Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
'As jy hunker na wit diktatuur, verlaat liewer die land'

Die jonger geslag in Suid-Afrika weet nie meer van die trauma van die 1980’s tydens die bewind van oudpres. PW Botha nie. Anton van Niekerk het met Willemien Brümmer gepraat oor die betekenis van Madiba se vrylating presies 30 jaar gelede.

Oudpres. Nelson Mandela en pres. Cyril Ramaphosa kort ná sy vrylating. Hierdie foto het op 16 Februarie 1990 in Beeld verskyn. Foto: Beeld

Waar was jy op 11 Februarie 1990 toe Mandela vrygelaat is en kan jy onthou wat deur jou gemoed gegaan het?

Ek was vasgenael voor die televisie en het elke beweging en verwikkeling aandagtig gevolg, vir soverre dit gebeeldsend kon word. Die staptog van Madiba met Winnie aan die hand was inderwaarheid ’n triomftog wat ek nooit sal vergeet nie. Ek het veral daarna uitgesien om Mandela die eerste keer te hoor praat.

Cyril Ramaphosa het vir hom die mikrofoon vasgehou by die Kaapstadse stadsaal waar hy sy eerste toespraak as vry man gelewer het. Sy eerste woorde, as ek reg onthou, was in Xhosa, en is vertaal as: “Ek is ’n lojale lid van die ANC . . .”. Die res van die sin het verdrink in applous. Ek het geweet ek kyk na iets wat absoluut deurslaggewend in Suid-Afrika se geskiedenis was.

Jy skryf die mite bestaan onder baie Afrikaners dat die “nuwe Suid-Afrika”, ná Mandela se vrylating, vir hulle net swaarkry en lyding meegebring het. Wat sou met hierdie selfde groep Afrikaners gebeur het as dit nie vir Mandela was nie?

Die mite waarna jy verwys, is een van die grootste drogbeelde wat die konserwatiewe minderheidskliek onder wit mense aanhou vertroetel. Ek het self onlangs, op grond van statistieke wat ekonome al lankal beskikbaar stel, daarop gewys dat dit beter met wit mense, en veral Afrikaners, gaan as gedurende lang tye onder apartheid. Toe ek jonk was, was iemand soos Piet Cillié (eertydse redakteur van Die Burger) lief daarvoor om te sê: “Die Engelssprekendes in Suid-Afrika het simpatie met die PFP, stem vir die VP, en dank die Here die NP is aan bewind.”

Baie Afrikaners het deesdae simpatie met die VF Plus, stem vir die DA, en dank die Vader dat die ANC aan bewind is.

Ek sou dit wou aanpas na: “Baie Afrikaners het deesdae simpatie met die VF Plus, stem vir die DA, en dank die Vader dat die ANC aan bewind is.”

Prof. Anton van NiekerkFoto: Argief

Terwyl ek toegee dat daar kolle van “wit armoede” in die land bestaan, is dit as verskynsel nie erger as byvoorbeeld in my jeug (tydens die 1960’s en 1970’s) nie. Ry deur enige middelklasbuurt in Suid-Afrika en aanskou hoe goed dit eintlik nog met Afrikaners gaan. Ek sê nie dis “danksy” die ANC spesifiek nie. Ek dink dis bloot die uitkoms van die meer genormaliseerde samelewing waarna regdenkendes in Suid-Afrika gesmag het sedert die 1980’s. Dat daardie normalisering sonder burgeroorlog plaasgevind het, was grootliks te danke aan Mandela sedert sy vrylating.

Baie Suid-Afrikaners beweer hulle kry nou net so swaar soos onder apartheid. Is die huidige situasie in Suid-Afrika enigsins vergelykbaar met die donker dae van die 1980’s toe PW Botha niks daarvan wou weet om Mandela vry te laat nie?

Daar is sekerlik Suid-Afrikaners wat steeds swaarkry. Oor die algemeen is hulle swart, nie wit nie. Ek dink nie die stelling in die vraag is waar nie. Dienste soos watervoorsiening en elektrisiteitsverskaffing, by al die tekorte wat steeds bestaan, is dramaties onder swart gemeenskappe in Suid-Afrika uitgebrei. Werkloosheid- en ander toelae is op ’n enorme skaal uitgebrei en laasgenoemde het mense se lewensgehalte oor die algemeen merkbaar verbeter. Swart mense kan deesdae eiendom besit, is nie gebonde tot groepsgebiede nie, word bevoordeel deur regstellende aksie en het toegang tot ordentlike skole en universiteite – alles dinge wat nie die geval was onder apartheid nie.

