Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
As die NG Kerk sou skeur...

Om weg te breek is vir gemeentes moeilik, want die weglopers behou nie die eiendom nie, maar daar is ander moontlikhede, skryf Neels Jackson.

‘Die NG Kerk staan op die punt om te skeur.”

Sulke stellings hoor ’n mens deesdae redelik algemeen te midde van ontevredenheid by sommige oor die kerk se besluite oor gay-verbintenisse.

Net die tyd sal leer of dit werklik sal gebeur.

Maar as dit sou gebeur, is die volgende vraag hoe dit sal uitspeel en wat die resultaat sou wees.

Dit is baie duidelik dat dit vir ’n gemeente op sy eie moeilik sou wees om die NG Kerk te verlaat. Regspresedente uit die 18de eeu bepaal al dat as daar net een lidmaat is wat nie saam met die res wil loop nie, dan is dié lidmaat die voortsetting van die gemeente wat dan al die gemeente se eiendom behou.

Dit beteken die weglopers stap kaal uit.

Dit maak dit ’n onaantreklike en onwaarskynlike opsie dat gemeentes op hul eie die kerk sal probeer verlaat.

Dit beteken die weglopers stap kaal uit hul gemeente.

Die ander moontlikheid is dat sinodes hulle aan die algemene sinodale verband kan onttrek.

Met die totstandkoming van die algemene sinode in 1962 het verskillende sinodes, wat in daardie stadium selfstandige kerke was, saam besluit om die algemene sinode te vorm.

Maar daar is ’n agterdeur oopgelaat dat ’n sinode later weer sou kon onttrek.

In hierdie stadium is daar in twee van die NG Kerk se tien sinodes rimpelings wat lei tot bespiegelinge oor die losmaak van die band met die algemene sinode.

Dit is Goudland (wat van die Vaaldriehoek en die Wes-Rand verby Potchefstroom tot in die diep platteland strek) en die oostelike sinode (wat van die ooste van Pretoria tot teen die Mosambiekgrens strek).

In vyf van die sinodes is daar baie min of geen sprake van ’n sinodale afskeiding nie, al is daar in elke sinode lidmate en/of gemeentes wat ontevrede is met die ruimte wat die algemene sinode vir gay-verbintenisse gelaat het.

Wes-Kaapland is verreweg die grootste van al die NG Kerk se streeksinodes. Die voorstel wat die algemene sinode aanvaar het, het van hulle af gekom.

Daar loop ’n anti-intellektuele streep deur die beswaardes.

In die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Hoëveld (voorheen Suid-Transvaal) en die noordelike sinode (vroeër Noord-Transvaal) is daar ook nie enige sprake van buitengewone sinodes om die band met die algemene sinode te bespreek nie.

In KwaZulu-Natal is daar byvoorbeeld volgens dr. Barry Tolmay, moderator, net enkele gemeentes wat regtig ongelukkig is met die algemene sinode se besluite.

En hoewel daar op plekke in die noordelike sinode ongelukkigheid is, het hulle geen versoeke vir ’n buitengewone sinode gekry nie, sê hul moderator, dr. Dewyk Ungerer.

Dit laat drie ander sinodes: die Vrystaat, Noord-Kaap en Namibië.

Die Vrystaat se moderamen vergader vroeg in Maart om oor die moontlikheid van ’n buitengewone sinode te besin. Geoordeel na ’n reeks streeksbyeenkomste wat ’n paar jaar gelede in die Vrystaat gehou is, lê die groot ontevredenheid waarskynlik in Bethlehem en omstreke, en dele van die Noord-Vrystaat. Dit is nie naastenby al die Vrystaters wat ongelukkig is nie.

In die Noord-Kaap was daar voorheen al ’n voorstel dat dié sinode sy band met die algemene sinode moet verbreek, maar dit het nie geslaag nie. Intussen het die sinode heelwat jonger predikante bygekry, wat die kans vir afskeiding waarskynlik kleiner maak.

Volgens ds. Mossie Mostert, predikant in die sinodale diens van Noord-Kaapland, was daar versoeke om ’n buitengewone sinode te hou, maar hulle het besluit om nou eers al hul kragte op die droogte en die ondersteuning van hul gemeentes te vestig.

