Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
As babas ’n land knak

Aanwas sonder ekonomiese groei en werkskepping stuur op ’n ramp af, skryf Flip Smit.

Vinnige bevolkingsgroei is die grondoorsaak van die drie grootste probleme van Suid-Afrika naamlik armoede, werkloosheid en ongelykheid. Die land se natuurlike hulpbronne sal minstens drievoudig moet vermeerder om alle inwoners se welvaart volhoubaar tot dié van wit mense te verhoog.

’n Snelgroeiende, gesonde en geskoolde bevolking is die grootste bate van ’n land. Aanwas sonder ekonomiese groei en werkskepping stuur egter op ’n ramp af.

Die vorige statistikus-generaal, dr. Pali Lehohla, het in 2016 die gevare ten opsigte van die jeug as “a cocktail of disaster” beskryf en gewaarsku dat “ ’n baie onstabiele toekoms” Suid-Afrika se voorland is. Die wêreldbekende prof. Peter Drucker het tereg opgemerk dat “demografie die toekoms is wat reeds gebeur het”.

Dit is ’n mite dat die bevolkingsaanwas verminder.

Suid-Afrika se bevolking neem tans teen 1,43% per jaar toe. Dit is meer as dubbel die ekonomiese groeikoers van 0,6% op ’n jaargrondslag. Suid-Afrikaners word dus armer – soos wat reeds die afgelope vyf jaar die geval is. Ekonome raam dat die ekonomie jaarliks met meer as 6% moet groei om die huidige nuwe toetreders van ongeveer 1 miljoen per jaar tot die arbeidsmark van werk te voorsien en agterstande in te haal. Die ANC-regering se beloftes dat werkloosheid (29%) oor vyf jaar gehalveer sal word, is net so onrealisties soos die beloftes van 2009 dat plakkersgebiede teen 2014 (20 jaar ná demokrasie) opgeruim sal wees.

Hoe vinnig groei die bevolking?

Die bevolking van 58,8 miljoen neem teen 1,43% of 850 000 per jaar toe. ’n Wêreld- en Afrika-perspektief plaas Suid-Afrika se groei in konteks.

Die wêreldbevolking van 7,7 miljard neem met 1,08% of 82 miljoen per jaar toe. Suid-Afrika se aanwas is dus hoër as die wêreldgemiddelde. Afrika se bevolking sal teen ’n groeikoers van 2,5% per jaar binne 25 jaar verdubbel. In Afrika suid van die Sahara kom die hoogste groeikoers in die wêreld voor. Die gemiddelde getal kinders per vrou is 5,5.

Ekonomiese groei en verstedeliking het veroorsaak dat Suid-Afrika die afname in geboortes in veral Afrika suid van die Sahara sedert 1965 gelei het. Die gemiddelde getal kinders per vrou het van 6,6 in die 1960’s tot die huidige 2,3 afgeneem. Maar geboortesyfers bly steeds relatief hoog, terwyl ’n afname in veral kindersterftes en verhoging van lewensverwagting bydraes tot aanwas lewer. Immigrasie wat groei veroorsaak bly ’n onbekende faktor.

Dit is derhalwe ’n mite dat die bevolkingsaanwas verminder.

In die 2019-verslag van Statistieke Suid-Afrika word gestel “ . . . die tempo van groei het toegeneem van ongeveer 1% in 2002-’03 tot die huidige 1,43%”. Geboortes bly dus hoër as die vervangingsvlak van gemiddeld 2,1 kinders per vrou. Wit mense het reeds die vervangingsvlak teen 1989 bereik en het teen 2011 op 1,8 kinders per vrou gestaan, teenoor 2,8 by swart mense, 2,5 by bruin mense en 1,7 by Asiërs.

Kundiges skud net hul kop

Kundiges is verstom oor die algemene weerstand in Afrika suid van die Sahara teen geboortebeperking of gesinsbeplanning. Tydens my navorsingsbesoeke aan die Wêreldbank het kundiges net hul kop geskud oor gesinsbeplanning in Afrika.

Die eerste private gesinsbeplanningskliniek is in 1932 in Kaapstad gestig en het daarna ook na ander stedelike gebiede uitgebrei. Die eerste toekenning van regeringskant het egter eers in 1963 geskied. In 1974 is ’n Nasionale Gesinsbeplanningsprogram deur die destydse regering aangekondig. Swart leiers was skepties en die program is summier in die voormalige tuislande verbied.

Wit vroue het reeds sedert 1960, met die bekendstelling van die geboortebeperkingspil, dié voorbehoedmiddel gebruik. Swart en bruin vroue het toenemend voorbehoeding toegepas en tans pas 60% van alle vroue in die ouderdomsgroep 15-47 jaar een of ander vorm van voorbehoeding toe – drie keer meer as in Afrika suid van die Sahara.

Ná 1994 is die klem van gesinsbeplanning na bevolkingsontwikkeling verskuif. Dit is ook aan ’n menseregteraamwerk gekoppel. Klinieke is egter nog vir baie plattelandse vroue buite bereik.

Waarom groei bevolking nog vinnig?

Vir sommige kundiges bly dit steeds ’n raaisel waarom Afrika suid van die Sahara nie, soos die res van die wêreld, op ontwikkeling gereageer het nie en die gemiddelde getal kinders nog 5,5 per vrou is. Soos reeds genoem, het Suid-Afrika die daling in geboortes in Afrika suid van die Sahara gelei. Maar dit bly ook steeds ’n raaisel waarom nie vinniger gereageer word nie. Die vraag kan tereg gestel word of die lae ekonomiese groeikoers nie ook, soos in baie lande in Afrika, tot ’n versnelling in geboortes kan lei nie.

