Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Artikel 25: Feite of verkiesings-politiek

As die proses rondom artikel 25 van die Grondwet ’n jaar later plaasgevind het, en die Ramaphosa-regering was stewig(er) in die saal, sou die uitkoms dalk voorspelbaarder gewees het, skryf Theuns Eloff.

Pres. Cyril Ramaphosa se magsbasis in die ANC is nie so sterk as wat hy dit wil hê nie. Foto: Ian Carbutt

Die spertyd vir die skriftelike voorleggings aan die grondwetlike hersieningskomitee (GHK) oor die wysiging van art. 25 van die Grondwet, was Vrydag.

Duisende Suid-Afrikaners en honderde organisasies het oor die 700 000 skriftelike voorleggings gemaak. Nog tienduisende sal aan die openbare proses deur die hele land deelneem. Dit is waarskynlik die grootste deelname tot nog toe aan enige openbare konsultasieproses.

Die vraag bly: Gaan die parlement en spesifiek die ANC hulle daaraan steur? Of is die nuwe art. 25 klaar geskryf?

As ’n mens net op die feite gaan, kan die regerende party volgens sy eie Nasrec-besluit en die parlementêre mosie nie regtig art. 25 wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak nie.

In lande (kyk maar na Zimbabwe en Venezuela) waar onteiening sonder vergoeding beleid was, het die ekonomie baie skielik en byna heeltemal ten gronde gegaan.

Die parlementêre mosie lui dat die verandering van art. 25 wat onteiening sonder vergoeding moontlik maak, só in werking gestel moet word dat landbouproduksie en voedselsekerheid moet verbeter.

In die verklaring ná die Nasrec-konferensie in Desember 2017 word daar gesê die ANC moet onteiening sonder vergoeding navolg sonder om die landbousektor te destabiliseer, sonder om voedselsekerheid in gevaar te stel en sonder om ekonomiese groei en werkskepping te ondermyn.

In die formele besluit by Nasrec wat in April 2018 vrygestel is, word dit nóg sterker gestel: In die proses om implementeringsmeganismes te bepaal, moet die party verseker dat hy nie toekomstige beleggings in die ekonomie ondermyn nie, dat landbouproduksie en voedselsekerheid nie skade ly nie, en dat ander sektore van die ekonomie nie geskaad word nie.

Onteiening sál skade doen aan ekonomie

Dis betekenisvol dat die parlementêre mosie (waarby pres. Cyril Ramaphosa nie betrokke was nie) net landbouproduksie en voedselsekerheid as “voorwaardes” vir onteiening sonder vergoeding noem. Die ANC se eie besluit het egter ook die veel sterker voorwaardes van werkskepping, ekonomiese groei, beleggings in die ekonomie en ander sektore van die ekonomie bygevoeg.

Die wesenlike belang van die ANC se besluite is dus dat onteiening sonder vergoeding só in werking gestel moet word dat geeneen van hierdie ekonomiese aspekte skade ly nie.

Die komitee, of die ANC of die parlement kan nie 'besluit'dat onteiening sonder vergoeding die ekonomie nie sal skaad nie.

’n Mens hoef nie ’n Nobelpryswenner vir die ekonomie te wees nie om te weet dat dit onmoontlik is. In dié lande (kyk maar na Zimbabwe en Venezuela) waar onteiening sonder vergoeding beleid was, het die ekonomie baie skielik en byna heeltemal ten gronde gegaan.

Laat ek dit reguit sê: Dis onmoontlik om onteiening sonder vergoeding op enige manier in werking te stel en nié ekonomiese groei, toekomstige beleggings, die landbousektor, voedselsekerheid en werkskepping skade te doen en uiteindelik te verongeluk nie.

Onteiening sonder vergoeding mag volgens die ANC nie voedselsekerheid in die gedrang bring nie. Foto ter illustrasie. Foto: Johan van Wyk

Dis eintlik wat die Ramaphosa-ondersteuners by Nasrec gesê het – of hulle dit self besef het of nie. En hierdie voorwaardes vir OSV is deel van die ANC-besluit en gedeeltelik van die parlementêre mosie.

Wat die grondwetlike hersieningskomitee van die parlement moet besef, is dat die toets of onteiening sonder vergoeding (op watter manier ook al geïmplementeer) skade aan die ekonomie gaan doen, nie ’n objektiewe een is nie.

Die komitee, of die ANC of die parlement kan nie “besluit” dat onteiening sonder vergoeding die ekonomie nie sal skaad nie. Die toets is ’n subjektiewe een – die toets word aangelê deur die beleggers en sakemense en boere.

As húlle besluit onteiening sonder vergoeding gaan hul beleggings en hul ondernemings en hul boerderye skade aandoen, dan gaan hulle onttrek, of ophou belê of ophou boer – en dan is die skade daar.

