Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
ANC speel gevaarlike politieke spel met grond

Die ANC speel ’n gevaarlike politieke spel deur letterlik al sy eiers in die grondmandjie van onteiening sonder vergoeding te sit terwyl die EFF oor sy skouer loer, skryf Theuns Eloff.

Skep die ANC vir homself ’n dilemma voor 2019 se verkiesing met sy aandrang op grondonteiening sonder vergoeding? Foto: Charles Smith

’n Eerste nasionale dialoog oor grondhervorming het einde Maart in Johannesburg plaasgevind.

Die dialoog is op versoek van die ANC-lede van die parlementêre grondwetlike hersieningskomitee georganiseer, waarskynlik in ’n poging vir die Ramaphosa-deel van die ANC om eienaarskap van die proses te neem, nadat die EFF (en die Zuma-ondersteuners) vir lank die pas in hierdie debat aangegee het.

Die uitsprake van ANC-ampsdraers by die dialoog het ’n paar interessante en belangrike sake na vore laat kom. Die amptelik gedokumenteerde besluit by die ANC se konferensie verlede jaar by Nasrec oor grondhervorming verskil op belangrike punte met mediaberigte daarna.

Daarby moet op grond in die regering se besit gefokus word, veral grond wat versaak, onbenut en onderbenut is (nie in die eerste plek landbougrond nie).

Grondhervorming moet met groter vasbeslotenheid nagevolg word as deel van die program van radikale sosio-ekonomiese transformasie.

Onteiening sonder vergoeding (OSV) behoort een van die sleutelmeganismes te wees om grondhervorming te laat plaasvind.

Met die inwerkingstelling daarvan moet verseker word dat toekomstige belegging in die ekonomie nie ondermyn word nie en dat landbouproduksie en voedselsekerheid nie geskaad word nie. Implementering moet ook nie ander sektore van die ekonomie skaad nie.

Daarby moet op grond in die regering se besit gefokus word, veral grond wat versaak, onbenut en onderbenut is (nie in die eerste plek landbougrond nie).

Cronin se vurige pleidooi teen verandering

Die voorwaardes vir OSV in die amptelike Nasrec-besluit is duidelik sterker as wat aanvanklik berig is. Dis nog sterker as dit vergelyk word met die haastig en slordig bewoorde wysiging van die EFF se parlementêre mosie oor die verandering van artikel 25 van die Grondwet.

Daarin word slegs gepraat van implementering wat “landbouproduksie laat toeneem en wat voedselsekerheid verbeter”.

Gwede Mantashe, voorsitter van die ANC, sê voorwaardes vir grondonteiening sonder vergoeding was bloot ’n “waarskuwing”. Foto: Argief

Om die standpunt oor OSV verder te vertroebel, het Gwede Mantashe, voorsitter van die ANC, op die eerste nasionale dialoog gesê dat die voorwaardes oor OSV nie deel van die Nasrec-besluit was nie, maar slegs ’n “waarskuwing”.

Daarteenoor het Jeremy Cronin, adjunkminister van openbare werke en ’n selferkende kommunis, in ’n vurige pleidooi by die dialoog aangevoer dat dit nie nodig óf wenslik is om artikel 25 te verander nie.

Hy het die Nasrec-besluit as ’n “a round peg in a square hole” beskryf, teenstrydig en daarom onuitvoerbaar. Selfs ’n vorige leier van die ANC-jeugliga, Ronald Lamola, het in sy spreekbeurt grootliks met Cronin saamgestem en daarteen gewaarsku om ’n artikel van die Handves van Regte te verander.

Jeremy Cronin, adjunkminister van openbare werke, glo nie dit is nodig om artikel 25 van die Grondwet te verander nie. Foto: Argief

Terloops, Cronin se betoog was duidelik meer op sy eie kamerade in die ANC as die res van die gehoor gemik. Hy moes húlle oortuig.

Nie eens die Ramaphosa-ondersteuners praat dus uit een mond oor OSV nie. Hoekom huldig die ANC dan hierdie siening oor OSV? Is dit teen die EFF by die 2019-stembus gemik? Of is dit om die EFF nader te trek en só te verseker dat die ANC se steun nie verder daal nie?

Korrupsie en staatskaping belangriker as grond?

Die teenargument is dat die meerderheid ANC-ondersteuners oor korrupsie en staatskaping in 2016 van die stembus weggebly of vir ander partye gestem het, nie omdat die ANC nie radikaal genoeg oor grondhervorming was nie.

Ander beskou OSV as ’n noodwendige uitvloeisel van die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie, radikale sosio-ekonomiese transformasie en ’n poging om wit Suid-Afrikaners uit die land te dryf. Van dié elemente mag waar wees, maar dit verklaar nie hoekom pres. Cyril Ramaphosa aan die een kant vir nuwe beleggings vra en aan die ander kant OSV najaag nie – dit maak gewoon nie ekonomiese sin nie.

En dat die Nasrec-besluit belegging in die ekonomie as voorwaarde insluit, bevestig dit.

Dr. Mathole Motshekga, ’n lid van die grondwetlike hersieningskomitee. Foto: Argief

Dr. Mathole Motshekga, ’n lid van die grondwetlike hersieningskomitee, se standpunt by die nasionale dialoog gee dalk ’n ander antwoord.

Voor 1994 het swart Suid-Afrikaners twee hoofprobleme gehad: stemreg en ’n gebrek aan grond. Stemreg is deur die skikking van 1994 en die aanvaarde Grondwet reggestel.

