Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Anderkant staatskaping en korrupsie’

As Suid-Afrikaners die skade van staatskaping ongedaan wil maak, sal hulle hard en toegewyd daaraan moet werk om van hul land ’n beter plek te maak, skryf Theuns Eloff.

Thuli Madonsela sê gewone mense moet staatskaping beveg. Foto: Denzil Maregele

Op 2 Februarie 1990 het FW de Klerk, tot die verbasing van vriend en vyand – en nadat hy slegs vier maande in sy pos as president was – in die parlement aangekondig dat hy Nelson Mandela en ander politieke gevangenes onvoorwaardelik gaan vrylaat en die ANC en ander organisasies gaan ontban.

Die doel was om die omstandighede te skep waarbinne onderhandelings oor die toekoms van Suid-Afrika kon plaasvind. Hiermee het hy die deur vir ’n nuwe toekoms oopgemaak en is die Nobelprys vir vrede aan hom (en oudpres. Nelson Mandela) toegeken.

Die FW de Klerk-stigting is in 1999 begin om dié belangrikste erflating van De Klerk te bevorder en te beskerm: Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika. Die Stigting gedenk 2 Februarie 1990 sedertdien elke jaar deur ’n nasionale konferensie te hou.

Die woorde en optrede van die nuutverkose ANC-president, Cyril Ramaphosa, is versigtig verwelkom.

Die temas van hierdie konferensies word gewoonlik aan die mees brandende kwessies in die land gewy.

Hierdie jaar was die tema “Anderkant staatskaping en korrupsie”. Die bedoeling was om verby die ontleding van die ontstaan en beoefening van staatskaping te probeer beweeg en die gehoor (en die land en sy mense) hoop te gee vir ’n beter toekoms.

Die woorde en optrede van die nuutverkose ANC-president, Cyril Ramaphosa, is versigtig verwelkom. ’n Mens kon nie anders as om te wonder hoe dit moontlik sou wees om so ’n onderwerp aan te raak as Nkosazana Dlamini-Zuma in Desember as die ANC-president verkies is nie.

Die anatomie van staatskaping

Oudpres. FW de Klerk en oudpres. Nelson Mandela vat in 1994 hande nadat Mandela as Suid-Afrika se president ingehuldig is. Foto: Reuters

Prof. Haroon Bohrat van die Universiteit van Kaapstad het goedgunstiglik ingestaan vir Pravin Gordhan, wat in ’n laat stadium deur sy dokter tot bedrus verplig is. Bohrat was een van die outeurs van die verslag oor staatskaping deur ’n groep akademici: Betrayal of the Promise: how SA is being Stolen. In ’n uitstekende aanbieding het hy aan die 240 konferensiegangers die anatomie van staatskaping verduidelik.

Die vyf hefbome wat gebruik is om staatskaping te vestig, was om staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) soos Eskom se doel te verander, om parallelle en swak korporatiewe beheerstelsels te vestig, om ’n skadu-staat te skep, om “rent-seeking”-gedrag te legitimiseer en om beheer van die nasionale tesourie te bekom.

Hierop volg vyf stappe tot stelselmatige korrupsie: Verander die doel van korporatiewe beheer van die SBO’s, kry ’n “makelaar” vir die korrupsie, skep die meganisme vir korrupsie op direksievlak, struktureer daardie korrupsie en was die geld wat vloei. Dit was die skrikwekkende gesig van planmatige en koelbloedige gierigheid.

Adv. Thuli Madonsela, nou professor aan die Universiteit Stellenbosch, het op haar gewone rustige en besliste manier die “resep”vir ’n samelewing sonder staatskaping en korrupsie gegee.

Dit vat meer as ’n grondwet, sterk instellings en selfs leiers om die vernietiging van demokrasie teen te staan.

Haar tema was “Die herankering van demokrasie deur mense se mag”. Haar toespraak het begin met ’n profetiese aanhaling van Nelson Mandela: “Even the most benevolent of governments are made up of people with propensities for human failings.”

Dit vat meer as ’n grondwet, sterk instellings en selfs leiers om die vernietiging van demokrasie teen te staan. Uiteindelik kan net gewone mense hul eie bevryders wees. Haar oproep was dus dat gewone mense teen staatskaping en korrupsie moet opstaan en leierskap toon. Dit was ’n sobere herinnering dat demokrasie werklik mag deur die (gewone) mense is.

