Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Apartheid was misdaad én sonde gepleeg deur Christene’

Suid-Afrika durf nie toelaat dat die uitlating van oudpres. FW de Klerk Projek Versoening van koers af dwing nie. Maar dit was ’n skop in die maag, skryf Michael le Cordeur.

Bordjies soos hierdie kragtens die Wet op Afsonderlike Geriewe was algemeen in apartheid-Suid-Afrika.Foto: Wikipedia

Ek het grootgeword in Verlate Kloof, ’n arm woongebied wat, soos die naam aandui, aan die buitewyke van Wellington geleë is. Ons het soontoe getrek nadat ons in die vroeë 1960’s ingevolge die Groepsgebiedewet uit Fonteinstraat in die wit woongebied moes trek.

Volgens my bejaarde moeder was ek nog maar “in die prêm” en my ouer broer André “op die heup”.

Sy vertel dat toe sy en my pa (wat ons nodigste goedjies op sy fiets gelaai het) omkyk, was hulle net betyds om te sien hoe die bulldozers ons huis en my pa se krisantetuin platstoot. Dit is ’n pyn wat nie in jou klere gaan sit nie. Vandag staan daar ’n ouetehuis vir wit mense. Maar die appelkoosboom in ons agterplaas is steeds daar. My pa het dit eendag vir my gaan wys.

Botterberg

Ons het aan die onderpunt van Pentzstraat gewoon, in ’n huisie wat my pa met ons hulp stuk-stuk aangebou het met stene wat ons op Botterberg uitgegrawe het.

Almal weet van Distrik Ses. Min mense weet van Botterberg in Wellington, waar bruin mense se huise platgestoot is en hulle verskuif is na Hillcrest – toe nog ’n onherbergsame gebied waar flaminke, pelikane en tarentale vry rondgeloop het. Dit verklaar die name van die strate in dié woonbuurt.

Daar is ’n storie van die man wat ná werk huis toe gegaan het en na sy huis gesoek het. Dit was platgestoot. Daar was niks oor nie. ’n Amptenaar het ’n brief in sy hand gestop met die nuus dat hy nou in Paton Place woon. Sy vrou was reeds daar.

Niemand het daaraan gedink om die skool oor te dra na die bruin gemeenskap, wie se skool op daardie stadium reeds uitmekaargeval het nie.

Soggens moes ons verby die wit Hugenote Laerskool stap; ’n pragtige dubbelverdiepinggebou met ’n groot rugbyveld aan die voorkant waar belangrike Boland-wedstryde gespeel is. Toe met die Groepsgebiedewet word ’n splinternuwe skool in Genl.Hertzoglaan, ver van die bruin mense af, gebou.

Daardie skool het jare lank leeg gestaan en die rugbyveld het tot niet geraak. Niemand het daaraan gedink om die skool oor te dra na die bruin gemeenskap, wie se skool op daardie stadium reeds uitmekaargeval het nie. Dat die rugbyveld ’n lekker speelplek vir ons kon wees, het by niemand opgekom nie.

Vandag, 48 jaar later, is daai rugbyveld steeds onbenut, en is daar steeds nie ’n enkele huis op Botterberg gebou nie. Die skool het darem intussen ’n daghospitaal geword.

Nog ’n bordjie wat mense van verskillende rasse geskei het. Foto: Wikipedia

‘Boerebads’

Aan die bopunt van Pentzstraat was ’n pragtige munisipale swembad. Almal weet hoe warm Wellington in die somer kan word. Ek moes my hele kinderlewe toekyk hoe wit kinders met handdoeke oor hul skouers gaan swem in wat ons die “Boerebads” genoem het. Ek moes van baie klein af leer dat daardie swembad “Slegs vir Blankes” is – iets wat ek nooit kon verstaan nie.

Ons moes met akrobatiese toertjies ons pad vind tussen die klippe en rotse van Seepunt se gevaarlikste stukkie strand.

Ons “swembad” was die gevaarlike Bergrivier aan die onderkant van Pentzstraat, al het ons ouers ons verbied om daar te swem. Maar ons móés iets doen om aan Hellington (!) se hitte te ontsnap.

Desembervakansies het ons darem see toe gegaan, maar die spierwit strande van Clifton was ons nie beskore nie. Ons moes met akrobatiese toertjies ons pad vind tussen die klippe en rotse van Seepunt se gevaarlikste stukkie strand.

Gaan agterom!

Jy moes jou pos by die poskantoor met sy twee deure gaan haal: Een vir wit mense in Kerkstraat en een in Van Riebeeckstraat vir die res van ons. As jy siek was, moes jy “agterom” na die dokter se bruin spreekkamer gaan. Ongeag hoe siek jy was, jy moes geduldig jou beurt afwag totdat die dokter eers na elke wit pasiënt omgesien het.

