Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Apartheid skiet wortel in Israel en Palestyne se konflik

Kan die term“apartheid” buite sy Suid-Afrikaanse konteks gebruik word wanneer Israel se optrede teenoor Palestyne ter sprake kom, vra Leonie Fleischmann.

’n Aktivis word in 2018 deur die polisie van Israel in hegtenis geneem. Foto: Getty Images

Diskriminasie teen Palestyne in Israeliese wette en beleid is niks anders nie as die misdaad van apartheid, aldus ’n onlangse verslag van Human Rights Watch.

Die verslag van 213 bladsye, wat op 27 April bekendgestel is, beskuldig Israel daarvan dat hy ’n stelsel van apartheid bedryf in die besette Palestynse gebied. Dit kom tot die gevolgtrekking dat “dit in sekere gebiede . . . neerkom op misdade teen die mensdom en vervolging”.

Dit is nie die eerste keer wat die woord “apartheid” op Israel en Palestina van toepassing gemaak word nie. Palestyne het hul daaglikse ervarings al minstens sedert die middel van die 1960’s op dié manier beskryf. Maar die verslag van die internasionale menseregteorganisasie het dié woord deel van die hoofstroom van die openbare debat gemaak.

Benewens die vlak van retoriek, dui sulke uitdrukkings ook op verskillende wetlike raamwerke en die verpligtings van Israeli’s en Palestyne.

Taal speel ’n belangrike rol in die retoriek rondom Israel en Palestina, soos ek in my boek oor anti-besettings en menseregteaktivisme in Israel verduidelik het.

Verskillende ideologiese perspektiewe word weerspieël in verwysings na die “Israeli-Palestynse konflik”, “Israel se militêre besetting”, “Israeli setlaar-kolonialisme” of “Israeli-apartheid”.

Benewens die vlak van retoriek, dui sulke uitdrukkings op verskillende wetlike raamwerke en die verpligtings van Israeli’s en Palestyne.

Hoewel dit belangrik is om die akkuraatheid van die verslag te probeer bepaal, is dit ewe belangrik om die uitdrukking “apartheid” te verstaan sowel as die gevolge daarvan as die situasie as apartheid bestempel word.

Oorsprong van die woord ‘apartheid’

Die skeiding tussen rasse was een van die vernaamste kenmerke van apartheid in Suid-Afrika. Foto: Getty Images

Die woord “apartheid” het die eerste keer inslag gevind as ’n ideologie en stuk politieke gereedskap nadat die Nasionale Party op grond daarvan die verkiesing van 1948 in Suid-Afrika gewen het.

Dit het die skeiding van verskillende rassegroepe voorgestaan.

Apartheid was aanvanklik na bewering veronderstel “om die gelyke ontwikkeling en vryheid van kulturele uitdrukking” van die onderskeie rassegroepe te bevorder en hulle toe te laat om “hul eie sake te bestuur”.

Maar in die praktyk het die stelsel die wit minderheid bevoordeel en teen swart mense, bruin mense en mense van Asiatiese afkoms gediskrimineer.

Tot en met die einde van apartheid in die vroeë 1990’s het ’n stelsel van wette die skeiding van rasse en diskriminasie teen mense wat nie wit was nie verseker.

Apartheid was gegrond op Afrikaners se vrees dat die “stygende gety van kleur” hul bestaan sal bedreig.

Die stelsel was daarop gemik om die mag van mense wat nie wit was nie te verminder en hulle van mekaar te skei en die swart bevolking te skei op grond van die stamme waarvan hulle lid was.

Wetgewing oor rassesegregasie is al sedert die middel van die 1850’s afgedwing. Maar die ideologie van die Nasionale Party is nie tot 1950 afgedwing nie.

Dit was toe die Wet op Bevolkingsregistrasie die basiese raamwerk vir apartheid daargestel het deur mense op grond van hul ras te klassifiseer.

Tot en met die einde van apartheid in die vroeë 1990’s het ’n stelsel van wette die skeiding van rasse en diskriminasie teen mense wat nie wit was nie verseker.

Internasionale misdaad

Mense betoog onlangs in die strate van Gasa teen die uitstel van die parlementêre verkiesing in Palestina. Foto: Getty Images

Sedert 1962 het die algemene vergadering van die Verenigde Nasies (VN) die Suid-Afrikaanse beleid van apartheid elke jaar veroordeel as iets wat teen die handves van dié organisasie is.

Maar die VN het dade van apartheid eers in 1973 tot ’n misdaad ingevolge die internasionale reg verklaar met die Konvensie oor die Onderdrukking en Straf van die Misdaad van Apartheid.

Ander lande, soos China en Saoedi-Arabië, is ook daarvan beskuldig dat hulle praktyke in stand hou wat neerkom op die misdaad van apartheid.

