Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
As die dood aansteek
Grafika: Hanlie Malan

Onlangse navorsing het getoon dat selfdood die potensiaal het om deur sosiale netwerke te versprei.

Hierdie verskynsel word deur sommige “selfdood-aansteeklikheid” genoem.

Gesofistikeerde en diverse statistiese modelleringstegnieke het grootliks tot dieselfde gevolgtrekking gekom: As iemand aan die selfdoodpoging of selfdood van ’n vriend blootgestel word, neem daardie mens se risiko vir selfdoodgedagtes en -pogings toe.

Die gevolge kan verpletterend vir die agterblywende gesinne, klasmaats en gemeenskappe wees wat sukkel om te verstaan hoekom selfdood in groepe in hul gemeenskap voorkom.

Hierdie vraagstuk is ’n uitdaging vir wetenskaplikes, wat al dekades lank sukkel om ’n antwoord daarop te vind.

Die rol van selfdood-aansteeklikheid is straks een van die aspekte van selfdood wat die swakste verstaan word en dit benadeel ons aansienlik in ons pogings om doeltreffende strategieë te formuleer om die verspreiding daarvan te voorkom.

Dit is hoekom ons in ons onlangse studie adolessente ondersoek het. Ons wou weet of die kennis van ’n vriend se selfdoodpoging ’n verandering aan iemand se risiko vir ’n selfdoodpoging teweeg sal bring.

Deur die gebruik van longitudinale data het ons ontdek dat adolessente wat van ’n vriend se selfdoodpoging weet, bykans twee keer meer geneig sal wees om ’n jaar later ’n selfdoodpoging aan te wend.

Hierdie risiko is selfs groter vir diegene wat ’n vriend weens selfdood verloor het.

Interessant genoeg was daar nié ’n skerp styging in die selfdoodrisiko van adolessente wie se vriende hulle nie van hul selfdoodpogings vertel het nie.

Ons studie hou etlike interessante implikasies vir selfdoodvoorkoming in.

Hierdie risiko is selfs groter vir diegene wat ’n vriend weens selfdood verloor het.

Ten eerste lyk dit of die ervaring van die selfdoodpoging of selfdood van ’n vriend adolessente se risikoprofiel betekenisvol verander. Ons word almal op die een of ander tyd aan selfdood blootgestel, hetsy deur Romeo en Juliet te lees of bloot deur na die nuus te kyk.

Dit lyk egter of blootstelling aan die selfdoodpoging of selfdood van ’n vriend die vae idee van selfdood in iets baie werkliks transformeer: ’n betekenisvolle, tasbare kultuurteks wat jong mense kan volg om droefheid die hoof te bied.

Tweedens en in die lig van die ou spreekwoord “soort soek soort”, het sommige aangevoer dat dit bloot ’n geval kan wees dat depressiewe tieners bevriend raak. Dit sal verklaar hoekom groepe vriende soortgelyke selfdoodsyfers toon (en dit weerspreek die teorie van selfdood-aansteeklikheid).

Ons bevindings steun egter literatuur wat daarop dui dat selfdood-aansteeklikheid nie bloot die resultaat is van adolessente wat vriende met ’n soortgelyke kwesbaarheid vir selfdood kies nie.

As aansteeklikheid nie saak maak nie, behoort kennis oor selfdoodpogings ook nie saak te maak nie. In teenstelling is dit duidelik dat jong mense se selfdoodrisiko net skerp toeneem wanneer hulle van ’n vriend se selfdoodpoging weet.

Wat doen ons met hierdie kennis?

Dit is duidelik dat selfdood nie net die gevolg van psigologiese siektes of psigologiese risikofaktore is nie.

Blootstelling aan selfdood, al is dit net ’n poging, is emosioneel verpletterend en jong mense het steun nodig om die daaropvolgende komplekse emosies die hoof te bied. Voorkomingstrategieë is hier van deurslaggewende belang.

Een duidelike implikasie van ons werk is dat jong mense tydens siftings vir selfdoodrisiko áltyd gevra moet word of hulle iemand ken wat ’n selfdoodpoging aangewend het of as gevolg daarvan gesterf het.

Talle betroubare instrumente vir die sifting van jong mense vir selfdoodrisiko sluit trouens vrae oor blootstelling aan selfdood in.

Dit lyk redelik. Maar dan raak dinge duister.

In die lig van wat ons navorsing getoon het, is dit bloot natuurlik om te wonder of iemand wat selfdood probeer het, ontmoedig moet word om daaroor te praat. Die vrees bestaan dat as ons oor selfdood praat, ons dit onbewustelik kan bevorder.

Gelukkig bestaan daar bewysgebaseerde programme.

As ons mense aanmoedig om nié oor selfdood te praat nie – veral jong mense – kan ons dalk geleenthede mis om diegene te help wat swaarkry en oorweeg om hul eie lewe te neem.

Die gevoel dat jy aan ’n groep behoort – met die steun van familie en vriende en ’n gesonde sosiale lewe – is voorts noodsaaklik om selfdood te voorkom. As ons jong mense aanmoedig om nié oor selfdood te praat nie, kan ons onbewustelik adolessente met selfdoodneigings se gevoel van afsondering verhoog, wat tot die risiko van selfdood bydra.

Weens die stigma wat aan geestesiektes en selfdood kleef, is dit dikwels baie moeilik vir mense om te erken hulle het hulp nodig.

Pleks daarvan om dus swye oor die onderwerp aan te moedig kan dit beter wees om adolessente te leer hoe om op ’n gepaste manier te reageer wanneer ’n vriend ’n selfdoodpoging of selfdoodgedagtes onthul.

Gelukkig bestaan daar bewysgebaseerde programme soos Ques­tion, Persuade, Refer (QPR) en SOS Signs of Suicide. Hierdie programme word dikwels in skole aangebied en kan jong mense leer hoe om hulp uit gepaste oorde vir hul vriende te bekom.

Dit is ook belangrik dat ouers, onderwysers en afrigters gemaklik voel om oor selfdood te praat. Hulle moet goed ingelig wees oor die gepaste antwoorde en besef dat ’n selfdoodpoging ’n effek kan hê wat wyer as die individu uitkring.

Dit is immers wanneer adolessente alleen met hul vriende se nood gelaat word, dat hulle die kwesbaarste is om voor dieselfde idees en gedrag rakende selfdood te swig.

  • Hierdie artikel het op theconversation.com verskyn.
  • Seth Abrutyn is mede-professor in sosiologie aan die Universiteit van Memphis. Anna Mueller is mede-professor in vergelykende menslike ontwikkeling aan die Universiteit van Chicago.

Meer oor:  Skiet  |  Vsa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.