Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Ag Pleez, Daddy’ terwyl ‘Oceanos’ sink

In dié vertaalde uittreksel uit sy boek Against All Odds: The Epic Story of the Oceanos Rescue beskryf Andrew Pike die rol wat ’n kulkunstenaar daardie Augustusnag in 1991 gespeel het terwyl die Oceanos aan die Suid-Afrikaanse kus gesink het.

In die skip se gange het die noodligte dof begin flikker. Die kulkunstenaar en komediant Robin Boltman, ’n lid van die vermaaklikheidsbemanning, het hom uit sy kajuit na die skip se sitkamer gehaas. Al steierend soos ’n dronk mens het hy deur die wankelende skip beweeg.

Hy het geweet passasiers wag in die sitkamer vir die vertoning om te begin en hy wou nie hê dat hulle verward daar in die halfdonker sit nie. Hy was nie heeltemal seker wat hy sou doen wanneer hy daar aankom nie.

Maar hy was gewoonlik die gasheer van die vertoning en daar sou van hom verwag word om die nodige afkondigings te doen.

Toe hy daar kom, het die passasiers in die skemer rondgemaal. Hoewel een of twee van die vermaaklikheidskunstenaars voor hom opgedaag het, was die musikant Moss Hills nog nie daar nie; ook nie die dansers nie. Robin was nie seker hoe hy sonder hulle en met geen elektrisiteit ’n vertoning gaan begin nie.

’n Beroering

Oceanos
'n Advertensie in Fair Lady wat vaarte op die Oceanos adverteer het. Foto: Jonathan Ball Uitgewers

Nadat hy die toerusting so goed as wat hy kon beveilig het, is Moss net ná negeuur terug na sy kajuit om Tracy, sy mede-kunstenaar, te gaan aanjaag. Op pad het hy ’n beroering buite die sitkamer teëgekom. Bemanningslede met reddingsbaadjies aan het met arms vol reddingsbaadjies rondgehardloop. Hy het dit vreemd gevind aangesien geen driloefening nog gereël was nie. Om die waarheid te sê, hoe meer hy daaraan dink, hoe meer het dit tot hom deurgedring dat geen driloefening nog plaasgevind het sedert die nuwe passasiers in Oos-Londen aan boord gekom het nie.

Toe hy op die Venus-dek kom, het hy drie veiligheidspersoneel na die agterdek gesien hardloop. Hy het besef iets is nie pluis nie en het hulle na die bemanningstrap op die Dionusios-dek gevolg.

Bemanningslede was besig om teen die trappe op te skarrel. Sommige was deurdrenk en verskeie het sakke by hulle gehad. Die meeste het reddingsbaadjies aangehad. Ander het by kajuite ingehardloop om hul persoonlike besittings te gryp en weer uitgehardloop. ’n Paar offisiere het geskree om hulle te probeer kalmeer, maar dit het net verder tot die chaos bygedra.

Moss het besef dat daar ’n ernstige probleem aan boord is.

Voort met die vertoning

Die drama toe die Oceanos in 1991 gesink het, het baie Suid-Afrikaners aangegryp. Foto: Argief

Moss het gehardloop na sy kajuit om Tracy te waarsku. Sy was reeds besig om klere en ander persoonlike besittings in ’n sak te stop. “Ek is regtig bekommerd, Moss! Iets voel nie reg nie,” het sy gesê.

“Trek vinnig jou jeans en tekkies aan! Ons moet dalk die skip verlaat,” het Moss met ingehoue dringendheid gesê en haar vertel wat hy pas gesien het.

“Dit lyk my die bemanning weet iets wat ons nie weet nie.”

Lorraine, wat gaan aan? Ek het bemanningslede met reddingsbaadjies aan gesien rondhardloop.

Hy het vinnig ook ’n sak gepak, waarna hulle na die sitkamer koers gekies het. Op die trappe het die krag afgegaan. Dit was ’n paar oomblikke stikdonker voordat die noodligte aangegaan en die wankelende gange in ’n onheilspellende halflig gebaai het.

“Hoe gaan ons die vertoning sonder ligte aanbied?” het Tracy gevra. Getrou aan haar aard as ware vermaaklikheidster, het sy geglo die vertoning moet voortgaan. “Ons kan dit akoesties doen,” het Moss gesê. “Die passasiers verwag ’n vertoning en ons sal iets móét doen.” Toe hulle in die halfverligte sitkamer kom, kon hy die passasiers hoor murmureer. Robin was op die verhoog. “Sit mense!” het Moss uitgeroep. “Ons gaan binnekort met die vertoning begin. Ons moet net uitvind wat met ons kragtoevoer gebeur het.”

