Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ali se vrygeestige droomspan

Presies 50 jaar gelede, net voordat Suid-Afrika uit internasionale krieket verban is, het een van die beste Suid-Afrikaanse spanne van alle tye ’n ongelooflike toetsreeks teen die Aussies beleef, skryf Luke Alfred.

Ali Bacher word op 10 Maart 1970 op St. Georgepark in Port Elizabeth afgedra ná die vierde en laaste toets teen die Aussies waarin Suid-Afrika met 323 lopies geseëvier het.| Foto: Wessel Oosthuizen

Vroeg in Januarie 1963 het ’n 18-jarige krieketspeler genaamd Lee Irvine moeg uit die roesrooi treinwa van die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë op die Durban-stasie geklim.

Hy het ’n reis van twee en ’n half dae agter die rug – van Kaapstad in die verre suide dwarsoor die plat binneland, oor Kimberley en Bloemfontein tot in sy tuisdorp. Hy was nie net moeg en vuil nie, maar had ook baie om te vertel.

Hy kon nie wag om vir sy pa, John, meer te vertel oor sy kapteinskap van die Suid-Afrikaanse Skole-krieketspan wat pas die Westelike Provinsie geklop het in hul laaste wedstryd van die jaarlikse Nuffield-week nie. Sy krieketsak was egter skaars weggepak of hy en sy pa is in hul donkerblou Peugeot 403 fort na Wolfson’s, die Durbanse klerehandelaar, vir ’n nuwe pak klere.

Daarna is hulle na die hoofkantoor van die Suid-Afrikaanse Permanente Bouvereniging (die “Perm”) in die middestad van Durban.

“Wat doen ons hier?” wou die jong Irvine by sy pa weet. “Ek dog ek gaan varsity toe.”

“Dit is van die tafel af. Dit gaan nie goed met jou ma nie. Jy sal moet uitspring en geld verdien,” was sy pa se kriptiese antwoord.

'Ali het ons as span saamgesmee vir daardie reeks.’

Om sy ontluikende krieketloopbaan met ’n heeltydse werk by die Perm te versoen was nie maklik vir die jong Irvine nie, maar op die een of ander manier het hy dit reggekry.

“Ek was skielik selfonderhoudend,” sê hy. “Ek was trots daarop dat ek daarna nooit ’n sent van my ouman gevra het nie.”

Terwyl Irvine besig was om gewoond te raak aan sy nuwe loopbaan het die Perm homself op die skouer geklop oor die goeie advertensie wat sy nuwe werknemer vir hom was. Soveel so dat Irvine ses maande later verlof gekry het om ’n Suid-Afrikaanse skolespan na Engeland te neem.

Teen daardie tyd was daar ’n al hoe dringender gefluister dat die groep jong mans op dié toer – spelers soos Barry Richards en Mike Procter – die potensiaal het om die beste Suid-Afrikaanse span tot nog toe te word.

Soos die dekade ontvou het, het dit al hoe duideliker geword dat die voorspellers dit reg gehad het en ’n skitterende Springbok-span is in die proses gesmee.

Lee Irvine

Irvine, soos Graeme Pollock, is in 1944 gebore.

Richards is in 1945 gebore en Procter die jaar daarna. Effens ouer as al vier, maar hoogstens ’n jaar of twee, was die man wat nie net as kaptein nie, maar ook as krieketadministrateur diep spore sou trap: Aaron “Ali” Bacher.

“Ali het ons as span saamgesmee vir daardie reeks teen Australië in 1969-’70. En hy het dit meesterlik gedoen,” sê Irvine.

“Daar was destyds tawwe bliksems in ons span – ouens soos Tiger Lance en Denis Lindsay was partytjiediere wat geen einde gehad het nie. Peter Pollock was ook nie ’n maklike kalant nie en Peter van der Merwe (die kaptein voor Bacher) het sy hande vol gehad tydens die vorige tuisreeks teen Australië.

“Ali het by Peter oorgeneem en hy het daarin geslaag om hierdie verbasende samehorigheid te vestig. Hy het ons almal bymekaargebring – sy kapteinskap was ongelooflik.”

Dit was ’n pynlike affêre, soos tande trek.

Irvine se pa het tydens die Tweede Wêreldoorlog by El Alamein in Noord-Afrika geveg. Nadat hy in 1943 na Durban teruggekeer het, het hy sy uniform, sy medaljes en sy herinneringe begrawe en nooit weer daaroor gepraat nie.

