Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
As dít gesond is, is jy ook

Intensiewe navorsing die afgelope dekade oor die kolonie van triljoene bakterieë, virusse en swamme in die mens se dermkanaal, wys dit hou verband met vele siektes en speel ’n baie groot rol in ons gesondheid én hoe medikasie werk, skryf Elsabé Brits.

Die mens het meer mikrobes in en op hom as wat hy selle het. Navorsing wys die mikrobes speel ’n groot rol in elke mens se gesondheid. Voorstelling: Darryl Leja, NHGRI

In elkeen van ons se spysverteringskanaal is daar ’n baie belangrike kolonie van triljoene mikrobes wat uit bakterieë, virusse en swamme bestaan.

Dié mikrobioom help om kos te verteer, vervaardig sommige vitamiene, en speel ’n rol in hoe jy ’n siekte beveg. Elkeen van ons se mikrobioom is uniek.

As dit gesond is, is jy ook gesond, want ’n komplekse chemiese en molekulêre verhouding bestaan tussen jou en jou mikrobioom, en sou dit versteur word, ontketen dit onder meer ’n immuniteitsrespons.

Navorsing het onder meer al vasgestel dat dit ook jou gedrag en brein kan beïnvloed. En dit speel ’n rol in jou metabolisme en hoe die liggaam onder meer medikasie opneem en daarop reageer.

Die mikrobioom word nou verbind met onder meer toestande soos middelweerstandige epilepsie, Parkinson se siekte, moontlik met alzheimers, asook verskeie siektes wat met spysvertering verband hou, soos Crohn se siekte, inflammatoriese dermkanaalsiekte, inflammatoriese colitis, outisme, vetsug, veelvuldige sklerose, tipe-2-diabetes en selfs kanker.

Dit is egter belangrik om te onthou dat dit nie die enigste oorsaak vir hierdie toestande en siektes is nie, net een van die faktore wat daartoe bydra.

Honderde navorsers van die Menslike Mikrobioomprojek het die rol wat mikrobioom in ons algemene gesondheid speel, eers in 2007 intensief begin navors. (Hulle kyk ook na mikrobes op ’n mens se vel, genitalieë en in die mond.)

Die afgelope tien jaar is sowat 4 000 studies gepubliseer oor die mikrobioom, maar navorsers meen nog net die oortjies van die seekoei oor die presiese rol daarvan in ons gesondheid is al blootgelê.

In die jongste fase van dié internasionale projek is begin om te fokus op die mikrobioom se rol in 100 siektes, en vroeër die maand is nuwe navorsings hieroor in ’n reeks artikels in die vakjoernaal Nature gepubliseer.

Só ontwikkel jou mikrobioom

Vandat jy gebore word, begin jy “bou” aan jou mikrobioom. Selfs die manier van geboorte het ’n invloed daarop.

Navorsers het gevind baie spesifieke bakterieë, wat die immuniteitstelsel stimuleer, word tydens ’n natuurlike geboorte van ’n ma aan haar baba oorgedra.

Maar dit is afwesig wanneer ’n baba deur middel van ’n keisersnee gebore word. Dié studie beveel wel aan dat ’n keisersnee steeds gedoen moet word as dit nodig is.

Een van die jongste bevindings is dat vroue wat prematuur geboorte skenk, ’n laer voorkoms van sekere bakterieë het as vroue wat ’n baba vir die volle termyn dra. Veranderings in bakterieë kom meestal in die eerste trimester voor.

Dieselfde gebeur met borsmelk, wat ook mikrobes bevat wat nodig is om die baba se spysverteringskanaal te koloniseer.

Deur jou hele lewe word jou mikrobioom beïnvloed deur wat jy eet, drink, grond, plekke en diere waarmee jy in aanraking kom – hoe groter die verskeidenheid, hoe beter.

Kortom, ’n gesonde mikrobioom vereis sosiale interaksie.

Borskanker en diabetes

Nog ’n onlangse bevinding is dat daar ’n verband is tussen die mikrobioom en die mees algemene vorm van borskanker, hormoonreseptor-positiewe borskanker.

Dit is nog nie seker presies watter rol dit speel nie, maar dit lyk of die gewasse meer aggressief is in muise met dié kanker en ’n versteurde mikrobioom.

In een van die mees omvattende studies wat gedoen is oor inflammatoriese dermkanaalsiekte, is bevind mense wat hieraan ly se vlakke van vitamien B5 en B3 is heeltemal uitgeput.

