Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
As die wiele afkom

Hoe verklaar ’n mens die geweld wat verlede week in KwaZulu-Natal uitgebreek het, vra Greg Ardé.

Plunderaars op 12 Julie 2021 in Spineweg agter die
Plunderaars op 12 Julie 2021 in Spineweg agter die Pavilion-winkelsentrum in Durban. Foto: Darren Stewart

Ek skryf al vir 30 jaar oor die geweld en onrus in KwaZulu-Natal (en het pas ’n boek geskryf oor die politieke sluipmoorde in die provinsie), maar steeds was die omvang van verlede week se onrus en plundering in die provinsie verstommend.

Dit was vreesaanjaend.

Ek het die vrees in my eie lyf gevoel en ek kon dit sien in die oë van die mense op straat. Dit het verdiep met die verstikkende reuk van geboue en motors wat brand, die geluid van geweervuur, die geloei van ambulanssirenes en die gedurige gedreun van vliegtuie in die lug.

Angsvlakke is net verhoog deur die lang rye voor supermarkte en die verskriklike foto’s van verwoesting op sosiale media en die stemnota’s van histeriese en geskokte mense. Die lewensverlies en die sielkundige en ekonomiese verwoesting het ’n mens diep ontstel.

En tog, op wonderbaarlike wyse, was dieselfde mense wat hul huise met pangas en hokkiestokke bewaak het, ’n week later besig met geesdriftige opruimingswerk. Kommentators het tereg die provinsie se mense vir hul veerkragtigheid geprys. Die walglikste ekstremiste denkbaar het ons demokrasie beleër sonder om te seëvier.

Maar die voor-die-hand-liggende vraag bly: Wie het die lont aangesteek en hoe het hulle dit reggekry om hul plan so skouspelagtig tot uitvoering te bring?

Ek hoop dat ons gouer eerder as later ’n antwoord hierop sal kry.

Ek kan net skryf oor wat ek gesien en gehoor het – en dit doen in die konteks van War Party, my boek wat in Junie verlede jaar verskyn het. Hierin skryf ek hoe politieke sluipmoorde in KwaZulu-Natal – die meeste van hulle sedert 2015 – die provinsie verlam.

Tot watter mate is die maalstroom georkestreer en deur wie?

Ek skryf hieroor omdat ek diep ontsteld was oor ’n paar goed – onder meer waarom ANC-kamerade besig was om mekaar uit te moor en hoe kaderontplooiing die staat verwoes het.

Alle staatsfere oor Suid-Afrika heen is geplunder, so dit is nie ’n verhaal uniek aan KwaZulu-Natal nie. Behalwe dat die diefstal en verwoesting hier gepaardgaan met mafia-tipe teregstellings.

Dit is ’n aangrypende verhaal van ’n paar goeie mense wat probeer om die regte ding te doen, maar te staan kom teen ’n toenemende aantal skurke terwyl die staat swig onder die druk. Dis die ANC wat hierdie monster van mededingende beskermingsnetwerke geskep het wat op die karkas van die staat voed.

Maar hoe help dit om te verduidelik wat verlede week gebeur het? Die plundering was skynbaar gekoppel aan oproepe om oudpres. Jacob Zuma uit die tronk vry te laat nadat hy vir 15 maande tronk toe gestuur is weens minagting van die hof.

Zuma-ondersteuners en familielede het die geweld aangehits – daarvan is daar genoeg bewyse op sosiale media. Maar tot watter mate is die maalstroom georkestreer en deur wie?

Wat duidelik blyk en waaroor wyd geskryf word, is hoe jammerlik onvoldoende staatsintelligensie was. As die spoke nie kennis geneem het van die pelgrimstog van radikale en andersdenkendes na Zuma se laer by Nkandla nie, was hulle doof of blind of albei. Hulle was beslis stom.

Die meer sinistere teorie is dat hulle baie goed geweet het wat op die grond aangaan, maar dat hulle nie die inligting tot hul beskikking aan die bevelsketting gestuur het nie.

