Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
ANC se steun kan in 2021 by stembus daal

Kyk ’n mens na tendense rondom munisipale- en nasionale verkiesings in Suid-Afrika is dit nie vergesog om te voorspel dat die ANC se steun in 2021 verder kan daal nie, skryf Pieter Labuschagne.

Mense staan tou by ’n stembus in Kaapstad in 2016. Foto: Gallo Images

Die onlangse reeks munisipale tussenverkiesings in Suid-Afrika was baie interessant en insiggewend.

Die stempersentasie in munisipale verkiesings is gewoonlik heelwat laer as in nasionale verkiesings, maar in Suid-Afrika is daar egter ’n interessante tendens wat besig is om met die vyfjaarlikse landwye munisipale verkiesing te ontwikkel.

Die stempersentasie in die munisipale verkiesings was aanvanklik laag (minder as 50%), maar dié syfer het in die verkiesings van 2011 en 2016 tot so hoog as 58% gestyg – dít terwyl die stempersentasie in die laaste algemene verkiesing tot 65% gedaal het.

’n Mens kan dus vra of daar ’n verband of tendens te bespeur is tussen die steun vir partye in munisipale en algemene verkiesings. En kan die munisipale tussenverkiesings van 2020 gebruik word om ’n voorspelling te waag van wat in aanstaande jaar se munisipale verkiesing kan gebeur?

Agtergrond en aanloop tot 2021 se verkiesing

Die mediakonferensie waarop die Onafhanklike Verkiesingskommissie die munisipale verkiesing van 2016 vry en regverdig verklaar het. Foto: Gallo Images

Die munisipale verkiesings staan gewoonlik as die brood-en-botter-verkiesings, óf die slaggate-en-straatligte-verkiesings, bekend omdat plaaslike aangeleenthede baie belangrik is. Munisipale verkiesings se profiel is gewoonlik ietwat laer as dié van nasionale verkiesings, maar nie minder belangrik nie.

Die stempersentasie in munisipale verkiesings het van ’n lae 48% in 1995/6 geleidelik tot vlakke van net onder die 60% (57,6% in 2011 en 58% in 2016) gestyg.

In algemene verkiesings het die teenoorgestelde gebeur en ná ’n aanvanklike styging in die stempersentasie was daar weer ’n daling.

In die algemene verkiesing van 1994 het 86% van geregistreerde kiesers gestem en dié getal het in 1999 tot 89,3% gestyg. Daarna het die stempersentasie begin daal tot 76% in 2004, 77% in 2009, 73% in 2014 en toe dramaties tot 65% in 2019.

Die gaping tussen die stempersentasies van die laaste algemene en die laaste munisipale verkiesing was nie so groot nie en regverdig dus ’n vergelyking.

In die onderstaande tabel word partye se steun in algemene en munisipale verkiesings, wat taamlik kort ná mekaar plaasgevind het, weergegee. Partye se steun in die algemene verkiesing van 1994 word byvoorbeeld met dié van die munisipale verkiesings van 1995/6 vergelyk.

Die tabel bied interessante insigte omdat daar ’n duidelike tendens voorkom.

Die ANC vaar sowat 4% tot 9% swakker in die munisipale verkiesings as in algemene verkiesings. As die inkrimping op nasionale vlak in die algemene verkiesing van 2019 voortduur, kan verwag word dat die ANC se steun op munisipale vlak tot die drempel 50% of selfs laer kan daal.

As die DA spoedig sy interne leierskapsprobleme kan oplos, kan hy sy steun weer aanstaande jaar tot hoër vlakke herstel.

In teenstelling met die ANC, vaar die DA deurlopend beter in munisipale verkiesing as in algemene verkiesings. Die wisseling in steun is tussen 4% en 7% as die skeefgetrekte syfer van 2000 buite rekening gelaat word.

As die DA spoedig sy interne leierskapsprobleme kan oplos, kan hy sy steun weer aanstaande jaar tot hoër vlakke herstel.

Die EFF is ’n “laatkommer” en sy verkiesingspoor is gevolglik nog te klein om werklike tendense te bepaal, maar dié party bult nes die ANC sy spiere meer op nasionale as plaaslike vlak wanneer dit by verkiesings kom.

Munisipale tussenverkiesings van 2020

Inwoners van Alexandra stem in die 2016 munisipale verkiesing. Foto: Gallo Images

In die eerste klomp tussenverkiesings in 2020 is daar in 95 wyke gestem, wat slegs 2,2% van die totaal van 4 400 wyke landwyd is – ’n syfer wat te laag is om werklik bepalend te wees. Die stempersentasie was laag, slegs 28% – ’n syfer wat nie vreemd in munisipale tussenverkiesings is nie.