“Ons het eers ná sy dood, toe ons deur sy besittings sif, uitgevind dat hy militêr vereer is,” sê Irvine.

Volgens sy seun was John ’n ordentlike, vriendelike en eerbare man, maar hy was nie demonstratief of liefdevol nie.

Die gesin het in die suide van Durban gewoon, in die voorstad Montclair, naby die Clairwood-renbaan. Die huis het letterlik op ’n heuwel gestaan.

Om by Durban High School te kom het dit twee busritte gekos – en nog twee in die middae terug huis toe.

“Pa was ’n klubman. Ná werk elke dag sou hy ’n draai by die klub gaan maak vir ’n paar doppe.”

Graeme Pollock en Eddie Barlow. Foto’s: Getty en Gallo images

Irvine onthou dat sy ma, Noleen – almal het haar Nicks genoem – deeltyds werk in ’n platewinkel gedoen het terwyl die gesin geraap en geskraap het om vir Irvine ’n nuwe kolf te kon koop.

John het sy hele lewe gewerk by ’n Durbanse maatskappy wat gespesialiseer het in die bereddering van boedels. Spaarsamigheid is gesien as ’n deug, net soos waardige klerklike arbeid.

“Daar is miljoene honger mense in Biafra,” het my ma tydens etes vir my en my broer gesê. “Hulle sal maar te graag wil eet wat op jou bord is.”

Irvine se ervaring van grootword was verteenwoordigend van dié van sy spanlede.

Richards se ouers, Les en Doreen, het as klerke by die Durban Corporation gewerk en Richards vertel in sy outobiografie dat hy as tiener buite op die stoep geslaap het.

Mike Procter

Eddie Barlow se ouers het albei af en toe in die snoepie by Pretoria Boys’ High gewerk waar Barlow gematrikuleer het en Lindsay se pa het ’n sportwinkel in Benoni, aan die Oos-Rand, besit. Lance was een van ses kinders.

Dennis Gamsy se pa was ’n haarkapper wat in ’n skouspelagtige geelpers-oomblik – wat op uitasem-wyse deur die plaaslike koerante gedek is – in ’n verbyry-skietery dood is.

Apartheid was in volle swang en het die meerderheid Suid-Afrikaners enige sportgeleenthede ontneem en hulle tot minderwaardige geriewe beperk.

Maar Irvine se generasie is allesbehalwe gepamperlang. Hulle het ’n anti-establishment-streep gehad – dit was immers die vrygeestige 1960’s – en was onafhanklik in verstand en gees. Barlow veral was vol bravade. Hy was nie ’n man wat sommer doekies omgedraai het nie. As hy iets wou sê het hy dit gesê.

Wat jare lank stadig aan die broei was, het dus alles reg uitgewerk die dag toe Bill Lawry se Australiese krieketspan in Suid-Afrika aankom aan die begin van die 1969-’70 krieketseisoen – hierdie somer presies 50 jaar gelede.

Die Aussies het Indië pas met 3-1 op die subkontinent geklop – ’n prestasie op sigself – maar om as die nie-amptelike wêreldkampioen gekroon te word moes hulle die opwindende Suid-Afrikaners op eie bodem pak gee.

Barry Richards

In hul midde was daar veral drie spelers wat Bacher en sy manne gevrees het: “Garth” McKenzie, ’n innemende, breedgeskouerde snelbouer; Ian Chappell, ’n grootpraterige middelordekolwer wat deur sommige as die beste ter wêreld beskou is; en, die interessantste een onder die lot, Johnnie Gleeson, ’n “raaisel-draaier”.

Behalwe om basies te keer dat McKenzie enige paaltjies neem, het Bacher se Bokke geen definitiewe plan gehad oor hoe om hom te speel nie.

Hulle het wel geweet dat Chappell ’n kompulsiewe behoefte gehad het om die haakhou te speel en het daarvolgens voorberei.

In die geval van Gleeson was hulle dronkgeslaan. Hoewel hy ’n draaibouler was, was hy vinnig deur die lug. Erger nog, hulle het nie geweet na watter kant die bal sou draai nie. Baie het gedink dat Gleeson die Aussies se troefkaart was, ’n vermoede wat bevestig is toe Lawry die kanse wat hy gekry het om voor die eerste toets op Nuweland aan die einde van Januarie te boul, erg gerantsoeneer het.

Daardie eerste oggend het Bacher die loot gewen en gekies om te kolf. Dit was ’n pynlike affêre, soos tande trek.