Noord-Kaapland hou in Oktober wel hul gewone sinodesitting en sal dan ’n dag opsy sit om te praat oor Skrifhantering en Skrifgesag, die kwessie onderliggend aan die uiteenlopende standpunte oor gay-verbintenisse.

Namibië is die NG Kerk se kleinste sinode en daar loop die ongelukkigheid oor die algemene sinode se besluite wyd. Predikante uit dié buurland het hul ontevredenheid verlede jaar in ’n verklaring duidelik gemaak.

Maar nou is die aandag op Goudland wat reeds besluit het om sy bydraes aan die algemene sinode voorlopig te weerhou, en die oostelike sinode, waar daar dié week in Moreletapark, hul grootste gemeente, ’n beraad van beswaardes gehou word om oor die toekoms te besin. Die oostelike sinode hou ook in April ’n buitengewone sinodesitting waar die verband met die algemene sinode sekerlik ter sprake sal kom.

Wat sou gebeur as een of albei van dié twee sinodes sou besluit om hul band met die algemene sinode te verbreek?

Een ding wat duidelik is, is dat nie al die gemeentes in hierdie sinodes daarvoor te vinde sal wees nie. Ná die nuus dat Goudland se leierskorps besluit het om sy geldelike bydrae tot die algemene sinode terug te hou, het daar byvoorbeeld spontaan stemme uit van Goudland se gemeentes opgegaan wat gewonder het of hulle nie maar hul bydraes direk aan die algemene sinode moet oorbetaal nie.

Een moontlikheid vir sulke gemeentes sou wees om aansluiting by ander streeksinodes te soek. Ungerer, wat aktuarius (kerkregkundige) van die algemene sinode is, meen dit is kerkregtelik moontlik.

Goudlandse gemeentes in die Vaaldriehoek en aan die Wes-Rand sou byvoorbeeld gerieflik by Hoëveld kon inskakel, en van die oostelike sinode se gemeentes in Pretoria sou maklik by die noordelike sinode kon aansluiting vind.

En die aansluiting hoef nie noodwendig geografies gemaklik te wees nie. Daar was vroeër byvoorbeeld onder sommige Vrystaatse predikante die gedagte dat as hul sinode ’n koers inslaan waarbinne hulle hulself nie kan vind nie, hul gemeentes dan aansluiting by die Wes-Kaapse sinode sou soek.

Ungerer het by navraag ook die moontlikheid genoem dat sou byvoorbeeld 20 gemeentes van Goudland nie saam met die res uit die algemene sinode wou loop nie, hulle dalk as die wettige voortsetting van Goudland gesien sou kon word.

Die punt is dat as hierdie sinodes sou besluit om aan die algemene sinode te onttrek, dit nie ’n skoon breuk gaan wees nie. En hulle loop die gevaar om in die proses van hul grootste en finansieel sterkste gemeentes te verloor.

Dit kan natuurlik andersom ook gebeur. Beswaarde gemeentes in ’n sinode wat deel van die algemene sinode bly, sou aansluiting kon soek by ’n wegbreeksinode. En lidmate sou ook oor en weer tussen gemeentes kon oorloop volgens hul oortuigings.

Maar dit lyk tog dat as van die sinodes sou wegbreek, hulle uiteindelik sou kon sit met Moreletapark, dalk enkele ander sterk gemeentes, en ’n groot gros klein, arm, plattelandse gemeentes.

Boonop sou hulle sonder teologiese opleiding sit. Nie dat baie van die beswaardes sou huil oor die verlies van die NG Kerk se huidige teologiese opleiding nie. Daar loop ’n anti-intellektuele streep deur die beswaardes en ’n mens hoor meermale hoe die NG Kerk se opleiding deur hulle verdag gemaak word.

Maar hulle sou van voor af iets anders op die been moet bring as hulle in die toekoms dominees wil hê.

Die res van die kerk sal dophou wat in Goudland en die oostelike sinode gebeur. Besluit een of albei van hulle om wel die rug op die algemene sinode te keer, word die kans dalk groter dat een of twee van die ander sinodes kan volg.

Maar uiteindelik sal dit waarskynlik steeds ’n minderheid wees wat wegbreek.

Meer oor:  Ng Kerk  |  Gays
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.