Die jonger geslag in Suid-Afrika weet nie meer van die trauma van die 1980’s tydens die bewind van PW Botha nie, meen prof. Anton van Niekerk.Foto: Argief

Die jonger geslag in Suid-Afrika weet nie meer van die trauma van die 1980’s tydens die bewind van PW Botha nie. Toe het inflasie ons amper opgevreet en die wisselkoers het, veral ná PW se katastrofale Rubicontoespraak in 1985, in die hek geduik.

Maar die ergste van die 1980’s was die internasionale sanksies teen Suid-Afrika, sowel as die daaglikse bedreiging van ’n volskaalse burgeroorlog. Verstandige Suid-Afrikaners van alle kleure behoort dit vandag te waardeer, as ons die alternatief van die 1980’s in gedagte hou!

Wat sou jy wou sê vir die jong swart Suid-Afrikaners wat sê Mandela het hulle uitverkoop want die ekonomiese mag lê steeds by wit mense?

Ek sou hulle veral verwys na wat ek reeds genoem het: grootskaalse subsidiëring van werkloosheid, beter werkgeleenthede, beter en veral meer dienste, en wat nog meer. Maar al hierdie materiële dinge het nie die deurslag gegee in die struggle nie. Ek het nog altyd die indruk gekry dat wat swart mense die meeste gegrief het van apartheid was die afwesigheid of ontkenning van menswaardigheid waaraan hulle onderworpe was. Nie omdat iemand iets gedoen het nie, maar bloot op grond van die kleur van jou vel.

Hoe ’n mens ten aansien van laasgenoemde steeds kan aanvoer “Mandela het swart mense uitverkoop”, gaan my verstand te bowe.

Die ongebreidelde rassisme van apartheid het veroorsaak dat die een aspek van jou menswees waaraan jy niks kan verander nie – jou velkleur – verhef is tot die maatstaf van jou menslikheid. Mandela het laasgenoemde skreiende onreg veral aangespreek en grootliks omgekeer gekry. Hoe ’n mens ten aansien van laasgenoemde steeds kan aanvoer “Mandela het swart mense uitverkoop”, gaan my verstand te bowe.

En aan die wit mense wat steeds verbeeldingsvlugte het van ’n wit diktatuur?

’n “Wit diktatuur” is ’n onrealistiese, onhaalbare en moreel veragtelike ideaal. Diegene wat daarvan droom, moet asseblief liewer die land verlaat – ons sal almal soveel beter sonder julle klaarkom.

Oudpres. Nelson Mandela op ’n mediakonferensie saam met oudpres. FW de Klerk gedurende grondwetlike onderhandelinge in Johannesburg in 1990. Foto: Gallo Images via Getty Images

Wat sou gebeur het indien dit ’n ander ANC-leier sonder Madiba se charisma en versugting na versoening was wat op 11 Februarie vrygelaat is? Sou enigiemand anders Suid-Afrika deur daardie besondere bloedige oorgangstydperk kon gelei het?

Die vraag ontlok noodwendig spekulasie, waarvoor ’n mens versigtig moet wees, dink ek. Ek wil my nie uitlaat oor wat sou gebeur het as iemand anders as Mandela vrygelaat is nie; ek weet nie of daar hoegenaamd iemand was wat sy besondere rol sou kon speel nie. Maar kom ek sê die volgende: As Mandela wel vrygelaat is en dit het geblyk dat hy ’n wraaksugtige en outoritêre figuur was wat nie te vinde was vir onderhandeling nie, was daar baie groot moeilikheid.

Maar vir hom om “geweld af te sweer” sou eenvoudig beteken dat hy hom sou moes oorgee soos ’n tuislandleier-pion ná sy vrylating.

Terloops, dis natuurlik hoe PW Botha, Magnus Malan en kie Mandela aan die wit bevolking in Suid-Afrika probeer bekendstel het. Die argument was deurgaans dat hy nie vrygelaat kon word “alvorens hy geweld afgesweer het nie”. Maar vir hom om “geweld af te sweer” sou eenvoudig beteken dat hy hom sou moes oorgee soos ’n tuislandleier-pion ná sy vrylating. Mandela was onwraaksugtig en op soek na versoening, maar hy was nie dom of ’n swakkeling nie. FW de Klerk het dit baie beter verstaan as PW Botha.

Oudpres. Nelson Mandela en sy vrou, Winnie, kort ná sy vrylating op 11 Februarie 1990. Foto: Getty Images

Wat is die grootste lesse wat Suid-Afrika by Mandela geleer het en wat beskou jy as sy belangrikste nalatenskap?