En sal ons ooit kan vergeet dat Adam Small om ’n permit aansoek moes doen om na sy eie drama in die Nico Malan-teater te gaan kyk?

Jy kon nooit jou meisie uitneem na ’n restaurant nie, en as jy en jou vrou op vakansie gaan, moes jy by vriende oornag want hotelle se beddens was “Whites Only”. Ons kon slegs toekyk hoe wit mense in styl kuier terwyl ons buite op die sypaadjie moes sit en eet.

En sal ons ooit kan vergeet dat Adam Small om ’n permit aansoek moes doen om na sy eie drama in die Nico Malan-teater te gaan kyk? Dat die Eoan-groep om ’n permit aansoek moes doen om in die Kaapse stadsaal op te tree waar wit en bruin mense apart gesit het?

Die Sendingkerk in Wellington wat eens op ’n tyd aan die bopunt van Kerkstraat reg oorkant die “wit” Moederkerk gestaan het. Vandag is daar net ’n gedenksteen.Foto: Verskaf

Die een ding wat vir my moeilik is om te vergewe, is dat ons kerk, die oudste Sendingkerk in Suid-Afrika wat vanjaar 200 jaar oud is, afgebreek is. Ons vier vanjaar fees – maar mis ons kerk.

Vir dood agtergelaat

En toe moes ons kollege toe. Wellington het ’n onderwyskollege gehad met verskeie koshuise waar ons mammas die beddegoed gewas het. Tog moes ons soggens vyfuur opstaan en ’n trein om sesuur haal, en in die derde klas na Bellville ry. (Eersteklas was slegs vir wit mense en tweede klas vir die ryk bruin mense.)

Soms moes jy wag vir ’n trein en op die banke sit wat duidelik “Non-Europeans Only” gemerk was. In Bellville moes jy oorklim na ’n ander trein tot by Werkgenot of Unibell waar die Bellville-Kollege en UWK geleë is.

Winter en somer, wind en reën. Vier jaar lank. Maar ons het vasgebyt, want UWK het ons geleer: “Freedom is coming.”

In die chaos het ek geval, en die soldate het my met hul knuppels geslaan, en geslaan . . . totdat ek my bewussyn verloor het.

In die UWK het ek betrokke geraak by studentepolitiek en teen apartheid betoog. Op ’n dag het dinge baie rof geraak. PW Botha se soldate het ingekom en op die studente losgebrand. In die chaos het ek geval, en die soldate het my met hul knuppels geslaan, en geslaan . . . totdat ek my bewussyn verloor het.

Ek is vir die dood agtergelaat; waar die tweeling Maxine en Evelyn Oppelt my opgetel en na die kweekskool se koshuis gesleep het. Daar het Russel Botman vir ons oopgemaak en my weggesteek. My ouers was rasend van bekommernis.

Tydens die bewind van oudpres. PW Botha het Michael le Cordeur aan ’n betoging by die UWK deelgeneem. Hy het in die chaos geval en die soldate het hom met hul knuppels geslaan, en geslaan . . . totdat hy sy bewussyn verloor het. Hy is vir dood agtergelaat. Foto: Argiewe

Ontwortel

Mense is ontwortel en ver buite die stad of die dorp gegooi. Op die Kaapse Vlakte, maar ook elders, moes woonbuurte, skole en kerke sonder borge met net skamele geldinsamelings gebou word. Met hul karige salarisse moet mense vandag nog taxi’s en busse en treine haal om by hul werk te kom.

Ons beste sportmanne soos Basil d’Olviera (krieket), David Samaai (tennis) en Green Vigo (rugby) kon nooit hul land verteenwoordig nie en moes hul heil oorsee gaan soek. Vir hulle is die ou vlag ’n simbool van apartheid. “Die Stem” laat ’n bitter smaak in die mond.

Wit skole is gebou met koshuise, sportvelde en ’n saal. Bruin en swart skole het net die heel nodigste gekry.

Ek is jammer as ek mense gaan seermaak, maar ek sou die leser nog lank kon verveel met die tuislandbeleid wat niks anders as ’n kweekhuis vir goedkoop arbeid vir die myne op die Hoëveld was nie. Daar is die kwessie van hoe min geld aan ’n bruin en swart skoolkind bestee is teenoor die geld wat aan ’n wit skoolkind bestee is. Daardie hulpbronne is steeds aanwesig in die model C-skole en word steeds van die meerderheid van ons land se kinders weerhou.

Wit skole is gebou met koshuise, sportvelde en ’n saal. Bruin en swart skole het net die heel nodigste gekry. Koshuise was en is steeds dun gesaai en kinders moet wind en reën trotseer en kilometers loop om by die skool te kom.

