Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Apartheid anders bedink

Afrikaners wat destyds in beheer van apartheid was en die huidige ANC-elite het een ding gemeen: ’n sentralistiese denkstyl. Maar die geskiedenis is besaai met wrakke weens dié soort denke, skryf Danie Goosen.

Grafika: Hanlie Malan
Danie Goosen

Anders as wat sommige dink, het apartheid nie in die vergetelheid verdwyn nie. Inteendeel, dit speel vandag selfs ’n belangriker rol as in enige ander tyd sedert die amptelike opheffing daarvan.

Buitendien dui alles daarop dat dit nie binnekort gaan verander nie. Apartheid sal vorentoe waarskynlik steeds ’n belangrike rol in die gemoed van onder meer die regerende elite speel. Daar is talle redes hiervoor, maar dit hou met die sukkelende staat verband.

’n Sekere wetmatigheid reguleer die houding van die regerende elite jeens apartheid: Hoe sterker die regering vorentoe op alle vlakke misluk, des te sterker sal dit apartheid voor stok kry.

Indien die staat ’n reusesukses was, sou apartheid vandag waarskynlik veel verder terug in die verlede gelê het. Ongelukkig is dit nie so nie. Ondanks die nuwe presidentskap gaan die staat nie binnekort in ’n modelstaat verander nie. Trek dus maar die gordels nog stywer vas. Apartheid gaan vorentoe nog hewige reaksie uitlok.

Dit laat ons met ’n belangrike vraag: Kan ons ten minste vorentoe anders oor apartheid dink as die vereenvoudigde wyse waarop tans in die openbare “gesprek” daaroor gepraat word?

Goeie versus bose

’n Oorheersende kenmerk van die bestaande gesprek is dat daar – om dit effens geleerd te stel – op ’n “dialektiese” wyse oor apartheid gedink word. Wat word daarmee bedoel?

Kernagtig saamgevat, gaan die dialektiese wyse van dink uit van die gedagte dat die geskiedenis telkens deur ’n spanning tussen twee uitsluitende kragte gekenmerk word, naamlik die spanning tussen dinge soos meesters en slawe, tussen koloniste en gekoloniseerdes, tirannieke patriarge en hul magtelose slagoffers, geslote gemeenskappe en bevryde individue, verstoktes en verligtes, en helaas, tussen die bose en die goeie.

Kenmerkend van die dialektiese styl van denke is dat die geskiedenis op ’n progressiewe wyse na ’n toekoms beweeg waarin die sogenaamde goeie magte uiteindelik ’n oorwinning oor die bose sal behaal. Vreemd genoeg val so ’n goeie (of selfs utopiese) tydperk dikwels met die hede van die dialektiese denkers saam, so asof hulle op die voorpunte van die geskiedenis staan.

Was al die oupas en ooms in my familie uitbuiters, slaners, verskreeuers, ensovoorts? Natuurlik nie.

Ingevolge die dialektiese denke behoort apartheid (maar ook die koloniale era, die tirannieke patriargie, ensovoorts) tot die bose verlede. Tegelyk word die nuwe tydperk deur gelykheid, die afwesigheid van hiërargie, vrede en ekonomiese voorspoed gekenmerk. Indien die nuwe tydperk nog nie aangebreek het nie, is dit bloot omdat “reaksionêre” reste nog halsstarrig aan die apartheidsverlede vasklou.

Nou, wat is fout met hierdie voorstelling van die geskiedenis? Alhoewel dit kwalik ontken kan word dat die geskiedenis dikwels deur sodanige spanninge gekenmerk word, kan dit ook nie daartoe gereduseer word nie. Die geskiedenis is ten ene male oneindig ingewikkelder.

Ek kan kwalik die geskiedenis van my eie familie met behulp van “dialektiese kategorieë” verstaan, wat nog van die ganse geskiedenis van die mensdom.

Was al die oupas en ooms in my familie uitbuiters, slaners, verskreeuers, ensovoorts? Natuurlik nie. Alhoewel diesulkes ook onder hulle voorgekom het, was hulle meestal hardwerkende versorgers, beskermers en ordeliefhebbers. ’n Sogenaamde dialektiese denker is eenvoudig blind hiervoor.

