Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
As Eskom maar net geluister het

Steenkoolkragstasies kan 50 jaar lank hou, maar dan moet jy die gebruiksaanwysings volg, skryf Jan de Lange.

Die Kusile-kragstasie naby Witbank. Bouwerk het in 2008 begin en sou tien jaar later 4 800 megawatt elektrisiteit aan die netwerk gelewer het. Net een van die ses opwekkingseenhede is egter al voltooi. foto: getty images

Toe beurtkrag vir die eerste keer in Januarie 2008 oor die land heen ingestel is, het Jacob Maroga, wat in daardie stadium pas uitvoerende hoof van Eskom geword, in informele gesprekke opgemerk dat Suid-Afrikaners “nog so gewoond gaan raak aan beurtkrag dat hulle dit later glad nie meer gaan agterkom nie”.

Sy uitlatings was baie ontstellend, ook vir sy mandaatgewers in Eskom se direksie. Uiteindelik het hy sy pos verloor as uitvoerende hoof ná ’n botsing met die mynbaas Bobby Godsell, destyds die voorsitter van die direksie.

Maar nou, 12 jaar later, het Maroga se voorspelling uiteindelik waar geword.

Jan Oberholzer, huidige bedryfshoof wat onder meer na die opknapping en herstel van kragstasies moet omsien, het reeds ses opwekkingseenhede afgeskakel. Dit is turbines (’n groot kragstasie soos Majuba het ses van hulle) wat andersins 3 200 MW – sowat 12,9% van Eskom se huidige steenkoolopwekkingsvermoë – aan die verswakkende kragnetwerk moet lewer.

Eskom was soos ’n muis wat binne-in ’n wiel hardloop.

Die afgelope twee weke het beurtkrag dus weer deel van ons lewe geword.

En soos Maroga destyds voorspel het, sal ons hierdie keer regtig moet gewoond raak daaraan – minstens vir die volgende 18 tot 24 maande.

Was Maroga, ’n bekwame elektriese ingenieur, destyds so negatief oor die stabiliteit van die netwerk omdat hy geweet het dat die instandhoudingswerk aan die kragstasies in die volgende dekade eenvoudig nie gedoen gaan word nie? Dit lyk so.

Wat die gemiddelde elektrisiteitsverbruiker nie besef nie, is dat die situasie nou die punt bereik het waar netwerkbestuurders in die nasionale beheersentrum by Simmerpan in Germiston net kan reken op sowat 25 000 MW van die 34 000 MW wat vroeër beskikbaar was.

Dié tyd van die jaar is dit nie vreemd dat die vraag op die netwerk sowat 28 000 MW is nie. Vraag moet egter altyd minder wees as aanbod, anders stort die netwerk in duie – ’n sogenaamde blackout wat die land tot vier weke lank sonder krag kan laat terwyl eenhede een vir een weer in werking gestel word. Dit sal ’n ongekende ekonomiese ramp beteken.

Jacob Maroga, uitvoerende hoof van Eskom in 2008. Sy voorspelling het waar geword.

Sedert die eerste beurtkrag in 2008 het ervare Eskommers vertel dat ambagslui, tegnici en ingenieurs weg is – mense wat jare en jare ervaring gehad het en instandhoudingsprobleme kon uitwys deur bloot te luister wanneer een van die reusagtige stukke toerusting aan die loop is. Met hulle weg, word daardie voorkomende instandhoudingswerk nie meer gedoen nie.

In 2015, nadat Brian Dames bedank het as uitvoerende hoof van Eskom, is Mpho Makwana, in daardie stadium voorsitter van Eskom se direksie, aangesê om as uitvoerende voorsitter waar te neem totdat ’n nuwe uitvoerende hoof aangestel is.

Makwana was ’n mensehulpbron-spesialis in die korporatiewe wêreld wat niks geweet het van elektrisiteit nie. Hy het hulp nodig gehad en het Mike Rossouw, ’n elektriese ingenieur wat lank voorsitter was van die energie-intensiewe gebruikersgroep – ’n vereniging van Eskom se grootste kliënte – as sy raadgewer aangestel.

Rossouw het ’n goeie idee gehad van wat aan die gang is, maar het getuienis en data nodig gehad om dit te staaf. Hy het met Makwana se seën drie maande lank van kragstasie tot kragstasie gery en intensiewe ondersoeke – in baie gevalle tegniese oudits – gedoen.

Sy bevindinge was skokkend.

Die bevindinge was heelwat erger as verwag.

Dit het veral twee uiters gevaarlike tekorte blootgelê: steenkool en instandhouding.