Dis ’n ope geheim dat misdaadintelligensie belaglik korrup is en dat hul operateurs polities partydig is. Hul lojaliteit aan mededingende faksies in die ANC maak hulle feitlik nutteloos. Maar gesonde verstand beteken tog dat jy jouself voorberei te midde van praatjies van geweld.

Enkele dae nadat die tronkdeure agter Zuma toegeklap het, het betogings op die N2 opgevlam en die N3 moes naby Mooirivier gesluit word weens sabotasie wat duidelik verband gehou het met Zuma se gevangesetting. Talle vragmotors is al voorheen op dieselfde plek op die N3 brand gesteek. Hoe die owerhede nie nog drama ná die voorvalle kon verwag nie, is ongelooflik. Dit is die maklikste ding op aarde om Suid-Afrika se ekonomiese slagaar net daar by Mooirivier te verstop.

Ek is versigtig om Zuma se mag en invloed te oordryf. Ek verkies om ’n paar opmerkings te maak oor hoe dit manifesteer.

Daar is ’n onlosmaaklike skakel tussen die Zuma-mense en die huidige geweld. Jy hoef net na sy dogter Duduzile Zuma-Sambudla se inskrywings op Twitter te kyk om te sien hoe aanhitsing van Macbethiaanse omvang lyk.

Die Zuma-stigting het ’n verklaring uitgereik waarin hulle sê dat die “geregverdige woede van die mense te wyte is aan die ongeregtighede waaraan pres. Zuma blootgestel word”.

In die komende weke sal polisie en joernaliste die voorvalle van geweld karteer en in Zuma se magsbasis gaan rondgrawe vir verbande tussen sy mense en die onrus. Ek is nie seker wat so ’n oefening sal oplewer nie, maar dis ’n belangrike deel van die ondersoek.

Kan ons die mense in bevel en beheer identifiseer?

Dit lyk logies dat die opruiende boodskappe op sosiale media die vlamme aangeblaas het, maar dit bewys nie hulle het die oproer gereël of opdrag gegee dat ’n pakhuis of verspreidingsentrum aan die brand gesteek moet word nie.

Zuma was histories ’n weerligafleier vir dié wat ontnugter is en ’n boegbeeld vir ’n koalisie van die ontevredenes. Die magte rondom hom hang egter geen waarneembare ideologie aan nie en stel geen sinvolle beleidsalternatiewe voor nie. Maar hulle weet hoe om die tamboere te slaan.

’n Week gelede het ek gesien hoe die nasionale voorsitter van die ANC, Gwede Mantashe, ’n groep kerkleiers wat Zuma ondersteun in die Durbanse stadsaal toespreek. Die vergadering het nie goed verloop nie. Ná ’n reeks uitbarstings van venyn, gelewer met die ywer waarvoor vuur-en-swael-predikers soos hierdie bekend is, het Mantashe sy goed gevat en geloop.

Agterna het hy die vergadering diplomaties beskryf as nuttig, ten spyte van sommige opmerkings van die geestelikes wat “heeltemal van die punt af was”.

Zuma se mense (by gebrek aan ’n beter beskrywing) gedy op chaos, maar om hulle as wanordelike af te skryf, sou verkeerd wees. Van die mense in die Zuma-kamp is bekende taxibase en radikale ekonomiese transformasie (RET)-rampokkers. Die taxibedryf is bekend vir moorde wat verband hou met roete-oornames en plaaslike politieke faksies. Die moorde wek vrees en help die geweldenaars om te oorheers. Hulle is baie doeltreffend, net soos die konstruksiemafia wat groot en klein ondernemings op hul knieë gebring het.

Verlede maand het Richards Bay Minerals, na bewering KwaZulu-Natal se grootste korporatiewe belastingbetaler, force majeure verklaar ná die moord op sy hoofbestuurder.