Dié wat geraak word, sal besluit oor skade

Die besluit oor onteiening sonder vergoeding se moontlike skade lê nie by die grondwetlike hersieningskomitee of die parlement nie – dit lê by die mense wat gevaar loop om hul beleggings, grond en eiendom te verloor. As daar maar ’n sweempie van twyfel oor die uitwerking van onteiening sonder vergoeding is, is die skade reeds gedoen.

Trouens, ’n mens hoef nie eens te wag vir die finale besluit nie – net die moontlikheid dat art. 25 verander kan word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, het rééds negatiewe gevolge vir die ekonomie, die landboubedryf en die eiendomsmark gehad.

Ongelukkig is die feite in die politiek – en veral magspolitiek – nie altyd die belangrikste faktor nie. Die politieke agtergrond waarteen die art. 25-proses afspeel, werp ’n lang skaduwee oor die feite.

Onteiening sonder vergoeding moet volgens die ANC in werking gestel word sonder om skade aan die ekonomie te doen. Foto ter illustrasie. Foto: Johan van Wyk

Dit is duidelik dat Ramaphosa se magsbasis, om dit sagkens te stel, nie so sterk is wat hy dit graag sal wil hê nie. Sy winste deur die werk van die Gordhans en die Nenes word geneutraliseer deur die ondermynende werk van oudpres. Jacob Zuma en sy trawante Supra Mahumapelo, Hlaudi Motsoeneng, Carl Niehaus en Des van Rooyen.

Daar is kommentators wat meen Zuma en kie volg die ekwivalent van ’n verskroeide-aardebeleid volg: “as ons nie die ANC beheer nie, sal die ANC nie in beheer bly nie, en basta! Ons is bereid om die ANC te laat skeur of dit by die stembus te laat val, solank ons ons sin kry”. Daarby is daar mense in die ANC wat die “gevaar” van die EFF aan die linkerkant sterk beklemtoon, veral met ’n algemene verkiesing aan die kom. Volgens hulle is onteiening sonder vergoeding die enigste manier om stemme aan die linkerkant te wen.

SA reeds besig met nieamptelike verkiesingstryd

Terwyl die land reeds in ’n nieamptelike verkiesingstryd ingegaan het en slegs die datum nog vasgestel moet word, word die artikel 25-proses voltrek. As hierdie proses ’n jaar later plaasgevind het, en die Ramaphosa-regering was stewig(er) in die saal, sou die uitkoms dalk voorspelbaarder gewees het – in ooreenstemming met die “voorwaardes” hierbo, sou art. 25 nie gewysig word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak nie.

Maar met die tweespalt in die ANC al hoe duideliker by die dag en die terugveg van die Zuptas met Zuma aan die spits in KwaZulu-Natal, is dit nie meer so seker wat die uiteinde van die konsultasieproses gaan wees nie – en of die feite gaan seëvier nie.

Trouens, ’n mens hoef nie eens te wag vir die finale besluit nie – net die moontlikheid dat art. 25 verander kan word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, het rééds negatiewe gevolge vir die ekonomie, die landboubedryf en die eiendomsmark gehad.

Wat egter nie uit die oog verloor moet word nie, is dat met meer as 700 000 skriftelike voorleggings ontvang, en die landwye verhore wat nog moet kom, dit nie ’n uitgemaakte saak is dat die grondwetlike hersieningskomitee gereed sal wees om in September aan die parlement terugvoering te gee nie.

Hierdie feit, tesame met die spanninge in die ANC, die DA wat eie doele aanteken en ’n EFF wat sy Zuma-teiken kwyt is, kan die president dalk oortuig dat ’n vroeër verkiesing die beste ding is om te doen.

Die belofte van onteiening sonder vergoeding in die toekoms kan dalk nog stemme wen, maar die werklikheid van onteiening sonder vergoeding kan vóór ’n algemene verkiesing in middel 2019 die ekonomie ernstig skade doen en die belofte van werkskepping onder die Ramaphosa-regering ’n leë belofte maak.

Die verslag van die parlementêre hoëvlakpaneel onder leiding van oudpres. Kgalema Motlanthe het bevind dat dit nie art. 25 was wat grondhervorming die afgelope dekade grootliks laat misluk het nie, maar die ANC-regering se eie gebrek aan politieke wil en kapasiteit, asook korrupsie. Die parlement en die regerende party het ’n geleentheid om dit reg te stel. Die vraag bly: Gaan die feite seëvier of gaan ons meer politieke speletjies sien? Net die tyd sal leer . . .

* Dr. Theuns Eloff is uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting. Die stigting se voorlegging oor art. 25 is op sy webwerf beskikbaar.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Theuns Eloff  |  Verkiesing  |  Grondonteiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.