Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Antjie Krog: Die val van 'n fout

Ons het nou die voorhoede van die revolusie gesien, skryf Antjie Krog.

Dit gaan jare duur voordat ons iets anders van Jacob Zuma onthou as die man wat soos in ’n koorsdroom altyd herrys en doodeenvoudig verder voortfutsel en -knoei; wat soos die Terminator grynsend op ons bly afstorm selfs nadat die helfte van sy gesig weggeskiet is, nadat sy vel afgeskroei is. Soos ’n spookgedaante skud hy die debris van sy kale vleis, hys sy arms en laat met prehistoriese geluide sy twee borste tril soos iets uit ’n gruwelfliek. Geen skandaal, hofuitspraak of minagtende afranseling het enige effek nie – en, soos die Terminator, kan sy arm, selfs ná sy politieke dood, gebruik word om die uiterste “monster” te skep!

Later sal ons kan begin dink hoe Zuma behoort onthou te word – nie in die eerste plek as ’n topklas-dief nie, maar as die leier wat alle Suid-Afrikaners die naaste gebring het aan ’n volslae ramp. Hy het ons gedwing om oor die afgrond te kyk hoe maklik vele onvervangbare drome en beginsels hulle skreeuend te pletter val. Mag ons vir altyd hierdie tyd van wanhoop onthou! En mag die rillings van afgryse ons almal bruikbaarder stem tot diens van werklike en diepgaande verandering.

Wie weet wat hy sou gewees het indien hy deur ’n model C-skool, beurse en die regte universiteitskoshuis kon werk? Dalk ’n swart Markus Jooste?

Waar oudpres. Nelson Mandela die opvoeding geniet het van ’n effens bevoorregte seun uit ’n adellike Xhosa-familie, en Mbeki dié van ’n aktivistiese, geleerde egpaar se seun in ballingskap, was Zuma die leier wat basies deur Suid-Afrikaanse omstandighede geskool is: platteland, beeswagter, paar jaar skoling en dan MK. Tog word die laaste paar maande van hom gepraat as ’n meesterskaakspeler, ’n briljante strateeg en natuurlik ’n formidabele skurk met internasionale kontakte.

Zuma is hierdie land se eie apartheidsmaaksel van arm, plattelandse, ambisieuse en vasberade seuns – wie weet wat hy sou gewees het indien hy deur ’n model C-skool, beurse en die regte universiteitskoshuis kon werk? Dalk ’n swart Markus Jooste met daarby ’n ontwikkelde gevoel van skaamte wat sou maak dat hy netjies verdwyn toe die eerste klanke van skandes opklink.

Nelson Mandela het alle Suid-Afrikaners bewus gemaak van iets groters as onsself; Zuma van iets aakligs in onsself.

Absoluut geen poësie

Maar hy behoort ook onthou te word vir sy toesprake. Nie vanweë die gr. 2- beangste lees daarvan nie, maar dat dit vir die eerste keer in die demokratiese Suid-Afrika totaal en al sonder enige poësie aangebied is. Waar Mandela en Mbeki met eindelose versiendheid die waarde besef het van die trefkrag en verheldering wat ’n digter se woorde tot ’n visie kan byvoeg, het Zuma en sy toespraakskrywers hulle nie eens verwerdig om iets uit die klassieke Zoeloetekste, Vilakazi of Kunene by te werk nie.

Sy toesprake illustreer die benepe saai uitsigloosheid van ’n eenbeenspringende brein. Daarom moes hy hom neerhalend uitlaat oor “clever blacks”; daarom sit sy aanstellings met arrogante maskers van minderwaardigheid en totale oningeligtheid met hul huigelend-flitsende ogies in die ministersbanke; daarom moes hy tydens sy toesprake altyd terugval op “Umshini wam” (die geweer en die penis) en so ons land verminder tot ’n groep wat eintlik tot geen formulering meer in staat is nie en op die pleine voortbonk in kadanse van bloed en bodemliedere uit die voortye. (Hierby sluit baie Afrikaners hulle natuurlik aan!)

Waar was ons #MeToo?

Tog behoort Zuma eintlik in die eerste plek onthou te word vir sy vernietiging van vroue. Tot ons ewige skande was ons te vrotsig om ’n massale doeltreffende #MeToo-periode tydens sy verkragtingshofsaak van stapel te stuur, sodat hy en sy adv. Kemp uit hul poste moes padgee.

Sy misbruik van vroue ruk soos ’n vloed deur die land.

Dis hier waar die verskuiwing kom, dis nie net wit mense wat oor die afgrond gekyk het nie, ook ander mense het.

