Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Agter enige donkie se naam lê ’n geskiedenis
Donkiename gee gewoonlik uitdrukking aan die doen en late van ’n kontrei. Foto: Deon Ferreira

Ons kies so dikwels mensname vir ons troeteldiere. Dié gebruik is ook ’n feitlik vergete plattelandse tradisie, skryf Johan van Wyk.

Die diskoers die afgelope ruk in Die Burger se briewerubriek oor mensname vir diere het my aan Japie herinner.

Dit was nie troetelnaampie soos “Japie my skapie” tussen vryers of ma’s vir ’n nuwe baba nie. Japie was ’n ryperd uit my kinderdae, toe Afrikaanse mense graag geliefde, betroubare diere uit deernis en dankbaarheid mensname gegee het.

Die name is dikwels, danksy fyn waarneming, gekweek in plattelandse afsondering, aan bekende mense geknoop weens die geaardheid, karaktertrekke en selfs die voorkoms van die diere – en nie sonder humor en goedige spot nie.

Die meeste van die mak bobbejane wat in my kinderdae aan ’n ketting bo-op ’n paal op plaaswerwe in die noordwestelike Karoo vir die aardigheid aangehou is – ’n krenkende gebruik wat my nooit aangestaan het nie – het mensname soos Piet, of Stoffel en Klaas gehad. Eie familie, kon jy maar sê.

’n Befoeterde botterkopesel kon na ’n knorrige buurman genoem gewees het, of selfs ’n kwaai skoonma, en ’n paar flukse donkiemerries voor jou kar na gedienstige vroue uit die Bybel soos Rut en Naomie.

Of Dawid en Jonathan vir twee betroubare reundonkies voor ’n damskrop, en Esau en Abel vir twee halsstarrige koppiges wat nie wou saamtrek nie.

En natuurlik, met apologie aan ons voormalige president, en erkenning aan Jochem van Bruggen se Ampie, Jakob vir ’n gedwee, hondmak skooldonkie.

Dis nou lank vergete, maar daar was ’n tyd toe, behalwe kaalvoet deur duwweltjies in ’n stofpad, omtrent elke Afrikanerkind bloots op die rug van ’n donkie met die naam Jakob, ’n trens in sy bek, na ’n plaasskooltjie in die verre, eensame platteland van Suid-Afrika gery het.

Toe ek my avontuurlustige twee kleinseuns van ses en agt op pad skool toe in die Paarl in ’n Toyota Land Cruiser daarvan vertel en hulle my met kinderlike verwondering aangehoor het, het ek geweet hoe Rip van Winkel moes gevoel toe hy uit sy sprokiesluimering van ’n honderd jaar ontwaak het.

Hulle diepste, maar sekerlik onvervulde begeerte, is nou om skool toe te ry op ’n donkie met ’n mensnaam, soos hulle rifrughond, Max.

Foto: Ewald Stander

Dit is egter nie net mensname vir diere wat oulik en gepas kan wees nie. Buiten tradisionele name soos Vaaltyn en Langoor, was Klipbok en Daisy van die lekkerste name vir kardonkies wat ek onthou. Banjo en Bekfluit het behoort aan ’n musikant. Dan was daar ook Jellie en Custard en Morris en Austin – toe donkiekarre op die geskrapte onderstelle van die klein Engelse motortjies gebou is, kompleet met ’n diff waaruit lekkende ou olie gedrup het. Dié karrtejies het nie ysterbande gehad soos ’n kapkar wat deur perde getrek is nie, maar luggevulde “taaiers”. Om dit soos ’n regte kar te laat lyk was daar wieldoppe, ’n lugdraad en ’n ou nommerplaat.

Die agterkant van Piet Bumperlippe se donkiekar was versier met die embleem van ’n Oldsmobile Rocket Eithty-Eight wat hy in Verlatekloof opgetel het, waarna hy sy twee donkies se name van Kapok en Velle na Rocket en Mobile verander het. Wys jou hoe wyd en diep Engels toe al geloop het.

Stoere Afrikanernasionaliste, wat gekant was daarteen dat Suid-Afrika hom skaar aan die kant van Engeland teen Duitsland in albei Wêreldoorloë, het natuurlik eerder hulle perde genoem na staatsmanne soos Bismarck wat Duitsland in 1871 verenig het, en beroemde Duitse generaals soos Rommel en Hindenburg. Ook Frankryk se ewe beroemde Napoleon.

Nie genl. Louis Botha nie. Sy oorlogsperd tydens Suid-Afrika se inval in Duits Suidwes-Afrika in 1914 het Charlie geheet.

Japie, ’n rustige witskimmelboerpoon, was my ouer suster se skoolperd. Ek het hom ook gery, maar nie meer skool toe. Hy het my nooit vergeet nie. Toe ek hom jare later gaan groet het op Matjiesvlei, waar hy oud en afgeleef sy laaste dae geslyt het, het hy sy swaar kop van die stal se houtkrip na my kant toe gedraai, gerunnik en sy sagte neusvleuls in my nek gedruk.

Sy wit gebleikte beendere moet nog daar tussen die kaiingklippe in die vallei van die dood lê.

Meer oor:  Naweek  |  Johan Van Wyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.