Verskeie komplekse faktore speel ’n rol om die getal kinders per vrou te bepaal. Vir doeleindes van hierdie artikel word kortliks op die volgende faktore gefokus:

* Soos reeds aangetoon, het ekonomiese groei onder meer daartoe gelei dat geboortesyfers sedert die 1960’s vinnig afgeneem het. Die toetrede van wit vroue tot die arbeidsmark het geboortes dramaties laat daal. Dit is egter nie tot dieselfde mate die geval by swart vroue nie. Kundiges skryf dit tot ’n groot mate daaraan toe dat die uitgebreide familiestelsel meestal gesinslede verskaf wat na kinders omsien.

* Jaarliks word 1,1 miljoen kinders gebore en die syfer het die afgelope jare gestabiliseer. Die getal sterftes, veral kindersterftes, asook sterftes aan MIV-vigs, neem steeds af. Lewensverwagting neem toe en is tans 61 jaar vir mans en 67 jaar vir vroue. Dus gee 1 171 219 babas minus 541 493 sterftes ’n natuurlike aanwas van 629 726 per jaar, afgerond dus sowat 630 000. Amptelik word die invloei van immigrante op nagenoeg 220 000 per jaar geraam. Dus ’n toename van tot 850 000 mense per jaar.

* Onderwys het ’n groot invloed op geboortesyfers. Swak onderwys en oorvol skole veroorsaak dat slegs 43% van leerlinge hul skoolloopbane suksesvol voltooi, terwyl meer as 50% van universiteitstudente ná langer as vyf jaar studie geen kwalifikasie verwerf nie. Trou of om as werkloses vir kindertoelaes te kwalifiseer, word derhalwe opsies. Dié jong mense is weerloos teen die eise van ’n Vierde Nywerheidsomwenteling, wat volgens kundiges aanvanklik ongeskooldes uit diens sal stel voordat ekonomiese groei groter getalle werkgeleenthede aan geskooldes sal skep.

* Vinnige verstedeliking vind gewoonlik as gevolg van ekonomiese groei en werkskepping plaas. In Suid-Afrika is dit egter die verstedeliking van armoede waar ongeskooldes na stedelike gebiede stroom, plakkersgebiede ontstaan en grond onwettig beset word. Stede en dorpe huisves reeds ongeveer 40 miljoen mense, waarvan waarskynlik meer as 3 miljoen in plakkersgebiede woon. Gauteng, met ’n bevolking van 15,2 miljoen mense, sal in die volgende vyf jaar ’n netto invloei van 1 065 885 mense hê. In die Wes-Kaap, met 6,8 miljoen inwoners, sal die invloei 316 000 wees.

Voeg hierby die natuurlike aanwas van die twee metropole en die besef dring deur dat water dié beperkende faktor sal word.

* Immigrasie bly die onbekende faktor. Amptelik is die syfer 3,6 miljoen, maar die Verenigde Nasies raam dit op meer as 4 miljoen, terwyl ’n syfer van meer as 5 miljoen waarskynlik nader aan die kol is. Die groot probleem is dat ongeskooldes die land binnestroom, terwyl geskooldes die land verlaat. Wetgewing en rompslomp maak dit baie moeilik vir geskoolde immigrante.

* Baie Suid-Afrikaners aanvaar nie verantwoordelikheid vir hul seksuele gedrag nie. Die getal mense wat met vigs leef, het van 4,6 miljoen in 2002 tot 7,97 miljoen in 2019 toegeneem. Teenvigsmiddels teen enorme koste laat sterftes daal. Van die babas wat jaarliks geregistreer word, is die vaderskap van 61% onbekend. Meer as 80 000 leerlinge op skool word jaarliks swanger. Verkragting en geweld teen vroue neem toe en die feit dat daar reeds 92 seksmisdaadhowe is met ’n verdere 11 in wording, sê iets van die houding teenoor seks.

Die toekoms

Dit is moeilik voorspelbaar watter uitwerking die ekonomiese afswaai, vinnige verstedeliking, kindertoelaes aan werklose vroue en politieke onstabiliteit op die toekomstige bevolkingsaanwas sal hê. Navorsing het getoon dat dié faktore in sommige Afrikalande tot ’n toename in geboortes gelei het. Dit kan moontlik ook in Suid-Afrika gebeur. Die Afrika-vryhandelsone veronderstel ook die vrye beweging van mense en kan die immigrasiestroom versnel, terwyl xenofobiese geweld immigrante kan afskrik. Maar brood word meestal bo vrees verkies.

Die ongelyke bevolkingsgroei tussen veral swart, bruin en wit mense saam met die ongelyke verdeling van rykdom het oor dekades spanning veroorsaak. Die ANC-regering se beleid dat dié demografie van 80,7% swart, 8,8% bruin, 7,7% wit en 2,1% Asiërs van die speel- tot die werkplek weerspieël moet word deur regstellende aksie en breë swart ekonomiese bemagtiging, rig nie net enorme skade aan ekonomiese groei aan nie, maar lei tot rassespanning.

Wedersydse beledigings tussen swart en wit neem eerder toe as af. Die EFF-leier, Julius Malema, moedig swart vroue aan om meer kinders te hê “vir die revolusie”. Dit alles beklemtoon die eeu oue uitspraak van die Franse filosoof Auguste Comte dat demografie lotsbepalend is.

  • Prof. Flip Smit doen navorsing oor demografiese groeineigings.
Meer oor:  Statistiek  |  Geboortes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.