General Mining, ’n mynhuis in Anglo-beheer aan die Sanlam-beheerde maatskappy Federale Mynbou verkoop word.

Die historikus Grietjie Verhoef en ook Michael O’Dowd en Michael Spicer, twee Anglo-direkteure met wie ek onderhoude gevoer het, het hierdie storie as ’n versinsel beskryf.

Anglo het sy mynhuis teen ’n markprys verkoop en op die koop toe het Oppenheimer ’n uiters belangrike toegewing gekry: Sanlam sou nie voortgaan om sy diamantbelange te ontwikkel en sodoende Anglo se diamantmonopolie bedreig nie.

Ek het nie die Afrikaners se ekonomiese opkoms in my boek oor die Afrikaners indringend ontleed nie, maar het dit kort na die verskyning daarvan in ’n vaktydskrif probeer doen.

Dit was egter ’n opmerking van dr. Anton Rupert, terwyl ek nog aan die boek gewerk het, wat my aan die dink gesit het. Ek het hom gevra of hy kon dink aan enige Afrikaanse maatskappy wat deur ’n Engelse maatskappy “bemagtig” is. Sy antwoord was: “Ek kan nie dink aan een geval nie en ek is baie dankbaar daaroor.”

Vir my het die woorde ’n belangrike lig laat oopgaan in die groot waarde wat ’n sakereus soos Rupert geheg het aan die feit dat die maatskappye opgerig deur Afrikaners sonder staat- of Engelse steun sukses moet behaal.

Dit was enigste manier waardeur Engelse sakeleiers erkenning aan die Afrikaners se ekonomiese opkoms sou gee.

In diep-verdeelde samelewings soos Suid-Afrika was daar vir die Afrikaners twee roetes oop om erkenning vir hul ekonomiese prestasies.

Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika was die eerste post-1994 geïllustreerde algemene geskiedenis van die land. Hier teken ek en mederedakteur Bernard Mbenga boeke in Johannesburg. (BooksLIVE).
As student op Stellenbosch, waar in die laat 1950’s vurige debattegevoer is oor aparte universiteite en republiekwording.

Die Afrikaners het die roete gekies van gemeenskapsmobilisasie.

Hulle het nie veel direkte staatsteun gekry nie en het ook nie enige groot las op die groot Engelse maatskappye gelê nie.

Die ander roete is staatsgedrewe. Die African National Congress het voor dit aan bewind gekom het ’n studie van bemagtiging in Maleisië gemaak, waar die staat die Chinese maatskappye verplig het om maatskappye wat deur Maleiers opgerig is te bemagtig en ook aan hierdie Maleisiese maatskappye voorkeurbehandeling met kontrakte te gee.

Die argitek van hierdie beleid van Maleisiese bemagtiging, wat die “New Economic Policy” genoem is, was Mahathir bin Mohamad, wat later eerste minister geword het.

Toe hy in 2003 na dertig jaar uit die politiek tree, het Ma­hathir gebieg dat hy misluk het in sy doel om die Maleiers as die “meerderheidsras” ekonomies suksesvol te maak – ’n ras wat deur die Chinese en ander gerespekteer word.

Die sakelui het steeds van die “kruk” van staatskontrakte en regeringsdwang op Chinese maatskappye afhanklik gebly.

Miskien die grootste guns wat die Engelse sakelui die Afrikaners, en veral die Afrikaner-sakelui betoon het, was om hulle te dwing om op eie houtjie suksesvol te wees indien hulle respek wou afdwing.

  • Hierdie is ’n uittreksel uit Historikus – ’n Outobiografie deur Hermann Giliomee. Dit word deur Tafelberg uitgegee en kos R380. Dit het pas verskyn.
Meer oor:  Hermann Giliomee  |  Afrikaners  |  Sakelui  |  Boek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.