Ook dat die galsuur – wat ’n mens vervaardig, maar deur die mikrobes verander word – versteur word.

Mense met dié toestand het oor ’n tydperk ’n hoër vlak van veranderlikheid van mikrobes soos proteïene en metaboliete.

Navorsers dink nou dat virale infeksies hiervoor verantwoordelik kan wees, omdat meer virusse by hulle opgespoor is net voordat die toestand opgevlam het.

Daar is ook ’n wisselwerking tussen die begin van diabetes en die mikrobioom.

Volgens ’n studie is daar ’n patroon van veranderings in die mikrobes in die neus en spysvertering, asook ’n verhouding met virale infeksies van die asemhaling-stelsel en die begin van diabetes.

Daar is veral unieke veranderings in die immuniteitstelsel se respons en hoe die mikrobioom verander in mense wat ’n hoë risiko het om tipe-2-diabetes te ontwikkel.

Verlede jaar het navorsers bevind die spysverteringskanaal se mikrobioom is ook ’n rede waarom sommige orale diabetes-medikasie vir mense werk.

Van dié middels werk byvoorbeeld goed as ’n mens dit inspuit, maar nie as jy dit deur die mond inneem en dit deur die dermkanaal beweeg nie. Dit gebeur omdat die mikrobioom op ’n mens se metabolisme inwerk.

Dit invloed daarvan hang egter af van jou eie mikrobioom en hoe dié se ensieme die middels se aktiwiteit en werking beïnvloed.

Invloed op jou medikasie

Intussen is daar ook navorsing gedoen oor ander medikasie wat ’n mens per mond inneem.

Daar is gevind die invloed van die mikrobioom op medikasie is veel groter as wat besef is – en dit is glo hoekom elke mens verskillend reageer op dieselfde medikasie.

Die mikrobioom in die dermkanaal het 150 keer meer gene as die menslike genoom (daar is dus 150 keer meer “ander gene” in jou as jou eie). Dié gene produseer baie ensieme met die potensiaal om medikasie te metaboliseer, volgens ’n studie wat in Nature gepubliseer is.

Hierdie interaksies kan óf die medikasie aktiveer óf onaktief maak – en in sommige gevalle selfs toksiese middels afskei.

In dié studie is na 76 van die algemene bakterieë gekyk wat in die dermkanaal voorkom en hoe dit op 271 orale medikasies inwerk.

Altesame twee derdes is deur minstens een stam gemetaboliseer wat die werking van die middel kan beïnvloed.

Die mikrobioom en outisme

Navorsers het ook bevind daar is ’n verband tussen die mikrobioom en outismespektrumstoornis.

Toe bakterieë van kinders met dié toestand in muise oorgeplant is, het dit volgens ’n studie in die vakjoernaal Cell presies dieselfde gedrag getoon. Die bevinding was dat die mikrobioom regstreeks tot outisme kan bydra.

Dit kan behandel word met tegnieke waarvoor die meeste mense sal wegdeins, maar dit werk.

Mikrobiota-oordragterapie word allerweë beskou as die grootste sukses van mikrobioom-navorsing en is al met sukses vir vele toestande aangewend.

Vir die behandeling word gesonde mense se feses versamel, verwerk en gevries, en dan oorgedra aan siek mense – óf met ’n spesifieke buis deur die neus tot in die duodenum óf deur ’n kolonoskopie tot in die kolon.

Die gesonde bakterieë herstel die balans in die mikrobioom, en in meer as 90% van gevalle van mense wat die infeksie Clostridium difficile het (onophoudelike diarree, veral ná die gebruik van antibiotika) is dit suksesvol.

In kliniese navorsing is kinders met outisme en wat ook probleme met hul spysvertering het, op hierdie manier behandel.

Probleme met spysvertering het met 58% verbeter en daar was ook ’n verbetering van 45% in die “kernsimptome van outisme”.

Geen wonder dus dat navorsers die mikrobioom sien byna soos ’n nuwe orgaan nie, een wat boonop nie in isolasie staan nie en beslis nie nét met spysvertering te doen het nie.

Bronne: Verskeie artikels op www.nature.com/ en https://doi.org/

  • Brits is ’n vryskut-wetenskapjoernalis.
Meer oor:  Gesondheid  |  Medikasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.