Oceanos
'n Blik op die sinkende Oceanos vanuit 'n reddingshelikopter. Foto: Jonathan Ball Uitgewers

Moss het Lorraine Bets, ’n verteenwoordiger van TFC Tours (die maatskappy wat die Oceanos gehuur het), buite die sitkamer aangetref. “Lorraine, wat gaan aan? Ek het bemanningslede met reddingsbaadjies aan gesien rondhardloop.”

“Ek is nie seker nie,” het Lorraine gesê. “Ek gaan met die kaptein praat.”

‘Net voorsorg’

Oceanos
Passasiers op die dek van die Oceanos. Foto: Jonathan Ball Uitgewers

Ondanks die feit dat daar geen alarm of enige amptelike aankondiging was nie, was bemanningslede besig om freneties rond te hardloop. Iets groots was fout en Lorraine moes uitvind wat dit is. Sy en Moss het ’n paar van die skarrelende bemanningslede, almal offisiere, gevolg.

“Waarheen is julle op pad?” wou Lorraine by die tweede offisier weet. Hy sou gewoonlik hierdie tyd van die aand nêrens te siene gewees het nie aangesien sy standaardskof van middernag tot vieruur is en dit nou skuins ná tien was.

“Kaptein sê ons moet reddingsbote te water laat. Net voorsorg, verstaan?” Ondanks sy Griekse aksent kon die tweede offisier nie die vrees in sy stem verbloem nie.

“Waarom reddingsbote te water laat as ons nie die skip gaan verlaat nie? Is ons besig om te sink?” wou Lorraine weet. “Nee, nee! Ons sink nie! Ons laat net die bote te water vir ingeval,” het die verbouereerde Griekse matroos geantwoord.

Lorraine was nie oortuig nie. As vaartdirekteur weet sy heelwat van skepe en skeepvaart, en daar moes ’n baie goeie rede wees waarom die reddingsbote in sulke onstuimige weer te water gelaat word.

Offisiere in reddingsbote

Oceanos
Die Oceanos. Foto: Jonathan Ball Uitgewers

Die tweede offisier het agter sy kollegas aangehardloop met Lorraine en Moss kort op hul hakke. Op die dek is hul ergste vrese bevestig. Bemanningslede was in aller yl besig om twee reddingsbote te water te probeer laat. Talle offisiere was reeds in die bote.

Lorraine kon haarself skaars bo die tierende wind hoorbaar maak. “Wat de hel is aan die gang?!” het sy geskree. “Daar is nog geen alarm gemaak nie. Waarheen is julle op pad?!” Sy kon nie die antwoord hoor van die tweede offisier, wat teen daardie tyd ook in een van die reddingsbote was nie.

Aandag, alle passasiers! Dis jul kulkunstenaar wat praat. Ons werk daaraan om die ligte weer aan te kry, maar om jul aand op te helder gaan ons ’n partytjie hê.

Sy het haar gehaas na die vermaaksitkamer, waar sy Robin aangetref het. “Vat dit, Robin,” het sy gesê en hom ’n megafoon in die hand gestop.

“Hier is nie krag nie en dit is die enigste manier waarop ons met die passasiers sal kan kommunikeer. Ons moet hulle kalm hou. Ek weet nie wat hierdie kragonderbreking veroorsaak het of waarom die bemanningslede besig is om die reddingsbote te laat sak nie, maar ek het ’n baie slegte gevoel hieroor.”

Robin het die megafoon gevat. “Aandag, alle passasiers! Dis jul kulkunstenaar wat praat. Ons werk daaraan om die ligte weer aan te kry, maar om jul aand op te helder gaan ons ’n partytjie hê. Gee ons net ’n paar minute om reg te maak.”

Robin het hom na sy kajuit gehaas en sy akoestiese kitaar gaan haal. Terug in die skemer sitkamer het hy Jeremy Taylor se ikoniese “Ag Pleez, Daddy” gesing. Die passasiers het gou saamgesing.

* Against All Odds: The Epic Story of the Oceanos Rescue word deur Jonathan Ball Uitgewers uitgegee. Dit kos 250.

Meer oor:  Andrew Pike  |  Moss Hills  |  Robin Boltman  |  Jeremy Taylor  |  Oceanos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.