Elkeen van die reusagtige stookketels waarin stoom opgewek word, is spesiaal ontwerp om steenkool te gebruik uit die steenkoolmyn langs die kragstasie. Die steenkool word volgens verskillende maatstawwe gemeet soos kaloriewaarde (hitte-waarde), as-inhoud, volume (die grootte van die gemaalde korrels), voginhoud en swaelinhoud. Maar geeneen van die 13 groot kragstasies in die vloot word met steenkool gevoer wat aan die maatstawwe voldoen waarvoor die stookketels in die kragstasie ontwerp is nie.

Hierdie afwykings is die gevolg van steenkool wat van kleiner steenkoolprodusente aangekoop word – soms omdat die steenkoolmyn langsaan nie meer genoeg steenkool produseer nie, maar in ander gevalle bloot om geleenthede vir klein steenkoolprodusente te skep.

Dis nie ongewoon dat die steenkool met wipbakvragmotors op die grond in steenkoolwerwe afgegooi word waar dit later grond en al opgeskep en in die ketels gevoer word nie, het Rossouw bevind. Met steenkool wat nie volgens spesifikasie is nie kan daar nie staatgemaak word op die regte hitteopwekking in die ketel nie. Nog erger: die normale slytasie en verwagte instandhoudingsroosters geld nie meer nie. Kortom, die ketels word verniel.

Duvha, naby Witbank, een van die grootste kragstasies in die land, kry van die swakste steenkool. En net mooi ’n jaar voordat Rossouw sy ondersoek gedoen het, het Duvha se nr. 3-stookketel oorverhit en ontplof weens aanpaksels aan die wande van die ketel. Om dit te vervang, kos meer as R4 miljard en duur jare. (Ironies genoeg was Duvha tot en met 2001 een van die veiligste kragstasies in die land).

Duvha is vandag nog steeds sonder sy nr. 3-ketel weens litigasie met versekeraars, volgens die voorlegging wat Oberholzer Vrydag op ’n nuuskonferensie in Megawattpark gemaak het oor die toestand van die opwekkingseenhede.

Rossouw se verslag was egter die eerste, volwaardige en eerlike ondersoek na die stand van instandhoudingswerk by Eskom. En die bevindinge was heelwat erger as wat selfs die negatiefste ontleders verwag het.

Eskom se kragstasies kan in drie groepe verdeel word: die nuutste (met uitsondering van Kusile en Medupi wat ná jare steeds nie klaar is nie) is Kendal, Majuba en Matimba, wat in 2015 minder as 30 jaar oud was; Duvha, Kriel, Matla, Lethabo en Tutuka, wat tussen 30 en 35 jaar oud was; en die oudste kragstasies, Arnot, Camden, Grootvlei, Hendrina en Komati. Camden, Grootvlei en Komati is trouens kragstasies wat in die 1990’s gesluit is, maar opgeknap en weer in bedryf gebring is ná die 2008-krisis. Die ou tegnologie in die drie kragstasies maak hulle egter die duurste eenhede in die vloot om te bedryf.

Die verflenterde bedekkingsplate van die nr. 3 stookketel van die Duvha-kragstasie naby Witbank kort nadat dit in Maart 2014 ontplof het.

Wanneer ’n steenkoolkragstasie in die middel van sy leeftyd is, tussen sy 25ste en 36ste jaar, moet sy belangrikste onderdele vervang, herstel of gemoderniseer word. Dis nie vreemd dat ’n opwekkingseenheid, wat bestaan uit ’n steenkoolhanteringsafdeling, ’n drukketel en ’n turbine-eenheid, vir drie maande of langer afgeskakel word om die instandhoudingswerk te doen nie.

Van die 31ste tot die 36ste jaar kan instandhoudingswerk tot R2 miljard per jaar kos. Dit neem ná die 36ste jaar af, maar styg weer effens wanneer die kragstasie ouer as 40 jaar is. Daarna neem dit skerp af totdat die kragstasie ná die 55ste jaar gewoonlik die einde van sy bruikbare leeftyd bereik.

Die storie van Eskom-base en politici dat die vloot se gemiddelde huidige ouderdom van 38 jaar “oud” is en daarom onstabiel en onbetroubaar is, is dus nie waar nie. Hulle is net “oud” omdat die middeltermyn-instandhoudingswerk nooit gedoen is nie.

Die probleem is egter dat kapitaalbesteding aan instandhoudingswerk sedert 1996-’97 skerp besnoei en ver onder die vereiste vlakke gehou is weens beleidsbesluite wat in die tabel hierbo uiteengesit word.