Daar is die skandalige wyse waarop hy ’n slim vrou, Nkosazana Dlamini – wat tot haar ewige krediet lank reeds besluit het om haar maritale bande met hom te knip – (her)misbruik het om ’n verkiesing onder sy vaandel te veg; die dogter van ’n groot sokkerbaas wat deur ’n kind aan Nommer Een verbind moes word; sy uitsprake dat vroue kinders behoort groot te maak, en dat ’n skirt ’n seksversoek aandui – en daar is die wyse waarop hy sy eie vrouens as dentale krone gebruik: enamelblink, persoonlikheidsloos en deemoedig geset, versier hulle die Zuma-implantaat.

Aanvanklik het mens gedink nouja, hy trou minstens met dié wat hy bykom, maar dit het gou geblyk die meeste van sy huwelike is soos dié van hoofmanne uit die vorige eeu – blote diplomatieke bande, met ’n jong een om ’n ou man mee af te soog.

En asof die spektakel van die ry vroue met hul koppe neerslagtig skuins gekantel nie genoeg was nie, is daar nog gif- en slangstories ook!

Een van die grootste skurke

Maar dis meer waarskynlik dat hy onthou sal word as een van die grootste skurke wat Suid-Afrika regeer het. En dan moet ’n mens maar ’n oomblik die dae van kolonialisme, Cecil John Rhodes en apartheid bybring. Swart mense (soos koning Moshoeshoe, die digter Mqhayi en talle van die jonger skrywers) het dikwels gevra: Hoe kan opregtheid, vredeliewendheid en eerlikheid van ons verwag word terwyl die mense wat ons wil kersten en regeer fundamenteel korrup en gewelddadig is?

In Tydperk Zuma is ons egter álmal daardeur gekonfronteer dat ’n totaal korrupte staatshoof almal lisensieer om te steel. So beweer my spioene dat in plattelandse dorpe die munisipale hoof ’n groot deel van sy salaris aan die Groot Man van die provinsie moet betaal, want dié het hom aangestel. Hy maak weer sy salaris op van diegene wat hy onder hom aanstel.

So het korrupsie tot op die kleinste dorpie ingesypel, en die land is besaai met verhale van tasse vol geld onder tafels, mislukte projekte, vervalle hospitale, skole as blote weivelde vir rondnaaiers, haglike onterende lewensomstandighede . . . En as iemand korrupsie skreeu, word na apartheid verwys. So ondenkbaar soos dit dalk klink, hou die flagrante korrupsie ’n positiewe aspek in, en miskien moet mens daarop begin fokus:

Ons almal het gesien hoe die land van dag tot dag woedend opkook – bankrot, vol rassehaat en absolute ellende! Die klem lê op “almal”. Waar swart mense al ’n lang tyd waarsku dat opstande en revolusie aan die broei is oor die verskriklike lewenstandaarde van die grootste deel van die bevolking, het ons nou almal die voorhoede van die revolusie gesien.

Wit mense het baie duidelik gesien dat die skuld vir impotensie en korrupsie vir ewig en altyd vir bruin en swart mense die wit mense se skuld sal wees: Dit is ons wat nie verander nie, wat nie deel nie, wat gesteel het en nie wil teruggee nie, wat nog steeds dink ons is baas – ons is die oorsaak van alle haglikheid. Wat ons ook al opper, sal weggevee word met kolonialisme en apartheid.

Die groot verskuiwing

Maar, en dis hier waar die verskuiwing kom, dis nie net wit mense wat oor die afgrond gekyk het nie, ook ander mense het: En gesien dat ’n korrupte staatshoof noodlottig is vir enige drome en groei.

As ’n korrupte staatshoof die grond onteien, vat hy dit vir homself; as hy sakeondernemings wil oorneem, gebruik hy sy familie; hy laat belangrike instansies ineenstort sodat sy internasionale bande voordeel kan trek. Dus het veral die EFF, meer verbaal as voorheen, begin om Zuma self vir die meeste van die gemors te blameer.

Dis ’n verskriklike belangrike verskuiwing van onskatbare waarde.

En dis waar ons tans staan wat Jacob Zuma betref: Wit Suid-Afrikane weet dat dit dringend nodig is om groot toegewings te maak om die land te bestendig. Business as usual, die groeikoers en “die markkragte wat sal sorg” is net nie meer goed genoeg nie.

Wit mense sal moet gee, baie gee en ek dink die meeste van ons sal met oorgawe gee as ’n besielende knap staatshoof planne voorlê wat almal insluit met die oog op verbeterde lewensomstandighede.

Daarby merk mens ook op dat ander inwoners twee keer begin dink of mens ’n mark kan ignoreer, ’n vallende rand sommer kan “optel”, belastingknoeiery kan toelaat en ’n land se begroting oorhandig aan een van die geringstes tussen ons.

Met ons almal se verskuifde perspektiewe was die land nog nooit so reg om sy en haar kant te bring om Suid-Afrika sigbaar ten goede vir almal te verander nie. Maar soos die taxi-guardjie in my straat skreeu: “Move people! Jirre julle moet move!!”

* Antjie Krog is ’n skrywer en digter.

Meer oor:  Antjie Krog  |  Jacob Zuma  |  President
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.