Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
As ons 50ste ’n verhoor was...

’n Verjaardag is nie ’n oudit nie.

As dit was, sou die ouditeurs met die viering van Rapport se 50ste vandag vyf dekades se state bestudeer het – swart ink met slegs ’n spatsel rooi – en bevind dat daar danksy legioene lojale lesers en adverteerders sedert 1970 ruim meer wins as verlies was.

Peet van Niekerk, dis vir lesers soos jy vir wie Rapport se redaksie soggens uit die bed opstaan.

Rapport se langslewende lesers het dwarsdeur ons ontstaansdekade in die ’70’s, die stormagtige ’80’s, die onseker ’90’s, die kortstondig hoopvolle 2000’s en die Zuma-2010’s die opsie gehad om Sondagoggende laat te slaap, Rapport met ’n Engelse Sondagblad te verneuk of natuurlik weg te kyk vir wat in die land gebeur. Hulle – julle – het eerder gekies om 2 600 Sondagoggende sedert 29 November 1970 te leen vir Rapport, ’n koerant wat sy lesers se jaloerse minnaar is.

Die jaloesie geld darem in die ander rigting ook: Volgens Amps-navorsing is Rapport-lesers meer as die lesers van ander Sondagkoerante geneig om net één koerant Sondae op te tel, en dit is Rapport. Daarom bly dit ons drang en belofte om hierdie jaloerse en lojale lesers Sondae volledig te dien en te bevredig.

Dit is immers aan sy lesers wat Rapport behoort – nie aan die redakteur of redaksie nie. Dié les sou ek leer kort nadat ek in 2012 hier aangeland het toe Bokkie Gerber, my voorganger, my wou wysmaak Rapport is groter as enige individu en voorspel het dat ek baie lief vir die blad sou word. Ek het.

Rapport bestaan al 50 jaar op nie net die eetkamertafels en sitkamervloere van Afrikaanse huise oral nie, maar ook in lesers se hart as ’n familievriend en in hul gemoed as die beliggaming van ’n idee: ’n Koerant wat reguit en soms uit sy beurt uit praat, graag lag, ongemaklike vrae vra, waansin en gekhede aan die kaak stel waar ons dit ook kry, en heilige koeie slag om hul lendeskywe Sondagmiddag saam met die braaiaartappels en gestoofde perskes te bedien.

Dit was nog altyd en is steeds die obsessie van Rapport se redaksie om sy lesers se vertroue elke Sondag van voor af te wen, terwyl ons hulle ook kielie vir plesier, laat snak na hul asem met onthullings oor ander se skandes en soms laat swets omdat ons ook vir húl helde ’n gesonde gebrek aan respek gehad het en steeds het . . .

Ons vier ons lesers se meelewendheid.

Ongeag wie die redakteur en redaksie was, bestaan die idéé van Rapport al 50 jaar as iets baie werklik vir lesers soos Peet van Niekerk van Alberton, wat Rapport van die eerste uitgawe af al lees en ons kantoor in Oktober 2013 besoek het om te sien hoe die koerant gemaak word. Hy skryf: “Rapport is vir amper 50 jaar soos ’n goue draad vervleg deur my lewe. ’n Sondag sonder Rapport is vir my totaal ondenkbaar.”

Rapport is ook al vir 50 jaar teenwoordig in die voorhuise van derduisende intekenare – van jong professionele mense wat ons uitsonderlike sportdekking en onbevange blik op kultuur­politiek en landsake opsoek in ’n see van generiese gemeenplase tot mev. Eunice Fick van Oakdale in Bellville (101), wat Rapport begin lees het toe sy so oud was as wat ons vandag word.

Vir al ons lesers sê ons dankie – julle en ons adverteerders het die boeke laat klop! Maar ’n verjaardag is nie ’n oudit nie . . .

’n Verjaardag is ook nie ’n hofsaak vir die lei van getuienis vir en teen Rapport nie.

As dit ’n hofsaak was, met Rapport in die beskuldigdebank, sou ’n forensiese deskundige wat die reuk van formalien beter as dié van brandewyn ken as getuie geroep word deur soveel boereverneukers, boef-burokrate, vroom dominees en sportlegendes wat oor die jare op die voorblad van Rapport die spreekwoordelike skoot tussen die oë toegedien is.

Die deskundige sou getuig dat vyf dekades van Rapport-joernaliste se vingerafdrukke almal gevind is op die wapens wat ’n einde aan talle swernote se loopbaan sou maak. Ons beken nie net skuld hiervoor nie – ons het dit selfs by tye geniet!

Of dit nou Joost of Hansie of James Small was; of smouse van piramideskemas; of Schabir Shaik, wat ons betrap het waar hy kwansuis “dodelik siek” melk koop by die winkel op mediese parool. . . Rapport spaar niemand nie.

In die jare 70 het ons die eerste onderhoud in Afrikaans gepubliseer met Steve Biko. In 1993 het ons Janusz Walus geïdentifiseer as die moordenaar van Chris Hani.