Afrikaans en Engels was die enigste amptelike tale en is uit die belastinggaarder se koffer bevoordeel terwyl ons inheemse tale tot die woestyn verban is. Vandag is daar allerhande aksies om die saak te beredder. Maar helaas: Dis te min, en te laat.

Vryheid uiteindelik!

En toe, uit die bloute, besluit De Klerk om Nelson Mandela vry te laat. Ek was bevoorreg om die aanbreek van die nuwe Suid-Afrika eerstehands te beleef. My krieketklub sou die Sondag ’n wedstryd speel, maar ons het dadelik die wedstryd laat vaar en ons na die Victor Verster-gevangenis gehaas.

Oudpres. Nelson Mandela op 11 Februarie 1990 op die Kaapse Parade toe hy ná 27 jaar in die tronk die eerste keer die Suid-Afrikaanse nasie toegespreek het. Foto: Getty Images

Weens die reuse-skare het ons oorkant die hek ’n heuwel uitgeklim en van daar in Februarie se kwaai son die historiese oomblik beleef. Toe die skare daarna afsit na die Parade in Kaapstad, het ons op die ingewing van die oomblik besluit om agter die stoet aan te ry. Daardie rit sal my altyd bybly. ’n Stoet van kilometers lank in albei bane van die N1 tussen die Paarl en die Kaap. Almal het gejuig, vlae het deur motorvensters gewapper en motortoeters het ononderbroke Mandela se vryheid aangekondig.

Op die Parade het ons onder die palmbome voor die stadsaal plek gekry. Tot vandag toe koester ek Mandela se toespraak en veral die woorde: “Friends, comrades and fellow South Africans. I stand before you not as a prophet but as a humble servant of you, the people.”

Madiba en sy vrou van destyds, Winnie Madikizela-Mandela, kort ná sy vrylating op 11 Februarie 1990. Foto: Getty Images

Die wanhoop van apartheid het plek gemaak vir hoop, vryheid en demokrasie waarvan ons gedroom het. Vir sy dapper optrede is De Klerk saam met Madiba met die Nobelprys vir vrede beloon.

‘Ons het nie geweet nie’

In die nuwe, oop samelewing het wit mense oornag ons kollegas geword. In gesprekke het ons dikwels oor die verlede gepraat. Dan het dit my altyd verbyster as wit mense gesê het: “Ons het dit nooit geweet of besef nie.”

Julle het nooit gesien hoe ou mense en swanger vroue agter in die bus moes staan terwyl van die voorste (slegs vir wittes) sitplekke oop was nie? Ag nee, kom nou!

En dan dink ek by myselwers: “So julle het nie die Slegs Blankes-kennisgewings gesien nie? Julle het nooit agtergekom dat net wit mense in die swembad swem nie? Julle het nooit gesien hoe julle eerste gehelp word in die poskantoor terwyl ’n lang tou bruin en swart mense geduldig hul beurt moes afwag nie?

“Julle het nooit gesien hoe ou mense en swanger vroue agter in die bus moes staan terwyl van die voorste (slegs vir wittes) sitplekke oop was nie? Ag nee, kom nou! Hoe dom dink julle is ons?”

Oudpres. FW de Klerk laat sak sy kop gedurende verlede week se staatsrede. Foto: Jaco Marais

Toe ek dus die eerste keer die gewraakte uitlating lees op sosiale media dat De Klerk gesê het dat apartheid nie ’n misdaad teen die mensdom was nie, het ek vir myself gesê dit kan nie waar wees nie. Iemand is besig om fopnuus te versprei.

Toe dit uiteindelik tot my deurdring dat De Klerk wél die woorde geuiter het, het dit soos ’n skop in die maag gevoel. En jou vyande het dadelik gereed gestaan met uitlatings soos: “Ons het julle mos gesê”/ “Julle het te maklik vergewe”/ “Hulle smile met jou maar weet jy regtig wat in hul hart aangaan?” En: “Nou weet julle waarom ons nooit vir die Springbokke sal skree nie,” ensovoorts.

Michael le Cordeur: “Diegene wat Zuma se optrede wil gelykstel aan die onreg van apartheid, het geen benul wat apartheid aan ons gedoen het nie en het dit waarskynlik nooit aan hul eie lyf gevoel nie.” Foto: Foto24

Wat van Zuma?

Die hartseer van De Klerk se onbesonne uitlating is dat dit die potensiaal het om Suid-Afrika heeltemal terug te sit. Dit was soos om daai bordspeletjie te speel; jy gooi die dice en jy beweeg vorentoe, stadig maar seker, en dan, net soos jy dink jy is by die wenpaal, tref jou dice ’n slaggat met die woorde: Jy het oortree, gaan terug en begin van vooraf.

