Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Art. 25 móét behou word

Die Grondwet is deel van die post-’94 sosiale kontrak wat nou aan die verbrokkel is, skryf dr. Braam Hanekom.

Die verandering van die Grondwet is tans baie in die nuus en die voorgestelde verandering lok, afhangende vanuit watter hoek jy daarna kyk, hewige en verskillende reaksies uit.

Dalk is dit goed om ’n treetjie terug te gee om na behore te verstaan wat op ’n dieper vlak hier aan die gang is. Die voorgestelde verandering van die Grondwet, wat grondonteiening sonder vergoeding moontlik gaan maak, is veel meer as die blote verandering van die Grondwet. Eintlik is dit ’n verdere aanduiding dat die sosiale kontrak wat in 1994 gesluit is, aan die verbrokkel is.

’n Sosiale kontrak het baie gesigte, waarvan die institusionele kant (Grondwet) maar een is. Daar is die persoonlike inkoop en informele verbintenisse wat mense aangaan om in te val by ’n bepaalde samelewings- en maatskaplike orde. Daar is gedragskodes wat optrede teenoor mekaar bepaal en veel meer.

Die voorgestelde verandering van die Grondwet is ’n aanduiding dat daar groot skuiwe in mense, en veral die magshebbers, se siening plaasgevind het oor die sosiale kontrak wat in 1994 aangegaan is. ’n Paar dinge moet verstaan word.

Baie van die oorspronklike onderhandelaars is óf dood óf nie meer deel van die (politieke) stelsel nie. Ons werk dus met ’n “kontrak” wat deur ander geskryf is. Die voorgestelde verandering aan die kontrak word gedryf deur mense wat nie meer die partye, wat in 1994 aan die onderhandelinge deelgeneem het, as relevant beskou nie. Baie meen dat die kontrak nie meer dienlik is om te doen wat gedoen moet word nie. ’n Nuwe kontrak is dus nodig, maar die probleem is dat dié kontrak, anders as in 1994, nou eensydig opgestel word. Emosionele verbintenisse wat eens op ’n tyd aangegaan is, het om ’n verskeidenheid redes verbrokkel. Die kontrak is dus sowel op 'n formele (wetlike) as informele (persoonlike aanvaarding) vlak onder beleg en druk.

Die grootste belofte wat nie gehou is nie is dié van ’n nierassige Suid-Afrika.

Artikel 25 van die Grondwet gaan oor eiendomsreg, waarvan grond ’n klein onderdeel is. Grondonteiening sonder vergoeding is maar ’n deeltjie van die gevare wat voorlê indien die artikel geskrap word. Die ekonomie van die land is onder meer op eiendomsreg gebou. Verder is grondonteiening sonder vergoeding lankal moontlik en is dit reeds verskeie kere in die verlede al gedoen. Die groot waarde van art. 25 is dat dit wigte en teenwigte daarstel wat onverantwoordelike vergrype teenwerk. Die aandrang op die wysiging van die Grondwet is ’n baie groter saak as net grondonteiening sonder vergoeding. Dit dui op die verdere ontworteling van die sosiale kontrak.

’n Mens sou wou redeneer dat ’n gepaste en wyse manier sou wees om verteenwoordigers van die groepe wat 25 jaar gelede onderhandel het, weer om die tafel te kry en te vra of die kontrak nog geldig en dienlik is? Dit lyk egter nie of die huidige magshebbers daarin belangstel nie.

So, hoe nou gemaak? Laat ek eers dit sê. Daar is min regdenkende mense in die land wat nie verstaan dat die grondkwessie ’n onafgehandelde saak is nie. Die probleem is dus nie dat dit hanteer word nie, maar wel die wyse waarop dit gedoen word. Wat duidelik word uit die proses, is dat die regerende party besluit het dat die toekoms van die land en die sosiale kontrak wat sal geld nou deur ander partye bepaal gaan word. Vir baie het wit mense 'n oorbodige, lastige nalatenskap van die koloniale era geword. Die ANC het die NP in die 1990’s ernstig opgeneem. Dit is nou nie meer die geval nie. Die NP bestaan nie meer nie en die DA word nie as ’n bedreiging beskou nie. Alhoewel steeds kleiner, is die EFF ’n veel meer relevante party. Dit is veral met hulle wat die dansvloer gedeel word om die danspassies vir die toekoms uit te werk.

Intussen wonder wit mense in Suid-Afrika oor die toekoms. Kan die Grondwet nog die verskansing bied wat kiesers in 1994 gehoop het dit sal bied? ’n Eie taal, kultuur, waardestelsel, manier van lewe, en veel meer kom in gedrang. Ons het gehoop dat daar ’n sosiale kontrak sou bestaan wat aan ’n diversiteit van gemeenskappe die ruimte sou gee om volwaardige Suid-Afrikaners in eie reg te wees.

Vir baie het wit mense ’n oorbodige, lastige nalatenskap geword

Waarskynlik die grootste kontrakbreuk wat plaasgevind het, was die belofte dat ons ná 1994 sou beweeg na ’n nierassige Suid-Afrika. Mense beleef Suid-Afrika as net so rassisties, en sommige beleef die land as selfs meer rassisties, as voor 1994. Uitsluiting is nie uitgewis nie. Die groepe het net verander.

So, waar laat dit ons? Baie Suid-Afrikaners het ’n fundamentele pessimisme oor politici ontwikkel. Soos wat die NP eens op ’n tyd moes spartel om genoegsame interne eenheid te ontwikkel om konstruktief te onderhandel, spartel die ANC vandag net so met interne eenheid. Vergeet dus maar daarvan dat die oplossing spoedig van ons politieke leiers gaan kom.

Dalk is Chili vir ons ’n waarskuwing en 'n aanduiding van wat kan gebeur. Op 7 Oktober 2019, en in die weke daarna, het gewone mense die land byna afgebrand omdat hulle moeg was vir politici en sakelui wat die land leeg gesteel het. Skade aan infrastruktuur, supermarkte, banke, kerke en busse word nou geskat op tussen $200 miljoen en $300 miljoen. Dit was ’n uiters negatiewe reaksie.

Ons kan dit anders hanteer. Ek het al voorheen gepleit dat gewone Suid-Afrikaners moet moue oprol en begin werk aan ’n nuwe sosiale kontrak wat nuwe waardes sal onderhandel, maar ook onafgehandelde sake soos grondhervorming sal takel.

Dit lyk al hoe meer asof ons sélf sal moet inspring en in plaaslike gemeenskappe en op voetsoolvlak begin. Of ons dit wil weet of nie. In elke dorp bestaan daar ’n ongeskrewe sosiale kontrak. Party mooi en ander vrot. Ook dít moet herskryf word. Dit help nie ons probeer stukkende goed regmaak (Eskom, die SAL, Prasa, munisipaliteite, veiligheid, en al die ander) as die mense wat die land moet regmaak self stukkend, deurmekaar en koersloos is nie.

Is daar hoop? Ek het altyd hoop, maar realistiese hoop daal nie sommer net op jou neer nie. Hoe meer ons moue oprol, hoe sigbaarder word dit.

* Dr. Braam Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis.

Meer oor:  Grondwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.