Meer onlangs het die land ook in Rapport vir die eerste keer gelees van die Life Esidimeni-skandaal en oor Prasa se hoë treine, waarvoor die kontrak pas ná jare se litigasie ongedaan gemaak is tot alle belastingbetalers se wins.

Rapport jag sekuur en totdat die prooi val: in ons visier is amptenare in Mpumalanga wat swart boere van hul grond wil sit; rasse-entrepreneurs van elke kleur wat ons land teen homself wil draai; meerderwaardige aktiviste wat vir ander mense wil vertel hoe om te praat en dink; en ’n groot verskeidenheid ander tweegatjakkalse, kwakke en bedrieërs.

Wanneer ons dus daarvan beskuldig word dat ons skade aanrig, sal ons pleit dat dit in die naam van ’n soeke was na dit wat waar en reg is.

Het ons soms misgeskiet, misgetas? Natuurlik. Maar by Rapport stel ons foute vinnig en uitdruklik reg.

Ons beken ook skuld daarvoor dat ons min agting het vir taboes. Ons glo dat jy slegte idees nie beveg met stilte of sensuur nie, maar met ’n robuuste debat waarin meer as een kant aangehoor word – en ook hiervoor het ons al klappe gekry.

Dit is wat Rapport is: ’n Begeesterde en soms parmantige deelnemer aan die nasionale gesprek wat ver ry en hard stry om antwoorde by mense te kry en die stories van ons land se mense te hoor.

Daarom vier ons vandag hierdie 50 en hou ons verjaardag eerder as oudit of verhoor.

Ons vier ’n klein maar getreinde redaksie wat bereid is om aan enigeen se deur te gaan klop en wat gedurende die grendelstaat – waaroor ons krities maar gebalanseerd berig het – derduisende kilometers gery het om stories te vind van medemenslikheid én ontbering.

Sedert Maart gee ons boonop ’n koerant uit sonder om op kantoor te wees.

Ons vier vandag lesers wat verdien om aangehoor en gerespekteer eerder as beskinder en bespotlik gemaak te word deur meningsvormers wat reken dat hulle van beter weet – en tog gaan soek ons altyd ook kenners op om ons touwys te help maak, want die wêreld is kompleks en ons wil dit immer beter leer verstaan.

Ons vier vandag die vryheid wat ons danksy die stryd teen apartheid het om die waarheid sonder vrees te gaan soek in ons beriggewing én die wêreld in ons meningsblaaie te skets soos ons dit sien.

Daar is geen polisiekloppe aan die deur nie – dis by baie koerante deesdae eerder die balju waarvoor mens vlug!

Ons vier die reg om stroomop te swem wanneer ’n konsensus in die blaaie van ander koerante posvat wat op halwe waarhede en lui aannames berus.

Ons vier diegene om ons wat hul grondwetlike regte opeis en terselfdertyd so passievol soos ons in die moontlikheid van ’n beter samelewing glo.

Ons vier ’n oop gesprek tussen ordentlike mense en ons veg en sal veg vir hul reg om sterk van mekaar te verskil, welke verskille elke week in ons brieweblad en in kommentare onderaan Rapport-berigte op Netwerk24 blyk.

Ons vier die feit dat Rapport se markaandeel in die taai Sondagmark in die jaar tot einde September 2020 met ’n tamaai 11 persentasiepunte geklim het, van 27,5% in die derde kwartaal van 2019 tot 38,8% die afgelope kwartaal. Dit was ten koste van die Sunday Times.

Ons vier ’n snelgroeiende Rapport-leserstal op Netwerk24, wat ’n kernbelangrike voertuig is om lesers te bereik wat buite Rapport se verspreidingsgebied woon en vorentoe gaan woon:

Ons verspreidingsvoetspoor sal skuif en krimp na gelang van waarheen ons met kleiner wordende vragte koerante van ons vyf drukperse oor die land heen kan ry.

Ons vier 1994 se swaar verworwe vryhede én ons reg om te veg teen wat vandag fout is, want ons weet dat ons land diep in die moeilikheid is.

Ons is deel van die oplossing – en ons weet ons lesers is ook.

Ons vier die krag van nuanse in ’n wêreld wat homself verbeel dat jy alles en almal met “regs” of “links” kan beskryf.

Ons streef na nierassigheid en geregtigheid en welvarendheid vir al hoe meer Suid-Afrikaners en ons glo dat die idees wat lêplek kry in ons blaaie só ’n toekoms meer waarskynlik maak.

Ons duld nie om voorgesê te word nie en sal aanhou om uit te daag, veral diegene wat mag oor ander mense uitoefen.

Ons vier ons lesers se meelewendheid, uitnemendheid en oorlewingsdrang, selfs wanneer dit moeilik gaan.

Vandag, op ons 50ste, nooi ons julle om jul Sondagoggende aan te hou deel met ’n koerant wat die tipe joernalistiek lewer waaroor lesers elke week sê: “Nét in Rapport!”

  • Waldimar Pelser is redakteur van Rapport, die 11de om dié pos te beklee.
Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Lesers  |  Rapport50
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.