Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Al wen wie, Amerika verloor

Die wenner van oormôre se Amerikaanse verkiesing sal president word van ’n land wat dieper verdeel is as in generasies. Demokrate en Republikeine het vir mekaar net mooi geen tyd nie. Dit is selfs vir die wenner slegte nuus, skryf Leopold Scholtz.

Teiken-oefening op ’n gholfbaan in Texas.

In één opsig maak dit nie juis saak wie van Hillary Clinton of Donald Trump oormôre se presidentsverkiesing wen nie.

Die afgelope verkiesingsveldtog, loshande die vuilste in menseheugenis, het ’n haas onoorbrugbare diep kloof in die Amerikaanse samelewing blootgelê. En ongeag wie wen, dit gaan nie verdwyn nie. Inteendeel.

In vorige verkiesings het die presidentskandidate mekaar hard aangevat, maar daar was altyd ’n ongeskrewe grens wat hulle nie sou oorsteek nie. Byvoorbeeld: Toe ’n vrou in die veldtog van 2008 aan die destydse Republikeinse kandidaat, sen. John McCain, sê sy Demokratiese opponent, die latere pres. Barack Obama, is eintlik ’n geheime Moslem, was sy antwoord ’n besliste:

“Nee, mevrou, sen. Obama is ’n mens met wie ek toevallig oor baie sake verskil, maar hy is ’n eerbare Christen. Moenie hom só belaster nie.”

Sulke uitsprake moet jy nie in vanjaar se veldtog soek nie.

Iets anders is aan die gang: ’n opstand van die laer stande teen die magselite.

Clinton het Trump daarvan beskuldig dat hy nie al sy varkies op hok het nie, dat hy narsisties is, dat hy ’n kernoorlog sal voer net omdat iemand hom kwaad gemaak het, ensovoorts.

Op sy beurt het Trump te kenne gegee Clinton is korrup, misdadig, dat sy in die tronk hoort, dat sy geen reg het om aan die verkiesing deel te neem nie, dat sy “die duiwel” is, en so aan.

Albei kante het onder erge skandale deurgeloop.

Clinton word nog steeds benadeel deur die feit dat sy as minister van buitelandse sake e-posse van haar persoonlike adres gestuur het, waardeur staatsgeheime moontlik onderskep kon word. Pas weer het die FBI op 650 000 e-posse afgekom op die rekenaar van die man van haar naaste medewerker wat dalk – of dalk nie – lig op dié saak kan werp.

Ook haar man, oudpres. Bill Clinton, se losbandige seksuele gedrag lê soos ’n meulsteen om haar nek, al is dit nie hý wat nou kandidaat is nie.

Aan die ander kant is Trump ook gelooi. ’n Bandopname waarop hy kru vertel hoe hy vroue tussen die bene kan gryp omdat hy “ ’n ster” is (iets wat minstens 11 vroue daarna uit eie ervaring bevestig het), het hom groot skade berokken.

Ook is onthul dat hy sedert 1997 waarskynlik (weliswaar binne die reëls) geen belasting betaal het nie. Dit sou verklaar waarom hy ’n gewoonte van presidentskandidate om hul belastingaanslae bekend te maak, verbreek het.

Onlangs het die gerespekteerde Amerikaanse Pew-instituut ’n omvattende studie gepubliseer oor presies hoe die klowe deur dié land verdiep het.

Waar 64% van die Republikeine hulself in 1994 as konserwatief beskryf het, het dit in 2004 tot 70% en verlede jaar tot 93% toegeneem.

In 1994 het 70% van die Demokrate bevind dat hulle liberaal is, vergeleke met 68% in 2004 en 94% in 2015.

Maar die twee groepe het ook minder verdraagsaam teenoor mekaar geword. Die persentasie Republikeine wat die Demokrate in ’n ongunstige lig beskou, het van 1994 tot 2016 van 21% tot 58% gegroei, en die Demokrate wat min van die Republikeine dink, van 17% tot 55%.

