Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Antifa VSA se nuwe teiken

Pres. Donald Trump het onlangs ’n organisasie met die naam Antifa die skuld vir baie van die geweld in die VSA gegee. Maar bestaan daar iets soos Antifa, vra Leopold Scholtz.

Honderde mense by ’n Black Lives Matter-betoging in New York. Foto: Getty Images

Amerikaanse en Europese stede het die laaste paar weke, sedert die dood van George Floyd in Minneapolis deur die toedoen van ’n polisiebeampte, met uitgebreide betogings te make gekry. Die meeste daarvan was relatief vreedsaam, maar verskeie het handuit geruk met geweldpleging, plundery, ensovoorts.

Dit het opnuut stukrag verleen aan die beweging Black Lives Matter, maar ’n mens het ook gereeld die begrip “Antifa” gehoor. Pres. Donald Trump en sy minister van justisie, William Barr, het hul visiere op Antifa gerig en dit tot ’n dodelike gevaar vir die Amerikaanse demokrasie verhef.

Trump het byvoorbeeld getwiet dat hy Antifa amptelik tot ’n terreurorganisasie wil verklaar. Dit sou hom die wetlike moontlikheid gee om Antifa-aktiviste in hegtenis te neem.

Antifa-ondersteuners is “radikaal linkse, slegte mense”, het hy in ’n twiet gesê. Op ’n nuuskonferensie het hy gepraat van “binnelandse terreur”. (Dit nadat hy ’n vreedsame betoging buite die Withuis met traanrook uiteen laat jaag het sodat hy die straat na ’n kerk kon oorsteek om met ’n Bybel in die hand te poseer.)

Antifa bestaan wel deeglik. Maar nie soos die Trump-administrasie dink nie. 

Toe die polisie van die stad Buffalo die 75-jarige Martin Gugino, ’n bekende linkse aktivis in dié stad, ernstig beseer, het Trump gesuggereer dat hy ’n “Antifa-provokateur” kon wees wat voorgegee het dat hy beseer is. (In werklikheid is Gugino met breinbeserings in die hospitaal opgeneem).

Barr het sy stem by dié van Trump gevoeg. In ’n verklaring het hy gesê: “Die geweld wat met die onluste deur Antifa en ander soortgelyke groepe begin en uitgevoer is, is binnelandse terrorisme en sal as sodanig hanteer word.”

Volgens die nuusagentskap AP het die departement van binnelandse veiligheid vertroulik die vrees uitgespreek dat “georganiseerde, gewelddadige opportuniste – onder wie vermeende anargistiese ekstremiste – toenemend landwyd wetstoepassing en belangrike infrastruktuur kan teiken”.

Maar presies wat is Antifa? En is dit ’n gevaarlike organisasie?

Antifa is eenvoudig ’n afkorting van die Duitse Antifascistische Aktion, ’n groep wat hom kort voor Adolf Hitler se magsoorname in Januarie 1933 teen die Nazi’s verset het. Die groep het die ideologie van die anargisme aangehang en het die intimidasie en geweldpleging van die Hitler-aanhangers graag en met ewe veel intimidasie en geweldpleging beveg.

Die anargisme is ’n ideologie wat van die 19de eeu dateer en kom eenvoudig neer op ’n oortuiging dat alle vorms van georganiseerde regering op verdrukking neerkom en dat mense hul lewens self moet organiseer, sonder wette of reëls wat van bo af opgelê word. Dit het dikwels gepaardgegaan met terreur en sluipmoorde, veral in die tsaristiese Rusland.

In die stad Seattle het Antifa-anargiste ’n gebied wat ses straatblokke beslaan, beset. Daar laat hulle geen wetstoepassers toe nie, iets wat teenstanders van Antifa bekommer.

Van ’n georganiseerde Antifa-organisasie kan daar in die moderne Amerika (of elders in die wêreld) geen sprake wees nie. Enige vorm van organisering, van struktuur, druis fundamenteel teen enige anargis se oortuigings in.

Moet geen fout maak nie, Antifa bestaan wel deeglik. Maar nie soos die Trump-administrasie dink nie.

Jy kan Antifa eerder met ’n hoop los sand vergelyk. Sonder onderlinge samehang, sonder vorm, sonder struktuur.

Die historikus Mark Bray van die Rutgers-Universiteit is die skrywer van die boek Antifa: The Anti-Fascist Handbook (2017). Hy beskryf hoe die aanhangers geweld sien: “Antifasciste redeneer dat fisieke geweld teen dié wat wit oppermag voorstaan sowel eties regverdigbaar as strategies doeltreffend is. Ons moet nie, meen hulle, die etiese status van geweld abstrak in die afwesigheid van die waardes en konteks daaragter beredeneer nie.”