In 2002 het die Rome Statuut van die Internasionale Geregshof die misdaad van apartheid tot ’n “misdaad teen die mensdom” verklaar. Dit sluit in “onmenslike dade . . . wat gepleeg word in die konteks van ’n geïnstitusionaliseerde regime van sistematiese onderdrukking en oorheersing van een rassegroep oor enige ander rassegroep”.

So, hoewel die term “apartheid” sy oorsprong in Suid-Afrika gehad het en internasionale wetgewing die eerste keer in reaksie tot die situasie in Suid-Afrika geformuleer is, is die misdaad soos beskryf onder internasionale wetgewing ook veronderstel om op ander situasies van toepassing gemaak te word.

Ander lande, soos China en Saoedi-Arabië, is gevolglik ook daarvan beskuldig dat hulle praktyke in stand hou wat neerkom op die misdaad van apartheid.

Human Rights Watch het ’n studie soortgelyk aan die een oor Israel in Mianmar gedoen en die regering in dié land se vergrype teen minderheidsgroepe gedefinieer as misdade van apartheid.

Maak terminologie saak?

’n Vrou betoog in April in Gasa teen Israel se optrede tydens onrus in Jerusalem. Foto: Getty Images

Hoewel apartheid ’n universele regsterm geword het, fokus besprekings oor die verslag van Human Rights Watch en vroeëre beskuldigings van Israeli-apartheid op die feit of dié term relevant is vir situasies in ander lande benewens Suid-Afrika.

Diegene wat die term gebruik, wys dikwels op ooreenkomste met Suid-Afrikaanse apartheid en diegene wat dit verwerp, lê weer klem op die verskille.

In baie gevalle word die term as ’n retoriese middel gebruik om die ernstige aard van die vergrype te beklemtoon en om teenstand soortgelyk aan dié van die anti-apartheidsbeweging van stapel te stuur.

Ander verwerp sulke beskuldigings en gebruik die term “Israeli-Palestynse konflik”. Dit gee te kenne dat daar twee groepe by die konflik betrokke is en dat dit slegs opgelos kan word deur samesprekings tussen albei groepe.

In Suid-Afrika het die kwessie nie gegaan oor of daar ’n beleid of stelsel van apartheid was of nie. Die debat het gefokus op die kwessie of mense van verskillende rasse dieselfde regte moet hê.

Heelwat van die teenstand teen militêre besetting het te doen met hoe om die balans te herstel en die regte van die bevolking wat beset word te beskerm.

Die terminologie wat gebruik word, is nie net ’n kwessie van retoriek nie – dit bepaal die regsraamwerk.

Ingevolge huidige internasionale reg, word die Wesoewer, die Golan Hooglande en Oos-Jerusalem gedefinieer as besette gebiede. Dit word onderwerp aan Israeliese militêre besetting ná die oorlog van 1967. Die wette van besetting is gegrond op bepalings van die internasionale reg oor gewapende konflik.

Dié regsraamwerk het ten doel om die veiligheidsbelange van die besettingsmag met die belange van die plaaslike bevolking te balanseer totdat ’n oplossing bereik word.

Die gevolge, soos verduidelik deur die regskenner Eyal Benvenisti, is dat “alle besettings in wese ’n potensiële – indien nie inherente nie – botsing van belange bevat” tussen besetters en diegene wat onder besettings moet lewe.

Dit is egter die besettingsmag wat die mag het om te besluit waar die balans lê. Daarom het heelwat van die teenstand teen militêre besetting te doen met hoe om die balans te herstel en die regte te beskerm van die bevolking wat beset word.

Betogers in 2018 in Dublin met plakkate wat Israel van apartheid beskuldig. Foto: Getty Images

Ander oorwegings en kwessies kom na vore as die raamwerk anders gedefinieer word.

As die regsterm “apartheid” gebruik word, wys die vinger net in een rigting – dan word een party nie net daarvan beskuldig dat dit onwettig is nie, maar ook dat hy ’n misdaad teen die mensdom pleeg.

Maak terminologie saak vir diegene wat elke dag te doen kry met diskriminasie en die daaglikse vertrapping van hul regte?

Dan gaan die simmetrie van die term “konflik” verlore en die regverdiging van “redelike” of “proporsionele” dade wat voortvloei uit die regsraamwerk van besetting. Terminologie maak saak.

En tog, maak terminologie saak vir diegene wat elke dag te doen kry met diskriminasie en die daaglikse vertrapping van hul regte?

Of dit nou apartheid, besetting of konflik is, as daar nie daadwerklike stappe is om ’n oplossing te kry nie, blyk dit of die vraag bly wie verdien regte en wie verdien nie regte nie en wie besluit daaroor?

• Fleischmann is ’n dosent in internasionale politiek by die Universiteit van Londen. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.


Meer oor:  Verenigde Nasies  |  Human Rights Watch  |  Palestina  |  Suid-Afrika  |  Mianmar  |  Saoedi-Arabië  |  China  |  Israel  |  Apartheid  |  Menseregte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.