Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
As ’n nagmerrie waar word

Kenners reken die ontvoerings waaroor die media berig, is net die oortjies van die seekoei en dat dié soort misdade aan die toeneem is. Het Suid-Afrikaners rede tot kommer? Carla Lewis stel ondersoek in.

Daar was die afgelope paar jaar ’n toename in aangemelde plaaslike ontvoerings. Grafika: iStock

Dis enige ouer se grootste nagmerrie.

’n Bruinoog-meisietjie word deur ’n groep boewe uit haar ma se arms geskeur.

Ure later kom die losprysversoek: R2 miljoen, of jy sien nie weer jou kind nie.

Die internet was deurspek met samesweringsteorieë; daar was sprake van internasionale mensehandel- en dwelmsindikate; volgens ’n Afrikaanse nuuswebwerf is die ontvoering georkestreer deur ’n misdaadsindikaat wat betrokke is by dwelms en menseroof.

En toe is die beweerde baasbrein al die tyd nie ’n sindikaat of ’n bendebaas nie, maar ’n blonde blouoog-kleuterskooljuffrou wat glo geldelike probleme ervaar.

Moet Suid-Afrikaners hulle kwel?

Al ontken die polisie die gerugte dat ’n internasionale misdaadsindikaat agter Amy’Leigh de Jager se ontvoering sit ten sterkste, kan ’n mens nie help om aan lande soos Nigerië en die Latyns-Amerikaanse streek te dink nie. Hier floreer ontvoering- en losprysmisdaad (O&L) en almal ken iemand wat al daardeur geraak is.

Luidens ’n studie van die Instituut vir Sekerheidstudies gedy die ontvoer-vir-losprys-bedryf in lande met hoë misdaad en korrupsievlakke waar die polisie min hulpbronne het. Dié lande het gewoonlik ook ’n swak regstelsel en ’n geskiedenis van maatskaplike en politieke onstabiliteit.

Suid-Afrika tik ’n hele paar van dié boksies – het ons dus rede tot kommer?

“Die vergelyking wat jy tussen Suid-Afrika en Latyns-Amerika en Nigerië tref, is nie vergesog nie,” sê Martin Ewi, ’n senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies en ’n kenner van georganiseerde misdaad in Afrika.

“Wanneer ons na ontvoeringstendense in die Suid-Afrikaanse konteks kyk, sien ons sedert 2016 ’n toename in die berekende teiken van ryk individue – wanneer iemand gyselaar geneem en ’n losprys geëis word.

Amy’Leigh de Jager. Die baasbrein agter haar ontvoering is glo ’n voormalige vriendin van haar ma.

“Wanneer kinders ontvoer word, is dit gewoonlik kinders van ryk families, soos in die geval van Amy’Leigh.”

Dink hy dis opportunistiese misdadigers wat te veel ontvoeringsflieks gekyk het wat daaragter sit, of is ’n ontvoeringsindikaat aktief binne ons landsgrense?

“Daar is maar altyd opportuniste. Misdadigers sal iemand se kind sien, opmerk dat die familie geld het en dink: Hier is nou ’n kans om gou ’n geldjie te maak.”

Hy reken Amy’Leigh se ontvoering val binne dié groep.

“Onthou, ’n suksesvolle misdadiger se belangrikste talent is om homself en sy daad te verdoesel. Die feit dat sy op so ’n dramatiese wyse gegryp is en daar soveel aandag op die uitvoering van die misdaad gefokus is, wys dat die ontvoering swak beplan is.

“Maar daar is ook die gevalle wat haarfyn deur professionele misdadigers beplan word. Dis wat my laat dink misdaadsindikate is betrokke, veral as jy kyk na die planmatigheid van die ontvoerings,” sê hy.

Baba Eden Laird is in Mei verlede jaar deur Bronwyn en Stuart Laird se huiswerker ontvoer.

Bianca van Aswegen, ’n kriminoloog en nasionale koördineerder van die organisasie Missing Children SA, sê ook hulle het ’n toename gesien in die getal kinders wat verlede jaar en vanjaar as vermis aangemeld is.

“Ons het vanjaar met ’n taamlike aantal ontvoerings te doen gekry,” sê sy.

In die Suid-Afrikaanse O&L-ver­sekeringsbedryf is daar ook ’n toename in belangstelling in hierdie tipe dekking, sou die ergste gebeur.

“In die verlede was die getal private individue wat O&L-dekking uitgeneem het min, maar dié tendens is aan die verander. Ons sien ’n beduidende groei in belangstelling by mense wat hulself wil beskerm as gevolg van die toename in plaaslike voorvalle van ontvoering en mense wat verdwyn,” sê Philip Hobson, AIG se Suid-Afrikaanse hoof van finan­siële-produkte-versekering vir Afrika en die Midde-Ooste. AIG word as een van die globale leiers in O&L-versekering geag.