Laat in 2006 en in 2007 het die bestuur hul fout besef en was daar ’n effensie opswaai, maar die agterstand was hopeloos te groot om in te haal.

En sedert 2008, toe beurtkrag die eerste keer ingespan is, was daar enorme druk op Eskom om beurtkrag ten alle koste te vermy – ook ten koste van instandhouding.

Dit was natuurlik heeltemal die verkeerde reaksie op die probleem. Eskom was soos die muis op die trapwiel: Hoe meer hy stukkende eenhede reggemaak het, hoe minder beplande instandhoudingswerk het hy gedoen. En hoe meer gereeld het eenhede gebreek.

Teen Maart 2015, toe Rossouw sy verslag aan Eskom se direksie voorgelê het, is daar dubbeld soveel tyd bestee daaraan om stukkende eenhede reg te maak as aan beplande instandhoudingswerk. Onder ideale omstandighede moet dit presies andersom wees.

“Daar is ’n 50%-kans dat ons in die afsienbare toekoms elke dag beurtkrag sal moet toepas,” het Rossouw destyds geskryf. Hy was veral bekommerd oor die gehalte van instandhouding en oor die koste daarvan om die agterstand met middeltermyn-instandhouding in te haal omdat daar sowat 4 700 groot stukke toerusting is wat herstel, vervang of gerestoureer moet word.

Net soos Oberholzer en André de Ruyter, nuwe uitvoerende hoof van Eskom, nou besluit het, het Rossouw in 2015 voorgestel dat die instandhoudingsroosters van die vervaardigers van die toerusting nougeset gevolg moet word.

Die duurste gedeeltes van ’n kragstasie is die stookketels wat by die groter kragstasies tot ses verdiepings hoog is, die turbines wat met stoom aangedryf word, en die generators. ’n Stookketel en turbines moet elke 18 tot 36 maande afgeskakel word vir tussentydse herstelwerk. Elke ses jaar moet stookketels vir kleiner herbouwerk afgeskakel word en elke nege tot 12 jaar moet die ketels heeltemal herbou word.

Talle van die onderdele word met die hand gemaak. Dit moet dikwels ’n jaar of langer vooruit bestel word. Dit sluit in rotorlemme in die turbines, turbinekleppe, waaiers, lugverhitting- en as-verwyderingstelsels.

Van al die kragstasies was Duvha in die swakste toestand. By al die kragstasies was die instandhoudingsagterstande en die gehalte van instandhoudingswerk ’n groot probleem. Van die groter kragstasies was dit net Majuba (naby Amersfoort) en Matimba (naby Lephalale) waar daar nie kritieke probleme met instandhoudingswerk was nie, maar selfs by dié twee het gevaarligte geflikker.

Rossouw het in Maart 2015 ’n aggressiewe instandhoudingsplan aan Eskom se direksie voorgelê waarvolgens die hoeveelheid opwekkingsvermoë wat vir beplande en onbeplande instandhoudingswerk afgeskakel moes word teen 2018 sou begin stabiliseer. Dit sou verminder het van 15 500 MW in Maart 2015 tot minder as 6 000 MW in Maart vanjaar.

“Dit sou destyds onnodig wees om beplande beurtkrag in te stel. Daar was genoeg vaardighede om die probleem op te los sonder beurtkrag – die kundigheid moes net reg aangewend word,” sê Rossouw vandag.

Bestuursveranderinge in die gange van Megawattpark het egter beteken dat daar van Rossouw se planne dadels gekom het. Tshediso Matona, ’n professionele staatsamptenaar, is deur Lynne Brown, toe minister van openbare werke, as uitvoerende hoof van Eskom aangestel.

Matona het Rossouw se plan gesteun, maar dieselfde maand waarin die plan goedgekeur is, is Matona deur Eskom se nuwe voorsitter, Zola Tsotsi, saam met drie ander uitvoerende amptenare uit hul poste geskors. (Tsotsi het in 2018 in die parlement getuig dat hy van oudpres. Jacob Zuma en sy vriendin Dudu Myeni opdrag gekry het om die vier in die pad te steek).

Kort daarna het Brian Molefe uitvoerende hoof geword. Hy het minder as ’n maand later Rossouw se kontrak as adviseur beëindig.

En terwyl voorkomende middeltermyn-instandhoudingswerk onder Molefe heeltemal tot stilstand gekom het, het hy in die openbaar op Eskom-voorleggings vertel dat ’n “instandhoudingsfees” by kragstasies aan die gang is.

Dit was egter bloot noodherstelwerk. Die wiel waarop die muis hardloop, het al hoe vinniger begin draai . . .

Meer oor:  Jan Oberholzer  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.