Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
ANC moet kyk wat is die oorsake van voorspoed

Die debat tussen Jan de Lange en Ivo Vegter is tekenend van die Suid-Afrikaanse ideologiese koue oorlog, skryf Flip Buys.

Die langdurige inperking se verwoestende uitwerking op miljoene mense se lewensbestaan lei tot onverkwiklike debatte oor die regering se ware ideologiese doelwitte daarmee. Dit kan tot drie denkskole vereenvoudig word.

Die eerste is dat die regering die verlengde inperking doelbewus gebruik om die middelklas te verswak sodat die regering met staatsmag en -middele ’n “gelyke en regverdige” ekonomie op die bouvalle van die oue kan oprig. Dit is ’n skrikwekkende teorie as dit waar is, omdat dit op ’n soort sosialistiese rewolusie onder die dekmantel van die ramptoestand dui.

Die tweede denkskool glo nie dat die middelklas doelbewus geteiken word nie, en dat die ekonomiese verwoesting eerder die onbedoelde gevolg van een van die strafste inperkings ter wêreld was. Hierdie teorie is net so skrikwekkend, omdat die regering dan nie die werking van ’n moderne ekonomie begryp of kan bestuur nie.

Die derde denkskool is dat die inperking nodig was om die infeksiekurwe af te plat en hospitale gereed te maak. Die langdurige verlenging het egter ondersteuning laat verdamp omdat die hoogtepunt net tot die winter uitgeskuif is, en regering “deur” die mense toe regering oor die mense geword het.

Al drie denkskole stem egter grootliks saam dat die regering besig is om die krisis wat die inperking meegebring het, te gebruik om die land se politieke ekonomie te omskep. Pres. Cyril Ramaphosa het betekenisvol verklaar dat die Covid-19-pandemie ’n sterk regverdiging bied om die ekonomie te transformeer en te herstruktureer.

Sosialisme het egter sedert die val van kommunisme groot veranderings ondergaan.

Die wenkbroue het gelig toe hy sê dat die ekonomie steeds “koloniaal en rassisties” is. Dit moet glo nou deur radikale transformasie omskep en herset word vir “inklusiewe groei, bemagtigend vir vroue, jongmense en veral swart mense”. Hierdie en ander uitsprake van die president is kwalik bedekte sosialistiese kodetaal, gemeng met ’n rassebeleid wat die ANC nie eens tydens die krisis wou verslap nie.

Sosialisme het egter sedert die val van kommunisme groot veranderings ondergaan. Hierdie hervorming het nie ten doel gehad om sosialisme te laat vaar nie, maar om dit te laat oorleef.

Talle sosialistiese partye het hul name, beleid, simbole en idioom verander. Sosialistiese doelwitte is meestal nou in menseregte-terminologie geklee, en min wou langer as sosialiste bekend staan.

Sosialistiese hervormers het ná 1990 aanvaar dat kommunisme nie meer ’n alternatief vir kapitalisme kan wees nie, en dat nasionalisering en ’n sentraal beplande ekonomie onwerkbaar was. Dit het baie mense verkeerdelik laat glo sosialisme het uitgesterf.

Sosialistiese hervormers glo egter steeds aan hul hoofdoelwit van gelykheid (gelyke uitkomste), en klou ook steeds aan die staat as metode om dit te bewerkstellig. Hulle groot denkskuif was dat die kapitalisme nou ingespan moet word om sosialistiese doelwitte te bereik. Kapitalisme moet welvaart skep, wat dan met staatsmag “regverdig” sosialisties verdeel moet word om “gelykheid” te bewerkstellig.

Sosialiste se aanvaarding van ’n grondwetlike demokrasie was voorwaardelik. Hulle sien dit nie net as ’n “prosedurele reëlboek” wat bepaal hoe ’n land regeer moet word nie, maar as ’n “wesenlike demokrasie” wat sy ondersteuners regstreeks ekonomies moet bevoordeel. Hieruit spruit ’n skerp herverdelende staatsbestel wat die elite met swart ekonomiese bemagtiging (SEB)-wetgewing verryk, die swart middelklas met rassekwotas bevoordeel, en die armes se basiese behoeftes met ’n welsynstelsel help bevredig. Die staat word dus nie net as huishoudster gesien nie, maar as broodwinner.

