Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘As hulle sê jy mag nie rook nie, wil hulle my nog vrekker hê’

Die verbod op die verkoop van tabak het die lewe baie moeilik – en duur – vir rokers gemaak. Marzahn Botha het gaan hoor wat sê een van die land se bekendste rokers, die blomverkoper Diela Gamildien, en ander daaroor.

Darwin Basson sê hy het ’n sigaret gerook wat “swaar op die bors” was, maar hy moes dit maar probeer het. Foto: Marzahn Botha

’n Mens kan mos nie kameraderie met rokers smee as jy darem nie self eers ’n dampie gaan soek en hoes oor die prys nie.

So hou ek onlangs by ’n spazawinkel iewers in die Riebeekvallei stil. Die mis trek nog laer oor die Witzenberg en Darwin Basson pomp rookbolle die vars oggendlug in.

“Entjies?”

“Net hier,” wys hy na ’n gehuggie waar hond en mens lankal van die koronavirus vergeet het.

“Ek het nou net hierdie entjie geroek,” wys hy na ’n sigaret met ’n swart-en-goue filter.

“Nou voel my kop somme lekker deurmekaar. Hy is swaar op die bors, maar jy moet hom maar try,” sê Darwin.

Onse mense rook, al moet hulle piesangblare rook.

’n Man gee vir my twee sigarette uit ’n swart en goue pakkie Richman. “R7 stuk,” sê hy. “R130 ’n pakkie.”

In Genadendal sê Debbie Hartzenberg: “Onse mense rook, al moet hulle piesangblare rook. Onse mense wil net rook, as jy hulle kry, dan loop hulle op en af in die straat vir ’n sigaret. Onse mense het nie so op en af agter drank aangeloop nie.”

“Daar is hoeka ’n saak teen die regering nou,” sê ’n ander inwoner wat nie veel goeds oor die regering se rookverbod te sê het nie.

Wat sou Diela Gamildien of Mamma D sê van haar “ge-roek” in hierdie tye?

Sy is die bekende blommeverkoper van Trafalgar Place in Adderleystraat in die Moederstad wat “kan ek roek?” soos ’n veldbrand oor sosiale media laat versprei het toe Gerald Burger van Die siener-reeks op kykNET ’n kristalbal uitgehaal het om na die toekoms te kyk.

Omdat Diela nie blomme in die stad kan verkoop nie, bedryf sy nou haar groente- en vrugtestalletjie met ’n bietjie blomme vir begrafnisse in Grassy Park op die Kaapse Vlakte.

Diela Gamildien sê sy is steeds uitsoekerig as dit by sigarette kom. Sy sal nie iets rook wat haar bors laat brand nie. Foto: Marzahn Botha

Mamma D haal ’n entjie uit en “klop dit aan”.

“As ek ’n sigaret aanklop en dis iets wat ek nie ken nie, dan sê ander vir my: ‘Jy klop dan aan, maar jy soek nog uit.’ As ek een aanklop en dit brand my bors, dan refuse ek. Hulle kan maar sê wat hulle wil, ek hou my dik.”

Sy sê sy is steeds uitsoekerig.

“Ek het nog nooit eens geweet daar bestaan ’n Richman- sigaret nie,” lag sy.

“Vir daardie Chinese of Made in Hongkong-entjies sê ek nee. As hy my bors brand, dan sou ek hom nie geroek het nie. Maar die swart Richman roek orraait. Nou roek jy enigiets wat jy nog nooit geroek het nie.”

Ek het nog nooit gedrink in my lewe nie, ek weet nie eens wat dit is nie. Nou moet ek skielik ophou roek.

Jy kry sigarette wie se name jy nog nooit van gehoor het nie, sê sy.

“En weet jy hoeveel vra hulle ’n pakkie? R180 tot R200.”

Die verbod op tabak het die staat van inperking nog erger vir rokers gemaak, sê Diela.

“As hulle sê jy mag nie rook nie, wil hulle my nog vrekker hê. Ek het nog nooit gedrink in my lewe nie, ek weet nie eens wat dit is nie. Nou moet ek skielik ophou roek.”

Sy kan nog sonder kos klaarkom, sê Diela, maar nie sigarette nie.

Marzahn Botha

Gaironiesa Oliver is nog ’n blommeverkoper wat plan soek om te oorleef.

“Ek is mos ’n vrou wat brands rook, suster. Nou is my sigarette sommer R250 ’n pakkie,” sê sy.

“Ek kan nou net bekostig om Caesars, Cairo, RG, Premier of Derby, wat gewoonlik R10 ’n pakkie kos, te rook. Nou vra hulle sommer R150 tot R170 ’n pakkie. Hoe gaan ek survive? Dit is dan my troos.”

Sy sê die president het haar hart gebreek.

“Cyril het vir ons baie hartseer gemaak. Hy het dit eers legal gemaak, toe sit hy dit on hold. Jy kan mos dink watter name ek hom genoem het . . .”

* Botha is ’n vryskutjoernalis van Kaapstad. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Marzahn Botha  |  Sigaret-Verbod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.