Dit het Richards 89 minute geneem om tot by 29 lopies te vorder. Bacher (57) en Graeme Pollock (49) het die tempo versnel, maar dit was net te danke aan Barlow se geduldige 127 (Lance het na hom verwys as “Muhammad Ali met ’n bril”) dat Suid-Afrika uiteindelik ’n waaksame 382 kon opstapel.

Op hul hoede vir Chappell het die Bokke ’n bykant-teorie vir die “happy hooker” ontwikkel met Peter Pollock en Procter wat om die paaltjies geboul het na ’n veld wat aan die bykant gelaai was.

“Hy het nog nie ’n lopie op die bord gehad nie toe hy probeer om ’n aflewering van Peter te haak,” sê Irvine.

“Ek kon net ’n hand bykry op gangetjie, maar het daarin geslaag om die bal op te wip na Grahame Chevalier, wat dit op bykant-glip gevang het.”

Hoewel Keith Walters ’n nie te vrot 73 aangeteken het nie, was Australië steeds 218 lopies agter Suid-Afrika se 382, ??’n situasie wat vererger is deur die feit dat Suid-Afrika ’n verdere 232 in sy tweede beurt geslaan het – wat die toeriste die taak gestel het om 451 in hul tweede beurt te moker.

Ten spyte van die feit dat kaptein Lawry hard gewerk het vir sy 83 het die Bokke uiteindelik met 170 lopies in die eerste toets geseëvier, met Procter en Chevalier wat saam sewe paaltjies laat kantel het.

Die statistieke vertel egter net die helfte van die verhaal. Gleeson het 75 boulbeurte in die toets geboul waarvan 28 leeg was en die Suid-Afrikaners is heeltemal gemesmeraais deur die raaiseldraaier.

Johnny Waite, sameroeper van die keurkomitee, het nie te sleg gevaar met sy Gleeson-aflewerings in die nette nie, maar die tuisspan het steeds nie ’n idee gehad wat om met hom te doen nie.

“Ali het ons aan die vooraand van die tweede toets bymekaargeroep en vir elkeen van ons gevra hoe ons Gleeson gaan speel,” sê Irvine.

“Ali het gehou van die veeghou en gesê hy gaan hom vee, terwyl Barry gemeen het jy moet hom speel daar waar Gleeson hom plant. Eddie het van die agtervoet gehou, so hy sou hom dáár speel. Graeme was laaste aan die beurt.

“Hy sê toe vir ons dat hy hom kan lees. ‘As die wysvinger bo-op die bal is, is dit ’n googly. As hy onder is, draai hy na die bykant.’ Ons het almal geknik en gesê wonderlik, die raaisel is opgelos.”

Nadat hulle die loot op Kingsmead gewen het, het die Suid-Afrikaners besluit om eerste te kolf. Richards was subliem en Bacher het homself uitgehardloop in ’n poging om Richards voor die penne te hou sodat hy sy 100-tal voor middagete kon behaal – ’n seldsame prestasie in toetskrieket.

Richards het uiteindelik 140 aangeteken, maar is in die skadu gestel deur Pollock, sy senior vennoot, terwyl die twee 100 lopies in die uur ná middagete gemoker het.

Die Pollocks se pa is kort voor die toets dood en hy het aan Graeme gesê hy is vies omdat dié nie genoeg lopies kry nie. Teen die einde van die dag se spel was Graeme op 160 nie uit nie; hy het die volgende dag voortgekolf en uiteindelik 274 geslaan om Suid-Afrika in staat te stel om te verklaar op 622 vir nege.

Irvine se bydrae was 13. Hy het op Pollock se raad vir die googly gespeel, Gleeson se draai verkeerd gelees en is geboul.

“Toe ek vir Pollock daaroor vra het hy net sy skouers opgetrek en gesê miskien was hy verkeerd,” sê Irvine al laggende.

Suid-Afrika het uiteindelik in die tweede toets met ’n beurt en 129 lopies gewen en eindelik 4-0 met die Aussies klaargespeel voordat die toerspan – uitgeput ná sy toer op twee vastelande – huis toe geskarrel het.

Dit was die laaste toetskrieket wat Suid-Afrika vir 21 jaar gespeel het, ’n byna onfatsoenlike herinnering om die land se krieketliefhebbers deur die leë internasionale somers te trek, terwyl die isolasie pynlik begin byt het.

Meer oor:  Ali Bacher  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.