Dit is dood, dood stil; amper so stil “soos ’n Sondag in die sixties”. Dan lees sy haar ma en haar broer se werk. Soms huil sy. Of skryf maar, sê Antjie Krog aan Murray La Vita.

Die digter Antjie Krog. Foto: Argief
“Die afsondering is in ’n sin kosbaar, omdat mens tyd het om terug te keer na die soort stilte waarin jou sintuie onbevange kan vaar en ervaar.
“Aan die anderkant waak mens daarteen dat die fisieke afsnyding van ander, jou nie in ’n patologie van selfgeabsorbeerd wees en selfversonkenheid plaas nie. Die ineenstorting van die huidige het egter ’n teks oor die ouerwordende liggaam waaraan ek besig was, eenvoudig voortgestu.
“Lesende die wonderlike Nederlandse vertalings van Griekse mitologie asook ou Duitse tekste vol hoofletters, het my ook uitgebring by die ou bevryde vrou Baubo, Godin van Plesier.”
in tye van Ineenstorting
geliefde van die helder hang en trieste tong
ek trek jou nader deur kwaadaardige struikgewas
in die lighoofdigheid van dig
ruik jy na spruitwater en wilgerhout
ons voel hoe bosvirus en mensehaat
ons armhare skroei
jy is op dié oomblik so na
ek voel jou hempsak teen my wang
en hoe rampe in ons aarwande oorhel
*
as ek van jou omdraai
word jy die held teen ons daaglikse dood
op ouderdom draai jy die rug
teen rewolusie en klimaatsangs gooi jy wal
uitoorlê skuldgevoel
vee vermeende uitbuiters van die tafel
en verskans ons kanse op oorlewing
jou oë word daar gedugtig van
jou tande smelt saam in verbetenheid
jou hande louter van grendels skuif
jy sal ons inmekaar in inkneus
vir die reg op ’n einde wat ons maaksel is
(die stad dryf om my heen in virus en glorie
voor ek die voordeursleutel draai
hoor ek êrens, soos ‘n sak gebreekte glas, jou hoes)
*
bevange word die diepte van my slukderm
wanneer soveel omwenteling
in virulente vonke teen ons opsnak
ek bemin jou met kennis
met leeflange kartering meet ons ons liggame
die oudword van ons liggame
die volhou van ons liggame
die onthou êrens van hoe “daar” hoe “waar”
ons eenmaal was
sterre staar nou die stiptes blind
waar ons onsself wanhopig liefdevol bly volhou
*
ek versin wat jy eenmaal was
so meer as sinsnedes, o
beminner van my wese
hoe het die aardswette ons
skielik so eensaam gelaat, so bar bokkig
kom, gly in my in vanuit jou abdomen
*
hoe is dit moontlik dat ons liggame
-soos wat dit so eenmalig saamgestel is -
net 1x lewe en nou ook in hope tot niet gaan?
hierdie lyf is ons enige, ons sag-Geërfde, ons Oppigste Moment
ons eenmalige Snik van Suurstof en Siddering
kermend skuifel ek teen my verslete self aan –
my eenmalige Eenling, my lieflik-Gelatene
ag, word weer die koelbloedige woestaard
tussen al die vernietigers en ontelbare internet-verseildes
*
ek myn die glans van jou oë
o my skoongesig Geliefde
ek snoer my mond met joue, my Enkeltere
om ons bibber bloedskandig die granate
laat jou skenkels vibreer
skuif jou hoewe heen en weer
die vulva is soos bier lag Baubo
sy lig haar rok op: kom ploeg my
maai die hoogmoedige garsvelde af
die bylmerk wat jy sien is bevry en van vaam
kyk: al wat oorbly is ons weerstandige gegier
*
die winde smeul die berge beweeg aan
die wolke bleik die reën is ’n vloed
maar die vagina waarop die lewe kan vertrou
is die vagina van die Gevarin
die Gulle Houerin – sy is selfstandig kreatief
-hierdie vagina van die jambes
dis waarom die opening ’n versreël moet word
sê Baubo aan die dood met die roede van ‘n raaf
ons liggame grondves ons
ons staar uit ons tiete
ons skreeu uit ons poes
vervloek is tog die beëlsebul wat so prys aan sy eie Stengel
wildheid wildheid o here
my hart is soos ’n wolf
ons ondergang brokkel soos skulpe onder my pote
ek slurp sy harsings
maal sy skenkels
verslind hom met ’n harige greppel
open sy oë in ’n skaamoord van urine
’n mond van stoelgang
tot ons nuut uitbreek uit ons beswete kwarantyn
en herrys, roep Baubo tereg
herrys nié soos wilde maanhare
eselhingste sier- of skafbokke nie
maar laat ons ons te buite gaan op die glansende liggaamswiel
dat elke been van ons tot die lewe toe in. breek.
en ons soos sterre sonder besinning binnetoe plof
*
die geluid van ’n graaf oor klipperige grond
’n duif se klank teer gesitueer in blou
roerloos rand die herfs haar eikeblare
met ’n bos radyse in jou hand kyk jy deur die venster
ons huis ’n liriek in die oggendson
die mond smeul teen die onpraatbare dood
die tong soek ’n deurtog in taal wat op sterwe lê
die drienoothunkering van die waterfiskaal
alleen om jou vir altyd te sien te kry
so verskerp ons skerwende liggame ons nog-longvolle lied
in dié leë vreemde dae
leer mens die liefde wat oor is, tel
*
voor die eerste botsels het die hele boord
’n bewussyn van pienk vanoggend
te midde van tale ylend in isolasie en vuur
my oë probeer heg aan hierdie lentefilament
want die huis is vol gal jou uitgegraafde
woede hang rond soos ’n rou wond
soos vegvalke lig ons ons vlerke
nou en dan val ons bloed stil
ons koop brood ons asem vermy mekaar
ons word gaande gehou in verwyt
die verminking van jou dapper lyf is ek
die verenging van my treë is jy
bitterheid grint onder jou ooglede
wanhoop wentel langs my werwels af
nie die herbergsaamheid van berge
of die gevoelige presisie van reiers
sal ooit hieraan verander nie
soggens as jy uit die stort kom
val die lig rillend om jou enkels
as dit goed gaan groei ons in mekaar se versinsels in
is ons by ons nasate vir wie ons lief is
is ons die hele dag gelate – lewend in toebemete tyd
dis nie nou die tyd vir wraak nie
alles sterf besoedeld aan sigself
ag, is dit die graf van die stomme aarde wat so huil?
*
al hoe giftiger dweil verskillende soorte eindes
om die wande van ons vrese
my neksenings trek die strop stywer
my oë smelt in knoopsgate van vel
hoe hou ek dan my hande
dat dit ons nie toegemaak kry nie?
my voorkop dommel in vlekke
my elmboë het vratte
reuke ontsnap uit my lyfsak
vertel my tog, my Onontkombare
onbefaam, nouverward
wie was dié liggaam eens
met die lewe as geliefde?
gee my jou milde mond, o Lyfbeminde
hoe sierlik kon ek eens loop in my sandale
hoe skrylings gespan jou dapper hals
om ons hompel die einde met haar vurige tang
ek veg ek veg ek is bang en ek veg ek veg
vir ons een gesamentlike liggaam
omring deur die bakteriese sproei van sterwelinge
bly ons dit sien:
o dood met die lang toue