Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
ANC wil nes Broeders onderhorigheid afskud

Hermann Giliomee vra: Was die Broederbond se bondsraad en die ANC se nasionale uitvoerende komitee broers van eenderse kleure?

Pres. Cyril Ramaphosa ontmoet die Afrikanerbond se nasionale raad. Hier skud hy blad met Andries Domburg, ondervoorsitter van die nasionale raad. Foto: Edrea du Toit

Die Bondsraad van die Afrikaner-Broederbond (ná 1990 herdoop tot die Afrikanerbond) is histories die liggaam se hoogste beleidmakende liggaam. In die geval van die ANC geniet die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) dieselfde status.

Miskien was dit die rede waarom die Afrikanerbond besluit het om pres. Cyril Ramaphosa, wat ook president van die ANC se NUK is, te nooi as gasspreker by die AB se onlangse Eeufeesviering op ’n plaas in Agter-Paarl.

Ek was nog nooit ’n Broederbond-lid nie, maar was bly om die historiese geleentheid op uitnodiging by te woon. Die NP en die ANC was ongetwyfeld die belangrikste politieke kragte in die tweede helfte van die vorige eeu. Toe ek in 1987 op die Dakar-beraad Thabo Mbeki en sekere ander ANC-leiers ontmoet, was een van my eerste indrukke dat die manier waarop die ANC- en die NP-leiers die politieke konflik sien, baie ooreenstem.

Daar is ten eerste die leiers se oortuiging dat hul onderskeie bewegings die deurslaggewende rol in die land se toekoms gespeel het en steeds sou speel. Daar was ook ’n ooreenkoms wat die ideologie betref, veral wanneer die NP en ANC met ’n liberale party vergelyk word.

Om die terminologie van die Oxford-filosoof Isaiah Berlin te gebruik, is sowel die ANC as NP bewegings wat daarop ingestel is om hul onderskeie volgelinge van hul koloniale onderdrukking te bevry. Hulle wou hul onderhorigheid afskud en bou aan hul gemeenskap se ekonomiese en sosiale status.

Daar is egter ook groot verskille. Die NP het regeer binne die Westminsterstelsel waarin die parlement soewerein is, waar die regerende party se koukus baie mag uitgeoefen het, waar die onderskeie provinsiale partye groot outonomie geniet het en waar die stelsel van kiesafdelings dit vir kiesers moontlik gemaak het om direk druk op verteenwoordigers uit te oefen. Binne hierdie stelsel het die Broederbond ’n bepaalde invloed uitgeoefen.

Toe genl. J.B.M. Hertzog in 1932-33 saam met genl. Jan Smuts die Verenigde Party gevorm het, het hy oorlog verklaar teen dr. D.F. Malan, wat met die Kaapse Nasionale Party as die vernaamste basis die leier van die parlementêre opposisie geword het. Hertzog het woes te velde getrek teen die AB, wie se invloed in daardie stadium grootliks tot die noordelike dele van die land beperk was.

In 1946 was die Engelse se per capita-inkomste twee keer hoër as dié van Afrikaners.

Die AB het in 1929 ’n geheime organisasie geword. Sy oorkoepelende bestuur het bestaan uit die bondsraad, wat die hoogste verteenwoordigende en beleidmakende liggaam was, en die uitvoerende raad. Die bondsraad is bygewoon deur verteenwoordigers van al die takke.

Die uitvoerende raad het toesig gehou oor die organisasie se amptenare, wie se werk hoofsaaklik was om beleidsvoorstelle vir kommentaar uit te stuur na die verskillende “afdelings” of takke dwarsdeur die land en die reaksies te verwerk. Op dié manier kon die Afrikanerbond gereeld ’n geheime “meningsopname” aan die regering verskaf oor wat sy 12 000 lede van die vernaamste politieke kwessies dink.

Dit was in die bondsraadsvergaderings waar van die belangrikste debatte oor moontlike beleidsveranderinge gehou is. Van al die bondsraadsvergaderings was die belangrikste die een wat in 1955 gehou is. Die belangrike kwessie was die Afrikaners se langdurige stryd om ’n groter plek in die stedelike ekonomie op te bou en om die groot inkomstegaping tussen die twee wit gemeenskappe – Afrikaners en Engels – te vernou.

Gedurende die 1940’s was ’n derde van die Afrikaners nog op plase en 40% was blouboordjiewerkers. Die Afrikaners se aandeel in sekere sektore van die private ekonomie was karig – 1% in die mynwese, 6% in die vervaardigingsektor en 6% in die finansiewese. Hulle het maar 16% van die professionele lui uitgemaak. In 1946 was die Engelse se per capita-inkomste twee keer hoër as dié van Afrikaners.

