Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Amsterdamse huis propvol SA

Die Zuid-Afrikahuis aan die Keizersgracht in Amsterdam is ’n besonderse vasmeerplek vir Europeërs en besoekers uit die res van die wêreld wat in Afrikaans en Suid-Afrika belang stel, skryf Rudolf Stehle.

Die Zuid-Afrikahuis (middel). Foto: Rudolf Stehle

Die voorhuis van die Zuid-Afrikahuis, wat van 1620 dateer, is met sy imposante wit gewel een van die argitektoniese kroonjuwele aan die Keizersgracht.

Dit hou op die koop toe die grootste versameling boeke met inligting oor Suid-Afrikaanse literatuur, geskiedenis en kultuur buite Suid-Afrika.

Die ontstaansgeskiedenis van die biblioteek strek terug na die laat 19de eeu. Die Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Vereeniging (NZAV) is in 1881 gestig ter bevordering van die kulturele bande tussen Suid-Afrika en Nederland. Die NZAV het begin om boeke oor Suid-Afrika te versamel met die doel om sy lede, emigrante en belangstellendes in te lig oor Suid-Afrika.

Intussen is die Zuid-Afrikaanse Stichting Moederland (later Stichting ZASM) in 1908 gestig met geld wat die Britte as skadevergoeding betaal het ná die onteiening van bates van die Nederlandsche Zuid-Afrikaansche Spoorweg-Maatschappij in Suid-Afrika ná die Anglo-Boereoorlog.

Die ZASM het hom vir die bevordering van ekonomiese en kulturele betrekkinge tussen die twee lande beywer. Reeds kort ná sy stigting het die ZASM die NZAV finansieel begin ondersteun en in 1923 die huis by Keizersgracht 141 gekoop waar die NZAV toe sy intrek geneem het.

Die biblioteek Foto: Zuid-Afrikahuis

Die ZASM het in 1933 ook die besondere leerstoel in Suid-Afrikaanse letterkunde aan die Gemeentelijke Universiteit (tans die Universiteit van Amsterdam) ingestel, en hieruit het ’n tweede biblioteek, die Suid-Afrikaanse Instituut (SAI), in 1938 tot stand gekom. Dit is aanvanklik by die universiteit gehuisves, maar het in 1949 na die ZA-huis verhuis.

Vandag bevat die biblioteek meer as 54 000 titels, insluitende boeke, artikels, tydskrifte en DVD’s, asook ’n literêre knipselargief wat tans gedigitaliseer word. Ook die tydskrifte word tans gedigitaliseer. Die katalogus kan wêreldwyd via Picarta en WorldCat geraadpleeg word.

Die leerstoel is deur die jare deur sowel hoogleraars as dosente beklee.

Gerrit Besselaar was in 1933 die eerste hoogleraar. Elizabeth Conradie het in 1938 as tydelike lektor oorgeneem, maar is in 1939 onverwags dood. Van 1947 af het N.P. van Wyk Louw die leerstoel beklee. Hy het talle Suid-Afrikaanse studente getrek wat later self bekende skrywers en letterkundiges sou word. In 1959 is hy opgevolg deur Merwe Scholtz.

Die studiesaal. Foto: Rudolf Stehle

Boeke beland in Keizersgracht

In die 1960’s het die SAI die teiken van die anti-apartheidsbeweging geword en wou die Universiteit van Amsterdam nie meer ’n hoogleraar benoem nie. Truida Lijpart-Bezuidenhout is in 1969 as dosent aangestel.

Nadat ’n deel van die SAI-boekversameling egter in Januarie 1984 deur betogers in die Keizersgracht gegooi is en Lijpart-Bezuidenhout in 1987 oorlede is, het die leerstoel heeltemal verdwyn.

Ná die politieke omwenteling in Suid-Afrika het Hans Ester klasgegee totdat die SAI die leerstoel weer in 2000 ingestel gekry het, met Ena Jansen wat in 2001 tot hoogleraar benoem is. Jansen is in 2017 opgevolg deur Margriet van der Waal.