Dr. Frans Cronje van die Instituut vir Rasseverhoudinge het in ’n deeglike nagevorste toespraak gewys op die goeie sosio-ekonomiese nuus tot omtrent 2009, toe die Zuma-tsoenami golwe begin maak het.

Hy het sy perspektief op ’n Suid-Afrika anderkant staatskaping en korrupsie hoofsaaklik aan spesifieke politieke, ekonomiese en sosio-maatskaplike optrede van die nuwe ANC-regering gekoppel.

Só ruk jy gekaapte SA weer reg

Oudpres. FW de Klerk sê die parlement moet sy oorsigrol uitvoer om staatskaping uit die weg te ruim. Foto: Lerato Maduna

Die belangrikste kwessies voor die deur van ’n Ramaphosa-regering is die herstel van die oppergesag van die reg en hervorming van ekonomiese beleid.

Die hoofstruikelblokke is die begrotingstekort, die gebrek aan werkskepping en die mislukte onderwysstelsel. Daarby erf die nuwe regering die feit dat die ANC uit voeling met gewone mense is, die verlammende gevolg van ideologiese dogma en die bevoegdheidsvlakke in die staatsdiens.

Om Suid-Afrika anderkant staatskaping te kry, sal bemagtiging anders benader moet word, eiendomsregte gewaarborg moet word, arbeidsbeleid verander moet word om mense werk te gee en die skoolstelsel reggeruk moet word.

Ons het ’n president nodig wat streng by sy ampseed bly.

Dis ’n mondvol, maar ’n realistiese lys van prioriteite.

Die aanwesiges het as gevolg van hierdie insette die planmatige en stelselmatige aard van staatskaping en korrupsie raakgesien en ook besef dat dit met dieselfde ywer beveg en uitgeroei sal moet word.

Hiervoor is goeie politieke leierskap met goeie beleid, goeie instellings en vasbeslote Suid-Afrikaners nodig.

As hoofspreker het De Klerk daarop gewys dat ons net anderkant staatskaping en korrupsie kan kom as diegene wat die mag het, werklik verbind is om die visie van en die grondliggende waardes waarop die Grondwet gebou is, in stand te hou.

Dit gaan dus oor meer as die “letter van die wet”, maar ook die gees van die nasionale akkoord van 1994/6. Dit beteken dat:

* Ons kiesers nodig het wat weier om “bekende skurke” tot openbare ampte te verkies.

* Ons ’n president nodig het wat streng by sy ampseed bly.

* Ons ’n parlement nodig het wat haar oorsigrol noukeurig uitvoer.

* Ons professionele veiligheidsamptenare nodig het wat hul plig om te beskerm en te verdedig, doeltreffend en onpartydig uitvoer.

* Ons howe nodig het wat aanhou om te verseker dat wetgewing en uitvoerende optrede in lyn met die Grondwet is – én met nougestte onpartydigheid optree.

* En ons hoofstuk 9-instellings en ’n nasionale vervolgingsgesag nodig het wat hul pligte sonder vrees, voorkeur of vooroordeel uitvoer.

Theuns Eloff

De Klerk het in hierdie verband daarop gewys dat hoewel die nuwe president van die ANC ’n paar goeie treë op hierdie pad gegee het, daar nog baie uitdagings op sy pad lê.

Sy laaste metafoor was treffend: Sonder integriteit onder die sjefs, maak dit nie saak hoe goed die grondwetlike resep geskryf is nie.

Die voorgereg van goeie regering sal verwoes word; die tweede gang van nasionale eenheid sal tot roet verbrand; en die poeding van ekonomiese vooruitgang sal in die vullisdrom beland.

My finale gevolgtrekking was dat vier uitgelese sprekers aan Suid-Afrika gesê het: Ons kán anderkant staatskaping en korrupsie kom. Maar dit sal toewyding en harde werk vat.

Dit kan net gedoen word as ons almal, maar veral ons leiers, die waardes waarop die Grondwet gebou is, én die Grondwet self respekteer en onderhou.

* Dr. Eloff is uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.