Diegene wat Zuma se optrede wil gelykstel aan die onreg van apartheid, het geen benul wat apartheid aan ons gedoen het nie ...

Ek moet ook hier ’n ander perspektief bybring wat ek die afgelope tyd meer en meer begin hoor, veral uit wit geledere. “As De Klerk sy sondes kon bely, moet Jacob Zuma en die staatskapers dieselfde doen. En as apartheid ’n misdaad teen die mensdom was, dan is staatskaping ook ’n misdaad teen die mensdom”.

Diegene wat Zuma se optrede wil gelykstel aan die onreg van apartheid, het geen benul wat apartheid aan ons gedoen het nie en het dit waarskynlik nooit aan hul eie lyf gevoel nie.

Suid-Afrikaners moet in gedagte hou dat wat Zuma en sy trawante gedoen het, word tans deur die Nasionale Vervolgingsgesag ondersoek omdat daar ’n sterk vermoede bestaan dat misdade gepleeg is. Hy sal uiteindelik in die hof verskyn en indien hy skuldig bevind word, sal hy gevonnis word.

Prof. Michael le CordeurFoto: Verskaf

Die probleem met apartheid is dat hierdie beleid deur die destydse regering gewettig is. Amptenare wat byvoorbeeld mense se huise afgebreek het, is nooit vervolg nie. Daarom was dit belangrik vir die Verenigde Nasies om apartheid tot ’n misdaad te verklaar en vir die Wêreldraad van Kerke om apartheid tot sonde te verklaar.

Apartheid was onmenslike geweld deur ’n regering wat op sy eie landsburgers jag gemaak het.

Laat daar geen twyfel daaroor wees nie: Apartheid was ’n misdaad teen mede-Suid-Afrikaners. En méér: Apartheid was onmenslike geweld deur ’n regering wat op sy eie landsburgers jag gemaak het. Apartheid was sonde gepleeg deur Christene.

Ons kan vergewe, maar nie vergeet nie

Die meeste van my tydgenote wat onder apartheid gely het, (nie almal nie) het reeds vergewe. Maar moenie van ons verwag om te vergeet nie. Dáárvoor lê die pyn en hartseer wat deur apartheid veroorsaak is te diep.

De Klerk se woorde het al die ou wonde weer oopgekrap.

Persoonlik dink ek nie ons hoef van vooraf te begin nie. Suid-Afrika se Projek Versoening het dalk die wind van voor gekry en dit sal harde werk kos om gesindhede te herstel. Daar sal weerstand van albei kante wees. Versoening en vreedsame naasbestaan strek nie alle politieke partye tot voordeel nie. Daar is baie munt te slaan uit burgers wat woedend vir mekaar is.

Te oordeel na die stortvloed (meestal negatiewe) kritiek wat die afgelope tyd uit wit geledere gekom het, is dit duidelik dat nog baie wantroue en selfs haat aan die ander kant bestaan.

Oudpres. FW de Klerk verlede week in die parlement waar hy ’n gas by pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede was. Die EFF het daarop aangedring dat hy die parlement verlaat weens sy stelling dat apartheid nie ’n misdaad teen die mensdom was nie. Foto: Jaco Marais

Ramaphosa se steelhoue na De Klerk op 11 Februarie vanjaar (dat Mandela se vrylating nie weens die welwillendheid van De Klerk was nie) was die regte ding om te sê maar op die verkeerde tyd en verkeerde plek. Dit is ’n ANC-leier aan die woord. Ons verwag ’n meer genuanseerde benadering van die president van Suid-Afrika wat met jaloesie sal waak oor ons jong demokrasie se brose eenheid, pleks daarvan om meer onrus te stook.

Ek gun hom (De Klerk) ’n rustige aftrede.

Ek vermoed dat De Klerk hierna stilweg uit die openbare oog gaan verdwyn. Met die skryf van hierdie artikel het hy die volk reeds om verskoning gevra maar of hy (en sy stigting) hierdie krisis gaan oorleef, sal gesien moet word. Ek gun hom ’n rustige aftrede.

Dit gaan ’n opdraande stryd wees om Projek Versoening weer aan die gang te kry. Maar ek is tog oortuig daarvan dat ons die afgelope 30 jaar genoeg welwillendheid in Bank Suid-Afrika belê het om ons deur hierdie krisis te dra. Maar dit vereis geloofwaardige en onverskrokke leiers, manne en vroue wat met oortuiging kan lei sonder om alewig oor hul skouers te kyk.

Of Ramaphosa en sy kabinet oor hierdie vaardighede beskik, sal net die tyd leer.

*Prof. Le Cordeur is hoof van die departement kurrikulumstudie aan die Universiteit Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.