Benewens die biblioteek huisves die ZA-huis ook verskeie argiewe van organisasies soos die NZAV, die voormalige Stichting ZASM en die SAI, en die Stigting Studiefonds vir Suid-Afrikaanse Studente (SSF). Dié argiewe dokumenteer byna uitsluitlik die betrekkinge tussen Nederland en Suid-Afrika van die 19de eeu tot nou. Die meeste van die inhoud is afkomstig uit die tydperk ná die stigting van die NZAV in 1881.

Die inhoud getuig van die verskuiwing in die fokus van Nederlandse belangstelling in Suid-Afrika. In die laat 19de eeu vorm politieke optrede rondom die oorloë tussen die Boererepublieke en Britse Ryk die kern; in die 20ste eeu verskuif die klem na die migrasie van Nederlandse werkers na Suid-Afrika en studiereise van Suid-Afrikaners na Nederland.

Die argiewe.Foto: Zuid-Afrikahuis

Omvattende restourasie

Tydens die omvattende restourasie van die ZA-huis deur Naspers in 2015 is die argiewe opgeruim, skoongemaak en herverpak. ’n Inventaris van die argie-we is opnuut opgestel en kan via die ZA-huis se webwerf geraadpleeg word.

Danksy finansiering deur die ministerie vir onderwys, kultuur en wetenskap word ’n versameling van 11 argiewe wat handel oor die arbeidsmigrasie uit Nederland na Suid-Afrika tussen 1880 en 1940 tans gedigitaliseer.

Die ZA-huis het met die restourasie ’n intieme, goed toegeruste lokaal met die naam Voorhuis bygekry waar die programkoördineerder, Isabelle Vermeij, weekliks allerlei aktiwiteite soos boekbekendstellings en -gesprekke en lesings, asook rolprent-, musiek- en teatervertonings vir die publiek aanbied.

Hierbenewens word ook taalkursusse in die ZA-huis aangebied: Afrikaans vir Nederlandssprekendes en Nederlands vir Afrikaanssprekendes. ’n Entoesiastiese leeskring word sedert 2002 bedryf. Letterkundige werke van Suid-Afrika in Afrikaans en Engels word gelees en bespreek.

Die Zuid-Afrikahuis (middel). Foto: Rudolf Stehle

Die Stichting Zuid-Afrikahuis Nederland, wat in 2016 gevorm is deur die samesmelting van die Stichting ZASM en die NZAV, is verantwoordelik vir die instandhouding van die bib-lioteek en argief en die daaglikse bestuur van die gebou en die aktiwiteite wat daar aangebied word.

Die stigting subsidieer ook die SSF, wat vuit die ZA-huis bedryf word. Die SSF bied beurse vir ’n tydperk van drie tot ses maande aan Suid-Afrikaanse studente wat wil deelneem aan uitruilprogramme tussen Nederlandse en Suid-Afrikaanse universiteite om ’n M-graad of PhD te behaal. Die stigting subsidieer eweneens die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere in Kaapstad.

Die stigting organiseer ook die Jongerenprojek, wat behels dat ’n groep Nederlandse en Vlaamse studente Suid-Afrika en Namibië vir ’n maand lank besoek vir kulturele uitruiling. Al om die ander jaar word dit afgewissel met ’n besoek aan Nederland en Vlaandere deur ’n groep studente van Suid-Afrika en Namibië.

Voorts verskaf die stigting op ’n ad hoc-grondslag subsidies aan projekte soos die Festival voor het Afrikaans en die Week van de Afrikaanse Roman.

Verder is die stigting die uitgewer van die kwartaalblad Zuid-Afrika Spectrum en mede-oprigter en -redigeerder saam met LitNet van die nuuswebwerf voertaal.nu, wat inhoud oor die Lae Lande en Suid-Afrika in sowel Nederlands as Afrikaans publiseer.

Die ZA-huis is ’n stukkie Suid-Afrika in Europa en beslis ’n besoek werd indien jy in die omgewing is.

  • Besoek www.zuidafrikahuis.nl vir meer besonderhede.
Meer oor:  Geskiedenis  |  Toeriste  |  Besoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.