Die belangrikste lesse wat ons by hom kan leer, is dat ’n geloof in menslikheid en die goeie in die mens kan seëvier oor agterdog en wraaksug en geweld. Hy het ook ’n onkreukbare vertroue gehad dat ons kan saamwerk om die land te laat werk. Mandela het, vir ’n swart politieke leier, ’n merkwaardige gewildheid onder wit mense gehad. Dit het meegebring dat die algemene vlakke van vertroue in die land hoogtes bereik het wat sedert sy aftrede nog nie weer beleef is nie.

’n President hoef boonop nie ’n politieke tegnokraat/operateur te wees wat persoonlike beheer oor elke aspek van die staatshuishouding uitoefen soos wat sy opvolger, Thabo Mbeki, gedoen het nie.

Die president moet eerder ’n saambindende figuur wees wat mense probeer verenig, versoen en aanmoedig om saam te werk, ook al verg dit opofferings. Dat hierdie land iemand soos hy kon oplewer, en dat die land, ten spyte van sy traumatiese persoonlike geskiedenis en die onreg waaraan hy blootgestel was, hom kon identifiseer en vertrou om die wonderwerk van SA se nuwe jong demokrasie tot stand te bring, is sy grootste nalatenskap.

Suid-Afrika in rou ná die afsterwe van oudpres. Nelson Mandela op 5 Desember 2013. Die standbeeld van hom is buite die voormalige Victor Verster-gevangenis (nou die Drakenstein Korrektiewe sentrum) in die Paarl opgerig. Foto: Jaco Marais

Is die heldeverering van Mandela nuttig en maak dit nie soms dat ons te onkrities na sy nalatenskap kyk nie?

Ek meen die heldeverering is in ’n sekere sin onvermydelik, maar bepaald ook soms oordrewe. Madiba was geen God nie; hy was ’n mens tussen mense en het meermale foute gemaak. Dit versterk egter my bewondering vir hom. As juis iemand soos hy, wat so kon uitstyg in die geskiedenis, ook in staat was tot menslike foute, dan is daar hoop vir al ons ander gewone sterwelinge.

Die ANC – en Suid-Afrika in sy geheel – het die versoeningspad byster geraak. Hoekom sukkel ons so om te bly op hierdie trajek waarop Mandela ons geplaas het?

Daar is baie redes, maar ek bepaal my by twee. Die eerste is dat, terwyl ons in Madiba presies die regte persoon gehad het om die oorgang te lei, het ons in Zuma presies die verkeerde persoon aangestel in ’n pos van enorme mag. Zuma was eenvoudig nie intellektueel, moreel of as mens opgewasse vir sy taak nie. Gevolglik (en dit bring my by die tweede rede) het hy sy regeer-taak bloot beskou as ’n geleentheid tot selfverryking deur grootskaalse korrupsie. Dit het afgesmeer tot op die laagste vlakke van staatsgesag.

Oudpres. Jacob Zuma het hy sy regeer-taak bloot beskou as ’n geleentheid tot selfverryking deur grootskaalse korrupsie, meen prof. Anton van Niekerk.Foto: Argief

Kaderontplooiing het meegebring dat die ideologie van selfverryking die ganse staatsbestel begin deursuur het. Staatskaping het meegebring dat amptenary en politici hulself gewoon beskikbaar begin stel het vir die hoogste prys (betaalbaar deur byvoorbeeld die Guptas). Die hele idee van ’n burgerlike bewussyn – dat openbare diens presies dit beteken: diens aan die gemeenskap, en nie selfverryking nie – het by die venster uitgevlieg. Dit het ook meegebring dat korrupsie en onbevoegdheid hand-aan-hand begin loop het.

Wat dink jy sou Mandela sê as hy vandag vir een dag kon terugkeer na Suid-Afrika van waar hy nou sit en teedrink in die Hiernamaals?

Ek dink hy sou so gou moontlik wou terugkeer na sy koppie tee saam met Petrus. Ongelukkig kry niemand ’n tweede kans om ’n gemors te kom opruim nie. Al waarop hy kan hoop is die mag van herinnering wat hopelik onder ons, sy nakomelinge, leef: Eendag, al hoe langer gelede, was daar iemand soos hy! Kom ons hoop nóg een verskyn eendag!

* Anton van Niekerk is uitgelese professor in filosofie en direkteur van die Sentrum vir Toegepaste Etiek aan die Universiteit Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.