Nog ’n akademikus wat Antifa bestudeer het, is prof. Stanislav Vysotsky van die Universiteit van Wisconsin-Whitewater. Sy boek American Antifa: The Tactics, Culture, and Practice of Militant Antifascism verskyn luidens berigte aanstaande maand.

In ’n onderhoud met die Milwaukee Journal Sentinel het hy Antifa beskryf as “ ’n mening, geen organisasie nie”. Een van die probleme, sê hy, is dat die fascisme ’n verwaterde begrip geword het, waaronder verstaan word enigiets van outoritarisme tot byna alles waarvan jy nie hou nie.

Oor Trump se dreigement om Antifa tot ’n terreurorganisasie te verklaar, is sy kommentaar: “Om mee te begin is daar geen Antifa-organisasie nie. Daar is geen gesentraliseerde organisasie nie. Daar is geen koördinasie nie. Daar is geen leiding nie. Daar is niks om aan te dui dat dit geklassifiseer kan word as ’n organisasie in die sin waarin hy die begrip gebruik nie.”

Bowendien, meen Vysotsky, ofskoon sommige anti-fasciste geweld gebruik, “voldoen die skaal en voorkoms van daardie geweld nie aan die kriteria van wat terroristiese geweld is nie”. Om Antifa as ’n terreurorganisasie te beskryf het meer te make met die ideologiese oortuigings van diegene wat dit sê as met dié van diegene wat hulself as anti-fascisties beskou.

Vroeër vandeesmaand het die FBI, die departement van binnelandse veiligheid en die Sentrum vir Teenterrorisme ’n nuwe veiligheidsbulletin uitgereik wat ook die idee van ’n georganiseerde beweging Antifa as bedreiging bevraagteken.

“Gegrond op huidige inligting beoordeel ons die grootste gevaar van dodelike geweld steeds as komende van individuele oortreders met ras- of etnies gemotiveerde gewelddadige ekstremistiese ideologieë . . .

“Daarby bly anargistiese ekstremiste die mees betekenisvolle bedreiging wat betref geteikende aanvalle op die polisie, sowel as die geteikende beskadiging van staatsgeboue en polisievoertuie, soms met geïmproviseerde brandbare toestelle.”

Die bulletin identifiseer egter ook ’n regs-ekstremistiese beweging, bekend as Boogaloo, wat net so skimmig soos Antifa is. Dit word beskryf as ’n “libertynse” milisie, waarvan die aanhangers graag met aanvalsgewere in die openbaar rondloop.

Hulle meen glo ’n tweede Amerikaanse burgeroorlog is onafwendbaar, en dat dit die aard van ’n rasseoorlog – die “suiwer”, regse wit mense teen die res – sal aanneem. Die uiteenlopende oortuigings van die groep wissel van ’n regse diktatuur tot, ironies genoeg, die afskaffing van die staat, soos wat baie van Antifa se aanhangers nastreef.

Die naam van die beweging is afkomstig van ’n fliek uit 1984, Breakin’ 2: Electric Boogaloo, en die aanhangers noem hulleself die “Boogaloo Bois”.

Verskeie “lede” van Boogaloo is reeds in hegtenis geneem omdat hulle na bewering terreuraanvalle beplan het om die land te ontwrig en ’n rasseoorlog uit te lok.

In die amptelike klagstaat staan dat hulle “ ’n chaotiese en verwarrende omgewing vir die komende protes” wou skep om “die regering te dwing om sy kaarte te wys”.

Die aanhangers “deel ’n narratief van die opsweep van ’n gewelddadige opstand teen wat gesien word as regeringstirannie”.

Soos een van hulle onlangs op Facebook geskryf het: “Die Boogaloo-beweging is (grotendeels) ’n libertynse groep. Die boog is nie die volk versus die volk nie, die boog is die volk versus die regering. Dis ’n revolusie, nie ’n burgeroorlog nie.”

Facebook het intussen Boogaloo-bydraes begin weier.

In talle opsigte kan die Boogaloo-beweging dus as ’n regse spieëlbeeld van Antifa gesien word. Die vraag is of die Trump-administrasie ook teen Booga­loo, naas Antifa, wil optree.

Die antwoord sal mettertyd blyk, maar dit sal interessant wees.

* Dr. Leopold Scholtz is ’n historikus en politieke kommentator.

Meer oor:  George Floyd  |  Donald Trump  |  Stanislav Vysotsky  |  Martin Gugino  |  Mark Bray  |  William Barr  |  Vsa  |  Booga­Loo  |  Antifa  |  Black Lives Matter  |  Betogings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.