Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Almal kan help skryf!

Hoekom is daar so min Afrikaans op Wikipedia, wonder Dawie Boonzaaier.

Jimmy Wales, skepper en stigter van Wikipedia. Foto: Getty Images

Saans as ons Netflix begin binge, of kyk deur hoeveel Facebook-plasings ons kan loer voordat iemand liederlik honger raak, word daar in die Wes-Randse myndorp Krugersdorp ook hard gewoeker op die world waaid web.

Deon Steyn se middernagolie begin dan brand, want te danke aan dié 57-jarige pa van twee is daar meer as 4 900 inskrywings op Wikipedia uit sy hand, in jou moedertaal. Die sportorganiseerder van beroep, voorheen ’n tegnoloog, is verantwoordelik vir amper ’n tiende van die 50 766 inskrywings op die Afrikaanse Wikipedia. Tien jaar gelede was daar slegs 16 000 Afrikaanse Wikipedia-inskrywings (Wikipedia was op 15 Januarie 17 jaar oud).

Steyn se liefde vir die versameling van inligting is te danke aan sy pa se onkunde.

“My pa kon nooit al my vrae beantwoord toe ek ’n kind was nie,” vertel hy.

In die middel 2000’s was daar soggens voor werk tyd om op die internet rond te speel. So het hy Wikipedia ontdek en omdat Steyn, soos hy sê, “nie ’n suiplap is nie” en die meeste van sy aande by die huis deurbring, het sy obsessie met die versameling van inligting ’n nuwe uitlaatklep gekry.

“Toe besef ek, maar blikskottel man, die inligting kan mos alles hier (Wikipedia) beskikbaar wees. Dit beat tog in elk geval TV kyk.”

En in Afrikaans, “want dis my taal”.

‘Ons moet Wiki­pedias vir SA tale bou en uitbou.’

Steyn sê hy kan gelukkig spel, maar as hy so nou en dan vashaak met ’n vertaling, roep hy die hulp in van prof. Gerhard van Huyssteen, voorsitter van die Afrikaanse Taalkommissie en self ’n redigeerder op Wikipedia.

Steyn se ywer ten spyt is sy tuisdorp, Krugersdorp, se inskrywing op die Engelse Wikipedia steeds 629 woorde langer as die Afrikaanse een.

Francois van Coke se inskrywing in Afrikaans is 390 woorde korter as in Engels. En genl. Koos de la Rey se inskrywing in Engels tel ’n stewige 3 801 woorde terwyl die Afrikaanse Wikipedia ’n skrale
1 009 woorde aan die beroemde Boeregeneraal afstaan. Hoe so?

“Mens skryf maar wat jy ken,” sê Steyn.

“Ek is ’n kenner op die gebied van optiese vesel, daarom is my gunstelingblad, en die een wat ek die deeglikste gedoen het, ook die een wat ek eerste gedoen het.”

Steyn se inskrywing oor optiese vesel is meer as deeglik, met grafieke onder amper elke hofie om vir jou mooi te skets wat waar hoort.

“Ons redigeerders van die Afrikaanse Wikipedia is definitief ’n klein gemeenskap, maar elke ou fokus maar op die ding waarin hy spesialiseer.

“Daar is ’n tekort aan mense wat positiewe bydraes maak binne die riglyne. En vir die klomp wat kla dat ons nie akkuraat is nie, kom raak betrokke. Ons kort geleerdes.”

Genl. Koos de la Rey se inskrywing in Engels tel 3 801 woorde, terwyl die Afrikaanse Wikipedia ’n skrale 1 009 woorde aan die beroemde Boeregeneraal afstaan.

Dit is juis een van die probleme wat Wikipedia hoop om vanjaar te takel met sy jaarlikse internasionale Wikimania-konferensie, wat die afgelope week in Kaapstad plaasgevind het. Ja, so groot het die organisasie sonder winsbejag en heeltemal gratis aanlyn ensiklopedie geword wat die Amerikaners Jimmy Wales en Larry Sanger 17 jaar gelede gestig het, dat dit al sy eie jaarlikse konferensie hou – 14 jaar reeds.

Meer as 700 vrywilligers (jy word nie betaal as jy ’n bydrae maak tot die aanlyn ensiklopedie nie) het die afgelope week die toekoms van die vyfde grootste webtuiste ter wêreld bespreek.

Die bevordering van inheemse tale, vroue se deelname en om meer Afrikane op Wikipedia te kry, was van die hooftemas van vanjaar se gesprek.

Want so suksesvol soos Wikipedia met sy meer as 45 miljoen inskrywings is (terloops, genoeg woorde om die Encyclopædia Britannica 19 000 keer vol te skryf), so sukkel Wikipedia, soos die res van die wêreld, met diversifisering.

Slegs 16% van die 1,3 miljoen biografieë op die Engelse Wikipedia is van vroue. Net 2,5% van inhoud met geografiese identifikasie handel oor Afrika, die wêreld se tweede grootste kontinent en tuiste van meer as een miljard mense.

Vir Isla Haddow-Flood, projekbestuurder vir WikiAfrica, is dit ’n probleem wat vinnig opgelos moet word. “Jy weet, ons sit met die probleem dat veral geskiedenis meesal uit die perspektief van een kant (die Westerse wêreld) vertel word. Afrikane het met Wiki­pedia die kans om hul kant van geskiedenis ook neer te pen.”