Die ideologiese eenstemmigheid in die ANC strek veel verder as die begryplike strewe om arm swart mense ekonomies op te hef. Die ekonomie, eiendom en hulpbronne moet voorts eweredig volgens die bevolkingsamestelling herverdeel word voordat ware “gelykheid” bereik kan word. Die klem hier is nie op noodsaaklike ekonomiese groei om armes ryker te maak nie, maar op herverdeling wat die “rykes” armer moet maak met die doel om ongelykheid te verminder. Hulle grootste teiken is dus nie armoede nie, maar ongelykheid.

Die ANC glo dit is ’n grondwetlike vereiste om “transformasiedoelwitte” volgens rasseformules te verwesenlik. Dit spruit uit die gelykheidsbepalings in die Grondwet, soos die sosio-ekonomiese regte van art. 26 en 27. Staatsmag moet gebruik word om hierdie gelykmaking te bewerkstellig. Die staatsideologie van radikale ekonomiese transformasie word boonop gedeel deur die wetgewende, uitvoerende en regsprekende gesag. Die “stem” van die Grondwet, hoofregter Mogoeng Mogoeng, het vanaf die regbank verklaar dat “die Grondwet uitdruklik vereis dat ongelykhede daadkragtig aangespreek word deur die radikale transformering van die totale samelewing”.

Ramaphosa staan teenoor meer radikale en korrupte kornuite in sy party.

Die faksiegevegte in die ANC gaan nie oor verskille ten opsigte van gelyke uitkomste, “wesenlike” demokrasie of radikale transformasie nie. Daar is net “een” ANC, nie ’n “goeie en eerlike” vryemarkvleuel en ’n “slegte, korrupte” sosialistiese vleuel nie.

Churchill het gesê enige party is ’n koalisie van vegtende faksies. Hierdie gevegte word aangevuur deur ’n stryd om mag, persoonlikhede, beheer oor staatshulpbronne, strydvrae oor vorme en grade van sosialisme, en korrupsie.

Ramaphosa staan teenoor meer radikale en korrupte kornuite in sy party. Hy kan klaarblyklik nie die ANC hervorm nie omdat die party so deurtrek is van onbevoegdheid en korrupsie dat hy sy eie posisie in gevaar kan stel.

Moderne sosialiste glo dat die regering sy staatsmag moet gebruik om ondersteuners ekonomies te bemagtig. Daar is gehoop dat pres. Ramaphosa ’n “kapitalis” geword het omdat hy ’n fortuin van meer as R5 miljard opgebou het deur SEB vernuftig te benut. Hy is egter steeds ’n sosialis wat ’n groot rol vir die staat in die ekonomie voorstaan, en sosialistiese beleidsrigtings ondersteun soos die Nasionale Gesondheidsversekeringstelsel, onteiening sonder vergoeding, radikale ekonomiese transformasie, rassewetgewing en staatsondernemings soos Eskom en die SAL.

Die welstand van ’n land word bepaal deur die welstand van sy arbeidsmag – die meerderheid van die bevolking. Die vraag is: Watter ekonomiese beleid gaan hierdie groep ten beste bevoordeel? Die swart Amerikaanse ekonoom prof. Thomas Sowell gee die antwoord: “Wat het arm mense die nodigste? Hulle het nodig om nie meer arm te wees nie. En hoe kan dit op groot skaal gedoen word buiten deur ’n ekonomie wat aansienlik meer welvaart skep? Tog toon die politieke linkerkant lank reeds ’n merkwaardige gebrek aan belangstelling in hoe welvaart geskep word. Hulle dink welvaart bestaan bloot net, en dat die enigste vraag is hoe om dit te herverdeel deur geld en mag aan mense soos hulleself oor te dra.”

Die ANC kan nie armoede oplos deur in die oorsake daarvan vas te kyk nie. Hulle moet eerder die oorsake van voorspoed bestudeer. Die enigste oplossing vir armoede is ware ekonomiese vryheid. Dit is die vryheid om waarde en welvaart te skep, en nie, soos sosialiste dink, die vryheid om te verbruik wat ander produseer nie.

Meer oor:  Jan De Lange  |  Cyril Ramaphosa  |  Anc  |  Welvaart  |  Inperking  |  Covid-19  |  Kapitalisme  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.