Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Anti-koloniale debat vertroebel politiek in Tanzanië

In die aanloop tot die verkiesings in Tanzanië einde vandeesmaand, is Tanzaniërs duidelik verdeeld oor die presidentskap van John Magufuli. Hy sal heel waarskynlik die verkiesings wen, maar dit kan nog vyf jaar van twis en vergrype beteken, skryf Liesl Louw-Vaudran.

Die president van Tanzanië, John Magafuli, sal waarskynlik die verkiesings wen – maar is dit ’n goeie idee? Foto: Getty Images

’n Kollega kla nou die dag dat hy nie kan uitmaak wat die Tanzaniërs op Twitter sê nie, want dis alles in Swahili.

Feit is, persvryheid word aan bande gelê en die meeste van die werklike gesprekke oor Tanzanië vind op sosiale media plaas. Daarom is dit nogal baie belangrik vir ons as buitestaanders om toegang te kry daartoe.

In die aanloop tot verkiesings op 28 Oktober is daar heelwat belangstelling in wat in die land gebeur.

‘Ja wel, daar is mos so iets soos Google Translate . . . As die Japannese Japannees praat in hulle eie land blameer ons hulle nie, so waarom so kwaai wees met die Tanzaniërs?’ vra ek.

Sedert die tyd van oudpresident Julius Nyerere is Tanzanië ’n land wat sy trotse kulturele erfenis – insluitend sy taal – voorop stel.

Tanzanië het ook in die beginjare ná onafhanklikheid geëksperimenteer met ’n tipe inheemse sosialisme, wat nie baie suksesvol was nie en wat in later jare deur Nyerere se opvolgers opsy geskuif is ten gunste van ’n mark-ekonomie.

Bisarre houding teenoor Covid-19

Maar die trotse Tanzaniese gees bly voortleef. Dis net jammer dat sommige politici dit tot hulle voordeel probeer gebruik om hul eie outoritêre idees op ander af te dwing en om enige kritiek in die bek te ruk.

Dit is wat die huidige president John Magufuli klaarblyklik die laaste vyf jaar probeer doen.

Toe hy in 2015 aan bewind gekom het, was daar groot lof vir sy reguit-praat en hardhandige optrede teen korrupte politici. Mense het hom as ’n aweregse politikus gesien wat durf om stroomop te wees – ook teen internasionale ondernemings wat in Tanzanië sake doen. Baie Suid-Afrikaanse besighede is so gedwing om die land te verlaat omdat daar skielik groot onsekerheid was rondom regeringsbeleid.

Hy dring aan sy eie land se toetsing vir die pandemie is foutief en het alle inligting daaroor verbied.

Magufuli het ook mettertyd al hoe meer outokraties begin optree en het alle politieke aktiwiteit verban tot die begin van die verkiesingsveldtogte verlede maand. Joernaliste is gedreig, onafhanklike media-organisasies is gedwing om hul deure te sluit en nie-regeringsorganisasies is onder streng nuwe wetgewing geplaas.

Paul Kagame, die president van Rwanda, tydens ’n virtuele vergadering van die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies. Foto: Bloomberg via Getty Images

Hy het ook groot moles veroorsaak met sy bisarre houding teenoor Covid-19. Hy dring aan sy eie land se toetsing vir die pandemie is foutief en het alle inligting daaroor verbied. Dit het die afgelope tyd konflik met sy bure in Kenia en met die Afrika-unie veroorsaak.

Goedkoop politiekery

Liesl Louw-Vaudran

Tanzaniërs is duidelik verdeeld oor Magufuli se presidentskap.

Sommige meen dat hy genoeg doen om die ekonomie te laat groei en om nuwe infrastruktuur te skep – baie soos Rwanda se president Paul Kagame wat ’n bloedige houvas het op die land se politiek, maar wel goed vaar wat ekonomiese beleid betref.

Hierdie ongemaklikheid en onsekerheid het deurgeskemer tydens ’n aanlyn debat wat hierdie week deur die Instituut vir Sekerheidstudies gehou is.

Aan die een kant het sprekers wat die regering ondersteun groot klem daarop gelê dat Tanzanië een van die hoogste groeikoerse in Afrika het.

Die onafhanklike joernalis Ansbert Ngurumo het egter gesê gewone mense kry steeds baie swaar, ondanks die makro-ekonomiese syfers wat kwansuis goed lyk. Hulle ly ook weens die regering se onverdraagsaamheid teenoor die media en vryheid van spraak.

Die indruk is die afgelope tyd geskep dat alles goed gaan, maar verset het onder die oppervlak geborrel, sê hy. Die groot getalle ondersteuners wat by die opposisieleier, Tundu Lissu, se massa-saamtrekke opdaag, is tekenend dat mense keelvol is vir Magufuli, sê hy.

Sonder ’n vrye media is dit baie moeilik vir mense om openlik oor die kwessies te debatteer – in Swahili of enige ander taal.

Toe die gesprek hewig begin raak, het sommige deelnemers hulle gewend tot goedkoop politiekery deur Ngurumo daarvan te beskuldig dat hy sogenaamde “Westerse demokrasie” op Tanzanië wil afdwing. Dis ’n klassieke Robert Mugabe-argument teen neo-kolonialisme wanneer ’n mens nie meer weet wat om te sê nie. Ngurumo het die kritiek deeglik afgewys, maar dit bly ’n baie sensitiewe debat.

Sonder ’n vrye media is dit baie moeilik vir mense om openlik oor die kwessies te debatteer – in Swahili of enige ander taal. Ngurumo woon in Swede omdat hy weens doodsdreigemente uit die land moes vlug.

Magufuli sal heel waarskynlik die verkiesings wen, maar dit kan nog vyf jaar van twis en vergrype teen mense se basiese vryhede beteken.

*Louw-Vaudran is ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies. Die menings in hierdie rubriek is haar eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Liesl Louw-Vaudran  |  John Magufuli  |  Tanzanië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.