“Hoewel Suid-Afrika se risikoprofiel vir O&L-voorvalle genadiglik nog nie naby dié van Sentraal- of Suid-Amerika is nie, was daar die afgelope paar jaar ’n toename in aangemelde plaaslike ontvoerings.”

Control Risks, ’n spesialis- globale risikokonsultasiemaatskappy, is ook om kommentaar genader oor hoe hulle ontvoerings van hul Suid-Afrikaanse kliënte benader.

Henk du Bruyn, Suid-Afrikaanse direkteur van die maatskappy, het laat weet as gevolg van die sensitiwiteit oor O&L-gevalle wil hulle nie kommentaar op enige van die vrae lewer nie.

Oortjies van die seekoei

Katlego Marite se ontvoerders het 15 bitcoin (meer as R1,5 miljoen) in losprysgeld geëis.

Van die hoëprofiel-O&L-gevalle waaroor die media die afgelope twee jaar berig het, sluit in Baba Eden, wat in Mei verlede jaar deur Bronwyn en Stuart Laird se huishulp ontvoer is. Die ouers is met ’n losprys gedreig.

Katlego Marite (toe 12) is kort daarna ontvoer terwyl hy saam met twee vriende in Tasbetpark in Witbank gespeel het.

’n Losprysbrief is later afgelewer, waarin geëis is dat die familie 15 bitcoin (meer as R1,5 miljoen) betaal om Kathlego se vrylating te verseker.

“Die gevalle reflekteer nie die volle prentjie nie,” beklemtoon Ewi. Dis dikwels net die oortjies van die seekoei.

Dan is daar ’n tekort aan volledige data omdat die polisie nie onderskei tussen verskillende tipes ontvoering nie – alles word onder “vermiste mense” ingebondel. Talle ontvoerings word uit vrees vir die slagoffer se veiligheid nooit by die polisie aangemeld nie.

“Daarom sal ons nooit weet wat die totale omvang van die probleem is nie,” sê Ewi.

Van Aswegen wys daarop dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens in 2013 laas statistieke oor vermiste kinders uitgereik het.

Maak Suid-Afrikaanse slagoffers eerder gebruik van professionele gyselaaronderhandelaars om die losprys namens hulle te beding, eerder as om saam met die polisie te werk?

“Somtyds. Somtyds nie. Die ontvoerders sal jou gewoonlik direk bel. Hulle dreig: ‘Ons het jou geliefde. Dís wat jy moet betaal. As jy iets vir die polisie noem, vermoor ons hulle. Hou dit tussen ons, en jy sal jou geliefde weer lewend sien.’

“Talle families neem die ontvoerders se dreigemente baie ernstig op. Hulle onderhandel direk met die ontvoerders, betaal die losprys en dit eindig daar,” sê Ewi.

Is versekering vir jou gesin nodig?

Ontvoer-en-losprys (O&L)-versekeringspolisse het in die 1930’s die lig gesien, maar die idee het eers regtig in die 1960’s posgevat ná ’n vlaag ontvoerings in Europa, verduidelik Joel Simon in sy boek We Want to Negotiate: The Secret World of Kidnapping, Hostages and Ransom. “Die rede daaragter was eenvoudig: Sou jou geliefde ontvoer word en ’n losprys word geëis, sal die versekeringsmaatskappy vergoeding verskaf vir die losprys.

“Die laaste dekades het die O&L-versekeringsbedryf eksponensieel gegroei. Meer as 75% van die Fortune 500-maatskappye het O&L-versekeringspolisse vir hul werknemers uitgeneem. Daar is tientalle sekerheidsmaatskappye wat in ontvoeringbestuur- en reaksie spesialiseer. Gyselaaronderhandeling is ook ’n winsgewende bedryf, met jaarlikse konferensies, kongresse en strategiesessies,” skryf hy.

“O&L-versekering is hoofsaaklik uitgeneem deur maatskappye wat na hul werknemers se veiligheid moes omsien wanneer hulle na ’n buitelandse regsgebied met ’n hoë risiko vir ontvoering gestuur is,” verduidelik Philip Hobson, AIG se Suid-Afrikaanse hoof van finansiële­produkte-versekering vir Afrika en die Midde-Ooste.

“Ons moes ons produkte vir Suid-Afrika deur die jare ook aanpas om risiko’s soos verdwynings en kapings in te sluit, wat relevant is tot die plaaslike mark. Die individue wat dié soort versekering uitneem, is gewoonlik hoëprofielmense met ’n hoë netto waarde,” verduidelik hy.

Maar moedig hierdie tipe versekering nie O&L-misdade aan nie en plaas dit nie ’n teiken op die polishouer se rug nie?

Martin Ewi het die O&L-versekeringsbedryf ontleed toe hy ’n verslag oor internasionale ontvoeringstendense saamgestel het.

