Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Alleen oor die yslandskap van Antarktika

Die avonturier Mike Horn het met tientalle hindernisse te doen gekry op sy tog deur Antarktika in 2016. Maar teenspoed het nooit die laaste sê gehad nie, skryf hy in dié vertaalde en geredigeerde uittreksel uit Dream of a Lifetime: Crossing Antarctica.

Mike Horn met sy tent en slee in Antarktika. Hy het die tent dikwels opgeslaan in wind wat so sterk as 120 km/h gewaai het. As jy jou tent in dié ys-wildernis verloor, verloor jy jou lewe, skryf hy. Foto: Mike Horn

Die oggend van 28 Desember het begin soos al die ander. Ek het presies om 06:00 weswaarts begin stap onder ’n kristalhelder hemel, maar ná 2 of 3 km het die lang verwagte wind uiteindelik opgedaag.

’n Sneeustorm het in die rigting van die Suidpool gewaai en my vrese besweer dat my lewenslange droom in die middel van nêrens tot ’n einde sou kom.

Ek het op intuïsie en die noodlot staatgemaak om dié windtonnel te kry. Ek het baie geloop en min getwyfel. Gelukkige dag!

Ek was so verlig soos iemand wie se kar gebreek het en die nag ingestap het wat eindelik op ’n vulstasie afkom.

Ek kon nie bekostig om ’n sekonde te verloor nie. Ek was nie van plan om selfs die geringste vlagie van my nuutgevonde bondgenoot te vermors nie. Die wind wat in my rug geblaas het, was ideaal om my reguit na my bestemming te stuur.

Ek het nie eens moeite gedoen om my stewels te ruil of my loop-ski’s met vlieërski-toerusting te vervang nie. Ek het net my swart-en-pienk seil van 6 m² uitgehaal omdat van die windvlae reeds ’n sterkte van meer as 60 km/h bereik het.

En daar gaan ek soos ’n koeël in die middel van ’n ys-oseaan so rof soos die water by Kaap Hoorn.

Dit het gou gevoel asof ek volspoed oor skrikwekkende branders ski. Vir die heel eerste keer het my vlieër my teen meer as 40 km/h gesleep. Selfs die geringste bult in die ys het my laat vlieg.

Ek het oor skerpkantige sastrugi [skerp, onreëlmatige groewe of riwwe wat deur onder meer die wind op ’n ysoppervlakte gevorm word] gehop en hard teruggekom op ’n vloer van wit sement. My lyf het al die skokke geabsorbeer. Die harnas wat my met die slee verbind het, het gedreig om my heupe te ontwrig.

Die stampe het my gewrigte, enkels en knieë karnuffel en die pyn is soos elektriese skokke langs my ruggraat afgestuur. Die spoed waarteen ek beweeg het, het my dit laat berou dat ek my stapstewels aangehou het: Hulle was te sag en het nie genoeg stabiliteit gehad nie.

Dit was reeds te laat. Ek het skielik oor ’n sastruga gesteier met my regtervoet wat ’n 200-amp-skok na my dybeen gestuur het. Ek het deur die lug gevlieg op ’n halwe ski.

Ek moes beter geweet het as om só oorhaastig op te tree met die eerste vlaag van die wind. Ek moes dinge op die regte manier gedoen het en my vlieërski-toerusting gebruik het.

Ek moes nou ’n paar uur mors deur my stapski reg te maak wat reg agter die sool van my stewel afgebreek het. Dit was die eerste materiële skade ná die meganiese haakplekke aan boord van die Pangaea. En Jacek was nie daar om met my gebreekte ski te vroetel nie.

’n Slee met ’n lewe van sy eie

Mike Horn saam met sy dogters, Jessica en Annika, in Kaapstad voordat hy na Antarktika vertrek het.

Ná ’n kuipestop van goed ’n halfuur wat my net genoeg tyd gegee het om my toerusting weg te pak en die regte stewels en ski’s aan te trek, het ek besluit om nie my tent op te slaan om my skoenveters te verstel nie hoewel die temperatuur -25 °C was.

So, met net my duimhandskoene aan het ek aan die werk gespring met al die behendigheid van ’n vierjarige kind.

Toe is ek weer vort op my malle tog. Dit was moeilik om te beraam hoe vinnig ek beweeg het omdat daar geen bakens was nie. Ek het blindelings deur ’n wit tonnel aangestorm – by verskeie geleenthede het dit gevoel asof ek snelhede van bykans 50 km/h bereik.

Ek kon niks sien nie en ook niks hoor met die wind wat in my ore gefluit het nie.

Hoewel ek probeer het om tussen duike en bulte deur te slalom (sigsag) en met die vlieërtoue aan die kante van my ski’s te speel, het my slee gereeld teen sneeubanke gebots.

Agter my het my slee aan die einde van sy 12 m lange tou heen en weer geswaai asof dit ’n lewe van sy eie gehad het. Ek het gedog dit was swaar genoeg gelaai om elke keer regop te lande te kom . . . totdat ’n hoop ys meer verraderlik as die res dit soos ’n strooihalm omgedop het.

Ek kon niks sien nie en ook niks hoor met die wind wat in my ore gefluit het nie, maar ek het binne ’n breukdeel van ’n sekonde besef wat gebeur het. Dit het gevoel asof ’n rek agter my rug styfgetrek word soos my seil probeer het om my arms van my lyf te pluk.