Sy weet die uitdagings in Afrika is anders as in die res van die wêreld, maar daarom hoop Wikipedia om internetverskaffers in Afrika te oorreed om nie datakoste te hef as mense Wiki­pedia besoek nie. Soortgelyke ooreenkomste is reeds suksesvol in Indië.

Die gebreke aan die Afrikaanse
Wikipedia word ook reeds op grondvlak aangepak.

Prof. Laurette Pretorius van Unisa is reeds geruime tyd besig om Suid-
Afrikaners op te lei om Wikipedia-medewerkers te word. Met Pretorius se opleidingsessies vir voornemende redigeerders kry mense die kans om, ná ’n informele inleidingspraatjie, daar en dan touwys gemaak te word oor hoe om prakties met Wikipedia te werk.

“Daar is ook altyd koffie en ietsie te ete,” nooi Pretorius belangstellendes uit. Haar belangstelling in die aanlyn ensiklopedie is geprikkel deur haar navorsingsgebied, die taaltegnologiese ontwikkeling van Suid-Afrikaanse tale, en toe sy in 2014 getref is deur die artikel “Digital Language Death” deur die Hongaarse navorser András Kornai waarin hy Wikipedia beskou as een van die parameters waarvolgens die digitale lewenskrag van ’n taal bepaal kan word.

“Dit het my laat besef dat ons Wikipedias vir die Suid-Afrikaanse tale moet bou en uitbou.”

By Unisa bied hulle maandeliks ’n werkseminaar aan oor die bou van
Wikipedias in inheemse Afrikatale. By die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is daar ’n soortgelyke projek wat net op Afrikaans gemik is.

Vir Pretorius is die oplossing om die Afrikaanse Wikipedia te verbeter eenvoudig: “Kundige Afrikaanssprekendes moet gewoon toenemend bydra. Daar is hoofsaaklik drie maniere om dit te doen: redigeer bestaande Afrikaanse Wikipedia-artikels, vertaal bestaande Wikipedia-artikels wat in ander tale is en skryf nuwe Afrikaanse artikels.”

Pretorius glo ook dat akademici “beslis” betrokke moet raak by Wikipedia.

“Almal gebruik Wikipedia, die groot soekenjins soos Google, Yahoo! en
Yandex ook. Hoe beter Wikipedia is, hoe beter die inligting wat onttrek kan word. Akademici is immers bewaarders van kennisbegronding en die korrektheid van sulke kennis.”

En met bewegings soos #FeesMustFall en die gedekoloniseerde skole, het Afrikaans dalk ’n toekoms as ’n akademiese taal op Wikipedia?

“Onthou, Wikipedia is ’n ensiklopedie. Dit is vir baie mense, insluitend studente en navorsers, ’n intreepunt tot ’n nuwe veld. Die goeie Wikipedia-artikels het uitgebreide verwysings en gee daardeur rigting vir verdere leeswerk. As die artikels in Afrikaans is, sal dit noodwendig Afrikaans bevorder.”

Prof. Herman Wasserman van die Universiteit van Kaapstad se sentrum vir film-en-mediastudies, glo Wikipedia gaan eers van sy bepaalde vooroordele moet afbreek as dit heeltemal toeganklik vir Jan Publiek wil raak.

“Wikipedia is bevooroordeeld teenoor inhoud wat reeds bestaan,” sê Wasserman.

Oor die laaste paar jaar het ondersteuners van Wikipedia juis begin waarsku dat die ensiklopedie se toekoms bedreig word.

Groot gebiede van menslike kennis bly afwesig op Wikipedia, maar ’n groep redigeerders word daarvan beskuldig dat hulle die pogings om die inhoud van die ensiklopedie te verbreed, teenstaan.

Redigeerders wou Wikipedia se geloofwaardigheid ’n hupstoot gee deur daarop aan te dring dat inskrywings beter aanhalings en ’n sterker bronnelys bevat, maar dit op sigself het probleme veroorsaak. Veral in Afrika, waar elke storie en kulturele aspek nie dieselfde merkwaardigheid as ’n Westerse eweknie gaan geniet nie.

“Kennis moet ’n deelnemende produk wees, en nie alleenlik in die hande van akademici nie.

“Daarom moet Wiki­pedia self besef dat dit ’n probleem is vir mense van buite, met kennis, om inligting sonder bepaalde bronne op hul blaaie neer te pen,” sê Wasserman.

Hy sê daar moet gewaak word teen die vrees dat Wikipedia, soos meeste van die akademiese wêreld, elitisties kan raak.

En dit is juis wat Wikipedia tog probeer vermy.

“Te veel redigeerders skryf nog in hul gekoloniseerde tale, veral in Afrika,” voeg Steyn by. Hy sê naas Engels skryf die meeste bydraers tot Wikipedia wat in Afrika woon, in tale soos Frans en Portugees.

“Dit is tragies, en iets wat ons wil regstel, nie net met Afrikaans nie.

“Die Afrikaners, bruin én swart kulture het iets in gemeen in hierdie land. Van geslag tot geslag is daar vir mekaar kennis deur stories oorgedra. Dit gaan verlore.”

Pretorius sê Wikipedia wil met sy deursigtigheid en die feit dat Wikipedia deur sy verbruikers in stand gehou word, juis hê dat Wikipedia “almal” se verantwoordelikheid raak.

“Die waarde van Wikipedia lê daarin dat dit vir my en jou is. Nie net vir die elite nie,” beaam Wasserman.

Meer oor:  Afrikaans  |  Wikipedia
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.