Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Anton, ons bou graag saam

Die kinders wat in die Anglo-Boereoorlog gesterf het moet met respek en eer behandel word, skryf Danie Langner.

Die Penkopbeeld.

Anton van Niekerk se rubriek (25.06) waarin hy te velde trek teen die onthulling van ’n Penkopbeeld ter herinnering aan die 22 000 “wit kinders” wat in die Anglo-Boereoorlog gesterf het, herinner aan Jacob Rees-Mogg, wat vroeër vanjaar ook die lyding van kinders in konsentrasiekampe misken het.

Anders as Rees-Mogg kan Van Niekerk nie onkunde as verskoning aanvoer nie. Hy doen gereeld en lustig mee aan die openbare spreekkoor vir wie dit ’n stokperdjie is om Afrikaners voortdurend met die lat van die verlede te wiks.

Van Niekerk se anti-Afrikanersentimente is deeglik gedokumenteer, maar hy neem dit nou een stap te ver. Die onsensitiewe en kwetsende wyse waarop hy na die dood van 22 000 kinders verwys, skok. Ons mag verskil, maar kom ons behandel dié kinders met die respek en eer wat hulle verdien.

Onderliggend aan sy argument is ’n eng, ekstreme en onverdraagsame beskouing van inklusiwiteit. Aan die wortel hiervan is die verwagting dat Afrikaners hul taal, geskiedenis, kultuur en tradisies moet onderwerp aan die meedoënlose rassetransformasie wat op die samelewing afgedwing word.

Vir die uniekheid van kultuurgemeenskappe en hul verhale is daar in die inklusiwiteitsbeskouing geen plek nie. Selfs al skep die Grondwet ruimte vir diversiteit en kulturele identiteit, irriteer dit die verteenwoordigers van onverdraagsame inklusiwiteit grensloos.

Die meesterverhaal van onverdraagsame inklusiwiteit is voorspelbaar. Geskiedenis moet slegs aan die hand van apartheid beoordeel word, want anders kan rassetransformasie nie geregverdig word nie. Afrikaners durf nie trots wees op die prestasies van hul voorouers nie, want apartheid het al die goeie bouwerk en uitnemende prestasies van die verlede tot niks gemaak. Afrikaners mag nie kinders van konsentrasiekampe vereer sonder ’n rits politiek korrekte voorwaardes nie. Afrikaners se woorde en dade word beoordeel aan die hand van ’n wit-teen-swart-rasbeskouing, wat wit en swart mense skaamteloos teen mekaar afspeel.

Wanneer argumente opdroog, word die holruggeryde cliché dat Afrikaners na apartheid terughunker, roekeloos rondgeslinger. Fop-nuus skep die klimaat hiervoor. Die slot is altyd dieselfde. Wit mense word ontmasker as sou hulle die lyding en opoffering van swart mense misken.

Hulle sê ons mag trots wees op wie ons is en op die bouwerk van ons voorouers. Hulle bou nie net monumente nie, maar ook toekomsgerigte organisasies, ondernemings, skole en ’n nuwe Afrikaanse universiteit.

Afrikaners en Afrikaner-organisasies wat nie gedienstig, gedwee en skuldig die nek onder die juk van die meesterverhaal buig nie, sal as rassiste verdoem word.

Cassie Aucamp is in die kol met sy beswaar teen Van Niekerk se onverdraagsame inklusiwiteit: “Dit is eensydig, onwetenskaplik en bloot onwaar om die totale nalatenskap van ’n hele geslag Afrikaners bloot tot hul sondes en tot apartheid te reduseer.”

Johannes Degenaar, briljante filosoof van Stellenbosch, het reeds in die 1990’s die grondslae en uitkoms van onverdraagsame inklusiwiteit bevraagteken. Die besware val op dowe ore omdat dit nie die heersende orde napraat nie. Die feit is kulturele onverdraagsaamheid skep die teelaarde vir polarisasie en vervreemding wat rassehaat legitimeer en ekstremisme in die hand werk. Dit kan Suid-Afrika nie bekostig nie.

Op dié punt: Geen Afrikaner waarvan ek weet praat van “houthakkers en waterdraers” nie. Ek het nog nooit dié terme by enige van Solidariteit of AfriForum se personeel of lede gehoor nie.

In sy verbete poging om Afrikaners te beledig, is Van Niekerk inderwaarheid diep beledigend teenoor ons medelandsburgers. Dit is wat ’n eng, onverdraagsame inklusiwiteit doen. Dit skep ’n eensydige en valse werklikheid wat ’n mens siende blind maak vir die goeie in ander. Kom ons verskil in waarheid op só ’n wyse dat ons mekaar en ons medeburgers se menswaardigheid respekteer.

Laat dit eens en vir altyd duidelik gestel word: Die FAK glo aan ’n ruimteskeppende en medemenslike Suid-Afrika. Inklusiwiteit beteken vir die FAK om saam te werk aan sake van gemeenskaplike belang en saam te bou aan ’n beter toekoms vir ál Suid-Afrika se kinders.

Die FAK weier volstrek om swart rassisme met wit rassisme te beantwoord en glo dat die meerderheid wit, swart en bruin Suid-Afrikaners mekaar nie haat nie.

Inklusiwiteit beteken vir die FAK dat verdraagsame, ontspanne ruimtes geskep word waar die verskeie kultuurgemeenskappe in Suid-Afrika kan floreer. In ’n verdraagsame begrip van inklusiwiteit is daar vryheid. Vryheid om saam te werk en vryheid om self te doen.

Dit is nie nodig om alles vir almal te probeer wees nie. Die FAK is ontspanne oor die feit dat daar verskillende perspektiewe op die geskiedenis is. Teenoor die voorspelbare uitkoms van die eentonige meesterverhaal, verryk en verdiep verskillende perspektiewe die begrip van ’n komplekse Suid-Afrikaanse verlede. ’n Verdraagsame inklusiwiteit soek balans tussen eenheid en verskeidenheid. Die balans bevorder sosiale kohesie.

Die FAK probeer nie met die bou van nuwe Afrikaner-monumente iemand ’n punt bewys nie, kraak geen kultuurgroepe af nie, probeer niemand verneder of ander se kulturele identiteit te misken nie. Niemand word gedwing, voorgesê of omgekoop om met die Afrikanermonumente te assosieer nie.

Die FAK bou ons Afrikaner-monumente op veilige plekke waar dit beskerm, bewaar en waardeer word. Dit word nie met staatsgeld of belastinggeld gebou nie, maar met die hulp van gewone Afrikaners wat vrywillig tot die geskiedenisfonds bydra.

Hulle sê ons mag trots wees op wie ons is en op die bouwerk van ons voorouers. Hulle bou nie net monumente nie, maar ook toekomsgerigte organisasies, ondernemings, skole en ’n nuwe Afrikaanse universiteit.

Die FAK se lys van Afrikanerbouers, met bewese en uitnemende prestasies, is baie lank. Hul nalatenskap het die toets van tyd deurstaan en dra positiewe vrugte. Die FAK gaan 100 nuwe Afrikaner­monumente bou waarmee ons aan die vergete bouers van ons verlede die erkenning wil gee wat hulle toekom.

Anton, die FAK wil graag saam met jou en enige swart gemeenskap ’n pragtige monument bou wat aan die lyding van swart kinders in die konsentrasiekampe erkenning gee. Voeg daad by die woorde in jou artikel en skenk die geld vir so ’n monument.

  • Dr. Langner is besturende direkteur van die FAK.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.