Ontstellende verhale is die afgelope week vertel oor hoe georganiseerd die onrus was. Daar is waarskynlik baie oordrywing betrokke vanweë die sinistere aard van gebeure. Maar hier is ’n paar staaltjies waarop ek self hierdie week afgekom het:

’n Sakeman in die noorde van KwaZulu-Natal meen die betogings in sy omgewing is met “militêre presisie” gereël. Waarom is winkels en ander geboue tot op die grond afgebrand nadat dit reeds deur plunderaars opgeruim is, wil hy weet.

Die uitvoerende hoof van Value Logistics, ’n saak met ’n monsteragtige pakhuis net buite Durban, sê daar was ’n tou van motors drie kilometer lank buite sy pakhuis toe die plunderaars toeslaan.

Ek het ondernemings besoek in Mobeni, ’n nywerheidsgebied langs die hawegebied in Durban, met goederewerwe waar duisende vraghouers geberg word en waar baie vragvervoerondernemings geleë is. Plunderaars het op ondernemings in die suidelike gedeelte van die gebied toegeslaan – waaronder ’n goederewerf met ’n vraghouer met 1,2 miljoen rondtes ammunisie. Die groot onbeantwoorde vrae hier: Hoe het ’n houer met so ’n vrag in ’n onbewaakte area beland? Is dit geteiken of het die plunderaars bloot die boerpot geslaan? Dae later is ’n paar kratte van dié ammunisie deur die polisie 100 km verder langs die noordkus ontdek. Die rondtes wat nie gevind word nie, sal ongetwyfeld in die hande van gewapende rowers, huurmoordenaars en ander misdadigers beland.

’n Durbanse sakeman het my vertel hoe plunderaars by sy perseel ingebreek en met vier vragmotors weg is – waaronder ’n 12 ton-vragmotor met sleepwaens. Dit is nie lukraak nie. Dit verg vaardigheid en ervaring om ’n lorrie van daardie grootte te bestuur.

’n Polisieman aan die Suidkus het my vertel hoe ’n paar polisiemanne dapper teen die plunderaars weerstand gebied het, terwyl ander amper met arms gevou toegekyk het. Is dit polisielede wat net ontsteld is oor die algemene onmag van die SAPD? Is hulle Zuma-simpatiseerders? Of sien hulle die plundertogte as die resultaat van interne ANC-konflik waaraan hulle geen aandeel wil hê nie (soos in sommige kringe aangevoer word)?

Dis moeilik om te sê. Ek was verlede Vrydagaand buite die sentrale polisiekantoor in Durban en het Thulani Dlomo se lyftaal dopgehou nadat hy homself oorgegee het toe dit rugbaar word dat hy as ’n belangrike aanstigter van die onrus geïdentifiseer is. Dlomo, wat as ’n voormalige superspioen beskryf word, was ’n Zuma-aanstelling. Dlomo is ’n uitgeslape karakter en was raaiselagtig ontwykend, maar was vinnig om vrywillig met die polisie te ontmoet toe hy as opstoker geteiken is.

Ná drie uur se ondervraging het Dlomo aan joernaliste gesê daar is geen bewyse van aanhitsing teen hom nie. En toe kry hy sy messteek in na sy teenstanders in die ANC toe hy sê: “Ons moet saamkom om die krisis op te los . . . ego’s en faksievorming gaan nie help nie.”

Deur dít te sê, het Dlomo ’n afgesaagde maar veelseggende uitspraak gemaak. Die ANC word deur verdeeldheid gekenmerk en verskille kan maklik uitgebuit word deur lede van die onderwêreld van boewe – van taxibase tot dwelmbase en misdaadbendes wat op wanorde floreer. Hulle het ’n groot belang in die onrus en spesifiek in ’n verswakte staat.

* Greg Ardé is ’n joernalis en skrywer in Durban.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Thulani Dlomo  |  Kwazulu-Natal  |  Anargie  |  Plundery  |  Aanstigters  |  Onluste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.