Die ANC het 12 wyke behou, vyf nuwes bygekry en een verloor. Die DA het ses wyke behou en twee verloor.

Op die oog af het die ANC effens beter en die DA weer effens swakker gevaar.

In die Noord- en Oos-Kaap, tradisioneel gebiede waar die ANC sterk steun het, het die uitslae bevestig dat dié party nog stewig in beheer is.

In die Noord Kaap waar 20 setels te sprake was – in Rhenosterberg waar die raad ontbind is en Phokwane – het die ANC sy beheer behou en ook drie setels bygekry.

Die tussenverkiesings het die DA se afwaartse tendens in verlede jaar se algemene verkiesing bevestig, maar dit voorspel nie net ellende vir die DA nie.

Die DA het oor die algemeen wel steun verloor, maar kon twee wyke by die ANC afneem: in die Walter Sisulu-munisipaliteit in die Oos-Kaap en in Matjabeng in die Vrystaat.

Die DA het egter swaar in Emfuleni, Johannesburg, Madibeng, Rhenosterberg en Phokwane deurgeloop, met die verlies van vyf wyke. Die party het ook een wyk aan Al-Jama-ah in Johannesburg, die Patriotic Alliance in Johannesburg en die VF Plus in Noordwes afgestaan.

In George was die situasie meer stabiel in die vier tussenverkiesings – die DA het een wyk aan Good, afgestaan, maar wel drie behou.

Die DA het sy meerderheid in Oudtshoorn verloor, en kon net een van sy drie wyke behou. In Langeberg (Ashton) het die DA Wyk 9 behou, maar sy steun het met 18% gedaal.

... dit bevestig tog die tendens dat die ANC se steun betreklik konstant bly terwyl die DA s’n steeds afneem.

In die Ekurhuleni-metro het die DA sterk teenstand van onafhanklike kandidate gehad, wat deur Herman Mashaba, die eertydse DA-burgemeester van Johannesburg, gesteun is. Desondanks het die DA die wyke met steeds stewige meerderhede behou.

In Wyk 42 het die DA se steun met meer as 2% toegeneem (38%) met die ANC s’n (41%) wat met 3% afgeneem het.

In die Kaapstad-metro het die DA steeds sterk vertoon met steun van 82% en in die eThekwini-metro (Wyk 66) het sy steun van 80% tot 85% toegeneem.

Soos reeds genoem was die aantal wyke wat betrokke was in die tussenverkiesings sowel as die stempersentasie te min en te klein om substantiewe projeksies te maak, maar dit bevestig tog die tendens dat die ANC se steun betreklik konstant bly terwyl die DA s’n steeds afneem.

Pad vorentoe

Pieter Labuschagne

Die groot raaisel bly natuurlik hoe die ANC te midde van verskeie bewerings van wanadministrasie en korrupsie steeds soveel steun kan trek.

Syfers oor die verskillende verkiesingsiklusse wys egter dat sy steun oor die afgelope dekade geleidelik wegkalwe.

Die ANC se greep op mag op munisipale vlak is nie meer so onaantasbaar as ’n dekade gelede nie.

Die ANC kan weer in 2021 as die grootste party uit die verkiesing tree, maar sy steun kan vir die eerste keer tot onder 50% daal – wat koalisies met kleiner partye in baie munisipaliteite sal beteken.

Die DA se verliese ná die goeie vertoning in 2016 se munisipale verkiesing was ’n groot terugslag vir die party. Die huidige daling in steun in veral Johannesburg en onder bruin kiesers is grootliks te wyte aan die uittog van swart en bruin leiers en die negatiwiteit wat daarmee gepaard gegaan het.

Die onwaardige binnegevegte met Patricia de Lille het die DA weer heelwat bruin steun gekos.

Dink maar net aan die vorige leier, Mmusi Maimane, Mashaba, die Gautengse leier, John Moody, en Abel Tau in Tshwane. Dit het die party beslis geknou.

Die onwaardige binnegevegte met Patricia de Lille het die DA weer heelwat bruin steun gekos.

Die DA sal vinnig moet stabiliseer as hy aanstaande jaar munt wil slaan uit die ANC se swak bestuur in baie munisipaliteite.

Die VF Plus het wat steun betref baie gebaat by die DA se debakel in Schweizer-Reneke en sal hoop om daarop voort te bou.

Die verkiesing van 2021 vereis egter nuwe momentum en die uitbuiting van ’n negatiewe voorval soos dié van Schweizer-Reneke kan ook net só lank benut word.

Die VF Plus behoort ook meer op positiewe aspekte te fokus. Dit is nie vergesog om te sê dat die VF Plus die kruin van sy steun bereik het nie, deels omdat dié party demografies met ’n krimpende kiesersbron werk en bitter min vordering in steun buite dié bron kan mobiliseer.

• Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.