Erger nog: In 2014 het 37% van die Republikeine die Demokratiese Party as ’n “bedreiging vir die land se welsyn” gesien, iets wat vanjaar tot 45% toegeneem het. Omgekeerd was die persentasie by die Demokrate teenoor die Republikeinse Party 31% en 41%.

Die ondersoek wys ook dat Trump-ondersteuners oorwegend (maar nie uitsluitend nie) wit, manlik, ouer, arm en sonder tersiêre onderwys is.

Laasgenoemde is belangrik. Trump het weliswaar ’n harde kern ondersteuners wat hom aanbid en histeries word op sy vergaderings.

Hy het op ’n keer gespog as hy in die straat voor sy New York-hoofkwartier loop en iemand doodskiet, sal die mense steeds vir hom stem. ’n Tipiese uitspraak van ’n man met die grootste ego sedert Alexander die Grote, maar wel korrek.

Tog word die miljoene wat oormôre vir hom wil stem, nie noodwendig beweeg deur die feit dat hulle oor alles met hom saamstem nie. Luidens ’n peiling meen 61% van die Republikeine dat sy plan om ’n muur op die Mexikaanse grens te bou, onsinnig is.

Nee, hier is iets anders aan die gang – iets wat ’n mens, met plaaslike variasies, ook sien in Europa. Dit is, ietwat ongenuanseerd gestel, ’n opstand van die laer stande teen die magselite. Die mense kom in opstand teen die politici wat in verkiesing ná verkiesing goue berge beloof, en dan min of meer doen wat hulle wil totdat hulle weer stemme kom soek.

Die verskil waarmee die twee kampe in die verkiesingsveldtog te werk gegaan het, was duidelik.

Die Clinton-kamp se benadering was ortodoks, uit die handboek. In al die kantelstate – dié wat die uitslag kan bepaal – het sy miljoene bestee aan advertensies en ’n uiters gedissiplineerde korps vrywilligers wat mense gebel en huisbesoek gedoen het om stemme te werf. Oormôre sal die mense op groot skaal stembus toe aangery word.

Trump het alles van sy eie charisma en groot vergaderings laat afhang. Sy saamtrekke is deur tienduisende mense bygewoon. Hy het aan elke praatprogram op televisie en oor radio wat hy maar kon deelgeneem.

En albei het tonne modder gegooi. Baie Amerikaners voel skaam omdat hul land niks beters as Clinton en Trump kon voortbring nie.

Wie gaan wen? Tot baie onlangs het Clinton oortuigend voorgeloop, maar die laaste dae het Trump begin inhaal.

Teen die middel van dié week het 22,5 miljoen mense reeds gestem. Luidens ondersoeke stel die swart opkoms effens teleur, maar die Latino’s en Asiërs stem fluks – wat goeie nuus vir Clinton is.

Die peilings loop uiteen. Een of twee gee Trump ’n effense voorsprong, maar die meeste laat Clinton steeds die pyp rook.

Die kiesers kies nie die president regstreeks nie; hulle wys per deelstaat afgevaardigdes na ’n kieskollege aan, wat dan die persoon kies. As ’n kandidaat die meeste kieserstemme in ’n staat kry, kry hy ál die afgevaardigdes van dié staat. In die kieskollege moet die wenner minstens 270 stemme kry.

Soos sake táns staan (let op die voorbehoud), gee kenners vir Clinton 263 afgevaardigdes teenoor Trump se 164, en 123 onseker. Clinton soek dus nog sewe afgevaardigdes om te wen en Trump 106. Wat beteken dat, as jy wil wed, Clinton waarskynlik ’n veiliger keuse is.

Maar dán? Amerika is dieper verdeeld as ooit. Wie ook al wen, gaan met dié yslike blok aan die been te make kry.

Dit word dan ’n onaangename vier jaar in die Withuis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.