Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
As Indië stembus toe gaan
Grafika

Volgende week gaan die kiesers in Indië begin stem. Wat is sowel internasionaal as nasionaal op die spel? Leopold Scholtz berig.

’n Algemene verkiesing in Indië is nie vir sissies nie. Dis ’n uitgerekte, uiters burokratiese affêre met groot potensiaal vir verkiesingsbedrog – en beskuldigings van dié aard volg ook byna outomaties ná elke verkiesing.

Die verkiesing begin op 11 April in 20 deelstate. Die ander state stem op 18 April, 23 April, 29 April, 6 Mei, 12 Mei en 19 Mei.

Op die spel is 543 gewone setels in die Lok Sabha, ofte wel die parlement. (Die president kan nog twee lede uit die Anglo-Indiese gemeenskap benoem.)

Na verwagting sal meer as 450 politieke partye deelneem, en meer as 900 miljoen mense kan hul kruisies gaan trek.

Na verwagting sal meer as 450 politieke partye deelneem, en meer as 900 miljoen mense kan hul kruisies gaan trek.

Die belangrikste partye is premier Narendra Modi se Nasionale Demokratiese Alliansie (NDA) en die alliansie wat rondom die Kongresparty versamel het.

Luidens peilings kan Modi sowat 276 setels verwag, wat ’n meerderheid is, en dus sou Modi waarskynlik weer premier word.

Dit wil sê, as die peilings reg is. In dié land, waar die meeste dienste taamlik ondoeltreffend is, is die akkuraatheid van peilings onseker.

Die belangrikste ideologiese verskil tussen die twee blokke is dat die NDA ’n redelik aggressiewe religieuse Hindoe-nasionalisme voorstaan, terwyl die Kongresparty sekulêr en liberaal-demokraties is.

Godsdiens en werkloosheid

Indië het die laaste jare ekonomies ontwikkel van ’n land wat deur intense armoede gekniehalter is tot een met ’n behoorlik welvarende en groeiende middelklas.

Die groeikoers vir die laaste kwartaal van verlede jaar was 6,6% – wat uitstekend klink, maar dit is aansienlik minder as die hoogtepunt van 8,1%.

Werkloosheid is steeds ’n probleem – 402,1 miljoen mense was verlede jaar sonder werk. Ekonome meen 1,3 miljoen werkgeleenthede moet per maand geskep word net om te keer dat die werkloosheid verder toeneem.

Ondanks die sigbare tekens van groei – nuwe geboue, moderne motors op nuwe paaie, redelik werkende spoorweë en lughawens – kan elkeen wat Indië al besoek het, steeds getuig van die enorme armoede in die land. Godsdiens is een van die redes hiervoor.

Die Hindoes glo in reïnkarnasie. Dit beteken dat elke siel telkens weer en weer ná die dood in ’n nuwe liggaam gebore word. As jy ’n goeie lewe gelei het, sal jy in een van die hoë kaste (rigiede klasse) gebore word. As jy slegte dinge gedoen het, word jy as “onaanraak­bare” gebore, die heel laagste van die laagste.

Omdat dit die gevolg is van jou eie dade in ’n vorige lewe, mag jy jou nie teen die maatskaplike ongelykheid verset nie. En dus is dit eintlik ook verkeerd om jou eie ekonomiese situasie deur studie of opleiding te probeer verbeter.

Dié geloof is weliswaar aan die uitrafel. Reeds Mahatma Gandhi het dit as ’n agterlike situasie beskou en hom aktief daarteen verset, maar die kastestelsel lei ’n hardnekkige lewe wat nog lank nie uitgeroei is nie en Indië se ekonomiese ontwikkeling strem.

Die twee aartsvyande

Modi se nasionalistiese ideologie beteken ook dat die regering op internasionale terrein aggressiewer as die Kongresparty teen Indië se twee aartsvyande wil optree.

Die een is Pakistan. Voor onafhanklikwording in 1947 het die huidige Indië en Pakistan saam Brits-Indië gevorm, maar weens die groeiende geweld tussen Hindoes en Moslems is die twee toe geskei.

Sedertdien sit hulle nie langs een vuur nie en het al drie oorloë en talle kleiner gewapende konflikte teen mekaar geveg.

Pas weer het die twee mekaar voor die bors gegryp nadat Moslem-terroriste wat in Pakistan geduld word, ’n Indiese militêre basis aangeval en 42 soldate gedood het. Indië het met lugaanvalle terug­geslaan, maar in die proses ’n bomwerper in ’n luggeveg verloor.

Maar dié botsing het Indië groot laat skrik. Op papier is sy strydkragte behoorlik sterk, maar die botsing met Pakistan het groot leemtes blootgelê in die logge weermag, wat bowendien geteister word deur grootskaalse onbekwaamheid, korrupsie en uitgediende wapentuig. Ter see het Indië byvoorbeeld ’n herboude Sowjet-vliegdekskip, met groot probleme.

Indië is self ’n nuwe vliegdekskip aan die bou, maar dit vorder weens die burokrasie en ondoeltreffendheid van die skeepswerf stadiger as harmansdrup.

Die ander groot mededinger is China, wat vinnig besig is om Rusland as die Weste se grootste mededinger te vervang. Met China het Indië ook al ’n kortstondige oorloggie (1962) geveg.

Nou dié land, dan daai een

Indië sien sy internasionale rol as skans teen sowel Pakistan as China. Dit beteken ’n ingewikkelde stelsel van bondgenootskappe soos die In­diërs tussen verskillende belange laveer.

Vir Amerika en die Weste is Pakistan belangrik as bondgenoot teen die Taliban in Afganistan. Maar omdat Pakistan dikwels sy brood aan alle moontlike kante gebotter hou, is sy bondgenootskap met die Weste (en sy politieke nabyheid aan China) problematies.

Indië beskou homself ook as die moondheid wat China se toegang tot die Indiese Oseaan blokkeer. In dié opsig is hy ’n bondgenoot van Amerika en die Weste.

Indië beskou homself ook as die moondheid wat China se toegang tot die Indiese Oseaan blokkeer.

Terselfdertyd het Rusland tradisioneel sterk ekonomiese bande met Indië en is ’n leweransier van wapentuig aan die land. As sodanig is Indië ’n problematiese bondgenoot vir Amerika en die Weste.

Dit is egter maar soos die internasionale politiek nog altyd was. Dit was die 19de-eeuse Britse minister van buitelandse sake lord Palmerston wat gesê het lande het geen permanente vriende nie, slegs permanente belange.

Indië sien sy eie belang as ’n onverbonde land wat, afhangende van die omstandighede, nou met dié land saamspan en dan weer met daardie een. Dis ’n koers wat hy al sedert sy onafhanklikwording in 1947 volg.

Ook die NDA se voorganger in die regering, die Kongresparty, het basies daardie beleid gehad. Die verskil is net dat Modi as nasionalis effens aggressiewer as sy voorgangers optree.

Ondanks sy sosiaal-ekonomiese probleme bly Indië die leidende moondheid in die Indiese-Oseaan­gebied, waarvan ook Suid-Afrika deel vorm. Dís waarom Suid-Afrika aangesluit het by die Brics-groe­pering (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika).

Dié groepering het weliswaar nie veel om die lyf nie, maar vir Suid-Afrika is dit voordelig om op goeie voet te wees met al die groot rolspelers in die internasionale politiek, met inbegrip van Indië.

Dr. Scholtz is ’n onafhanklike kommentator en politieke analis.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Stembus  |  Godsdiens  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.