“Toe die terreurgroep Al-Kaïda in die Maghreb-streek in Wes-Afrika aktief was, het hulle presies geweet wie om te teiken. Die terroriste ontvoer, die versekeringsmaatskappye betaal uit. Selfs al het die regerings van die gyselaars se lande van oorsprong nie ’n beleid om met terroriste te onderhandel nie, sal die versekering uitbetaal.

“Ons het vermoed dat hierdie soort versekering ontvoerings aanvuur, maar dit was net op anekdotiese getuienis gegrond. Dit was baie bespiegelend en ons kon geen bewyse daarvoor vind nie.”

Wie sal ons beskerm?

Suid-Afrikaanse ontvoerders se modus operandi is darem nog nie so georganiseerd, berekend en wreed soos dié in Suid- en Sentraal-Amerika nie.

“Daai ouens speel nie. Ek het ’n opleidingsessie bygewoon waar ’n gyselaaronderhandelaar van Colombia ons vertel het hoe ontvoerings daar werk.

“Daar kry jy nie tweede kanse nie. Die oomblik wanneer jy nie aan hul versoeke voldoen nie, vermoor hulle die gyselaar.”

Die moord word ook op ’n dramatiese en openbare wyse uitgevoer om vir ander potensiële slagoffers te wys “dís wat gebeur wanneer jy nie aan ons versoeke voldoen nie”.

Sal dit ooit tot op daardie vlak in Suid-Afrika toeneem?

“Ek dink nie so nie. Dit sal net gebeur as ons die ontvoerders toelaat om magtiger te word en momentum te kry. In sommige Latyns-Amerikaanse lande betaal die sindikate omkoopgeld aan die polisie.

“Ek dink Suid-Afrika is nog orraait. As jy die polisie bel en sê een van jou familielede is ontvoer, sal hulle waarskynlik flink en vinnig optree.”

Voorts moet die rol van die Suid-Afrikaanse media as waghond nie onderskat word nie.

“Suid-Afrika het ’n sterk, kritiese media en dit speel ook ’n groot rol in die voorkoming van ontvoerings. Die polisie is lugtig vir die media, want as die polisie as onbekwaam ontbloot word, lyk hulle sleg.”

In lande soos Mexiko en Colombia moet joernaliste ook versigtig wees hoe hulle oor ontvoerings berig. As jy ’n kartelbaas ontstel, kan jy die volgende teiken wees.

“As ons nou in Colombia of Mexiko was, sou ek baie versigtig moes wees met wie ek oor die inligting gesels. Ons praat hier van baie ryk, baie magtige kartelle. Hulle beheer stede en dorpe. As jy so ’n sindikaat wil blootlê, word jy uitgevat,” sê hy.

Mensehandel is ook ’n gevaar

Voordat ouers egter op hol gaan oor internasionale misdaadsindikate wat hul kinders vir lospryse gaan ontvoer, moet hulle ook nie vergeet van ontvoerings vir die mensehandel- en roofmark nie.

Van Aswegen sê dit is vir hulle ’n opdraande stryd om te onderskei tussen opportunistiese misdadigers wat kinders ontvoer, en georganiseerde misdaadgevalle waar kinders vir die mensehandel-mark ontvoer word.

“Elke geval verskil. Ons het al gevalle gehad van bevestigde mensehandel, maar omdat slegs ’n klein persentasie van mensehandel-slagoffers gevind word, is dit moeilik om die presiese gevalle uit te wys. Daar is ook talle sake wat nooit opgelos word nie omdat die kind nooit gevind word nie,” sê sy.

Die mite bestaan dat mensehandelaars eerder kinders van arm gebiede sal teiken as gegoede gemeenskappe omdat die media en publiek se bohaai oor dié slagoffers dikwels groter is.

Ewi sê egter niemand is veilig nie. “Wanneer ’n sindikaat ’n kind van ’n sekere profiel soek, sal hulle nie huiwer om ’n kind uit ’n meer gegoede deel te ontvoer wat by die profiel pas nie.

“Dan het jy ook gevalle waar opportunistiese misdadigers kinders ontvoer en hulle aan mensehandelsindikate verkoop.”

Omdat slegs 1% van slagoffers van mensehandel gevind word, volgens statistieke van Missing Child SA, is die kans skraal dat die slagoffer se familie ooit weer hul kind sal sien.

“Dit kan met enigiemand gebeur,” beklemtoon Van Aswegen.

“Ons het gesien hoe kinders van arm gemeenskappe gegryp word terwyl hulle skool toe loop omdat hulle kwesbaarder is.

“Maar daar is ook talle gevalle waar kinders of selfs tieners van ’n welgestelde agtergrond die slagoffers van mensehandel word. Hulle word egter geteiken deur tegnologie en sosiale media, met beloftes van modelkontrakte en werksgeleenthede,” sê sy.

  • Lewis is ’n senior joernalis van Beeld.
Meer oor:  Amy’Leigh De Jager  |  Ontvoering  |  Aktueel  |  Losprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.