Tegelyk word die dialektiese denke deur interne spanninge verlam. Om slegs een voorbeeld te noem: Terwyl dialektiese denkers voorgee om met alle vorme van hiërargie weg te doen, rig hulle self ironies genoeg telkens weer tirannieke hiërargieë op. Julius Malema is ’n tipiese voorbeeld. In aansluiting by die voorbeeld van Lenin en Stalin regeer hy sy eie party met ’n ystervuis. Geen onderlinge verskille word geduld nie.

Vergelykende denke

Bogenoemde opmerkings bring ons by ’n ander styl van denke. Dit kan as die “vergelykende” styl van denke beskryf word.

Ingevolge die vergelykende benadering word in die lees van die geskiedenis eerder van relatiewe kategorieë soos “beter” of “slegter” as absolute kategorieë soos “boos” of “goed” gebruik gemaak. Dit stel ons in staat om die verwikkelde (of ironies-tragiese) aard van die geskiedenis te begryp – dit alles sonder om ’n verskoning te bied vir diegene wat hulle in die geskiedenis aan dinge soos geweld, verdrukking en verkragting skuldig gemaak het.

Hoe hanteer vergelykende denkers apartheid? ’n Eerste voorbeeld van hul werkswyse is om apartheid onder meer met die res van Afrika tydens dieselfde tydperk te vergelyk. Tipiese vrae wat in hierdie verband gevra word, is hoe die bevolkingsgroei, lewensverwagtinge, mediese dienste, onderwys, ontwikkeling van inheemse tale, infrastruktuur, beweeglikheid, ekonomiese groei en inkomste per capita onder apartheid met die res van Afrika vergelyk het.

Uit hierdie vergelykings tree ’n ander beeld op apartheid na vore as die voorstelling dat dit slegs ’n bose verskynsel was. Bykans op elkeen van genoemde kwessies het die apartheidsbewind nie slegter nie, maar beter as die res van Afrika presteer.

Alvorens egter hieruit afgelei word dat die vergelykende benadering apartheid goedpraat, is daar ook ’n magdom ander sake in vergelyking waarmee apartheid eerder slegter as beter daaraan toe was.

As ons dieselfde verwoesting wil voorkom, sal ons denkstyle moet gebruik wat die verwikkelde aard van die geskiedenis behoorlik begryp. Die vergelykende benadering is so ’n benadering.

Ek verwys slegs na een voorbeeld. Dit het betrekking op die Afrikaners wat aan die spits van apartheid gestaan het. Tydens die 20ste eeu het die Afrikaners ’n sentralistiese opvatting van die staat gehuldig (sowel die Unie uit 1910 as die Republiek van 1961 het die mag in die hande van die destydse meerderheid geplaas). Uit ’n vergelykende perspektief is dit ’n vraag waarom Afrikaners uit dié tyd die federatiewe denke elders in die Westerse wêreld afgewys en met ’n sentralistiese denkstyl volhard het.

Afrikaners sou in so ’n vergelyking sterker onder die indruk kon gekom het van die destruktiewe gevolge wat met dinge soos trekarbeid, die passtelsel en die gedwonge verskuiwing van gemeenskappe tydens apartheid gepaardgegaan het – alles dinge wat met die ernstige verlies aan menswaardigheid vanuit die staatsentrum op die ander gemeenskappe afgedwing is.

In vergelyking met die federatiewe staat sou Afrikaners ook ’n beter besef gehad het van die feit dat dit veel beter as die sentrumsoekende staat geskik is om ’n onontsnapbare kenmerk van die land te begryp, naamlik sy gedifferensieerde, veelkantige of verwikkelde aard.

Terloops, laasgenoemde wesenskenmerk word ook vandag nie deur die heersende, sentrumsoekende elite begryp nie. Volgens hulle moet alles tot ’n ongedifferensieerde en verstikkende eenheid terug herlei word.

Waarom is die onderskeid tussen bogenoemde denkstyle so belangrik? Omdat die geskiedenis van die afgelope eeue besaai is met die wrakke wat die dialektiese denke in sy verwoestende werking nagelaat het.

As ons dieselfde verwoesting wil voorkom, sal ons denkstyle moet gebruik wat die verwikkelde aard van die geskiedenis behoorlik begryp. Die vergelykende benadering is so ’n benadering.

  • Prof. Goosen is voorsitter van die FAK-direksie.
Meer oor:  Aktueel  |  Mening  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.