Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
ANC se suksesvolle revolusie

Vir waarnemers lyk dit of die ANC van een mislukking na die volgende voortstrompel, maar dié party is besig om sy ideologiese doelwitte een vir een te laat realiseer, skryf Francois Venter.

Grafika: Hanlie Malan

Die ANC is in sy 25ste jaar van regering. Die meeste waarnemers beskou dié kwarteeu van politieke magsuitoefening as onsuksesvol, bestrooi met mislukkings en agteruitgang, korrupsie, interne struwelinge en onverantwoordelike besluitneming.

Dié siening ignoreer die stelselmatige bereiking van duidelike ideologiese doelwitte. ’n Aanlyn besoek aan www.anc.org.za openbaar die onmiskenbare patroon.

Die ANC se kernoogmerke word saamgevat in die Nasionaal-Demokratiese Revolusie (NDR). In sy interne kommunikasie figureer die NDR redelik prominent en pres. Cyril Ramaphosa verwys gereeld in toesprake daarna. Op 8 Januarie tipeer hy ANC-lede as “agents of revolutionary change” en sê ’n kritieke historiese fase van die NDR het aangebreek. Op 31 Mei spoor hy “kamerade” uit die geledere van jong sakelui en akademici aan om hul “enorme” verantwoordelikheid na te kom om die NDR te laat slaag.

Die ANC se suksesse word gou duidelik as dit met die NDR as agtergrond bekyk word. Weens sy Koue Oorlog-geskiedenis is sy revolusionêre ideologie in die sosialistiese leer wat by Lenin begin het, ingebed. Dat nie alle ANC-lede oortuigde kommuniste is nie, neutraliseer die NDR hoegenaamd nie, want die idee leef kragtig voort dat 1994 nie die eindpunt van ’n “revolusie” was nie, maar die beginpunt van die transformasie na sosialisme.

Die ANC het deur die loop van sy stryd om mag te bekom sy beeld gevestig as die oorwinnaar oor die wyd veroordeelde apartheidstelsel. Die idee dat Afrika ná die Tweede Wêreldoorlog moes stry teen kolonialisme het nie goed in Suid-Afrika gepas nie, want die land is reeds vroeg in die eeu uit die koloniale era bevry. Gevolglik is die konsep ontwikkel van die wit regeerde Suid-Afrika as “colonialism of a special type”, wat revolusionêr omvergewerp moet word.

In 1998 het die Waterwet ’n einde gemaak aan private regte op water deur die regering tot “openbare trustee” van die land se waterhulpbronne te verklaar.)

Die Vryheidsmanifes van 1955 is ’n wydlopende dokument wat dikwels selektief aangehaal word om die NDR se oogmerke te legitimeer. Voorbeelde is “our people have been robbed of their birthright to land, liberty and peace” (wat Ramaphosa as dié “oersonde” brandmerk); “the mineral wealth beneath the soil, the banks and monopoly industries shall be transferred to the ownership of the people as a whole” (wat regstellende aksie en swartbemagtiging onder staatsdwang regverdig); “all the land [shall be] re-divided amongst those who work it” (onteiening van die “colonists of a special type”); “the courts shall be representative of all the people” (transformasie van die regbank), en “free medical care and hospitalisation shall be provided for all” (nasionale gesondheidsversekering).

In beleidsdokumente word dit onomwonde gestel dat die ANC nie ’n “narrow electoral or parliamentary party” moet word nie, maar namens “our people” moet bly regeer as ’n massabevrydingsbeweging wat sy revolusionêre tradisies behou.

Die suksesse wat die ANC reeds met groot kommunikasiebehendigheid behaal het, kan geëien word aan onder meer die volgende:

* In 1998 is die Wet op Billike Indiensneming aangeneem met die doel om regstellende aksie voor te skryf.)

* Die hoogs plooibare begrip “transformasie” is stelselmatig in die omgangswoordeskat ingevoer om as moreel onaanvegbare imperatief te geld waardeur die ongeregtighede van die verlede uit die weg geruim moet word. Só word die “transformasie” van die universiteitswese, die regbank, die ekonomie en elke ander samelewingskring as vanselfsprekend beskou.)

Deur “kaderontplooiing” is die staatsadministrasie op alle regeringsvlakke van nie-ondersteuners van die ANC gesuiwer en met min besorgdheid oor bekwaamheid met vertrouelinge vervang.)

* In 1998 het die Waterwet ’n einde gemaak aan private regte op water deur die regering tot “openbare trustee” van die land se waterhulpbronne te verklaar.)

* Op sterkte van art. 217 van die Grondwet wat deur die ANC ingevoer is om “vorige benadeling” as deurslaggewende maatstaf vir staatsverkryging te vestig, is die stelsel van swart ekonomiese bemagtiging teen 2000 deur ’n kommissie onder voorsitterskap van Ramaphosa ontwikkel. Die uitdruklike oogmerk is om wit eienaarskap van sakebelange dwangmatig aan swart eienaars oor te dra.)

* In 2002 is die land se minerale en petroleumhulpbronne ingevolge parlementêre wetgewing in die hande van die staat as kurator geplaas ten einde transformasie- en bemagtigingsdoelwitte te bevorder. )

* Die stelsel van maatskaplike toelae het in die afgelope jare van nagenoeg 4 tot 17 miljoen begunstigdes gegroei. Ongeveer een derde van die bevolking is daardeur van die staat vir hul basiese oorlewingsinkomste afhanklik gemaak.)

* Die onlangse aankondiging oor nasionale gesondheidsversekering, waardeur die gesondheidsektor min of meer onder volledige staatsbeheer gebring sal word, pas volledig in die NDR-beeld.)

* Die ontketening van die debat oor onteiening sonder vergoeding is onmiskenbaar bedoel om deel te vorm van die ANC se “revolusionêre” suksesverhaal.

Francois Venter

Wat dus in die oë van die wêreld na mislukkings lyk, is ideologies vir die ANC onbelangrik, want dit is maar ’n paar “uitdagings” wat nie die ontplooiing van die NDR stuit nie.

Die ondoeltreffende en oorbevolkte staatsdiens, ekonomiese agteruitgang, die onderpresterende onderwysstelsel, degenererende infrastruktuur en onbekwame polisiëring, om enkele opvallende realiteite te noem, is van sekondêre belang, want dit is ’n tydelike prys om te betaal om die einddoel van die NDR te bereik: “The people (die ANC) shall govern!”

Die edele doel om die ongeregtighede van die verlede uit te wis (waarteen niemand tog iets kan inbring nie) moet tot elke prys behaal word.

Tog moenie misgekyk word nie dat die “nasionaal” in die NDR ’n rassebetekenis dra en dat “demokrasie” revolusionêre staatsentralisering beteken.

  • Venter is ’n buitengewone professor in die regsfakulteit van die Noordwes-Universiteit.
Meer oor:  Francois Venter  |  Menings  |  Politiek  |  Anc  |  Aktueel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.