Maar die grondkwessie is nog nie reggestel nie, en moet dringend aandag kry. Dit sluit by Ramaphosa se “oersonde” aan. Hierdie regstelling moet deur OSV gebeur, asof daar nie ’n artikel 25 in die Grondwet is nie. Ander ANC-leiers praat ook soms asof die regering nie in artikel 25 ’n opdrag kry om deur wetgewing en ander maatreëls billike grondhervorming te dryf nie. En die argument is dat iets anders – OSV – nou nodig is om dit te bereik.

Die manier waarop die ANC nou op hierdie mislukking reageer, is om te maak asof artikel 25 van die Grondwet nie genoegsaam is om die grondprobleem op te los nie.

Die verslag van die hoëvlakpaneel onder leiding van oudpres. Kgalema Motlanthe lê die skuld vir die gebrek aan grondhervorming volledig voor die ANC-regering se deur. Die grondwetlike mandaat is nie nagekom nie.

Die manier waarop die ANC nou op hierdie mislukking reageer, is om te maak asof artikel 25 van die Grondwet nie genoegsaam is om die grondprobleem op te los nie; trouens dit was nooit daar om die grondprobleem op te los nie.

Meer dringende en drastiese maatreëls is nou nodig – OSV. Dit word polities die alfa en die omega – en die ANC plaas daardeur sy hele politieke toekoms op die spel. Swart Suid-Afrikaners gáán hul grond terugkry – en gou ook.

Al die politieke eiers in grondmandjie

Dis ’n gevaarlike politieke spel. Om letterlik al jou eiers in die grondmandjie van OSV te sit terwyl die EFF oor jou skouer loer, kan baie negatiewe gevolge in 2019 hê. Veral as jy met amptenare in die verantwoordelike departement sit wat (volgens die Motlanthe-verslag) ten beste hoogs burokraties en ten slegste onbevoeg en selfs korrup is.

Selfs OSV op groot skaal gaan nie gou en effektief gebeur nie. Die dilemma van die ANC en Ramaphosa is dat hulle op die EFF-gemaakte tier geklim het en hom nou moet ry, sonder om af te val en opgevreet te word deur ontevrede kiesers wat die beloftes van vinnige grondherstel geglo het.

Hulle wil in Suid-Afrika bly, ’n bydrae maak, kos produseer, werkgeleenthede skep, belê en die ekonomie laat groei.

Die ander element van hierdie dilemma is die persepsies en vrese van die wit en veral die Afrikaanse gemeenskap. Hierdie groep sluit sakemense, georganiseerde landbou, aktivistiese organisasies en gewone sout-van-die-aarde-mense in. Hulle het die verkiesing van Ramaphosa as ANC-leier verwelkom en het saam gejuig toe hy as president van die land ingehuldig is.

Hulle wil in Suid-Afrika bly, ’n bydrae maak, kos produseer, werkgeleenthede skep, belê en die ekonomie laat groei.

Dit kan sonder vrees vir teenspraak gesê word dat sonder hulle die groot ekonomiese herstel baie moeilik gaan wees (indien nie onmoontlik nie).

Die persepsies en vrese van die wit, en veral die Afrikaanse gemeenskap, oor grondonteiening sonder vergoeding skep ook vir die ANC ’n dilemma. Foto: Argief

Hierdie groep Suid-Afrikaners hoor egter kommerwekkende en dubbelsinnige geluide van die ANC-leierskap. Die “oersonde” van grondontneming moet reggestel word en die grond aan “ons mense” (lees swart Suid-Afrikaners) teruggegee word – sonder om die “ander” se titelaktes en harde werk op daardie grond te erken en te vergoed.

Hulle hoor eintlik net “Zimbabwe”. En dan help die Ambrosini-aanhaling namens ’n jonger Ramaphosa ook nie: dat wit mense se goed stadig van hulle weggevat gaan word, soos om die water in die padda se houer stadig maar seker te verhit, totdat die padda doodgaan.

Omdat Ambrosini nie meer self gevra kan word nie, moet die president miskien vir eens en vir altyd self duidelikheid daaroor bring. Dit kan baie negatiwiteit uit die weg ruim.

Theuns Eloff

Die persepsies oor OSV onder swart (ons gaan ons grond vinnig terugkry) en wit (ons grond gaan sonder vergoeding gevat word) is saam die dilemma vir die ANC-leierskap. As hy die swart ondersteunersgroep in die steek laat, kan hy by die stembus swaarkry. As hy die wit groep laat skrik, sal die ekonomie wat die werkgeleenthede vir die swart meerderheid moet skep, nie van die grond af kom nie.

Dis die dilemma: OSV kan die ANC tussen die twee stoele laat deurval.

Wat staan regdenkende en welmenende Suid-Afrikaners te doen? As ’n mens saamstem dat grondhervorming (soos in artikel 25 vervat) noodsaaklik is vir groter gelykheid en geregtigheid, en dat OSV nie nodig of wenslik is nie, kan jy nie anders as om met die regering in gesprek te tree nie.

In belang van die land en al sy mense, is dit ons plig – en in ons belang – om te help dat dit die tweede keer meer geslaag en volhoubaar is.

Dit kan gebeur deur die parlementêre konsultasieproses of op sektorale vlak. Dit is uit die Motlanthe-verslag duidelik dat die eerste pogings om artikel 25 se mandaat uit te voer, misluk het.

In belang van die land en al sy mense, is dit ons plig – en in ons belang – om te help dat dit die tweede keer meer geslaag en volhoubaar is.

En dit is in die ANC-regering se belang dat hy alle Suid-Afrikaners in hierdie opsig hóór. En dat die reaksie nie is soos wat ’n swart advokaat by die nasionale dialoog gesê het nie – as sy wit kollegas aanbied om te help, word daar aan hulle gesê om lede van die ANC te word.

* Dr. Eloff is uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.