Teenspoed het nooit die laaste sê

Op pad na Antarktika.

Twee voorvalle binne ’n paar uur: een was ’n groot drama, die ander onbenullig.

Bykans elke dag het my droom vervaag, net om weer werklikheid te word. Dit sou meer as dít neem om my onder te kry.

Ek het geweet die ergste oomblikke van ’n ekspedisie kan in die beste oomblikke verander as jy dit te bowe kan kom.

Teen die tyd dat ek my seil inkatrol het, was die slee al vir amper ’n minuut onderstebo. Daar was ’n groot sny in die seil. Ek het geweet ek gaan daardie aand nie baie slaap kry nie.

Ek sou baie hê om in die tent te doen met naaldwerk en herstelwerk aan my ski. Ek het die seil so goed ek kon verseël met ’n ekstra strop en weer afgesit op soek na die Heilige Graal.

Teenspoed het nooit die laaste sê by my nie.

Vermoeienis en vingers dom van die koue het my taak nie makliker gemaak nie: die herstelwerk het baie lank geduur.

Sowat 50 km verder het ek besluit om kamp op te slaan en herstelwerk te doen. My GPS het gesê ek het 220 km ver gevorder hoewel ek dié deel van my reis begin het deur soos ’n verlore pelgrim oor die uitgestrekte ysoppervlakte te dwaal.

Ek het aandete geëet en die seil toegewerk. Dit het gevoel asof ek besig was om die gapende wond van die laaste paar dae se blindelingse gestrompel toe te werk. Vermoeienis en vingers dom van die koue het my taak nie makliker gemaak nie: die herstelwerk het baie lank geduur. As ek enige slaap wou kry, sou ek my ski later moes regmaak. Dit was nie regtig nodig nie omdat ek nog een gehad het.

Ek sou dit verkies het om van my stukkende ski ontslae te raak eerder as om my slee met sy gebreekte stukke vol te pak. Maar ek het alles met my gehou – ek het nooit iets op die ys agtergelaat nie.

’n Huis in die sneeuwoestyn

Dit was baie belangrik om te besluit wat om op jou slee te pak en wat om agter te laat. Foto: Mike Horn

Dit was die volgende dag, of eintlik net ’n klompie ure later. Sedert ek my biologiese horlosie verstel het, het begrippe soos gister en môre al hoe vaer geword. Ek het byna nie eens omgegee hoe laat dit was nie. My lewe was nie langer ingestel op enigiets anders as die afstand af te lê wat my nog van die Suidpool geskei het.

Die wind het op my senuwees gewerk. Dit sou gaan lê, dan weer sterker word, gewoonlik sowat tien uur later.

Ek het ook geleidelik hoogte (bo seespieël) verloor: van 3 200 tot 2 800 m. Ek het nie langer van dagbreek tot sonsondergang geski nie: Ek het nou geski totdat ek my fisieke grense bereik het.

Dissipline en nog dissipline was my primêre bondgenoot teen die sneeustorms en die byt van die ryp.

Dít het met ’n beloning gekom: die kamp in die aande, my aandete, die hitte van die stoof se vlam en die warmte van my slaapsak. Elke sekonde het getel om tot by hierdie stadium te vorder. Dissipline en nog dissipline was my primêre bondgenoot teen die sneeustorms en die byt van die ryp.

Ek het myself minder as ’n minuut toegelaat vandat ek my ski’s uitgetrek het tot die lang verwagte oomblik wanneer ek my stoof aangesteek het.

Ek het die plek waar ek my tent opgeslaan het versigtig uitgekies met ’n sastruga daar naby waarvan ek die ys kon smelt.

Ek kon alles met oë toe doen.

Mike Horn durf die ys-landskap van Antarktika op sy eie aan. Foto: Mike Horn

My toerusting op my slee is oordeelkundig in lae gepak, altyd in dieselfde volgorde: eers my tent, dan my matras, my slaapsak en laastens my kook- en kos-sakke.

Ek kon nie tyd mors deur vir iets te soek nie. My kos-sakke het kleurkodes gehad wat aangedui het wat dit bevat. Ek wou weet wat ek gaan eet.

Teen dit tyd dat ek uitgespan het, het ek al twee uur lank oor my ete gefantaseer. As my mond gewater het vir hoender met sampioene, sou ek nie na salm kyk nie.

Dit het minder as ’n minuut geneem om my huis van nylon op te slaan en uit te rus.

Die enigste luukse was om my aandete op ’n warm plek, of minstens een wat teen die koue beskut was, te eet.

Dit het minder as ’n minuut geneem om my huis van nylon op te slaan en uit te rus en sodra ek die ritssluiter toegetrek het, het ek die gordyn laat sak oor my daaglike vordering en al die laagte- en hoogtepunte in die sneeu.

Ek het geweet ek sal eers weer die volgende dag my neus in die koue uitsteek. Ek sou by die huis wees en, oplaas, in beheer.

* Dream of ’n Lifetime: Crossing Antarctica word deur Jonathan Ball uitgegee en kos R250. Henri Haget is die mede-skrywer.

Meer oor:  Mike Horn  |  Suidpool  |  Antarktika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.