In 1937 reeds het dr. H.F. Verwoerd as redakteur van Die Transvaler daarop gewys dat veral die Jode ’n buitengewoon groot aandeel in die ekonomie besit. Hy het wetgewing bepleit wat sou verseker dat elke wit seksie ’n aandeel in die onderskeie beroepe verkry ooreen­koms­tig hul aandeel in die bevolkingsamestelling. Verwoerd het so ’n stelsel “ewewigtige verspreiding” genoem, maar bygevoeg dat dit ook as ’n kwotastelsel bestempel kan word.

Op ’n vergadering van die AB se bondsraad in 1956 het verskeie afgevaardigdes geargumenteer dat dit nou tyd is vir so ’n kwotastelsel omdat dit sal sorg vir ’n vastrapplek vir jong, ondernemende Afrikaners in die ekonomie. Hulle het voorgestel dat die uitvoerende raad gesprekke met ministers aanknoop om ’n manier te vind waardeur Afrikanerondernemings deur middel van kwotas begunstig kan word.

Die twee belangrikste Afrikaanse sakeleiers het hierdie voorstelle egter op die bondsraadsvergadering nek omgedraai. Anton Rupert het gesê dat die sleutel vir ’n ondernemer se sukses sakevernuf, entoesiasme, realisme en lojaliteit is. Andreas Wassenaar, hoof van Sanlam, het gevra dat sakelui na hulself kyk voordat hulle regeringshulp vra. Hy het gewaarsku teen pogings om etniese sentiment uit te buit. Prof. C.G.W. Schumann, ’n wyd gerespekteerde professor in ekonomie aan Stellenbosch, het gesê dat Afrikanersakelui wat Afrikanersentiment en -bande probeer uitbuit, die swakste vaar.

As gevolg van die kiesstelsel wat ons ná 1994 geërf het, is daar deesdae nie meer dieselfde organisatoriese band tussen die regerende party, die ANC, en sy kiesers op voetsoolvlak as wat die geval destyds onder NP-bewind was nie. Die ANC se sekretariaat speel nou ’n veel groter en meer deurlopende rol as wat onder die NP-regering die geval was.

Die buitengewone magte wat die president onder die huidige stelsel geniet, tesame met die kiesstelsel, maak dit vir hom moontlik om ’n veel groter invloed oor die ANC-koukus uit te oefen as wat enige NP- eerste minister destyds gehad het.

Dit is ook duidelik dat die ANC se NUK die plek is waar kritieke beleidsverskuiwings plaasvind en waar hoofleiers vervang word.

Adj.pres. Thabo Mbeki het die NUK in 1994 gebruik om te velde te trek teen, wat hy beskou het, Mandela se veels te tegemoetkomende beleid teen wit mense. In 1997 by die Mafikeng-konferensie het hy vir Mandela ’n toespraak geskryf wat in soveel woorde die opposisie as dislojaal en ’n gevaar vir die stelsel beskryf het.

Mbeki se groot swakheid was sy intellektuele arrogansie, wat hom blind gemaak het vir die manier waarop Jacob Zuma ná sy afdanking as adjunkpresident saam met ander afvalliges teen hom hul kragte gemobiliseer het en hom in 2007 op die nasionale konferensie in Polokwane onttroon het.

Die groot vraag is hoe Rama­phosa die knoop gaan deurhak met die kwessie van grondonteiening sonder vergoeding. Miskien wil hy, soos sommige Broederbond-lede in die bondsraad van 1955 voorgestel het, die staat gebruik om swart boere te help om op die been te kom.

Dit sal goed wees as hy let op die woorde van Mahathir Mohamad, wat van 1981 tot 2003 premier van Maleisië was (hy het onlangs op 92 weer premier geword). Hy was die vader van die regering se beleid van bemagtiging van Malei­siërs, wat ’n veel kleiner ekonomiese aandeel as die Chinese minderheid gehad het. Die ANC sou later sy beleid van swart ekonomiese bemagtiging hierop skoei.

In 2003 het Mahathir verklaar dat die beleid misluk het. Hy wou vir sy mense deur middel van bemagtiging deur die regering ’n volwaardige staanplek in die ekonomie gee sodat die Chinese kon leer om hulle te respekteer. Al wat sy beleid gedoen het, was om die Maleisiërs ’n kruk in die vorm van staatskontrakte en ander vorme van hulp te gee. En nou kan hulle nie sonder die kruk klaarkom nie.

  * Prof. Hermann Giliomee is die skrywer van Die Afrikaners (2018), die boek wat die basis vorm van ’n gelyknamige reeks op kykNET.

Meer oor:  Hermann Giliomee  |  Armoede  |  Inkomste  |  Afrikaners  |  Afrikanerbond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.